Dit gebeur basies elke keer wat een van die ouers alleen moes weggaan, en dan terugkeer. Die ander ouer neem die vrag van verantwoordelikheid vir die huishouding op hulle skouers, soos die klere was in die wasmasjien, die daaglikse pendeldiens waarin almal getaxi moet word waar hulle moet wees, die daaglikse brood en melk koop en kos maak. Die ouer wat weg is, geniet gewoonlik die stukkie rus en vrede sonder die res van die gesin se aandrang op behoeftes wat vervul moet word. Vir 'n ruk. En dan begin 'n mens verlang na jou mense, as jy lank genoeg van die huis af is, begin jy selfs verlang na die normale konflik van die gesin. Die verlange bou op- en dan uiteindelik kan jy by die gesin aansluit. Maar die res van die gesin se lewe het volgens ou patrone aangegaan. Die normale wrywing en baklei vir persoonlike ruimte het onverpoosd voortgegaan. En as ma of pa terugkom, dan bars die fontein van ingehoude frustrasie oop. In plaas van 'n heerlike familiereunie word dit 'n moddergooiery- nommer 4 wil eerste sy storie van persoonlike leed met die afwesige ouer deel. Die gevolg: Too much reality too soon...
Donderdagoggend het Annelie om 10h18 geland, en saam met swaer en skoonsuster huis toe gery by die Wilgers... Ek het haar daar opgelaai. Die ma van ons huis wou vreeslik graag so vinnig as moontlik tuis kom. Dit het iets te doen met 24 uur op reis wees van ander skoonsus se huis af Dublin toe, eerste vlug Frankfurt toe, vyf ure oorstaan, tweede vlug Johannesburg toe. Al drie lughawens is gekenmerk deur onvriendelike doeanepersoneel. Onpersoonlike wagplekke (net die rykgatte sit op die leerbanke met die flatscreen teevees en die Douwe Egberts koffie en petite pasteitjies.) Toe ek haar oplaai, wou sy net by die huis wees...
Ons het vinnig ietsie gekoop om te braai by Food Lovers Market, en toe huis toe gegaan. Die eerste uur was heel lekker- geskenkies is uitgedeel, vreemde tjoklits is opgevreet. Kort daarna wou die ou griewe begin kop uitsteek.
Ons het darem 'n heerlike aandete gehad. Ek het vir twee vergaderings afgevra, en vir my vrou op die Weber 'n hoender flattie en varktjoppies gebraai. Ons het dit geniet saam met Panini brood, en 'n lekker slaai. Ek wonder nou nog wie van die kiddies het die Bessiesap opgesuip wat ek vir haar tuiskoms gekoop het.
In elk geval, Ma is weer terug by die huis. Die kinders baklei steeds onverpoosd voort. Die Pa is steeds bedonnerd... Business as usual...
Die Fourie Ma en Dogters neem Ierland op horings... |
Ja, ja, ja. Nes altyd!! Ag, ek weet dis lekker om terug te wees, en vir julle... lekker om haar terug te hê!!
ReplyDeleteDalk moet jy ophou omgee or bessiesap en meer begin konsentreer op belangrikker dinge...
ReplyDeleteEk is bly alles het (soort van) goed afgeloop!
ReplyDeleteHoekom is die Pa bedonnerd?