'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Saturday, July 2, 2011

Camino Fotos deel 11- Palas de Rei na Melide se Pulpo!

Die einde is in sig. Sug...  Binnekort is al my stories op, en dan is ek weer vervelig...

Gister se fotos van 'n slegte dag het toe baie lekker gesprek ontlok, en een van die mins geëerde fotos in my oë het skielik baie dieper betekenis gekry. Dis die lekker van ander mense in ons lewe- daardie goed wat hulle raaksien wat vir ons self verborge is. Dankie vriende, dat julle wat ek nog nooit vir 'n koffie kon vat nie, al so baie in my lewe beteken!

Fotos van Palas del Rei na Melide toe.

Nog in Palas del Rei- wat sou hierdie monumentjie tog beteken? Gee 'n beskrywing soos jy dit verstaan?


Bustoer stappers voor my, sommige dorpe was net lekkerder as ander om agter te laat. Dis seker hoekom die koning (Rei) nie meer in hierdie Paleis wil bly nie...


Net buite die dorp raak dit weer bosserige paadjies, die tipe stap wat ek baie geniet. Bome om jou wat fluister, sagte kompos onder die voete, koel briesie, voëltjies wat sing, veral kanaries!



In Spanje is daar redelik baie eiendomme beskikbaar teen vermoedelik goeie pryse.  Hierdie een kort so klein bietjie "tender loving care..."


Nog bospaadjies- askies as hulle jou verveel, dis regtig vir my baie lekker in bosse...



En om een of ander rede doen die murasies dit ook vir my. Waarom sou dit wees? Afbreek van die mensgemaakte, herstel van die natuur?


In Melide in is hierdie pragtige brug- soos groot ou bome is ou brue ook baie fotogenies in my oë, ek kan net nie my kamera van hulle af weghou nie!



Maar nou verander die boom en brug blog vir 'n rukkie in 'n heerlike-kos-wat-jy-nie-moet-mis-in-jou-lewe-nie- blog!
Al die reisgidse praat hieroor in Melide, en as jy ooit naby is, en nie vir Jodium allergies is nie (of is dit net skulpvis?) en nie soos ek op 'n jonger ouderdom sê die beste seekos is die boer se koei wat op die strand loop nie, dan is hierdie een vir jou:



Die plek lyk dalk nie na veel nie. Eenvoudige hout tafeltjies en bankies. Maar magtag, daai kos is lekker!
'n Mens neem nou nie die Plaaslike Bevolking af met "flash" aan nie, dis ongeskik. So verdra maar my klein kameratjie se beperkte lensopeningstye...


Dit wat vir E9 by 'n mens se tafel uitkom, is die volgende:


Daardie seekat word sag gekook. Dan word hy in blokkies opgekap. Ek vermoed hy word dan in olyfolie vir 'n kort rukkie in 'n pan gebraai, en 'n rooi spesery- paprika? word oor dit gegooi. Op 'n houtbord bedien. Dit word Pulpo genoem, en is so sag dit smelt in jou mond. Baie, baie geurig. En die kommetjie wyn daarmee saam is baie lekker. Ek vermoed hier het ek vir 'n hele bottel betaal, maar net die helfte gedrink, soos by enige Pelgrimsmenu.

Hierdie was DIE ete van my tyd in Spanje, eg inheems, baie basies, maar baie lekker! Weet iemand of daar êrens in ons land Pulpo by 'n restourant bedien word- dis soveel lekkerder as ons Kaal Marie?

Ek het net die helfte van 'n John Brierley dag gestap, maar na hierdie ete was 'n mens bietjie lus vir rus!
Die privaat Alburgue was bietjie teleurstellend in Melide, dit was net so "crowded" soos die munisipale een langsaan. Dit was ook E2 duurder as enige ander privaat Alburgue tot dusver. Maar darem ook drie rekenaars aan die internet gekoppel om die druk te verlig.


Die vroeë stop het darem ook kans gegee om lekker rustig en stil te wees, en by die kerk 'n draai te gaan maak. So dikwels sit daar bedelaars by die deure- hierdie tannietjie het my kopersente in die beursie gekry, die goed maak die beursie net swaar.

Simeon het vir Maria gesê in Lukas 2 dat 'n swaard deur haar siel sal gaan. Hier is nogal 'n mooi uitbeelding daarvan.


Na 'n paar lang dae het 'n mens amper gevoel of ek lyf wegsteek deur net 15 km te loop vir die dag. Soos een van die vriendinne hier gesê het- ek ly soos sy aan 'n ooraktiewe gewete. Dit was goed vir my reis om nie vandag, soos John Brierley aanbeveel het, deur te druk Arzua toe nie. Maar dit het weer ander probleme meegebring, wat ons in die volgende episode oor kan gesels. Na die vorige slegte dag was hierdie een baie lekker! Viva Pulpo!

No comments:

Post a Comment

En jy daar, wat sê jy?