'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Wednesday, November 28, 2012

Kos vir my geliefde...


Annelie het haar Ma by haar huis gaan aflaai, en Maandagmiddag teruggekom. 
Ek wou nou nie graag hê dat sy na 'n lang dag honger by die huis aankom, en dan moet kosmaak nie. Soms is dit net nodig om vir 'n vrou te wys hoeveel sy waardeer word, en so het ek besluit om dit 'n feesgeleentheid te maak. Met 'n lekker bottel Bubbly om 'n punt te maak- ons moet ook die klein dingetjies in die lewe vier, soms net die ander een se teenwoordigheid in ons lewe is mos genoeg rede...

Ek is nou nie Masterchef gehalte nie, nie eers naastenby nie. Maar ek kan darem met liefde 'n pakkie macaroni kook, maaklvleis met gemengde groente en 'n Pakkie Pasta & Sauce voorberei, en dit keurig in 'n pot gooi. Glipsie- ek vat toe mis in die rak en vat die Tamato & Chilli pakkie raak, en Mevrou hou nie so baie van brandgoeters nie. Maar met die gemengde groente saam was dit darem hanteerbaar... 

Stephan het die tafel mooi gedek vir sy ma (nie sleg vir 'n 12 jarige seun nie...!) 


Die resultaat? Een gelukkige moeder in ons huis!







Monday, September 3, 2012

Die Paralimpiese Atlete inspireer ons!

Ek en my gesin kyk in die aande met presies dieselfde vlakke van toewyding na die Paralimpiese spele in Londen.  Dikwels het ons 'n traan in die oog en 'n knop in  die keel.
Dit is aangrypend mooi hoe mense wat al baie seergekry het, of anders as ons gewone mense gebore is, hulle lewens nog steeds voluit aanpak. Om met daardie stukkende liggame met soveel entoesiasme vir jare lank te oefen, om steeds die heel beste te kan wees wat hulle kan wees- hulle droom ook oor Olimpiese Goud! En hulle elkeen verdien dit. Hulle het ons onverdunde ondersteuning- hulle is die ware kampioene in die lewenswedloop!

Vroulief merk nou die dag op- die gees van sportmanskap is baie mooier hier as in die ware Olimpiese spele. Hier is die atlete nie so vol van hulleself nie- hier is baie meer medelye en empatie met jou mededingers.

Saturday, July 28, 2012

Die Koffiekan in Nylstroom

Ek het hierdie week bietjie gedink. Hoe kan dit mooi wees om net iets oor die nuweling in die dorp te sê, as 'n mens nog nie eers oor jou ou gunstelinge gepraat het nie.

Die Koffiekan in Nylstroom is al baie lankal een van my gunsteling uithangplekke. Die foto op my blog se avatar is daar geneem toe ek nog mooi en jonk was,,, vanoggend was ek en dieselfde denimbaadjie en ou Huisbesoek saam daar gewees. Ek het laat opgestaan, want ek het tot by oom Paul se liedjie twee uur vanoggend gekyk wat daar in Londen aangaan. Soveel talent en leierskap in een vierkante kilometer bymekaar. Het julle gesien hoe mooi lyk Maria Sharapova toe sy Rusland in die stadion inlei? Wow!

Ek dwaal al weer af- die aandagafleibaarheid, sien? Waar kry jy die Koffiekan? As jy in Nylstrooom inry van die snelweg af, dan gaan jy oor die treinspoorbrug langs die groothandel slaghuis Meatrite. As jy oor die brug gaan- kyk links. Daar in die Nylstene kompleks is Die Koffiekan.
Huisbesoek Regs, saam met die Vermaaks se Yammie en Harleys...
 Daar was nog altyd vir my 'n baie lekker atmosfeer in die Koffiekan. Soos jy instap, is daar die kalmerende effek van die koi visdamme, mooi toegespan dat jou kiddies nie kan inplons nie...  Dis 'n baie kindervriendelike plek, waar jou kiddies kan gly en in die sand kan speel...

Daar is heelwat interessante voëlspesies om na te kyk in hokke daar agter die sandput. Hier is ook 'n uitstekende haarsalon waar mammie kan hare sny terwyl pappie bier drink, hulle is gelisensieerd.
Kyk net mooi na die kinders rondom die Macaws, soos my Ierse skoonsussie se dogtertjie op die harde manier uitgevind het. As jy sien wat 'n Macaw met 'n hoenderbeentjie kan doen, dink wat kan met 'n kind se vinger gebeur...

Pasop, ek byt so nou en dan...
Hierdie is 'n baie lekker plek vir ontbyt eet. 'n Bodemlose koffie kos R15 en is van baie goeie standaard.
Ek hou baie daarvan, na veral 'n harde fietsrysessie, om hier hulle pap en wors te kom eet, bedien met 'n gebakte eier en kom met heerlike tamatie en uie smoor vir net R35. Ek gaan die ontbytbladsy van die menu hier bysit, ek dink dis billik.

Die koekverskeidenheid is groot vir die platteland en effens goedkoper as die stad se pryse. Vanoggend se Lemon Merangue was heerlik saam met die filterkoffie! Die Scones is kleiner as Mugg en Beane s'n, maar heelwat goedkoper.

Vanoggend het ek die Vegetariese Saadbroodjie met slaai gehad vir R33 vir ontbyt. Dis altyd 'n pluspunt as daar EGTE botter saam met brood bedien word, en nie daardie simpel Flora sampletjies nie. Hier slaag Koffiekan die toets.

Die Beeld en die plaaslike koerantjie is by die deure beskikbaar, en verskeie televisies is gewoonlik op die huidige Sport (vandag die Olimpiese padfietswedren) of kosprogramme soos BBC Food ingestel.  Dis 'n lekker plek om vir 'n rukkie te kom sit en kuier met jou laptop. Ongelukkig is daar nog nie wifi in enige koffieshop in ons dorp beskikbaar nie, ek skimp gereeld by die eienaars om dit beskikbaar te stel!

