'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Wednesday, June 9, 2010

Honda CB 750 F- net te oud!

My vierde motorfiets, glo dit as jy wil, was my vierde 1982 model Honda! Dit het so gebeur...

Ek het met groot trane in my hart my Honda CB 400 N aan my vriend verkoop. Dit was in 1992. Ek was deur die weermag, deur die tyd in Kroonstad as Dienspligkapelaan en Proponent. Ek het my eerste beroep gekry in Nylstroom, later my tweede beroep, ook in Nylstroom. Vier kinders is gebore. Daar was eenvoudig net nooit weer geld vir 'n motorfiets nie.

MAar die honger het nooit verdwyn nie. Elke keer het ek daardie ver af uitdrukking in die oë gekry as die motorfietse deur ons dorpie brul. Daardie sirkusleeu wat so op en af in sy hok loop, en met dooie oë na die maan staar- ek ken sy hart se gevoel.

Op 'n dag  (min  of meer, ongeveer, by benadering, plus minus 2002) staan ek in my vriend Jimmy se fietswinkel. Ek vra hom of hy nie weet van enige tweedehandse scooters in 'n redelike kondisie nie. Op daardie stadium staan oom Kleyntjie in die winkel, en hoor my versoek. Hy nooi my om saam te kom kyk wat in sy motorhuis staan.

Hierdie Honda CB 750 F het 'n hartseer storie. DIt was ook Kleintjie se seun se fiets. Sy seun was toe al twee jaar oorlede in 'n motorongeluk, en die fiets staan intussen net in die motorhuis. Hy soek 'n goeie baas vir die fiets. Die motorfiets was pragtig opgepas, ook nie 'n krappie nie, soos julle op die foto kan sien. Die Cowley 4-1 uitlaatpyp was indrukwekkend. Die enigste moeilikheid is: die fiets het baie lank gestaan.  Ek het die motorfiets by oom Kleintjie gekoop vir R8 000.

Ek was een keer Poison Rally toe met die motorfiets- toe dit nog in Potgietersrust aangebied is. Op pad terug het daar vuilgoed in die tenk losgekom, en in die vergassers verstop geraak. Dit het veroorsaak dat die fiets petrol teen 'n redelike spoed by die oorvloeipypie uitgegooi het.  Ek het begin soek na 'n motorfietshandelaar wat die vergassers kon regmaak. Maar oral het ek gehoor: Jammer- hulle werk nie aan sulke ou fietse nie. Hulle ken nie die Carbs nie. En daar is spesiale sinkronisasie of kalibrasie nodig tussen die vier verskillende vergassers, wat hulle nie kan doen nie.

Hierdie arme ou dame het vir 'n jaar in my motorhuis gestaan, waarin ek net nie die regte antwoord kon kry vir haar geriatriese toestand nie. Ek het in totaal minder as 1000 km met haar gery. Ek was later so gefrustreerd. Op 'n dag het 'n jong man by my gestop, en gevra na die motorfiets in die garage. Ek het hom die hartseer verhaal van haar spysverteringsprobleme vertel. Die jong man het gesê hy ken hierdie fietse. Hy het my R7500 vir haar aangebied, voetstoots, wat ek dadelik aanvaar het. 

Ek het hierdie motorfiets nog een keer gesien. Die jong man het die vergassers reggekry, en die motorfiets silwer geverf, met 'n blou potloodstrepie. Die fiets was te koop vir R14 000. Ek gun hom enige wins, want ek kon die fiets nie tot haar reg laat kom nie. Ander eienaars van hierdie model motorfiets het getuig van groot betroubaarheid en jare se vreugde. Myne het net te lank gestaan.  "I did own the wings, but I never flew..."

No comments:

Post a Comment

En jy daar, wat sê jy?