'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Tuesday, August 30, 2011

Anderkant jou en my, lê daar 'n Berg... *


"Ek het 'n vriendin, ver by die blou see... Teen die hange van Tafelberg, as die son sak.." Koos Kombuis- Lisa se Klavier

Ek weet nie wat is vandag in my lewe aan die gang nie. Ek het hierdie ongelooflike hunkering om in die Kaap te wees vanaand. Om die sonsonder oor Robbeneiland te sit en aanskou, met verskuldigde eerbied, van die Blue Peter se stoep af. Ek het die behoefte om saam met goeie vriende daar 'n Pizza te eet, en 'n tweede en 'n derde bottel rooiwyn saam leeg te maak.

Ek verlang na die Kaapse paaie met my motorfiets. Ek verlang na daardie uitjaag verby Atlantic Beach se hobbelpad, verby Derdesteen, waar die Suid-Ooster my altyd verby my topspoed druk in die rigting van Melkbosstrand. Ek verlang na die draaie daar verby Rooi-Els, die Franschhoekpas, Helshoogte. Ek verlang na die reuk van Kalkbaai, selfs die pong daar voor Simonstad is reg met my vanaand. Ek verlang na die uitsig van Millers Point en Slangkop en Chapmans Peak.

Ek verlang na die Afrikaans van die blommeverkopers in die middestad, ek verlang na Ferryman's se Bosun's Bitter bier. Ek verlang na Exclusive Books in CAnal Walk, en die boekwinkel agter die Windpomp by West Coast Village.

Ek verlang na my vriend die dominee en sy kids, ek verlang na die roomysman, ek verlang na die singende dominee, ek verlang na die kerkgebou van Bloubergstrand. Ek verlang na Ons Huisie restaurant, en sushi by Eastern Fusion op Melkbosstrand.  Ek verlang selfs na die wegspring met die fiets onder die Burgersentrum- "everybody says Whoopah!" Ek verlang na Mariner's Wharf se snoek, en die skoenlapperplek van Stellenbosch.

Ek verlang selfs na nuwe vriende wat ek nog nooit persoonlik ontmoet het nie- die dromer oor volgende jaar se Camino, die ene met die oranje huisie by die see, die vriendin met die hartseer oor 'n pragtige wit Run-X.  Die een met die helder flitsie by Swellendam, en die suster in die hospitaal.

Ek verlang na die reuk van mos na die oes, calamari langs die strand.  Ek verlang na die draairoomys met die sugercone, die stap daar by Dolphin Beach. Ek verlang na die ou wrak wat ek so van News Café kan sit en bekyk oor omelet en toast.

Vanaand wou ek graag DAAR wees, en nie HIER nie...
Wat gaan met my aan?


* Titel met apologie aan Dozi

4 comments:

  1. Jy is heeltemal reg toe jy gisteraand gese het ek moet dit nie lees nie..ek sou natuurlik net my goedjies wou pak en by my familie gaan kuier het...maar nou ja. Ek mis die lekker vis en chips by Houtbaai. Ek mis die sushi by Kleinmond. Ek mis Muizenberg se vlooimark en Kalkbaai se restaurant waar die branders hier reg by jou slaan. Ek mis die Spur op Gordonsbaai se strand, waar die kinders in die wit sand kon speel toe hulle nog kleiner was. Ek mis Bernie's Restaurant en Pub by Harbour Island, Gordonsbaai. Ek mis Somerset Mall....my lysie kan ook net langer en langer word, maar laat ek maar op hou.

    ReplyDelete
  2. En nou maak jy my so skuldig voel want ons het gisteraand gesushi by Blowfish, ek het die receipt in my sak van die boek wat ek 'n paar dae terug by Exclusive Books in Canal Walk gekoop het en ek gaan vanoggend langs daai Blouberg strand loop. DANKIE dat jy my laat besef het hoe ongelooflik geseend ek is en hoe pateties my gemoan oor kleinighede eintlik is! Ek kan net vir jou en Neeltje se, onthou, dis nog als hier! Ek is seker daar is baie nuwe hartspunte daar reg om julle wat julle net nie nou so spesiaal ag nie - kyk bietjie - net soos ek als waarna julle so verlang hier om my as vanselfsprekend ervaar! :)

    ReplyDelete
  3. Ek gaan weer probeer kommentaar hier los. Ek huil nog steeds oor my RunX, maar ek het myself belowe, binne twee jaar sal ek weer een hê.

    Verder pas ons die Berg vir jou op, dis die een konstante onverganklike in my lewe. Daai Berg. Dis my anker, na God.

    ReplyDelete
  4. Ek het vandag ingeskryf vir Argus nommer 18- ek is oor 191 dae in die Kaap. Net gou van Zero na Superfiks toe beweeg...
    Ek is ook baie lief vir daardie Berg, al neuk sy my op elke jaar op my fietsie!

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?