'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Wednesday, June 2, 2010

Die vreugde en die vryheid- 'n Motorfiets

As jy elke dag met mense werk, dan raak mense soms een te veel.  Elke mens het maar daardie basiese, onbewuste idee dat hy of sy die middelpunt van die heelal is. Selfs ek dink baie keer dat net ek reg dink. Almal wat van my verskil moet êrens iets verkeerd verstaan. Maal dit nou met 'n gemeente van 1700 mense, wat elkeen 'n idee het wat Dominee nou eintlik moet doen vir hulle- goeie diens is belangrik

Wel, soms raak al die stemme te veel. Soms lui die telefoon daardie een keer te veel op 'n dag. Soms is dit net nie lekker om in jou baan te bly, en al die reëls gehoorsaam en slaafs te volg nie. 
Hier binne in die dominee is 'n biker wat wil uit.  Ek is baie dankbaar vir my 5e motorfiets in my lewe, my Aprilia Pegaso 650 Cube. Hy kan oral ry, maar hy kan dit nie vinnig doen nie. Baie soos ek! 
Vir die Argusse van 2009 en 2010 het ek gereël dat my fiets met vriende afgaan Kaap toe. Ek self het met die motorfiets afgery, hierdie jaar saam met 'n baie goeie vriend van jongdae af.  

Om met 'n motorfiets te toer, is nie om te jaag om by jou bestemming uit te kom nie. Daarvoor is my Italiaanse meisie met die mooi kurwes in elk geval nie gebou nie. 'n Reis op 'n motorfiets bly 'n avontuur. Om dit reg te doen, moet jy eintlik nie eers 'n idee hê waar jy vanaand wil slaap nie. Jy volg jou voorwiel. Jy stop by elke interessante koffieshop langs die pad. Jy draai af op die minder bekende paadjies, en die meer "scenic route".  Eers laatmiddag begin 'n mens wonder in watter dorp gaan jy 'n wonderlike gastehuis ontdek.  Watter restourant gaan vir jou daardie unieke dis voorsien, wat so ligjare verwyderd is van Micky D of Wimpie. Soos die skaaptjops wat 'n mens ekstra kan bestel vir R9-00 by die Travalia Padstal, 1 km verby Drie Susters.  Of die hamburger van die Merino Restaurant in Victoria Wes. Of die vetkoeke van daardie vriendelike geel  kafee reg oor die NG Kerk in Trompsburg.

Op die motorfiets kan die selfoon jou nie pla nie. Jou bankbestuurder wil nie saamry nie. In die draaie van die Huishoekpas sit die tandarts se rekening nie in jou kop nie.  Dis net mens en masjien, rubber op die teer, loutere genot. Op die motorfiets skakel jou "worry" deel van die brein af. Dalk werk net die reptielbrein- absolute oorlewing, absolute ekstase.  Jy is weer mens, deel van die natuur, reisiger in die wind, die reën, die son.  Jy oorleef ou tannies met Corollas in klein dorpies, bye wat in jou baadjie invlieg, vlakvarke op die pad tussen Marken en Ellisras.  Bo in Botswana, anderkant Nata, kan jy selfs tussen die olifante deurvleg!

En soms raak die pad op, soos op hierdie foto hier bo. Ewan MacGregor en Charlie Boorman het van bo in Skotland die lang pad af gevat, om ook hier te eindig. Hier by Kaap Agulhas kan jy nie verder Suid nie. Wel, nie in Afrika nie. Hier sit 'n mens en droom oor die pad wat jy afgelê het om hier uit te kom. Hier sit jy en geniet die oomblik van hier en nou. Eers heelwat later begin jy dink om weer op te klim, en verder te ry. Na die Backpackers op Struisbaai. Die pragtige sandsteen gastehuis in Baron van Rheede van Oudtshoorn straat in Oudtshoorn.


'n Motorfiets is in jou bloed. Soms is jou bloed ook op die motorfiets- maar dis 'n ander storie! 'n Mens lewe net een keer. Elke mens het daardie een ding nodig wat ons herinner- ons kom net een maal hierlangs verby. Hoekom nie maar op die agterwiel nie?

No comments:

Post a Comment

En jy daar, wat sê jy?