My vrou het my ALWEER verlaat. Ousus is terug na haar plek van studie toe.
Vanoggend is dit net ons manne by die huis.En hier gaan dit rof. Ons was nie skorrelgoed nie. Ons trek nie onderbroeke aan nie. Ons borsel nie tande nie. Daar is net nie tyd vir sulke sissie goed nie. Want vanoggend is dit RUGBY! Ons maak gereed vir die Bulle teen die Crusaders, Maar net ek en Stephan is Bulle- ons lewe met HOOP!
Net daarna is dit die Sharks teen die Reds, Bernard en Ewald se span (al was hulle omtrent nog net drie keer in hulle hele lewe in Natal- hulle was nog nooit op Kings Park nie. Of Gapsa stadion of Moses Mamparra stadion- kan nooit meer bybly met al die name nie. Sommige dae wonder ek sommer wie ekself is, met al die veranderinge rondom my.
Nou kyk, vanoggend is uitdagende tye. Twee rugbywedstryde direk na mekaar is uitputtend! Ek onthou! Daar was daardie een roemryke dag in my eie persoonlike glorieryke rugbyloopbaan as derdespan haker van Hoërskool Newcastle. Toe ek met daardie game klaarmaak, is die haker van die 2e span net MIA. Toe moes ek maar opgetrek word groot rugby toe- 2e Span! Ek het skoon hoogtevrees gekry- die roem het amper na my kop toe gegaan. Ek wou net begin handtekeninge uitdeel by die Game sentrum, maar ek was bang om daar te staan met al die bomme wat al daar ontplof het naby die Wimpy...
Om twee wedstryde na mekaar te kan oorleef, is voeding baie belangrik. Met Mammie wat nie vandag met ons is nie, en die seuns wat te lui is, en lanklaas hande gewas het, moes ek maar self die Naakte Kok gaan wees in die kombuis.
Ek het eendag op 'n sinodesitting in Pretoria daar in die Manhatten hotel mooi gekyk hoe die chef my omelet maak. Van toe af kan ek darem ook. VAnoggend het ek weer probeer:
Daardie pan is een van my heel gunsteling besittings! Ek het hom jare gelede baie goedkoop by Checkers Hypermark in Klerksdorp gekoop. Let op die handvatsel. Hy het eenkeer geval, en soos gietyster maar maak, het die handvatsel afgebreek. Ek is heel trots daarop- kyk daardie nuwe handvatsel- ek het self geleer om gietyster te sweis, en dit net hierdie een keer reggekry, met 'n stuk roundbar wat in die tuin rondgelê het. Geldwaarde- sal seker so R20 kan kry vir die pan op die kerkbasaar se veiling. Waarde vir my: Priceless! Hierdie pan laat net nooit 'n omelet vassit nie. Soos dit maar gaan hierdie tyd van die maand gooi 'n mens by wat nog beskikbaar is, so kort voor payday. Rapsie kaas, 2 Weenseworsies opgekerf, 'n skud Tabasco Smoked Peppersous, klein bietjie growwe seesout, en Bob is nog steeds in Zim...
Dis hoekom hierdie pan so geliefd is- Toyota kon hom gemaak het! Alles loop reg, altyd reg...
En die omelet was toe baie lekker, beter as die meeste ontbyte by restaurante in ons omgewing- hiervoor sou 'n mens in elk geval anderkant R45 betaal het! Ek wens net daar was filterkoffie en nie Ricoffy in die huis nie.
Nou is ek gereed om op te draf teen die Crusaders... hulle gaan bars! (Geloof is veronderstel om deel van my werk te wees, onthou!)
Vroulief, gedra jou daar by Skoonma, en berei jou maar geestelik voor vir die terugkoms huis toe!
No comments:
Post a Comment
En jy daar, wat sê jy?