'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Wednesday, June 9, 2010

Honda CB 400 N- vat my na my meisie toe!

My hart was gebreek oor my gebreekte Honda MB5.  Maar dit was seker maar bedoel om my in die grootmenswêreld in te dwing- 'n mens kan ook nie by 50cc bly vir die res van jou lewe nie!

Ek het elke Desember vakansie by Yskor se aanleg in Newcastle vakansiewerk gedoen. Die Desember van my 1e Universiteitsjaar beland ek toe by Hoogoond no 5. Daar het ons 12 uur skofte gewerk, en baie goeie geld verdien.  Ek het met my pa oor die universiteitsgelde onderhandel, en hy het uiteindelik gesê dis reg- koop maar weer vir jou 'n motorfiets. Een van my vriende in Bloemfontein het my vertel dat sy buurman 'n Honda CB 400 N wil verkoop, vir die fenominale bedrag van R1400. En ek het dit toevallig in my bankrekening. Hy het my die fiets gaan wys, en ek was dadelik verlief. Daardie kurwes! Daardie kleur! Nie 'n krappie op nie! En so het een van die mooiste verhoudings in my lewe begin!

As 'n man gewoond is aan 'n 50 cc, dan was hierdie 400 'n stukkie hemel op aarde. Ek het met haar my groot motorfietslisensie gedoen. Die Spietkop wat my getoets het, was nog wit geskrik in die gesig nadat 'n medelandsburger hom met 'n 3 ton lorrie vir die ry van sy lewe gevat het! In elk geval, die man het net vir my gesê: "Boet, sien jy daardie stopteken daar (so 75 m weg!) As jy tot daar en terug kan ry sonder om jou nek te breek, dan skryf ek jou lisensie uit." Boet se nek is nou nog heel, en nou ry ek wettiglik groot motorfietse- in elk geval wat lisensie aanbetref, spoed is dalk 'n ander kwessie.

Hierdie tweesilinder was 'n droom. Nie vinnig nie, ek kan nie onthou dat ek ooit veel meer as 160 met haar gery het nie. Maar ek het byna nooit moeilikheid gehad nie.(Daar was die een keer met die "crankshaft", maar Rhenier Nel het dit mooi reggemaak.) Sy het soos 'n droom om die sirkels op Kovsiekampus gegaan. Sy het my veilig huis toe in Newcastle gevat as geen studente kon saamry met die motor nie. En toe ek en Annelie begin uitgaan, en sy soms soos 'n vrou maak, dan het die motorfiets my weer gekalmeer daar op die Bainsvlei pad uit.

Annelie kan mos soms 'n idee in haar kop kry... In my 3e jaar maak sy uit, en gaan hou skool in Oos- Londen. En Februarie in my 4e jaar vra sy my weer om uit te gaan- maar dis 'n storie vir 'n ander keer. In elk geval- nou is ek woes verlief. My meisie sit 560 km weg in Oos- London. Ek leer ken al die Oos- Londen studente op kampus, en ry amper elke naweek met die Passat af, hulle betaal die petrol. Maar as niemand wil saamgaan nie, dan ry ek met die motorfiets Vrydag na klas. En ry Sondagmiddag so 16h00 weer terug Bloemfontein toe.

So gebeur dit dat dit een naweek begin reën, en ek skryf Maandag 'n toets. Ek moét terug. En dit reën. Ek weet nie veel wat van Queenstown af gebeur het nie, want toe is ek al klaar nat deur my reënpak. En dit hou aan en aan met reën. Heelwat later nader ek die groot en indrukwekkende Vrystaatse dorp Smithfield. Smithfield het die fluksste Spietkop in die land... Sondagaand agtuur sien ek net buite Smithfield so vae liggie in die pad waai. Kan ook nie mooi sien nie- die water loop oor die Lafé se "visor" en dit is nog half toegewasem ook. Ek het eers 'n hele interne debat aan die gang oor wat my oë sien, en wat my gepaste reaksie behoort te wees. DIt skop toe in dat die liggie dalk aan die spietkop se arm verbind is, en dat ek DADELIK moet begin rem. Wat ek toe ook doen, en so amper op sy bruin gepoleerde skoen tot stilstand kom. DIe omie wou toe net sien of my lisensieskyfie op datum was. Amper 'n groot gemors! Hier is wyse raad vir elke Spietkop: as dit katte en honde reën, moenie met 'n flou liggie in die pad gaan staan en motorfietse probeer aftrek nie. Ons kan byna niks sien nie, veral nie vir jou nie, jy gaan seerkry. Maar erger as dit: ek gaan seerkry, en dit gaan ons vriendskap ruïneer!

Die Honda CB 400 N het my baie goeie diens gegee. Ek was baie lief vir daardie motorfiets. Toevallig ook 'n 1982 model, nes my eerste twee motorfietse!

In my weermagjaar het dinge begin skeefloop met my finansies. My ouers is ook deur 'n moeilike finansiële krisis getref. OP 'n dag moes ek noodgedwonge die motorfiets verkoop, want ons eersteling was skielik op pad. Gelukkig het my goeie vriend Marthinus Britz haar gekoop, sy het darem nie in 'n vreemdeling se hande beland nie. Ongelukkig het 'n kar voor Marthinus ingery, en het hy bo-oor die bonnet gevlieg. Gelukkig is hy nog met ons, vandag nog my vriend, en nog meer mal oor motorfietse as ek.

Die foto hier bo is waarskynlik geneem op een van die vele Oos-Londen trippies. Soos ek gesê het- daardie blou kleur het dit altyd vir my gedoen! Ek mis daardie fiets, ek het van my heel gelukkigste tye in my lewe op haar geniet, en 'n goeie 5 1/2 jaar se diens uit haar gehad. Ek het nooit met haar geval nie. Ek hoop daar is 'n hemel vir soet motorfietse wat hulle kant in hierdie lewe gebring het, want hierdie een het dit regtig verdien om daardie kronkelpad tussen die wolke mee te maak!

No comments:

Post a Comment

En jy daar, wat sê jy?