Die diens is gewoonlik vriendelik, maar kan soms bietjie aan die stadige kant wees. Jy gaan nie party van die stad se plekke se blitsige diens  hier kry nie. Maar dan is ons die platteland, ons leef rustiger as de stad, want ons het meer tyd. Ons ken nie spitsverkeer nie, daardie tyd sit ons eerder in die koffieshops.

So vir toeriste in Nylstroom- die Koffiekan is 'n lekker ontmoetingsplek, ontbyt, middagete, koekeetplek. Dit is kindervriendelik en in die somer lekker koel met daardie fyn watersproeiertjies.  Ek geniet die Koffiekan baie, en kom ten minste een keer 'n week daar vir 'n kafeieninspuiting om die week te oorleef!

Die Ontbytbladsy van die Menu, daar is heelwat verskillende ligte etes en koekerighede ook beskikbaar.









Thursday, July 26, 2012

Karoo Leefstyl Koffieshop in Nylstroom


Ek word soms in Koffieshops opgemerk. Net soms. Vandag. Gister...

In 'n kleiner dorp, ver van die stad se groot malls, het ons nie Mugg & Beane nie. Ons het getreur toe ons Wiesenhof in Januarie vanjaar sy deure toegemaak het.  Ons het nie soos ons buurdorp 'n Greenfields nie.

Maar die onafhanklike koffiewinkel bly ook mos maar lekker om te ondersteun.  Hulle pryse is dikwels goedkoper omdat hulle nie daardie duur francise koste hoef te betaal nie.

In Nylstroom het 'n nuwe koffiewinkel oopgemaak. Karoo Lifestyle...
Vanoggend het ek so 'n ledige halfuurtjie gehad rondom teetyd. Daarom het ek besluit om te gaan inloer by die Karoo Leefstyl Koffieshop.



Waar is die Karoo Leefstyl? As jy van die N1 se kant af inkom, oor die brug, verby die eerste robot, kyk uit vir die windpomp op regterhand langs die groot hardewarewinkel.

Die winkel het sy eie unieke atmosfeer, met inspirerende verse teen die mure:

Agter die hek is 'n hele paar koffietafels, met 'n 1950's atmosfeer.  Daar is groot leerbanke eenkant om rustig op te sit en gesels met goeie vriende. Daar is 'n fontein met kabbelende water wat 'n rustige atmosfeer skep. Verdere dekorasie is oorspronklike skilderye van Marilyn Monroe, 'n groot yster volstruis, 'n gedane 1950's wasmasjien.   Aan die agterkant van die koffiewinkel is 'n gedeelte wat interne dekorasie verkoop- 'n tipiese toeristewinkel. Die atmosfeer is al klaar baie aangenaam vir 'n plek wat nou maar in sy 2e week is, maar ek dink tog dit sal lekker wees as daar luidsprekers buite aangebring word, om die musiek wat in die winkel speel, ook buite te kan hoor.

Dit wat ek die meeste geniet het van vanoggend se besoek, was die pryse!
'n Koppie heerlike filterkoffie kos R10, en hier is vandag se koeklys. Ek het die Weerligkoek geëet, glo 'n ou familieresep uit die Karoo wat oumagrootjie nog met haar eie bewerige hand geskryf het. Ek het dit baie geniet, 'n wit koek wat gekookte kondensmelk en neute insluit- heerlik! Veral vir hierdie prys!
Ekskuus, ek kon nog nie my gesteelde kamera vervang nie, en die Swartbessie is nie so gelukkig in die binnekant van geboue nie! 

Sulke besighede kry maar swaar in ons gemeenskap om kop bo water te hou, ek hoop regtig die Karoo Leefstyl gaan 'n groot sukses wees.

Hoe lyk dit met 'n Wifi sone? Geen koffieshop in Nylstroom bied dit op die oomblik aan nie!

NS- Koffieshop is dalk nie mooi Afrikaans nie, dis ek wat so praat, nie die Karoo Leefstyl se mense nie!






Saturday, July 21, 2012

Moederloos- brekfis en rugby...

My vrou het my ALWEER verlaat.  Ousus is terug na haar plek van studie toe.

Vanoggend is dit net ons manne by die huis.En hier gaan dit rof. Ons was nie skorrelgoed nie. Ons trek nie onderbroeke aan nie. Ons borsel nie tande nie. Daar is net nie tyd vir sulke sissie goed nie. Want vanoggend is dit RUGBY! Ons maak gereed vir die Bulle teen die Crusaders, Maar net ek en Stephan is Bulle- ons lewe met HOOP!

Net daarna is dit die Sharks teen die Reds, Bernard en Ewald se span (al was hulle omtrent nog net drie keer in hulle hele lewe in Natal- hulle was nog nooit op Kings Park nie.  Of Gapsa stadion of Moses Mamparra stadion- kan nooit meer bybly met al die name nie. Sommige dae wonder ek sommer wie ekself is, met al die veranderinge rondom my.

Nou kyk, vanoggend is uitdagende tye. Twee rugbywedstryde direk na mekaar is uitputtend! Ek onthou! Daar was daardie een roemryke dag in my eie persoonlike glorieryke rugbyloopbaan as derdespan haker van Hoërskool Newcastle. Toe ek met daardie game klaarmaak, is die haker van die 2e span net MIA. Toe moes ek maar opgetrek word groot rugby toe- 2e Span! Ek het skoon hoogtevrees gekry- die roem het amper na my kop toe gegaan. Ek wou net begin handtekeninge uitdeel by die Game sentrum, maar ek was bang om daar te staan met al die bomme wat al daar ontplof het naby die Wimpy...

Om twee wedstryde na mekaar te kan oorleef, is voeding baie belangrik.  Met Mammie wat nie vandag met ons is nie, en die seuns wat te lui is, en lanklaas hande gewas het, moes ek maar self die Naakte Kok gaan wees in die kombuis.

