'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Monday, July 4, 2011

Camino Fotos deel 13- Die laaste dag na Santiago toe

Die groot verveling kom vinnig nader- fluit fluit, my storie is amper uit...

Die laaste dag van die Camino vra 'n ekstra vroeg wegspring as jy enigsens beplan om die Pelgrimsmis om 12h00  in die katedraal van Santiago te maak. Onthou mos nou, die oorspronklike eindpunt van die Camino is daardie silwer kissie onder die altaar van die katedraal, waar Jakobus se beendere na baie, baie optimistiese legende lê. John Brierley sê hierdie dag is 20.1 km. Kan ek jou verseker- dit gaan verder as 25 km voel. En die 500 meter ver sementblokke raak skielik weg by die Santiago lughawe. Dalk het 'n BEE firma die kontrak destyds gewen, en die afstand so effens misjudge?

Een van my gunsteling fotos van die Camino- die voor sonop wegspring uit Arca de Pinho uit.



Pas uit die dorp uit, die donker bos lê voor, en die straatligte raak weg.



Dit lyk dalk al so lig, maar hier is hoe die bos gelyk het. Gelukkig het 'n mens nooit daardie gevoel van 'n misdadiger met 'n mes of gesteelde pistool wat agter die boom gaan uitspring en jou gaan doodmaak vir 'n gaar ou Nokia foon nie...


Op hierdie laaste dag is daar baie, baie pelgrims met dieselfde idee in die kop- om die katedraal betyds te haal. Almal stap vinnig en vasberade, daarom is daar ook nie so baie fotos van hierdie dag se stap nie.

Net na sonop- die eerste koffiestop onder die brug by die snelweg. Ja, dit is die plek waar my geliefde hoed seker vandag nog aan die een stoel hang. Ek het in my blog geskrywe oor die meisie met die baie, baie swaar rugsak, met die haardroër en elke dag amper ander klere. Dit is sy in die blou. Sy het die Camino klaargemaak met DAARDIE rugsak, en ek het haar nooit sien kerm en kla nie. Baie respek!  Die vrou is seker maar die sterker geslag?  Hierdie een is 'n dame en 'n yster!

Selfs die laaste dag het sy mooi dele.

Daardie was omtrent die enigste pothool wat ek in Spanje gesien het.

Hierdie is omtrent die laaste kilometermerker wat jy gaan kry. En sommige ouens se stewels het ook net tot hier gehou!


Ek het nie al daardie monstrositeite by San Marco/ Monte Gozo afgeneem nie. Teen hierdie tyd het dit lekker gereën, en ek was redelik seervoet en effens gatvol (toe ek agterkom my hoed is 4 km terug en tyd loop uit), die pad van die Lavacolla Internasionale lughawe van Santiago af  tot by die buitewyke van die stad is ook maar nie baie lekker nie. Monte Gozo het mos 'n reuse moderne monument vir die pelgrimstog, skreeulelik. En daar is 'n Munisipale Refugio wat 500 beddens het. CAmino Disneyworld...

Net verby dit sien 'n mens eintlik Santiago die eerste keer. En dan besef ek vir die eerste keer dat dit nie 'n groot dorp is nie, dis 'n stad seker so groot soos Bloemfontein.


Santiago is soos daardie Janusbeeld- hy het twee gesigte. Aan die een kant (ongelukkig aan die anderkant van die stad!) is die ou gedeelte, waar die katedraal lê. Dit vat baie lank selfs in die stad, voordat jy die katedraal gaan sien.
Maar waar jy inkom, is die stad hipermodern. Dit is ook 'n universiteitstad, met baie moderne geboue. Selfs die besigheidsgedeelte waar jy die stad binnegaan, is baie baie modern.

Die stad sal egter nooit sy karakter verloor as die eindpunt van die Camino nie, soos hierdie standbeeld van die Pelgrimstog vir 'n mens wil vertel soos 'n mens die stad binnekom.

Die ou gedeelte van Santiago is vir my baie mooier as die moderne geboue- is daar fout met my of is dit normaal?


Die katedraal ('n paar dae later afgeneem toe dit nie gereën het nie).

die hoofdeure maak hulle seker net vir die pous oop, en nie die pous van die Bosveld nie!

Die binnekant van die katedraal is in baie goeie toestand, met oor die 14 bieghokkies langs die kante. Die altaargedeelte is baie indrukwekkend. Daar is sitplek vir 1000 mense. Ek was half twaalf daar, maar toe sit die katedraal al vol mense (baie gewone toeriste, nie pelgrims nie!) Dit laat 'n mens brom- ek moes met my seer bene op die yskoue klipvloer gaan sit.

Ek kon nie meer staan op my voete nie, hulle het soos vuur gebrand. En die klipvloer was hard.
So tien minute voor die tyd het 'n lelike non, met die stem van 'n engel, die skare eers 'n lied of twee geleer wat in die diens gesing gaan word. Op die minuut het 'n prosessie van priesters, in wit rokke met rooi borslappies (sien, ek verstaan ook nie die klere se name nie!) baie indrukwekkend in 'n prosessie ingestap. Erens in hierdie tyd begin een van hulle dan in 'n baie somber stem in Latyn (of Spaans) iets vertel van die pelgrims wat die vorige dag klaargemaak het- hoeveel van hulle, waar hulle vandaan is. Ek dink bietjie later in die diens lees hulle ook die name van die suksesvolle pelgrims uit.
Ek was so rondom twaalf minute in die diens. Toe ek my oë ophef, sien ek honderde pelgrims met rugsakke by die diens. En die sondige gedagte tref my- dan gaan die Pelgrimskantoor seker nie nou so besig wees nie.
Ek het saggies myself verskoon, en twee blokke wes na die Pelgrimskantoor toe gegaan. Wat toe redelik stil was, soos ek gehoop het. Onthou 800 mense maak op die oomblik daagliks klaar, en elkeen soek sy Campostela by hierdie kantoor, dit kan soms baie besig word. Gaan na toonbank 5 toe, sê die bordjie.


