'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Friday, June 4, 2010

Honda MB5 en die "footrests" skuur op die pad!


Ek het vertel hoe ek die eerste trotse, en later gefrustreerde eienaar was van die heel eerste MTX in Newcastle. Later, heelwat later, sou Honda 'n waterverkoelde MTX 50 uitbring, wat darem amper met die Yamaha DT kon meeding.  Die een groot frustrasie was as my vriende 100 km per uur ërens heen kon ry, en ek net 80. Dis sleg om altyd die agterste ou te wees! (Ek dink êrens in my toekoms lê ten minste die nuwe BMW R100RR!)

Die eerste motorfiets wat ek uit my hart uit voor lief was, was die Honda MB5.  Myne het na my kant toe gekom deur die leed van 'n goeie vriend. Nicky Samwell se ma was ons wiskunde onderwyseres, en sy pa 'n wetenskaponderwyser van formaat. Hierdie egpaar was slim verby! Maar Nicky het nou nie soveel in die akademie belang gestel as sy ouers nie. En hy was die trotse eienaar van die pragtige MB hier bo op die foto. Sy punte het kwaai geduik in een van sy ouers se vakke. (Dalk 2%, ek kan nie meer so mooi onthou nie!) Toe besluit sy pa- dis sy motorfiets se skuld. Hoe op aarde kan 'n motorfiets 2% by akademiese prestasie steel, wonder ek deesdae. Dit maak dan juis dat jy vinniger by jou boeke kan uitkom!


Nicky besluit toe dat sy motorfiets darem in goeie hande moet wees. EN hy verkoop die motorfiets toe aan my vir R330, R10 minder as wat ek vir die MTX gekry het. Dit was die eerste groot bargain in my lewe. Want Nicky het hom mooi opgepas. DIe foto hierbo is op die Memelpad geneem, net nadat ek hom gekry het. Hoe weet ek dit? Hy het nog die standaard uitlaatpyp op.

Kyk, maak geen fout nie- die MB was 'n fantastiese fiets. Maar hy was nog steeds stadiger as die MBXe en RZ's, hy was darem 'n generasie ouer as hulle, en steeds lugverkoeld. Maar in Newcastle was daar 'n oplossing. Corrie Victor Motors het vir ons Expansion Boxes gebou! Free flow exhaust systems!  Magiese woorde, wat my hart nou nog warm laat klop. Eerstens het die goed ordentlik geraas. Een van die groot vreugdes was om daar deur die besigheidsdeel in die aand van die koor af huis toe te jaag, en daardie fantastiese geraas te hoor- pure musiek in 'n skoolseun se ore. Vandag is ek so dankbaar my bure het nie sulke goeters op die erf nie!  In elk geval, dié Expansion Box het my MB darem saam met die standaard MBX laat loop. Vir die eerste keer kon ek ook gemaklik 100 km/h haal, en dit was vir my soos wat daardie sub 4 myl vir Roger Bannister moes gevoel het. Ander ouens het nog kasterolie met die "two-stroke" gemeng, maar al my geld het in petrol ingegaan. As ek reg onthou, was dit so rondom R3 om die tenk vol te maak!

Die groot vreugde was om met hierdie motorfiets te "corner". Ons het gereeld daaroor gespog om ons "footpegs" te skuur in die draaie, veral daardie lang, slap draai in Gemsboklaan in (is dit sy naam, kan nie meer Newcastle so mooi onthou nie)

Met my MB het ek matriek klaargemaak. EK moes hom aan die begin van my eerste jaar in Bloemfontein kry, want eerstejaars mag nog nie karre op kampus aangehou het nie. Daar was net een manier. My ouers het my Beetle vir my deurgery, en by my oom in Bloemfontein geparkeer. Ek het die vorige dag die 500 km op die motorfiets deurgery. My ma was seker dood van bekommernis, drie weke tevore het ons my sussie begrawe wat aan kanker dood is. Dit was deel van die rede hoekom ek bietjie tyd op die motorfiets wou deurbring- hartseer en vrees vir die nuwe fase in my lewe wat so skielik gekom het.

Daardie MB het my hart verstaan, en was altyd gewillig om my te troos. Sy voetpegs het so lekker geskuur om die sirkels in die hoofpad van Kovsies se kampus. (Ek vermoed die spoedgrens daar is 40 km/h, maar dit kon nooit bevestig word nie.)

My MB het maar 'n hartseer einde gehad. As eerstejaarstudent in 'n manskoshuis leef jy maar in vrees vir die seniors. En jy moet hulle altyd groet, oral waar jy gaan. Ek het een Sondagmiddag by my familie gaan eet. Op pad terug huis toe het een van ons HK lede hand aan hand met sy meisie gestap. Ek het vir hom gekyk, om hom te groet. EN nie gesien dat 'n polisiebakkie van baan verander, en voor my stop om regs te draai nie. Toe ek weer voor my kyk, staan die bakkie doodstil enkele meter voor my- heeltemal te laat. Ek het hom ordentlik "connect". Lekker gelê en kreun in die teerpad, en vaagweg onthou dat 'n ander polisievoertuig my by Unitas Hospitaal se buitepasiente gaan afgooi het. Daarhet hulle my  'n jodium inspuiting gegegee, om op die X-strale te kyk of my organe heel is .  Gelukkig was ek nie ernstig beseer nie, en dieselfde aand was ek nog by die koshuis gewees. Maar ek was vir 'n paar dae so styf ek kon nie beweeg nie. Ek dink koshuisouens het my motorfiets gaan oplaai. En later het die polisie my vir roekelose en,of nalatige bestuur aangekla. Ek het dit selfs reggekry om albei die bakkie se agterligte uit te haal. Ek moes R50 skulderkenning betaal, en nog 'n paar R100 om die bakkie te herstel.


Met die skade en die koste van studies saam het ek nooit geld gehad om die MB reg te maak nie. My ouers het wat oor was, ook aan 'n YSkor Appy verkoop, wat hom reggemaak het, en nog vir jare met hom in Yskor se aanleg ingery het.

Vandag wens ek ek kon hom terugkry, vir my seuns om mee te leer ry. Ek het verlede jaar gaan kyk hoe Bernard in Volksrust rugby speel (op my Aprilia deurgeskiet!) Een dag het ek "for old times sake..." in Newcastle gaan rondry, net weer in Drakensbergweg gaan afjaag. EN daar êrens naby Amajuba, by 'n winkelsentrum, staan toe 'n wit MB. Het ek darem heimweë gekry! Gelukkig was daar nie Eks Ferrum ouens met Suzuki GSX 1000's in die kruisings nie (sien die MTX storie vroeër)!

Ek het die MB seker omtrent net 15 maande gery. Maar daardie dapper klein motorfietsie sal altyd 'n ereplek in my gedagtes koester. Ek het op die Internet op hierdie pragtige foto van 'n Europese MB 5 afgekom, en die enigste verskil tussen hom en myne is dat hy die MBX styl rims het.

2 comments:

  1. Ek is dankbaar om te kan sê dat hierdie my laaste val was. Ek hoop dit bly so tot by die Harley ongeluk as ek 96 is!

    ReplyDelete
  2. Bogenoemde pragtige MB5 te sien by:

    http://motorbike-search-engine.co.uk/classic_bikes/honda-mb5.jpg

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?