Ek het eendag op 'n sinodesitting in Pretoria daar in die Manhatten hotel mooi gekyk hoe die chef my omelet maak. Van toe af kan ek darem ook.  VAnoggend het ek weer probeer:
Daardie pan is een van my heel gunsteling besittings! Ek het hom jare gelede baie goedkoop by Checkers Hypermark in Klerksdorp gekoop. Let op die handvatsel. Hy het eenkeer geval, en soos gietyster maar maak, het die handvatsel afgebreek. Ek is heel trots daarop- kyk daardie nuwe handvatsel- ek het self geleer om gietyster te sweis, en dit net hierdie een keer reggekry, met 'n stuk roundbar  wat in die tuin rondgelê het. Geldwaarde- sal seker so R20 kan kry vir die pan op die kerkbasaar se veiling. Waarde vir my: Priceless! Hierdie pan laat net nooit 'n omelet vassit nie.  Soos dit maar gaan hierdie tyd van die maand gooi 'n mens by wat nog beskikbaar is, so kort voor payday. Rapsie kaas, 2 Weenseworsies opgekerf, 'n skud Tabasco Smoked Peppersous, klein bietjie growwe seesout, en Bob is nog steeds in Zim...

Dis hoekom hierdie pan so geliefd is- Toyota kon hom gemaak het! Alles loop reg, altyd reg...
En die omelet was toe baie lekker, beter as die meeste ontbyte by restaurante in ons omgewing- hiervoor sou 'n mens in elk geval anderkant R45 betaal het!  Ek wens net daar was filterkoffie en nie Ricoffy in die huis nie.

Nou is ek gereed om op te draf teen die Crusaders... hulle gaan bars! (Geloof is veronderstel om deel van my werk te wees, onthou!)
Vroulief, gedra jou daar by Skoonma, en berei jou maar geestelik voor vir die terugkoms huis toe!

Sunday, July 15, 2012

Die einde van die vakansie...

bring groot depressie in die Pastorie mee! By die Onderwyseres en die drie seuns...


Tuesday, July 10, 2012

Anja het 19 geword...

Raai wie het Sondag 19 geword?  Jammer oor die fotokwaliteit, my geliefde Canon Powershot D10 is uit my huis uit gesteel... my dogter het my Canon 350D vir haar studies. Vir die eerste keer van Standerd 7 af is ek sonder 'n behoorlike kamera in my besit :-(

In elk geval, Anja, baie welkom in die grootmenswêreld van stywe begrotings, nuwe liefdes, karre wat gestamp word, min slaap voor groot eksamens, gesels saam met vriendinne by die Square, misverstande met jou ouers...

Al hierdie dinge maak die lewe net meer interessant, en hierdie dae van jou lewe sal jy nog onthou as van die mooiste tye ooit.  Sweef soos 'n arend...

Sunday, June 24, 2012

'n Heerlike Sondagoggend se wegloop...

Nee, ek is toe nie na die Bikerskerk se begin toe nie. Maar ek is op verlof.
Ek en Pastoriemoeder was te laat vir die diens in Vaalwater, waar ons goeie vriend se afskeidspreek was.

Ons het maar in die ander buurdorp gaan rondwandel...

Die brekfis was baie lekker...

Dit was te vroeg om behoorlik saam met oom Jack te kuier...


Soms moet 'n mens ook in jou eie omgewing toeris speel... 

Ja, dis lekker om soms naby toeris te wees...
Na die rondloop het ons maar weer huiswaarts gekeer, en die ou Weber opgestaart vir 'n lekker stukkie "tenderised steak" saam met pap en sous, en 'n heerlike broodjie van Pick 'n Pay.  En so bietjie oorskiet poeding van gisteraand. Gevolg deur die moeder van alle middagslapies...

Friday, June 8, 2012

Vrydagaand amper alleen by die huis...


Photo: Ek en Stephan is alleen tuis vanaand maar ons is nie bang nie...

So gebeur dit toe dat ek en Stephan vanaand alleen tuis moet bly. Skoonma verjaar vandag, en Vroulief en die ander kinders is na haar toe. Maar jongste se rugbyloopbaan het 'n onverwagte hoogtepunt opgelewer. Die Laerskool se 2e span het deurgedring tot in die liga se semifinaal. En hoe het hulle nou 'n kans sonder hulle een vleuel, hmm? So pleit jongste- iemand van sy ouers moet darem daar langs die veld wees om die glorie te aanskou, of die nederlaag te help dra... Dit maak seker meer sin dat Vroulief na skoonma toe gaan, daarom moes ek en hy maar alleen agterbly in die groot en donker pastorie...

Maar ons is manne met planne. Ons kan ORGANISE...

Die een vulstasie in onse dorpie het heerlike hamburgers, so getuig die ouer seuns.  Ons het kos en Coke vir die aand.

Maar die aand is lank. Daarom het ons ook twee DVD's gekry om ons in die kwaad/ uit die kwaad uit te hou. Die eerste een was die heerlike... Puss in Boots...  nou wel nie in 3D nie.
Ons het dit nou baie geniet. Maar daar is so 'n paar aanhalings wat nie so lekker in Afrikaans gaan klink nie...
  Wat ek nie verstaan nie, is die tweede ene. Hy is redelik pas op die winkel se rakke. Ek het hom nie onlangs uitgeneem nie, maar ek het dit al gesien... kan nie dink waar of wanneer nie, seker saam met Kollega by die Sinode se Lentekonferensie verlede jaar...
Elke nou en dan moet ek maar vir die jong man sê om sy ogies toe te maak.  


So Pa en Jongste het 'n heerlike aandjie saam. En more gaan Phalaborwa se 2e Span hulle alies sien daar op Warmbad se Hoërskoolveld (neutrale terrein...)

'n Dubbelbed voel net so eensaam... 

Thursday, May 24, 2012

Nog 'n stappie nader aan grootword...

Nee, nie my seun nie, ekke...

