Vandag moes seker ook in my lewe gebeur het vir ´n doel. Alhoewel wat die die doel is, sal ´n mens nie nou al weet nie. Dalk ook nie vir die volgende 100 jaar nie. Dis soos Elia se besembos ervaring- die een oomblik is daar ´n groot hoogtepunt, en dan moet ´n mens weer skielik aarde toe kom.
Vandag was nag gewees. Ek het halfsewe begin stap, omdat vandag die langste dag sover op die Camino gaan wees. ´n Mens stap eers oor so ´n ysterbruggie uit Portomarin uit. Dan klim jy geleidelik vir 10 km. Die eerste plek wat jy kry, se naam is Toxico- dit gee jou ´n idee wat om te verwag! Daar is allerhande fabrieke en goeters langs die pad. Dit is ook ´n stretch wat die stappers baie in mors.
Die eerste koffie is by Gonzar, 7.9 km van Portomarin af. Soos altyd is daardie eerste koffie in die oggend regtig iets om na uit te sien. Maar daar is verskriklik baie pelgrims wat wag vir diens, synde die eerste koffieshop...
´n Tweede koffiestop is by Hospital. Al hierdie Hospital plekke is vernoem na plekke wat siek pelgrims in die antieke tye versorg het, maar meestal nou nie meer doen nie.
By Hospital het dit begin reën. Ek het myself en my rugsak maar in die poncho probeer toedraai. En aanghou stap. Na 18 km kom ´n mens by Ligonde uit, en daar raak dit interessant. Die gidse gee almal verskillende afstande van hoe ver dit van hier af is na Palas del Rei toe. Maar dit is nog ten minste 7 km. En dit reën. En ek stap. Anderkant 20 km gebeur ´n vreemde ding in Spanje. Skielik word ´n kilometer BAIE verder... Na 22 km word die pyn in die voete baie erg. Na 25 km raak dit onhoudbaar.
So 4.5 km buite Palas del Rei het ´n jong man by my gestop, en vir my ´n pamflet in die hande gestop. Hy bestuur ´n nuwe privaat Alburgue, en nooi my om vir € 10 daar te kom bly. Omdat ek vandag geweldig stadig gestap het, vra ek hom om solank vir my ´n plek te bespreek. Alburgue Méson de Benito is die plek se naam, reg agter die kerk in Palas del Rei. Baie modern en skoon, met drie rekenaars vir internet toegang.
Ongelukkig vanaand die boonste bunkbed vir die eerste keer, ek was bang daarvoor. Maar ek voel darem al heelwat beter na die stort en die glas rooiwyn wat ek nou in het.
Ek het gehoop om by die skedule van John Grierley te bly, en nog drie dae te stap. Daar is nou net 65 km oor. Maar vandag was ´n skok op die lyf, ek weet nie of ek more kans sien vir nog 25 km na Arzua toe nie. Buitendien, in Melide (halfpad) is daar ´n plek wat glo wêreldberoemd is vir sy seekat in die ink voorberei, wat ek eenvoudig sal moet gaan proe- Pulperia Exequiel. Maar dit gaan maak dat ek nie Donderdag in Santiago aankom nie, eers Vrydag. Dit gaan maak dat ek my sertifikaat gaan kry Vrydag, maar Saterdag se mis gaan misloop om 12 uur waar hulle my naam gaan lees, en waar ek begin loop het. Want ek wil Saterdag verskriklik graag met die bus na Finisterre toe gaan, daardie westerlike punt van die Europese kontinent. Fotos wat ek daarvan gesien het, lyk nes Kaappunt. Ek wil dit so graag sien, en het gehoop ek sou nog die 78 km daarnatoe ook kon stap. Maar ek was net te stadig.
Ek gaan nou woes siesta, dan kos soek, dan probeer hergroepeer en kyk wat ek more moet doen. Lekker dag daar by julle elkeen!
No comments:
Post a Comment
En jy daar, wat sê jy?