'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Saturday, August 13, 2011

Plattelandse basaar, en hoogmoed kom weer tot 'n val!

Vandag was weer NG Gemeente Springbokvlakte se jaarlikse basaar. En al is dit 'n entjie van ons huis af, is dit een van die hoogtepunte in die Schmidt familie (of dan twee derdes van ons) se jaar.

Die Ma van ons huis staan vyf dae 'n week baie vroeg op om almal gereed te kry vir skool. So behalwe vir nasionale rampe en uiters groot prettige geleenthede, staan sy nie vroeg op 'n Saterdag op nie. En nommer 3, my naamgenoot, is ook van nature baie lui en lief vir sy bed. Hierdie tweetjies wou nou nie saam vanoggend uitry Tuinplaas toe (waar Springbokvlakte gemeente is nie...)

Ons moes sewe uur daar wees, want die gemeente het 'n baie lekker fietswedren. 'n 48 km bergfietsren deur 'n paar plase vir die baie fikses, en 'n kort 10 km om die een oom se mielieland vir ons kinders en onfikses soos ek.  My jongste wou al baie lankal weet wanneer is hierdie fietswedren, want sien, hy het verlede jaar 'n R3300 bergfiets gewen in die "lucky draw" by daardie gemeentebasaar. 'n Mens sou kon sê hy beskou hulle nou as sy familie!  En Pa moet hierdie jaar saamry. Want verlede jaar was Pa saam. Maar ek het dieselfde sinusdrip gehad as hierdie jaar. Verlede jaar het ek agter in die bakkie gelê terwyl die seuns fietsry. Hierdie jaar het ek besluit om 'n beter pa te wees as dit. En tog maar op my ou geel bergfiets ook saam gery.
Ousus was ook saam, haar een hokkievriendin met dieselfde van as ons het by die biltongstalletjie gewerk. En Ouboet wou ook vreeslik graag saamgaan, hoekom het ons nie verstaan voor die tyd nie.  Dit blyk nou dat daar 'n blonde klasmaat is, 'n baie mooi meisie, saam met wie hy heerlik die hele oggend gekuier het. Vriendskap is darem 'n kosbare ding!

Ek en Kleinboet het in die koue maar onse sweetpakke afgestroop. Die ou vlakte is vandag baie, baie koud! Daar is nie baie wat deelneem aan die fietswedren nie, skaars so vyftien. Ek en jongste is heel agter van die begin af, hoofsaaklik vanweë ekke...  Ons draai van die teerpad af in, langs die oom se huis verby. Dis 'n groot boerdery, met die mooiste trekkers onder die afdak. Die eerste drie kilometer is 'n droom. Dis turfgrond hier, en die paadjie is lekker hard, met sulke fyn krakies in. Ek voel sommer goed en baie fiks. So ek het nie so baie verloor van die Argus af nie!  Een van die boere ry voor in sy Landcruiser bakkie. En toe draai hy verkeerd af. Hy wou ons seker help op 'n kortpaadjie. Die oorspronklike plan was dat ons om die buiterand van die landerye sou ry, in die harde paadjie. Die nuwe kortpad is hier tussen die lande deur, en die pad word skielik geploegde grond. En nou: my bande op my fiets is Continental Town & Country.  Hulle is gemaak om op teerpad te ry (75%) en as jy op harde grondpad sou ry, sak hy so bietjie in, en gee dan vir jou lekker traksie. Sand? Moeilikheid met 'n M!  Amper sê ek met 'n K!

Ons ry so entjie. Skielik duik daar  'n kontoerwal op. Jongste het geen probleem nie, sy fiets het die regte bande op, en hy is so lig soos 'n veertjie. Hy sweef oor die sand.  En sy pa? My voorwiel begin gly. Ek kry nie my voet uit die pedaal uitgeklik nie. Ek koop 'n plaas. Die eerste een. Daar is so bietjie velle af op my linkerbeen. Dit gebeur maar in die beste families, dis seker tyd vir my jaarlikse val.  Nog tweehonderd meter, nog 'n kontoerwalletjie, nog dik sand. Voorwiel gly, kry nie my voet uit nie, plaas nommer 2. En na nog 100 meter - digte los turfgrond. Voorwiel gly, voet sit vas, plaas nommer 3. Gelukkig is ons teen hierdie tyd ver agter almal. Want ek het die behoefte om lank en aanhoudend lelik te praat...

Ek laat jongste aanry, terwyl hy so goed doen. Daar is nog 6 km oor. As ek teen 3 valle per km gaan aanhou, gaan ek êrens seerkry, twee valle was weer op my linkerarm wat verlede jaar in die bakkierol seergekry het. Ek besluit om maar die km terug te stap na die harde pad toe, en dan terug te ry. Jongste ry aan. Gelukkig kom daar 'n back-up bakkie op daardie stadium aan, en laai my op. Daar is alreeds twee ander ook agterop. Gelukkig het ek niks om vandag te probeer bewys nie.  Ek klim met 'n lied in my hart op die bakkie.  Intussen het Jongste gas gegee, hy het sommer die bondel ingejaag sonder my wat hom terughou. Hy het sy wedren verskriklik baie geniet, en sommer 'n medalje ook gekry. 

Die Plattelandse basaar was verderaan baie lekker. Ek het so 'n ontbyt van lewer en pap en suursous gekoop. Met 'n ordentlike sosatie om dit mooi af te rond.   Daar is ook pannekoek geëet, en die heerlikste Peppermint Crisp tert vir R5.00. Verskeie koeldranke is gedrink. Die kinders het lekker gekuier met al die vriende. Ons het gebly vir die Lucky Draw, maar die keer het ons nie weer 'n fiets gewen nie...

Die seuns het die Waterballe baie geniet.

Hierdie is 'n klein gemeentetjie, wat swaar geraak word deur die ontvolking van die Platteland.  Hulle het die probleem dat kleiner boere dit nie meer maak ekonomiesgewys nie, en verkoop aan groter boere.  En tog het die groepie wat agtergebly het, besluit dat hulle gemeente sal voortbestaan, hulle gaan hul bes daarvoor probeer.  Daar was nie so baie mense by hierdie basaar vandag nie. En tog was die atmosfeer baie, baie lekker gewees. Ons sal maar volgende jaar weer so maak!

No comments:

Post a Comment

En jy daar, wat sê jy?