Vanoggend het Bernard sy leerlinglisensie gekry vir 'n 125cc motorfiets...

 

Dit bring so baie mooi herinneringe terug. Ek het ook baie vinnig na my 16e verjaardag my leerlinglisensie gekry, vir my pragtige nuwe Honda MTX 50 motorfiets.

Daardie leerlinglisensie het vir my 'n nuwe wêreld oopgemaak: If you don't own wings you'll never fly...  Dit was so opwindend- daardie gevoel van absolute vryheid as jy daardie enjin aan die gang skop, en met 'n woeste draai van die regtergewrig laat wegtrek op die paaie van die lewe in, met 'n groot avontuur wat wag agter die horison. 

Daardie eerste leerlinglisensie, en my eerste motorfiets, het 'n passie begin wat seker lewenslank sal bly, en my dalk nog eendag deur die Jordaanrivier sal vat... Die vryheid, die roepstem van die pad, die onbekende plekke wat nog ontdek moet word. 

Ek kan dieselfde kyk in my seun se oë sien. Soos my teatersuster-ma wil ek waarsku: wees versigtig Seun, die goed is gevaarlik... maar die Bikerpa in my jubel en sê: welkom in ons wêreld! Mag daar altyd 'n pad wees om te gaan kyk wat agter jou horison lê, mag daar altyd 'n BIKE onder jou wees wat jou vinnig en veilig dra, mag daar goeie vriende wees om die ervaring mee te deel, en mag die regte Passasier (Sy!) eendag agterop jou bike klim, om saam met jou die mooi paaie te gaan ry! 

Draai  daai regteroor, my seun, maar onthou om betyds te briek. Kyk altyd uit vir almal rondom jou, veral hulle wat nie kan of wil dink en sien nie... 

As ek eendag groot is, wil ek graag saam met my seuns, elkeen op eie Bike, op 'n lekker roadtrip gaan. Hulle moet die regte dinge gaan studeer, ek droom van Route 66! 

Bernard: Yol Bolsun!

Wednesday, May 16, 2012

Bernard is nou sestien!

Dit voel so onwerklik- die klein mannetjie wat destyds so vinnig gebore is, en so rustig van kleins af was, het Maandag 16 jaar oud geword. Die klein mannetjie is nou 'n hele ent langer as ek. Hy is nog steeds baie rustig en vredeliewend. Tot hy op 'n rugbyveld opdraf! Ek is so bly hy hoef my nie te tackle nie!

In elk geval, Maandag moes Bernard eers 'n ou toetsie deurwerk so op sy verjaardag. Daarna het ek hom by die Hoërskool gaan uittteken. Eers het ons sy ma en sy vermoedelik siek boetie by die Koffieshop in die dorp ontmoet vir koffie en koek. Daarna het ek en hy die pad stad toe gevat.

Ons het heerlik motorfietse gaan kyk by Honda (sy belangstelling) en BMW (myne...) Ja, dit voel soos nou die dag wat ek 16 geword het, en die leerlinglisensie vir my swart Honda MTX 50 gaan skryf het, en my seun deel die liefde...

Na die motorfiets kyk het ons gaan Calamari ringe eet by die Food Lovers Market in Zambesiweg.





Ons het later sy ousus by Menlyn gaan ontmoet vir 'n vinnige koffietjie by Parrots. En daarna het ons vir die man gaan Rugbytokse koop- hy het nou al meer pare as Francois Hougaardt!

Dit was 'n baie lekker daggie saam met my seun, en ek hoop hy sal sy 16e verjaardag onthou as 'n baie spesiale dag. Vrydag gaan hulle eers teen die Kopstampers rugby speel (Naboomspruit se Hans Strijdom- ek wonder of hulle naam ook nou na Solomon Mahlango verander soos Hans Strijdomstraat in TSwanetoria...)
Daarna gaan hy en die rugbyspan hier braai, ek vermoed ons gaan daarna 'n nuwe pastorie nodig hê!

Een van my oudste vriende Roché Vermaak, leraar in Kalifornië, is in Madrid om die CAmino te gaan stap. Volg gerus sy reis by:  rochevermaak.blogspot.com


Sunday, March 18, 2012

Familie is belangrik!

Maggies, maar ek was lanklaas op hierdie blog van my!

Soos ek ouer word, het ek meer en meer behoefte aan familie. Gelukkig kan ek my moedertjie redelik gereeld sien, maar my suster sit aan die ander kant van die wêreld.
Aan moederskant is die familie omtrent almal klaar in die hemel. Ma se broers was oujongkêrels, en niks niggies en nefies aan daardie kant nie. En albei is al oorlede.

Aan pa se kant van die familie het ons nooit regtig by mekaar uitgekom nie. Ek het 'n neef in Beaufort Wes wat ek nog nooit ontmoet het nie.
Ek het twee niggies in Pretoria wat ek gelukkig so nou en dan te siene kry.

Wat vir my baie lekker was op hierdie trippie Kaap toe vir die Argus was, was om na byna 20 jaar weer my pa se broer en al sy kinders weer te sien. In die jare toe ek in Bloemfontein gestudeer het, het hulle so baie vir my beteken.  Na my pa se dood het ons kontak verloor, tot my niggies my weer opgespoor het op facebook.

Ek het op pad Kaap toe by my neef in Bloemfontein oorgeslaap. Hy het 'n wonderlike lewenspad gestap sover, lyk dit vir my- hy is 'n sammajoor in Panserskool, en sy vrou 'n suster by 'n privaat hospitaal in Bloemfontein. Hulle het die pragtigste twee dogtertjies.
Ek kon vir so rukkie saam met my niggie kuier wat net enkele dae jonger as ek is- het nog altyd 'n sagte plek vir haar in my hart gehad.
My oom en tannie lyk ook nog goed, al het die ouderdom maar sy tol stadig begin eis met die gesondheid. Kon so lekker saam met hulle gesels terwyl ons vir my neef wag om sy pligte by die oorlog vir die dag klaar te maak.
Onder in die Kaap kon ek ook weer vir die eerste keer in meer as 20 jaar die jongste niggie en haar gesin sien. Ook hulle is baie gelukkig, met twee pragtige dogters. Ek het so lekker by hulle gekuier, en ek wens 'n mens kon soveel meer saam kuier...

