'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Wednesday, July 20, 2011

Die droom van die mensdom- om te kan vlieg!




























Vandat ek baie klein was, was ek nog altyd baie lief vir vliegtuie. Ek dink hierdie liefde kom van my vroegste jare af. My ma se jongste broer was 'n lugmag offisier (lugafweer, nie vlieënier nie...)  Ons het in die skadu van Waterkloof lugmagbasis gewoon in my eerste jare as mens. En as klein seuntjies het ons die vliegtuie geken wat daar oor ons huise gekom het.Ons kon hulle later aan hulle klank uitken.  'n Mirage F1 klink anders as die Mirage F 3. Die Impala het sy eie geluid, die Buccaneer ook. Die mooiste van al die vliegtuie was as die ou Vampires daar oorgekom het- hulle het so 'n unieke fluitgeluid.
Dan was daar ook die helikopters- die Aluette met sy bubble neusie, die Pumas wat ons die meeste gesien het, en die groot ou Super Frelon- ons het hulle geken... 
En so het daar ons mannetjies daar  in Monumentpark Laerskool die vliegtuie met mekaar bespreek pouses, baie beïndruk met die manne met die vlerkies en die Raybans...

Ek het eers bietjie later in my lewe die kans gekry om vir die eerste keer te vlieg. Een van die dorp se dokters het 'n Beechcraft Bonanza besit, en het my saamgenooi om eendag na Vryheid toe te vlieg. En dit was 'n wonderlike ervaring in my lewe. Ek was nog nooit bang daarvoor nie. Daardie eerste keer se grond verlaat, met die spoed tydens 'n opstyg, dit was 'n hemelse ervaring! En om van so bo in die lug die klein huisies en karretjies doer onder te sien uit 'n engel se oogpunt uit, dit was absoluut oorweldigend!

My eerste ervaring om in 'n groot vliegtuig (Boeing 747) te vlieg was in Standerd 8, toe ons skoolkoor na Europa toe is met die Hollanders saam (KLM).

My eerste helikoptervlug was eers in die Weermag, toe ons nog tydens opleiding 'n padpatrollie op die N3 by Cato Ridge net buite Pietermaritsburg moes staan. Daar was 'n lugmaghelikopter (Aluette) wat elke nou en dan opgestyg het, gekyk het hoe lyk die verkeerspatrone, en dan weer kom land het. Ek het die kaptein gevra of ek saam kan opgaan (sê die SAS nie "who dares, wins" nie?) , en hy het ja gesê. Om net 1000 voet op te styg by Cato Ridge was ook iets besonders. Dit het gevoel of die Drakensberge sommer hier teenaan lê, met sneeu op die bergpiek. En net by die ander venster uit het Durban se strande gelê, met die blou see, en skepe op pad hawe toe, die hoë hotelle wat lyk soos daardie Miniworld by die Marine Parade in Durban uit die lug uit. Die wêreld lyk sommer anderste van bo af!

Later in my dienspligjaar het ek 'n wonderlike geleentheid gehad om saam met 'n lugmag- en 'n infanteriekaptein in 'n Aluette te gaan vlieg oor die Krugerwildtuin. Die lugmag en die leër (4 SAI in hierdie geval...)  is nie altyd lief vir mekaar nie. En die kapelane is neutraal... Die vlieënier het vir my voor die tyd gevra of ek bang is, want hy het al lankal iets teen die weermagkaptein (wat skytbang vir tjoppers was!) En toe ek sê "nee, gaan groot!", toe het hy... Dit was van die lekkerste 90 minute wat ek nog in my lewe gehad het. Ons het daardie koppies langs die wildtuin naby Hazyview bestorm, tot net so bo-oor die koppie. Dan weer daar naby God's Window oor die eskarp gevlieg, en anderkant die neus skerp afgedruk grond toe. Oor die wildtuin het ons baie laag oor die bome gegaan en olifante van redelik naby gesien (sorry Greenpeace!)
En aan die einde van die 90 minute het ons met 'n Combat Landing geland. Excellent!!!

Daardie Wildtuin tjopper dag- afgeneem teen my muur in my studeerkamer!

Verlede Saterdag was daar weer 'n Fly-inn in Nylstroom. (seker die vliegwêreld se weergawe van ons motorfietsrallies!) Ons gemeente het daar gaan pannekoek bak. Ek wou graag daar wees. Waar propellers en vlerke is, daar wil ek ook altyd wees. Ek het eers na die tyd uitgevind 'n mens kon vir R1400 'n spin gaan vang met die ou Harvards (foto bo) waarmee ons vlieëniers opgelei is voordat Pontius 'n Pilatus geword het...  Dan was ek dalk nou nog dieper in die knyp! Pragtige ou vliegtuie! Die mooiste klank kom uit daardie ou enjins uit.

Van die siviele vliegtuie was hierdie vir my die mooiste een van die dag. Ek het nie 'n idee wat dit is nie, maar daardie lyne van sy ontwerp is klassiek, ek is mal oor gepoleerde aluminium en daardie blou pas so mooi daarby.  Kan iemand dalk help met wat dit is?


In Bruce Willis se Disneyfliek "The Kid" wens die hoofkarakter sy hele lewe lank dat hy 'n Pilot kan word. Baie, baie dae wens ek ook dat daardie droom waar kon word in my lewe. Ek het dan alreeds die Raybans... 

5 comments:

  1. Het jy al The aviator gekyk? As jy nog nie, doen jouself die guns en kyk dit.
    Vir my is vlieg ook wonderlik, die deel tussen in die opstyg en land natuurlik..ek het al die wereld deurkruis op langafstand vlugte, was al in 'n paar helikopter ritte, en selfs in 'n kleinerige Cesna(wat 'n nagmerrie) maar bly maar steeds 'n senuweewrak as dit by opstyg en land kom.(O en voor ek vergeet, ek het op 'n stadium uitgegaan met een van die manne met die Ray Bans..hehe)

    ReplyDelete
  2. Ja, mal oor alle vliegflieks. Groot bewondering vir Amelia Earhart. Flyboys...
    Hoe weet 'n mens iemand is 'n Pilot? Hy sê dit vir jou! :-)

    ReplyDelete
  3. Ek was so bevooregd om saam met van die Abraham Kriel Kinderhuis kinders in die 4 sitplek vliegtuigies te klim. Dit was regtig 'n belewenis, veral daardie gesiggies as die vliegtuig ... up, up and away!!

    ReplyDelete
  4. Hi Neeltje- jy het in daardie blou en silwer ene gevlieg- wat is dit?

    ReplyDelete
  5. Ek het nog nie in 'n klein vliegtuigie gevlieg nie maar ek dink dit moet seker 'n heel ander ervaring wees as om in 'n Boeing te vlieg! Die 1ste Oktober is daar weer vir die eerste keer in 'n baie lang tyd 'n lugskou by Waterkloof as jy sou belang stel!

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?