'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!
Showing posts with label Die kuns van blog. Show all posts
Showing posts with label Die kuns van blog. Show all posts

Monday, May 9, 2011

Die vloek om vervelig te wees...

Foto deur http://djrazaq.blogspot.com/2007_11_01_archive.html
Vrydagaand gesels so 'n paar van my geliefdes om die braaivleisvuur. Mense wat regtig naby aan my hart lewe.  Mense wat ek met my lewe kan vertrou.


En hierdie goeie mense vertel vir my: hierdie blog van my is uiters vervelig. Dis seker hoekom ek net twee "followers" het!

Ek dink dit is die enkele ding wat ek nog altyd mee gesukkel het. Ek is 'n vervelige persoon. Punt.
Daar gebeur nooit regtig iets opwindends in my lewe nie, behalwe wanneer my vrou my die dag wel soen.  Of die kinders my beursie uitlos. Of die kat nie teen my bed piepie nie. Sulke dinge is baie opwindend in my lewe!

Ek is maar 'n doodgewone mens. Ek het nog nooit in sport presteer nie. Ek het gewoonlik reserwe vir die Hoërskool se derde span gespeel, behalwe wanneer daar genoeg ouens vir 'n vierde span was- dan het ek reserwe vir die vierde span gespeel.

Ek het ook nie op skool in die kring van die nerds tuisgekom nie, met 'n C- gemiddeld in matriek kan jy nie as akademiese reus gereken word nie.
Ek het nog nooit valskerm gespring nie. Ek het nog nooit 300 km/h op 'n motorfiets gery nie. Ek het nog nooit in 'n regte, egte Ferrari gery nie, wel 'n kit-car ene. Ek het lanklaas 'n donut met my kar of motorfiets gespin. Ek is die stadigste fietsryer in die dorp, en ry ook die stadigste motorfiets van almal wat verder as die Pick 'n Pay ry.


Ek is nog altyd met dieselfde vrou getroud, het nog nie eers ogies gemaak vir 'n ander man se vrou nie. Ek het nog steeds dieselfde kinders wat ek soms help grootmaak. Nog nie ander op 'n ander dorp gaan maak nie.

Ek is nie die handsomeste ou in die dorp nie. Ook nie in die straat nie. Nie eers in my eie huis nie.
Ek kan nie ander tale praat nie, selfs die Engels kom krom en skeef uit. Ek kan nie die Bybel in Grieks of Hebreeus aanhaal nie.

Opwinding in my lewe is om my hare anders te kam. Om nuwe onderbroeke by Woolworths te gaan koop, is vir my exciting! Ek hou van 'n nuwe boek, om daar eenkant op die party te sit en lees. Vakansie is om die Weg op die toilet te sit en lees. Die diepste lewensfilosofie wat ek verstaan, is Bart Simpson, nie Karl Barth nie. My gunsteling stokperdjie is om in die veiligheid van my studeerkamer ander mense se opwindende lewens op die blogs op die internet te volg.

Ek is 'n pliggie in my werk- sal nooit stir nie, en nooit moeilikheid maak nie. Ek sal alles presies doen soos my kerkraad van my vra. Ek het nog nie op 'n sinode opgestaan en iets gesê wat die gang van die geskiedenis verander het nie.

Die tagtigs se musiek is vir my mooi.
Die mooiste vrou in my wêreld is 45 jaar oud.

As my lewe so boring is, dan is daar ook nie iets opwindends om oor te skryf nie. En as ek iets boring skryf, is daar net twee lewendige mense wat dit lees.
So, haal jy nog asem?

http://dimensionministries.com/blog/?m=200904