Ek wou net ietsie deel wat ek op die internet opgespoor het, wat ek so graag meer oor sou wou weet. Familiegeskiedenis is nogal onduidelik en onseker by ons...

My pa se biologiese ma is oorlede in 1946, met die geboorte van haar tweede kind (as ek die storie reg het!)
Sy is begrawe in Onder Papegaaiberg in Stellenbosch. Die man wat hom oor my pa ontferm het soos 'n eie pa, lê langs haar begrawe- hy het so baie vir my pa, my oom en susters beteken, maar is oorlede in my pa se matriekjaar, of kort daarna. My pa het nooit oor hierdie seer stukke geskiedenis met my gepraat nie, en so baie stories van waar ek vandaan kom, het net verdwyn. Die ouma wat ek as Ouma Schmidt geken het, is na haar heengaan veras, en my oom en familie het haar as by hierdie graf gestrooi.


As die familie ooit na hierdie graf wil gaan soek- gaan na die Onderpapegaaiberg begraafplaas toe op die pad uit Stellenbosch na Kuilsrivier toe... soek die Hebreeuse begraafplaas, wat redelik prominent is. Parkeer voor dit. Loop dan na die linkerkant van die Hebreeuse begraafplaas (bokant) toe, en stap daar verby tot aan die agterkant. Nog so drie rye in die gewone begraafplaas in, reg in lyn met die boonste draad van die Hebreeuse begraafplaas, lê die Schmidt grafte, dit is in blok GG maar die mense by die kantoor het geen idee waar dit is nie. Die bordjies is al byna heeltemal verroes.

Ek sou so graag meer oor hierdie mense se lewens wou weet.  As familie en vriende iets kon aanstuur, sou dit baie waardeer word.
Die familie se onthou sê dat hierdie oupa Jimmy Schmidt by die Zonderwater gevangenis by die Italiaanse krygsgevangenes betrokke was, sommige gerugte wil dit hê dat hy die kampkommandant was. Ek sou so graag meer oor hierdie dinge ook wou weet...

Enige inligting of fotos sal baie waardeer word!

Sunday, February 5, 2012

Die verjaarsdag wat ek nooit weer wil oorhê nie...


Ek het op 'n manier so uitgesien na my 45e verjaarsdag. Ons het die seuns uit die skool uit gehaal, en die vorige dag al deurgery Pretoria toe.
Die beplanning was om lekker as gesin saam ontbyt te eet, en dan vir my dogter te help met die finale inskrywings by haar plek van studie, en om al die materiale wat sy nodig het vir haar grafiese ontwerpkursus te gaan koop.


Vroegoggend skakel; ons die jonge dame- sy is nie dadelik gereed om te gaan nie. Die res van ons gaan solank Menlyn toe met 'n paar aankope.
Die volgende oomblik lui my foon. Dis my dogter, en sy klink in 'n verskriklike toestand. Sy het nou net 'n groot ongeluk gemaak. Waar? Skuins agter Menlyn. Gelukkig was die res van ons minder as 'n kilometer weg, binne Menlynsentrum self.  Ons is binne minute op die toneel.  Daar blyk dit dat sy 'n motor kort agter haar dopgehou het,  en toe sy voor haar kyk, het die lig rooi geslaan. Sy sê sy kon nie veilig stop nie, en die volgende oomblik het 'n man met 'n splinternuwe Jetta in haar passasiersdeure getref, en die kar meer as negentig grade op sy wiele tot op die middelmannetjie laat skuif. Indrukwekkende wegtrek om so 'n impak te maak!

In elk geval, toe ons op die ongelukstoneel opdaag, was daar al drie insleepwaens. Net enkele minute is daar 'n privaat ambulans op die toneel. Hulle vra watter hospitaal toe ons wil hê sy moet gaan, en ons kies dadelik die Wilgers, aangesien ons familie daar rondom woon.  Intussen staan ek witgeskrik met my makelaar ook en praat op die selfoon om te hoor wat om nou te doen.  Ek het 'n kar vol witgeskrikte seuntjies wat eenkant sit en wonder wat nou aangaan.

Annelie het saam met die ambulans gery, en ek agterna met ons ander Corolla.
By die Wilgers is sy by die ongevalle eenheid ingeboek, en moes toe vir X-strale gaan.
Die trauma dokter kom ondersoek haar, en daar kry ons toe 'n verrassing- sy is die skoondogter van een van my ma se oudste vriendinne, en hulle eet baie Sondae saam.  Gelukkig is sy baie goed in wat sy doen. en kort daarna kon ons Anja uit die hospitaal uit vat- baie styf maar gelukkig ongeskonde verder.

Hierdie familievriende van baie jare het vir ons nog verder baie beteken. Hulle het in die familie 'n ou Beetletjie, wat in 'n baie beter toestand as myne is.  En hulle het hierdie karretjie vir ons geleen, tot al ons moeilikheid uitgesorteer is, waaroor ons baie dankbaar is.

Intussen het die persoon in die ander voertuig ons ook al 'n paar keer gebel en woes gedreig. Hy sê Anja het in haar polisieverklaring gelieg, en ons probeer hom op allerhande maniere skuldig maak aan die ongeluk.

