'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Wednesday, June 2, 2010

Honda MTX 50- 'n Motorfiets maniak word gebore!

" Fifties" was groot in Newcastle, soos Jaco Kirsten ook in die Weg geskryf het.  "If you don't own wings, you'll never fly" sê die Honda advertensie van die dag.

Maar hoe gemaak as jou ma 'n teatersuster is, en sien hoe die manne lyk wat nie meer aan die regte kant van die rubber verkeer nie? Ma sê: "Oor my dooie liggaam sal jy eendag  'n motorfiets ry..." Pa brom: "Koop hom self!"

Maar ons het 5 km van die Hoërskool af gebly, met 'n skotige opdraende op die Memelpad uit op pad huis toe. En fietsry het dit nie meer vir my gedoen nie, nie vir die image nie, en ook nie vir die sosiale lewe nie. Ek begin toe maar in St 6 om koerante af te lewer, en Dinsdae- die Huisgenoot. In die somer heel skaflik, in die winter met die Natalse Ryp nie so lekker op die baaisiekel nie! Standerd 6 en 7 soos 'n slaaf vir Mammon gewerk. En uiteindelik- Desember 1982, net voor my 16e verjaarsdag, is die geld min of meer gereed.

Nou die keuse: Al my vriende ry Honda's. Maar die MBX is net te duur. (Eerste groot fout met voertuigaankope net hier gemaak). Die Suzuki Gamma is ook baie vinnig, om van die Yamaha RZ  nie te praat nie. Die Kawasaki was so bietjie verouderd.

Maar ek het 'n streep Moto-Cross weg- dit was so lekker om daarna te kyk op SAUK! Eerder 'n Scrambler- dan kan ek vir my vriende op die plase gaan kuier ook.  Vandag weet ek ek moes eerder die Yamaha DT gekoop het. Maar almal wat saakmaak ry Honda. Die ou MT was verouderd. Die nuwe MTX het uitgekom, en hy het net soos die XL 185 gelyk. Ek was die eerste een in Newcastle met hierdie model! Maar hy was 'n DUD!!! Steeds lugverkoelde enjin, nes die MT en MB. Haal die fenominale spoed van 80 km/h waar my vriende die magiese 100 km/h kon haal.  ( Dalk 85 in die legendariese "Panty valley" af, met my voete ingehaak agter die flikkerligte, en die wind van agter!)Was ek teleurgesteld!

Wel, met hierdie eerste motorfiets het ek in Std 8 en 9, en 1e kwartaal van matriek 30 000 km gery!
Om die waarheid te sê was ek op skool maar 'n redelike "loner"- ek het net baie moeilik tussen mense aangepas.  Vandag weet ek daar was destyds maar ook 'n goeie skoot depressie ingemeng in my menswees. Maar ek het dit nie toe verstaan nie.  Ek kon net nie maklik inpas nie! Maar op my motorfiets het ek vry gevoel. Die adrenalien van daardie eerste reise het opgemaak vir die dopamien en ander breinjuices wat te min was. Op my stadige motorfiets was ek die koning van die wêreld. (Hy was darem vinniger as die meeste meisies se scooters, behalwe miskien Anél se Yamaha Jog!)

O ja, ek het 'n paar groot valle ook aangeteken, om by te dra tot my ma se grys hare. Een oggend het dit vreeslik gereën. Ek het afgery in die Memelpad, tot waar dit doodloop in die Volksrust- Ladysmith pad. Die lig was groen vir my. Van die dorp se kant af het 'n man van Ferrum Hoërskool op 'n Suzuki gesit en wag vir die robot. Destyds het ons nie van Ferrum se manne gehou nie, en ook nie van Suzuki's nie. Ek besluit toe om vir hom so in die draai 'n middelvinger te gooi (was in my ou lewe- verstaan! Ek doen dit nie meer... nie)  Wel, in die draai het my gladde agterband 'n oliekol getref, en die volgende oomblik ruineer ek my grys langbroek op die teer. Maar wat die seerste gemaak het, was daardie Ferrum ou se gesigsuitdrukking. EK is so bly ek het nie gehoor wat alles by Ferrum se parkeerterrein gesels is nie!  Seker maar die blinde sambok! 
Ek het geleef vir motorfiets ry. EK het gewerk vir petrolgeld
Maar omdat ek tien duime het, het ek nie so baie geweet van die ding diens nie. Op 30 000 km het sy enjin bietjie moeilikheid begin gee, dalk van al die sludge in die oliesump!  Gelukkig kon ek hom vinnig aan 'n Yskor "Appy" verkoop- net 50 cc's mag ingery het byYskor se hekke na die aanleg toe. Vinnig geleer van waardevermindering- ek het die fenominale bedrag van R1000 neergesit by Hannes Strydom se pa- die Toyota garage het ook die Honda handelaars gehuisves. Met die enjinmoeilikheid het ek R330 vir die motorfiets gekry. Maar dit was toe ook nie so sleg nie, want die selfde dag het ek geleer om op te gradeer na 'n ouer model toe. Dit sal die volgende storie wees.

Daardie Honda MTX 50 was mooi, hy was stadig, maar hy was myne. My eerste voertuig met 'n enjin in. Ek dink die Honda het my gehelp om deur baie moeilike tienervrae te worstel. As daardie Ferrum ou op die Suzuki Gamma ooit hier lees: Sorry, boet!

Foto- Die spieëls is altwee afgeval...

1 comment:

  1. Korreksie- die MTX was vir R340 verkoop aan die Yskor man, as Sars dalk nou hier wil lees!

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?