In die Pelgrimskantoor kry jy jou Campostela, AS jou papierwerk in jou Pelgrimspaspoort reg is, en jy onthou het om die laaste 100 km elke dag twee stempels langs die pad te kry. Jou naam is in Latyn...

'n Lekker en goedkoop plek om in Santiago te bly, is die reuse ou Seminario Belvis. Jy kan op die Internet bespreek daarvoor so twee dae uit, en ek beveel aan dat jy die gids se raad volg, en eers gaan inboek en jou rugsak daar los, voor jy katedraal toe gaan. Anders gaan jy die hele tyd met jou rugsak opgeskeep sit, en weer terugdra deur die vallei na die Seminario toe. Daar is ten minste drie geel tekens langs die Camino wat die Seminario aanwys.


Die akkommodasie is luuks! (nie bunkbeddens nie) met 'n toesluitkas by elke bed. As ek reg onthou (vergeet begin al klaar intree!) het ek 12 euro betaal om hier te bly.  Jou rugsak pas baie gemaklik in. Dan voel jy baie ligter, en kan jy die katedraal aanpak. Daar is 'n kombuis in die "basement" met basiese geriewe, en drie rekenaars aan die internet gekoppel. Hulle bied ook dagtoere Finisterre toe aan vir 25 Euro, maar dié toer bly net 2 ure oor in Finisterre. Doen dit eerder op jou eie- ek sal more ietsie daaroor sê.

Hoekom beveel ek die Seminario so sterk aan, en dat jy inboek voor jy katedraal toe gaan? Kyk bietjie hier: dit is die uitsig van die Seminario af. Die katedraal steek daar heel agter uit. Tussen hier en daar is 'n vallei. Wil jy regtig onnodig jou rugsak soontoe, en al die pad weer terug dra?


Dis nou te sê as jy nie bietjie spaar voor die tyd en in een van die hotelle daar woon nie, soos die Vyfster Hostal de los Reyes Catolico net oorkant die katedraal nie? (Die gids sê net 60+ euro, dit gaan heelwat meer wees!) Die eerste 10 pelgrims elke dag wat vir hulle vra, kan saam met hulle staf in die parkeerterrein gratis eet- deel van hulle ou wortels as oorspronklik 'n Pelgrimshospitaal.

In elk geval, ek het dit gemaak tot by my gestelde eindpunt! 317 km van Leon af in 18 dae. Ander het dit baie vinniger gestap, ander het baie verder gestap, en ek respekteer hulle daarvoor. Vir my was hierdie 'n baie groot uitdaging in my eie lewe, en 'n hele paar gemaksones wat ek moes uitbreek. Ek sal nog ietsie daaroor skryf voor ons hierdie onderwerp heeltemal afsluit. Maar hier is ek voor die katedraal- kyk net die hemelse glans op my gesig!
 





7 comments:

  1. Sien jy nou, jou laaste foto wys al die seer voete en ander ontberinge was die moeite werd.
    St Ewald indeed!
    Hierdie moes 'n amazing ondervinding gewees het van begin tot einde, en die katedrale het darem maar 'n grootsheid wat mens nie aan iemand kan verduidelik wat nog nie self in een gestaan het wat eeue oud is nie.

    ReplyDelete
  2. OMG! That last pic...how did I miss that before! Priceless! Course in my case...I need the horns...other wise, it could slip around my neck and be used to strangle me!

    ReplyDelete
  3. Karin, didn't you automatically receive your halo when you stepped into the cathedral? Mine is still there and shining brightly...

    ReplyDelete
  4. Dankie vir 'n lekker "staptoer". As ek net op jou skrywe en foto's moes gaan was ek verseker "gehook" om dit self ook te doen - maar gelukkig het ek onthou van die ouderdom, dus sal jou skrywes maar moet doen :-)

    ReplyDelete
  5. Ha-ha - wat 'n gepaste laaste foto!! Ek moet se, nadat ek jou en Karin se camino's so gevolg het begin ek STERK oorweeg om al hierdie jaar te gaan stap...groot verjaarsdag of nie!

    ReplyDelete
  6. Emilene, wat van hierdie jaar EN volgende jaar? My vrou vlieg September met Lufthansa Ierland toe, saam met skoonma en skoonsus. Die laaste twee vlieg voor haar, en hulle het kaartjies gekry vir R6400. Lufthansa is baie lekker diens, en dit sal seker dieselfde kos Madrid toe as jy self deur hulle website bespreek. Doen die Portugese roete hierdie jaar en volgende jaar die Franse roete?

    ReplyDelete
  7. Sandra- ouderdom is nie 'n rede om dit nie te doen nie! Die sewentigjariges het my dikwels in die stof ingeloop!

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?