Praat van gemengde gevoelens.
1. Groot dankbaarheid dat nie sy of die ander persoon ernstig beseer is nie.
2. Groot skok dat so iets voor ontbyt op 'n mens se verjaardag toeslaan.
3. Paniek oor die finansiële implikasies van hierdie ongeluk- die verlies aan 'n baie betroubare voertuig.
4. Bekommernis oor die jonge dame se bestuursvernuf of gebrek daaraan in stadsverkeer.  En daardie vrees vir haar wat nou elke oggend in spitsverkeer moet regkom tussen haar blyplek en studeerplek.
5. Groot dankbaarheid vir vriende se ondersteuning, veral vir die Beetle se leen. Maar ook vir verskeie vriende, 'n hele paar is goeie  blogvriende, wat my baie deur die dag ondersteun het- baie dankie julle!!!
6. Kwaad wees oor sy oor 'n rooi lig gery het en so onnodige ongeluk veroorsaak het.
7. Voel klein oor sy op pad was om vir my 'n verjaardaggeskenk te gaan koop.
8. Geloofskrisis- waar is die beskerming wat Psalm 91 van praat...
9. Groot bekommernis, eers was Annelie amper in 'n reuse ongeluk, en 'n week later Anja wel in een...
10. Groot dankbaarheid weer 'n keer- my hele gesin leef en is gesond vanaand...

My emosies is regtig deurmekaar oor hierdie saak. Ek stoei oor hierdie ding, en al wat ek wil sê is dat ek nooit ooit weer so 'n verjaardag wil hê nie.
Gelukkig het die dag heelwat later bietjie beter gedraai, toe my ma vir my en Anja by Rustica in Moreletapark vir ete gevat het. Lekker spareribs het darem uiteindelik so klein, klein bietjie vreugde voorsien op 'n andersinds baie slegte dag in my lewe. Maar my kind lewe. En alles anders maak nie soveel saak soos dit nie!

Ouma en kleindogter in Rustica...


Spareribs wat weer hoop gebring het...

Tuesday, January 17, 2012

Nommer Drie op pad Hoërskool toe!

Ons is so besig om te fokus op nommer 1 wat die huis verlaat, dat ons amper, ampertjies vergeet van die ander ritus van oorgang: klein Ewald is vanmiddag twee uur op pad Hoërskool toe, om te hoor van alles wat vir hom voorlê. More begin sy nuwe fase as Hoërskoolseun.

Dit voel so onwerklik. Gister stuur ons vriendin Adriani vir ons hierdie foto van Ewald en WJ op die een konsert voordat hy laerskool toe is:
Ewald en WJ op die kleuterskoolkonsert
 En so gou is sewe jaar se Laerskooljare verby. Ek hoop net die jong man gaan soos sy ousus blom in die Hoërskool, sy voete in die lewe vind en werklik gelukkig wees! 

Twee naamgenote... en ons naam is nie Derek nie!
 Onthou Donderdagnag, seun, dis net 'n groot geraas... hulle kan niks aan jou doen nie. Geniet die Hoërskool, en sprei jou vlerke!

Sunday, December 25, 2011

Kersfees in die Schmidt huisgesin...

VAndag is daar nie baie woorde nie,  a picture is more worth than a thousand words...

Ouma Nell-Marie en Stephan


   
Ewald en Bernard   


Anja en haar tannie Liezel- die Rooi Brigade...


En nou kom Annelie by... 
En dan die foto wat die wêreld geskok het...

Die Boodskap van Kersfees is baie belangrik, die mense in ons lewens is BAIE belangrik, en dan is daar nog so 'n laaste ou ietsie wat die kinders vaagweg onthou...

Ons Kersfees is baie lekker vanjaar- hoop julle s'n is/was ook die moeite werd gewees!

Saturday, December 17, 2011

Wonderlike ervarings wanneer die vis wel byt...

Ekskuus, ek het bietjie lanklaas hier met julle gesels...

So op die Geloftedag het ek en my jongste twee weer die viswaters gaan aandurf!
Twee ervare vissermanne- let op die professionele opset, die netheid...
Ons het die ekspedisie deeglik beplan. Twee houers met erdwurms is aangeskaf, elkeen van hulle 'n vrywilliger wat hulle lewens wou gee vir die groter saak van die bevordering van die mensdom...

'n Paar keer het dit al gebeur dat ons absoluut niks vang nie. Maar nie vandag nie! O nee, vandag sou ons nie met leë hande huis toe gaan nie. Die eerste byt van die dag was epies.  Die poliesman het opgespring op klein Ewald se stok. Net soos op daardie groot hengelprogramme wat ons graag kyk op DSTV, storm my seun nader, en kap behendig die vis vas aan die hoek. 'n Epiese stryd tussen man en vis ontstaan. Dan neem die vis weer 'n lopie wat die lyn afrol van die katrol af, dan word die rem aangedraai, en weer met bultende spiere ingekatrol. Ek en Jongste dra maar koeldrankies aan, en vee die sweet af...  So dis hoekom mense so verslaaf aan hengel kan raak? Daardie oeroue stryd tussen die mens en sy kos...
Na wat soos 'n ewigheid gevoel het, is die vis uiteindelik ingebring tot in die hande van die trotse hengelaar. Ons moes natuurlik eers 'n foto vir die familie se trofeekamer neem, voordat die vis toegelaat is om sy lewe in die dam te gaan voortsit...



Vis nommer 1 in 'n lang tyd! Kurper?

Na die epiese worstelstryd het daar stilte neergedaal oor die waters... die natuur was in rou oor die reus wat geval het...
Maar na so 'n ruk keer die natuur mos maar altyd weer terug na sy gebaande weë- 'n nuwe ekwilibrium word gevind wanneer die sisteem so wreed versteur is. En kort voor lank gebeur dit weer- 'n volgende reus onder visse maak 'n klein berekeningsfoutjie.  Hy hap na die vrywillige erdwurm aan die hoek. Soms is die versoeking net te groot, al het jou ma jou dalk gewaarsku om nie jou mond aan enige ding te sit nie...

En na nog 'n titaniese stryd het vis nommer 2- 'n baars? die stryd verloor teen die kombinasie van man en Shimano...


