'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Thursday, August 4, 2011

Die vreugde van 'n Bosberaad...

So nou en dan moet 'n mens se werk ook die baie lekker oomblikke hê! Ons gemeente is geaffilieër by die Suid Afrikaanse Vennootskap van Gestuurde Gemeentes. En so nooi Hannes Peens van Marken gemeente ons leraars om saam met Frederick Marais van Stellenbosch 'n aand om 'n kampvuur in die bos te gaan sit.

Uiteindelik kon net vier van ons dit bywoon, Frederick Marais, Hannes Peens, Tokkie Scheepers van Ellisras- Wes gemeente, en ek.
En wat 'n heerlike aand was dit nie gewees nie!

Tokkie Scheepers, Frederick Marais en Hannes Peens


Ons het gisteraand, so in die winter, in tente geslaap. Ek dink as 'n mens nou in die winter moet in tente slaap, is Marken seker een van die beter plekke om dit te doen.

Die twee tente is baie netjies opgeslaan onder 'n reuse ou Maroelaboom. In hierdie boom is die mooiste hamerkopnes!
  
'n Hamerkop- nes

Nadat ons ingetrek het, het ons die vuur aangesteek.  Daar is baie lekker gesels rondom die vuur! En ja, daar was toe rooiwyn ook gewees om die gesels aan te help. Frederick het vir ons 'n botteltjie Durbanville Hills Cabernet gebring (dit kom na die tyd uit dat dit op Marken se drankwinkel gekoop is, een van die vier geboue in Marken!)  Daar is so 'n heerlike boma, waar ons kon gesels oor baie diep dinge. Hoe dit met ons en ander kollegas na aan ons harte gaan. Ons kon gesels oor die kerk in hierdie tye. Diep dinge, seer dinge, lekker dinge is gesels tot na elf.
'n Bosveld kuierplek- daar is seker nie beter in die hele wye wêreld nie, as rondom 'n hardekool vuurtjie!

Vanoggend het die manne weer vroeg begin beweeg. Ons het 'n heerlike koffietjie gedrink om die vuur- 'n Franse koffie gemaak in 'n aliminium plunger van Checkers, baie lekker manier om die dag te gaan begin. Daarna het ons gaan stap in die veld. En ek het my kamera in die tent vergeet! Ons het by 'n dooie hardekoolboom gaan staan. En eendag sal ek hom moet gaan afneem. Hannes sê as hierdie bome besluit om te vrek, dan vat hulle 400 jaar om dit te doen. En wat 'n pragtige stomp! Daar is die mooiste patrone deur die wind en weer, en jare se veldbrande op dit uitgekerf.
Ons het tussen kierieklappers en groot aalwyne, Bruidjie van die Bosvelds en papierbasse, knoppiesdorings en groot, lewendige hardekoolbome deurgestap. Ons het in verwondering wind-af van 'n jongerige rooibokram gestaan en kyk, hoe hy heerlik wei, later van ons teenwoordigheid bewus raak en seker vir twee minute stip na ons gestaan en gluur het op so veertig meter afstand. En toe 'n neushoringvoël bler, toe spring hy weg. Ons het koedoespore en blouwildebees gesien, daar was die spore van 'n groot luiperd, en die mis van 'n bruin hyiena. Ons het op 'n koppie met die mooiste rotsformasies geklim, en dit net geniet om mens te wees, met soveel skoonheid in die natuur om te bewonder.

Heelwat later het ons gaan brunch maak. Van gisteraand se pap en sous warm gemaak, en die twee varktjops wat oorwas in repies gesny en daar in gegooi. Daar was 'n heerlike boerewors, en oorskiet slaai van gisteraand. So oor die ete het ons gesels oor ons roeping as Gestuurde gemeentes. Ons het saam gedroom oor die pad vorentoe. En besluit dat volgende jaar daar 'n tweedag oorslaap moet wees, om dit met meer verskuldigde eerbied af te handel!
Dit was ver om te ry, maar dit was lekker. Dit is wonderlik om te hoor hoe dink ander kollegas wat al lankal dink oor die roeping van die kerk.  Dit was so spesiaal om mekaar oor die boeretroos en hardekoolvuur beter te leer ken. 

'n Geleentheid soos hierdie gebeur nou nie so dikwels in my werk nie. Maar dit is lekker as 'n mens so bietjie uit die gemeentegrense met die groter kerk se dinge besig kan wees. Ek het dit nou regtig geniet!

1 comment:

  1. Dit klink lekker. Julle ouens moet maar 'n jaarlikse of ses maandelikse retreat vir predikante hou.

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?