Gister was vir my aangrypend mooi in ons oggenddiens.
Ons het op 28 Julie 2011 ons gemeente se 50e verjaarsdag gevier. En ek en Danie het besluit om al ons oud-leraars te nooi, vir 'n Dankdiens op Sondag 31 Julie 2011.
Ons is so geseënd dat al ses die leraars wat in die gemeente bevestig is as leraars, nog lewe, en almal gesond genoeg was om hier by die erediens van Nylstroom-Oos te kon teenwoordig wees. Na die diens het ons hierdie foto geneem:
Die eerste leraar van die gemeente was Ds Piet Smit; 1961-1969 (voor regs). Dan na hom Ds Wiets Botes; 1970-1975 (voor middel) Ds Japie van Deventer 1975-1996 (voor links) ekke was vierde van 1995 af tot tans (agter regs) In 1996-2007 het Ds Lukas Coetzer gedien (middel agter) en laaste het Ds Danie Ueckermann bygekom van 2008 tot tans.
Die erediens het begin met al ses leraars wat ietsie gedeel het oor hulle bedieningstyd in die gemeente, en ons was so dankbaar om veral die voorste drie manne se verhaal te hoor, manne wat almal reeds afgetree het. Stories van baie lank gelede is gehoor, onder andere van die eerste vyftien jaar wat die gemeente in Laerskool Eenheid se saal op Sondae bymekaar gekom het (en die Staatspresident se foto verwyder is om nie aanstoot vir iemand te gee nie!) Stories oor gemeentemense van destyds se lief en leed. En so het die erediens begin met die onthou van 'n mooi verlede. Ds Lukas Coetzer het op sy aangrypende mooi manier die Woord verkondig, met ons Roeping as tema. Ek het die onbeskryflike voorreg gehad om twee kindertjies te doop, Skyelar Ruthven en Stefan Bosman. Daarmee het die kerk van die toekoms die diens vir ons afgesluit.
Na die historiese lang diens (ons het nog nie in my 16 jaar voorheen by twee ure kerkhou uitgekom nie!) het ons saam gaan tee drink. Deirdré Stoffberg het vir ons 'n leraarsdinee gereël, en haar man Hannes het net so hard agter die skerms gehelp reël en bedien aan hierdie heerlike ete. Tydens die ete het daar nog baie staaltjies gedeel geraak. Vyf van ons (net Danie nie) het in die pastorie op die hoek van Magazijn en Leydstraat gewoon. Ons kon uitvind wie het die dekselse seringbome geplant (oom Japie) en wie het hulle laat uitkap (Ewald) Wie het die suurlemoenbome geplant (Tannie Rita Smit) en wie het hulle uitgekap (Gerda Coetzer) Oor die geslagte heen het die Pastorie net groter en groter geword, met aanbouings deur die eiendomskommissie. Maar ewe koud gebly!
Met hierdie ete kon ons as leraars beleef dat daar dankbaarheid was vir ons rol in die gemeente se geskiedenis, en ons elkeen is regtig uit ons harte uit dankbaar vir hierdie baie mooi gebaar! Dit was 'n historiese dag, wat seker nie weer sal kan plaasvind soos die leraars ouer en swakker word nie. Dit het vir ons ses baie beteken!

'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!
Showing posts with label Kerkgeskiedenis. Show all posts
Showing posts with label Kerkgeskiedenis. Show all posts
Monday, August 1, 2011
Wednesday, May 18, 2011
Die roem en die eer in John Knox se kerk
![]() |
John Knox en Mary, Queen of Scots |
John Knox (1514-1572) was die leier van die Skotse Reformasie. Hy is in die Universiteit van St Andrews opgelei as Roomse priester en georden in 1536.
Hy het met baie groot persoonlike opofferings weggebreek van die Roomse Kerk, om eers by die Church Of England aan te sluit. Hy was bv nie baie gewild onder die invloedryke Rooms Katolieke adel van sy dag nie, omdat hy uit Daniël 7 die Pous met die Antichris vergelyk het. (tydens sy intreepreek in een van die gemeentes wat hy bedien het.) Twee van die belangrikste konsepte waar hy van die Roomse Kerk sy lewe lank verskil het, was die outoriteit van die Bybel alleen (Sola Scriptura) en die redding deur geloof alleen (sola Fidé). In die prediking hieroor kon hy nogal baie hard oorkom.
Op 29 Julie 1547 het 'n vloot van Franse galleie St Andrews binnegeval, en hom saam met ander protestantse adellikes gevange geneem. Hy het vir 'n tydperk (19 maande) as galleislaaf geroei vir die Franse. Dit het sy gesondheid 'n ernstige knou gegee. Hy is in 1549 vrygelaat, hoe dit gebeur het is nie heeltemal seker nie.
Toe Mary of Tudor koningin van Engeland word en die Rooms Katolieke kerk in Brittanje in ere herstel, moes Knox land-uit vlug, onder andere na Genéve en later na Frankfurt toe. (In Genéve het hy vir Calvyn 'n harde tyd gegee.) Hy het later met die Church of England gebreek oor meningsverskille rondom liturgie.
Hier rondom 1560 het die Skotse Reformasie ernstig aan die gang gekom. Knox is in hierdie tyd terug in Edinburgh, waar hy vir Mary, Queen of Scots, ('n Rooms Katoliek) 'n verskriklike doring in die vlees was. Hy het soms openlik gevra dat die Koningin tereggestel word vir haar Roomse geloof! Hy het onder andere gesê hy is bereid om haar heerskappy te aanvaar, net soos wat Paulus Nero se heerskappy aanvaar het. Van 1560- 72 was hy by die St Giles Church in Edinburgh die leraar, en gedurig besig om te karring aan die Britse koningshuis. Hy was vir geen mens bang nie, en sou die hel met 'n emmer water bestorm as hy kon! Hy is op 24 November 1572 oorlede terwyl sy jong vroutjie vir hom gelees het uit 1 Korintiërs.
John Knox was revolusionêr, en het selfs geweld goedgepraat om sekere doelwitte te bereik. Hy het hard baklei vir die vryheid van mense, en het ernstig gepreek teen 'n onregverdige regeringstelsel wat mense onderdruk. John Knox het die Rooms Katolieke invloed in Skotland omver gewerp, en het die vader van die Presbuteriaanse kerkstelsel wêreldwyd geword. Hierdie stelsel het hy verkies bo die meer algemene Anglikaanse kerk van sy tyd.
Hy was 'n baie groot invloed in die Gereformeerde Kerkgeskiedenis. Watter erkenning sou hy daarvoor kry by sy eie kerk- St Giles in Edinburgh? Kyk bietjie hierna: Hierdie is nie sy graf in die kerk nie, dis 'n moeilikheidmaker van 'n eeu later s'n. (James Graham, die 1e Markies van Montrose- 1612-1650)
Sir James Graham, Markies van Montrose se graf binne die kerk. |
John Knox se graf- onder parkeerplek nommer 23. |
Miskien is die belangrike lessie hierin dat ons nie altyd in hierdie wêreld die erkenning gaan kry, of die vrug gaan sien van ons jare se harde werk nie! Is dit nie dalk wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het mot en roes gaan ons skatte hier op aarde vreet nie, ons moet skatte in die hemel vergader, waar mot en roes dit nie kan bykom nie?
Subscribe to:
Posts (Atom)