Vis nommer twee- is dit 'n Swartbaars?
Nou ja, dis vir dae soos hierdie wat ons lewe. Twee pragtige fotos om teen die herinneringsmuur te sit, saam met die marlyne, leeus en olifante wat nog in die toekoms gejag gaan word...
Min dinge is so sleg soos om met leë hande terug te gaan huis toe. En tog is daar ook 'n groot stuk vrede in die "catch & release" beginsel, om hierdie reuse die geleentheid te gee om nog bietjie groter te word, en nog kampioen visse daar tussen die riete te gaan verwek...

Saturday, October 29, 2011

Ons vang vis vandag

So met die afgelope paar weke se baie spannende tye het ons besluit ons het 'n goeie gesinsdag nodig.  Ek het my Rhino Rally opgeoffer, en ons het ons gemeente se gesinskamp ook prysgegee.
Vroeër in die week het ons 'n familievergadering gehou. Elkeen kon hulle opinie oor die gesinsdag op die tafel plaas. Eers het Stephan tydens daardie geleentheid gesê hy kan niks op die tafel plaas nie. Want daar is te veel skottelgoed, en boeke, en ander gemors op die tafel...

Ousus wou graag Krokodilplaas toe gegaan het, maar die broers het niks daarvan gehou nie.  Pa en Ma het buite stemming gebly. Ons het aanvanklik toe ooreen gekom om 'n heerlike gesinsdag by die Weesgerus oord net buite Nylstroom, se dagbesoekersgebied te gaan deurbring. Daar is 'n swembad en 'n piekniek gebied. Dan is daar 'n heerlike dam, met baie vis. So gesê so gedaan- almal was tevrede.  Ons moes net so paar rand alweer belê om ons visvang toerusting op datum te kry.

So ry ons uit na Weesgerus toe. Nou kyk, die dagbesoekersgebied het twee areas- aan die een kant is die Damlapa, waar 'n mens lekker etes teen goeie prys kan eet, En heel oorkant die dam is die ander dagbesoekers gebied, waar die swembad is, braaiplekke, badkamers, en hengelgebied.... Ons stop by die hek. Nee, sê hulle, ons moet by die oord self se kantoor gaan betaal om te mag inkom. Ons kom daar, nee, sê hulle, daar is 'n privaat funksie in die Damlapa. Geen dagbesoekers vandag nie. Ons probeer verduidelik dat ons nie by die Damlapa wil wees nie, maar by die oorkant. Niks  "joy"  nie- ons is nie welkom vandag nie...

Ons skakel ons gemeentelede met 'n luukse oord by ons dorpsdam. Nee, sê hulle, vandag is daar 'n troue, en ons is ook nie vandag daar welkom nie. Ek wou net begin hartseer raak. Ek het dan die motorfietse, en die doughnuts en die versnelrenne in Harrismith opgeoffer vir vandag, en nou wil niemand ons hê nie!

Ons ry maar verder, na die oorkant van die Donkerpoortdam toe. Daar waar die ou visvangklub was, is net groot borde op- Privaat Eiendom, geen toegang nie. Ek stap maar daar in, en gelukkig herken ek een van die mense wat daar binne sit en hengel. Hy verduidelik dat die munisipale hengelterrein net bietjie verder aan is.

Uiteindelik het ons darem langs die water uitgekom.  Toe was die groot frustrasie om drie visstokke weer gereed te kry, lyn op lank vergete katrolle te span, weer te onthou hoe hoeke en sinkers aan lyn vaskom.  Na 'n hele gesukkel het ons drie lyne in die water.

Ons het ons gasbokkie saamgeneem, en 'n baie lekker brunch gemaak, insluitende bacon en eiers, cheese bangers, varkrashers, brood, kaas, aarbeie en jogurt, en uiteindelik lekker koffie.

Toe raak Anja skielik lus om ook te probeer. En wonder bo wonder- daar geniet sy die hengel idee! "Dit is baie relaxing..."

 Die pa was weer baie bedonnerd, die ma was weer baie vredeliewend, die dogter was emo, die seuns het gemoan en groan- basies 'n doodgewone oggend in die Schmidt familie se geskiedenis.

En uiteindelik het ons dit baie geniet!  Hier is die bewyse...

Totale aantal visse= 0.

Bernard, Anja. Annelie, Stephan en Ewald jnr.

Bernard en sy Mammie... 
Bernard, Anja en Ewald

Sarah de Jager...

Entoesiastiese hengelaars!

Friday, October 21, 2011

Die Prysuitdeling uit die voorste gestoeltes...

Gisteraand het ek nou vir die heel eerste keer in my ganse lewe in die eregaste sitplekke gesit by ons Hoërskool se Prestige Aand (alias Prysuitdeling).  Daar het ek my posisie ingeneem langs Gerespekteerde Skoolhoof en sy vrou, en Beheerliggaamsvoorsitter en Mevrou.  Die eer het ek verdien, omdat ek moes opdraf in die begin, en plegtig die geleentheid op gepaste wyse tweetalig open.

Ek was nogal net lus om ietsie te sê oor Spreuke 20:4 in beide tale van ons land wat ek ken. Zulu is nie meer een van hulle nie... In elk geval, Spreuke 20:4 sê: "Die Luiaard plant nie in die saaityd nie, en soek iets in die oestyd wat nie daar is nie..."   Ek het hulle vinnig verseker dat ek nou nie met die luiaards praat nie, want hier is ons dan om 'n pragtige oes te vier. Daar is hard in die saaityd gesaai- tyd op die harde banke en op die sportvelde deurgebring, om sukses te verseker. En daardie oes word vanaand gevier...  Maar vir die ouens wat nie daar kon wees nie (gebrek aan oes, sien?) en dié wat daar was vir Padpatrollie, het ek verseker dat die volgende saaityd binnekort aanbreek, en volgende jaar se oes kan heelwat beter lyk as vanjaar s'n.  Daar is altyd geleenthede om jouself te verbeter...  wyse woorde, né?

Dit het my nou diep laat nadink, soos die Prediker sou sê. En hier is 'n paar gevolgtrekkings oor die Prysuitdeling of dalk eerder: my ervaring van die Prestige aand...

