'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Saturday, October 29, 2011

Ons vang vis vandag

So met die afgelope paar weke se baie spannende tye het ons besluit ons het 'n goeie gesinsdag nodig.  Ek het my Rhino Rally opgeoffer, en ons het ons gemeente se gesinskamp ook prysgegee.
Vroeër in die week het ons 'n familievergadering gehou. Elkeen kon hulle opinie oor die gesinsdag op die tafel plaas. Eers het Stephan tydens daardie geleentheid gesê hy kan niks op die tafel plaas nie. Want daar is te veel skottelgoed, en boeke, en ander gemors op die tafel...

Ousus wou graag Krokodilplaas toe gegaan het, maar die broers het niks daarvan gehou nie.  Pa en Ma het buite stemming gebly. Ons het aanvanklik toe ooreen gekom om 'n heerlike gesinsdag by die Weesgerus oord net buite Nylstroom, se dagbesoekersgebied te gaan deurbring. Daar is 'n swembad en 'n piekniek gebied. Dan is daar 'n heerlike dam, met baie vis. So gesê so gedaan- almal was tevrede.  Ons moes net so paar rand alweer belê om ons visvang toerusting op datum te kry.

So ry ons uit na Weesgerus toe. Nou kyk, die dagbesoekersgebied het twee areas- aan die een kant is die Damlapa, waar 'n mens lekker etes teen goeie prys kan eet, En heel oorkant die dam is die ander dagbesoekers gebied, waar die swembad is, braaiplekke, badkamers, en hengelgebied.... Ons stop by die hek. Nee, sê hulle, ons moet by die oord self se kantoor gaan betaal om te mag inkom. Ons kom daar, nee, sê hulle, daar is 'n privaat funksie in die Damlapa. Geen dagbesoekers vandag nie. Ons probeer verduidelik dat ons nie by die Damlapa wil wees nie, maar by die oorkant. Niks  "joy"  nie- ons is nie welkom vandag nie...

Ons skakel ons gemeentelede met 'n luukse oord by ons dorpsdam. Nee, sê hulle, vandag is daar 'n troue, en ons is ook nie vandag daar welkom nie. Ek wou net begin hartseer raak. Ek het dan die motorfietse, en die doughnuts en die versnelrenne in Harrismith opgeoffer vir vandag, en nou wil niemand ons hê nie!

Ons ry maar verder, na die oorkant van die Donkerpoortdam toe. Daar waar die ou visvangklub was, is net groot borde op- Privaat Eiendom, geen toegang nie. Ek stap maar daar in, en gelukkig herken ek een van die mense wat daar binne sit en hengel. Hy verduidelik dat die munisipale hengelterrein net bietjie verder aan is.

Uiteindelik het ons darem langs die water uitgekom.  Toe was die groot frustrasie om drie visstokke weer gereed te kry, lyn op lank vergete katrolle te span, weer te onthou hoe hoeke en sinkers aan lyn vaskom.  Na 'n hele gesukkel het ons drie lyne in die water.

Ons het ons gasbokkie saamgeneem, en 'n baie lekker brunch gemaak, insluitende bacon en eiers, cheese bangers, varkrashers, brood, kaas, aarbeie en jogurt, en uiteindelik lekker koffie.

Toe raak Anja skielik lus om ook te probeer. En wonder bo wonder- daar geniet sy die hengel idee! "Dit is baie relaxing..."

 Die pa was weer baie bedonnerd, die ma was weer baie vredeliewend, die dogter was emo, die seuns het gemoan en groan- basies 'n doodgewone oggend in die Schmidt familie se geskiedenis.

En uiteindelik het ons dit baie geniet!  Hier is die bewyse...

Totale aantal visse= 0.

Bernard, Anja. Annelie, Stephan en Ewald jnr.

Bernard en sy Mammie... 
Bernard, Anja en Ewald

Sarah de Jager...

Entoesiastiese hengelaars!

1 comment:

  1. Ek like die Sêra de Jaer(!) foto! Bly julle't dit geniet!!

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?