'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Tuesday, July 5, 2011

Camino Fotos deel 14- Finisterre- die einde van die aarde

s jy ooit die CAmino gaan stap in Spanje, beplan vir jou vier ekstra dae se stap.  En dan stap jy van Santiago af tot by Finisterre.  Hierdie voel vir my so die meer logiese plek om die Camino af te sluit- om te stap tot daar waar die pad ophou. Waar die Romeinse keiser gesê het- hier eindig die aarde- hier is niks verder om te verower nie!  Behalwe as jy nou 'n swemkampioen is en gou die Atlantiese oseaan wil oorsteek, en verder in Amerika die Appalachian Trail wil gaan doen. Maar ek beveel dan eerder 'n vliegtuig van Madrid af soontoe aan!

Soos baie ander gewaarsku het, het ek ook so half teleurgesteld gevoel in die bereiking van die katedraal. Die Heilige Jakobus se beendere in die silwer kissie onder die altaar het nou regtig niks vir my gedoen nie, al het ander mense voor daardie kissie gaan kniel en bid.  (Ek het in elk geval eers die kissie later gesien, toe ek van Finisterre af teruggekom het, en moes wag vir my trein terug Madrid toe. Toe was die katedraal nie so vol mense nie, en kon ek rustig daar deurstap).

As jy in Santiago is, kry vir jou 'n kaart van die stad en kyk waar die Autobus Estacion is. Daar is daagliks busse wat na Finisterre toe vertrek. Maar nie te baie nie- ek dink twee in die oggend, en hulle ry heen en weer- so twee busse in die middag terug. Die bus self is baie mooi luuks, so groot dubbeldekker. Ek het nou nie uit die bus vreeslik baie fotos probeer neem van die reis nie, maar dis baie mooi, redelik vinnig is 'n mens by die see, en dan loop die pad deur baie kusdorpies, 'n mens kry amper daardie gevoel van die Argus- daar van Kalkbaai af langs Simonstad, Miller's Point verby- baie soortgelyk.


Die luukse bus by sy eindpunt in Fisterra, die vissersdorpie by Finisterre, die einde van die aarde.

'n Baie lekker plek om te bly is die Hotel Finisterre- ek het 25 Euro betaal vir die nag. Daar is ook twee albergues waar jy heelwat goedkoper kan bly, maar wil jy regtig op hierdie stadium van jou reis nog styf langs of onder 'n vreemdeling lê?

Ek het gewonder hoe op aarde gaan ek die Hotel in 'n vreemde plek kry, en toe is hy reg oorkant die bushalte. Ek het ingeboek, en toe gesien my kamer het 'n balkonnetjie, wat in die gebou oorkant vaskyk. Maar as jy nou regs draai, dan sien jy hierdie toneel:
Daar het die bus omgedraai, vir sy 11h45 vertrek terug Santiago toe.  En die vissershawe net daar onder. Maar nou wil 'n mens eers gaan kyk hoe lyk die einde van die aarde. En dit is 'n twee kilometer klim. Maar jy doen dit sonder rugsak, en jy het nou fiks geword, die kilometers vlieg onder jou fikse voete verby...
Dieselfde standbeeld as net anderkant O Cebreiro wys vir jou die pad aan na die Vuurtoring aan die einde van die aarde.(Effens sigbaar daar op die horison.)


Die mees logiese plek volgens my om jou Camino te eindig, is by km 0 daar by die vuurtoring.


Dan kan jy, hoewel dit onwettig is, oorweeg om 'n kous/ ander ou kledingstuk van jou reis te verbrand-

Voor jy stil op 'n klip gaan sit, en jou hele reis tot hier bietjie sit en bedink, terwyl jy kyk na die magtige Atlantiese oseaan hier voor jou. Moenie hier kaalbas probeer swem nie, die vorige ou wat dit probeer het, het weke later in Ierland uitgespoel.  Nie eers 'n Ierse pub kon hom weer red van sy dors nie...

Hier kry jy die gevoel- nou is my reis behoorlik voltooi. Verder as hier kan ek nie.  Ek het alles bereik wat ek so graag wou bereik. En dis dalk een van die min kere in jou lewe wat jy daardie gevoel gaan hê: Taak suksesvol afgehandel! (dalk nie in jou werk nie, in myne is dit baie skaars om iets te kan klaarmaak!)

Dan verander jy van 'n Pelgrim in 'n toeris. Fisterra is 'n pragtige hawedorpie, om lekker te kan gaan verken. Baie fotogenies, dink ek altyd van vissershawens.



Daar, aan die einde van die kaai, kan jy die ander Caminotradisie gaan waarmaak...


Jy kan lekker gaan eet by een van verskeie seekosrestaurante wat uitkyk oor die hawe.


En dan vir 'n slag soos 'n koning gaan slaap in jou eie hotelkamer, met jou eie bad.
Om more weer die lang, lang pad terug huis toe aan te pak, via die 3 1/2 ure busrit Santiago toe, die aandtrein terug Madrid toe, die moltrein terug Barajas Internasionale lughawe toe, en die vliegtuig terug na jou land toe.

Die reis gaan jou kos. Jy gaan baie dinge agterlaat. Jy gaan soos Rod Steward sing in All for love ervaar: "through the wind and the rain, the hurt and the pain... "
Daardie linker kleintoontjie wat ek later wou amputeer met die Swiss Army knife- hier is hy nadat hy al 'n week gesond geword het: (op Santiago se treinstasie- daardie 5 ure wag vir die trein...)

Maar weet jy wat het dit alles die moeite werd gemaak? Om die eindpunt van die reis te bereik. Om vrede te ervaar. Om te weet: ek het dit reggekry!



Mag jy ook eendag hier staan, aan die einde van jou reis!

Buen Camino!

2 comments:

  1. God, I wish I'd been able to make Finisterre...next time! Like the blistered little toe!!

    ReplyDelete
  2. I threatened to amputate it with my Swiss Army knife! This photo shows the result of three consecutive blisters on the same toe, following each other to torment me. Finisterre was a very good experience for me.

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?