  1.  Maak nie saak hoe lank 'n Dominee op 'n Prestige aand praat nie, dit sal altyd te lank wees...  (onthou nou- ek was nog altyd so effens aandagafleibaar...) 
  2.   Dis nie lekker om Grênd te wees nie. Dis nie lekker om daar heel voor te sit op die harde plastiekstoele vir 3 1/2 ure aanmekaar nie. Ek hou baie meer daarvan om buite die deure te sit en inkyk, op my eie kampstoel. En eendag gaan ek nog my gasbraaier ook saamvat, al dreig Annelie my.   En 'n koelboks. Met Windhoek Light in...
  3. Daar is darem ongelooflike begaafde kinders in onse dorpie... 
  4. Daar is baie kinders wat soos my skooldae presteer- net-net genooi na die Prestige Aand vir 'n kulturele aktiwiteit of Padpatrollie... Noudat ek daaraan dink, Padpatrollie was op my twee sussies se CV, nooit op myne nie... 
  5. Daar uit die voorste gestoeltes lyk dit darem baie lekker as hulle so in die openbaar jou prestasies aflees en dit vat so lank... nie negatief bedoel nie, ek glo elkeen moet sy gawes ten volle benut, en dit is lekker as jy soms erkenning kry daarvoor.
  6.  Die hartseer in die oë van party van die mees briljante kinders, omdat hulle dalk oorgewig is en nie so sosiaal aanvaarbaar voel soos die eerste netbalspan nie...  hulle dink hulle is nie so goed soos die ander nie, terwyl... 
  7. Party rugbyspelers kry darem baie groot applous vir 'n enkele prestasie, en ander akademiese wrakke kry amper geen vir baie prestasie nie...  Gewildheid op skool is 'n vreemde ding, en 'n gejaag na wind... 
  8. Die heel lekkerste ding van die Prysuitdeling is om na 3 1/2 ure op te staan van daardie stoele en jou alie te laat rus van die marteling! 
  9. Soms wens ek ook dat daar soms in die grootmenswêreld gesê kon word as 'n mens presteer het in iets. In my werk is dit egter baie moeilik om te presteer. 
  10. Ek is so dankbaar Prysuitdelings vind net een keer 'n jaar plaas! 
So al die Nylstromers- ek het mooi na julle kinders gekyk daar uit die voorste linie uit. En ek is trots op elkeen van hulle!  Dié met die agt vakprestasie sertifikate, die vier olimpiades en die sewe provinsiale sporttoekennings. En dié wat die Padpatrollie sertifikaat gekry het, en opgestap het, gelukkig in hulle eie menswees.

Ek het net in my lewe al gesien, soos die Prediker sou sê, dat die Skool se Prysuitdeling nie veel sê oor wie eendag in die Grootmenswêreld gelukkig gaan wees, en wie sukses gaan behaal nie.
Ons kinders was pragtig, en dit is vir my mooi...

Sunday, October 16, 2011

Die Ma van ons huis is terug- business as usual...

Een van die spreekwoorde tussen my en Annelie is: "Too much reality, too soon..."

Dit gebeur basies elke keer wat een van die ouers alleen moes weggaan, en dan terugkeer.  Die ander ouer neem die vrag van verantwoordelikheid vir die huishouding op hulle skouers, soos die klere was in die wasmasjien, die daaglikse pendeldiens waarin almal getaxi moet word waar hulle moet wees, die daaglikse brood en melk koop en kos maak.  Die ouer wat weg is, geniet gewoonlik die stukkie rus en vrede sonder die res van die gesin se aandrang op behoeftes wat vervul moet word. Vir 'n ruk. En dan begin 'n mens verlang na jou mense, as jy lank genoeg van die huis af is, begin jy selfs verlang na die normale konflik van die gesin. Die verlange bou op- en dan uiteindelik kan jy by die gesin aansluit. Maar die res van die gesin se lewe het volgens ou patrone aangegaan. Die normale  wrywing en baklei vir persoonlike ruimte het onverpoosd voortgegaan. En as ma of pa terugkom, dan bars die fontein van ingehoude frustrasie oop. In plaas van 'n heerlike familiereunie word dit 'n moddergooiery- nommer 4 wil eerste sy storie van persoonlike leed met die afwesige ouer deel. Die gevolg: Too much reality too soon...


Donderdagoggend het Annelie om 10h18 geland, en saam met swaer en skoonsuster huis toe gery by die Wilgers... Ek het haar daar opgelaai. Die ma van ons huis wou vreeslik graag so vinnig as moontlik tuis kom. Dit het iets te doen met 24 uur op reis wees van ander skoonsus se huis af Dublin toe, eerste vlug Frankfurt toe, vyf ure oorstaan, tweede vlug Johannesburg toe. Al drie lughawens is gekenmerk deur onvriendelike doeanepersoneel.  Onpersoonlike wagplekke (net die rykgatte sit op die leerbanke met die flatscreen teevees en die Douwe Egberts koffie en petite pasteitjies.)  Toe ek haar oplaai, wou sy net by die huis wees...

Ons het vinnig ietsie gekoop om te braai by Food Lovers Market, en toe huis toe gegaan. Die eerste uur was heel lekker- geskenkies is uitgedeel, vreemde tjoklits is opgevreet.  Kort daarna wou die ou griewe begin kop uitsteek.

Ons het darem 'n heerlike aandete gehad. Ek het vir twee vergaderings afgevra, en vir my vrou op die Weber 'n hoender flattie en varktjoppies gebraai. Ons het dit geniet saam met Panini brood, en 'n lekker slaai. Ek wonder nou nog wie van die kiddies het die Bessiesap opgesuip wat ek vir haar tuiskoms gekoop het.

In elk geval, Ma is weer terug by die huis. Die kinders baklei steeds onverpoosd voort. Die Pa is steeds bedonnerd... Business as usual...

Die Fourie Ma en Dogters neem Ierland op horings...