'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Sunday, June 26, 2011

Camino Fotos deel 5- dag 7 en 8, Molenaseca na Villafranca del Bierzo


Dag 7- Molinaseca na Ponferada. Ek is op pad na 'n stad toe, en net 8.5 km daarvandaan.  En dit reën, so 'n mens sou nie kon verwag dat dit 'n interessante dag gaan wees nie.

Wag, is dit 'n plakkershut daar voor in die pad? As dit is, is dit die eerste een wat ek in Spanje sien. Selfs met al hulle onwettige immigrante, swemkampioene van Marokko af, sien 'n mens nooit plakkershutte nie!



Nee, dis toe net 'n boer wat sy winter vuurmaakhoutjies wil droog hou met die baie reën van hierdie gebied.

Redelik vorder die pad na Ponferada toe. Dis maar deur maplottergebiede, heen en weer deur straatjies met huisies, ligte industrie, radarbeheerde karretjies en vliegtuigie speelplekke.
Dan kom 'n mens in ou Ponferada in. Die een groot "claim to faim" is die baie goed behoue kasteel van die Tempel Ridders- Knights Templar, uit die 13e eeu. Hierdie ouens het nie nonsens gevat nie, was gewoonlik beide monnike en ridders, en het nooit oorgegee of omgedraai nie. Hulle het internasionale bankwese begin, hulle het die Kruisvaarders op die kruistogte na Jerusalem toe beskerm, asook uit hierdie kasteel uit die pelgrims na Santiago toe. Ja, dis hoe oud die Camino is- eerste tekens daarvan is reeds in 1088 in dokumentasie gevind.



Ek sou so graag binne wou gaan kyk. Maar dit was Maandag, en byna alles is toe in Spanje op Maandag, soos op Sondag, Saterdag, Siestatyd... Noudat ek daaraan dink, wanneer werk die Spanjaarde?

Soos julle kan sien, ou Ponferada is beide vervalle, en steeds baie mooi.

Ponferada beteken "Ysterbrug", en hier was al in Romeinse tye 'n ysterbrug oor die rivier.  Dit is intussen vervang met groter brue, en later nog meer moderne brue.



Net duskant die rivier, met die Ridderkasteel in die agtergrond, is die standbeeld van die koplose engel. Dit word opgedra aan almal wat hulle lewens in onverdraagsaamheid verloor het. Onverdraagsame mense, van watter ras ook al, is 'n vervloeking op die aarde. Né Julius?



Die stadsvaders van Ponferada het 'n wonderlike idee, wat ek nie in Suid-Afrika voorsien dat dit sal werk nie. Op 'n hele paar strategiese plekke in die stad is 'n fietsrak, met hierdie geel fietse. Neem een, ry jou ry waar jy wil gaan, en sit hom weer terug in enige van die ander fietsrakke in die stad.



In Ponferada het ek my enigste besoek in Spanje aan 'n groot Mall gebring. Nou nie Menlyn of Canal Walk nie, heelwat kleiner, maar by die ingang op die foto is 'n groot sportwinkel, soos Sportman's Warehouse, waar jy jou kampgereedskap ook kan aanvul, soos nuwe kouse en waterbottels vir dié wat jy uit frustrasie langs die pad weggegooi het.





Dag 8- Ponferada na Villafranca del Bierzo.

Van Ponferada na Villafranca kon 'n mens in die Boland gewees het- wingerde en vrugteboorde, op en af. Villafranca is ook een van die baie mooi dorpe langs die pad. En as 'n mens die fotos van die plek sien, dan weet jy die volgende groot klim van die Camino is baie vinnig besig om nader te storm...


Villafranca del Bierzo se brug.



Om een of ander rede wil almal hierdie Camino aanduiders steel. Hulle is nogal regtig baie mooi, maar ek dink nie hy kan heel uitgehaal word nie. Waarom nie net fotos neem en die goed daar los nie? Die mensdom is 'n virus, het Agent Smith in die Matrix gesê. Soms is hy reg!

Die kersies van Spanje, oral langs die roete, is baie, baie lekker. Soms staan daar 'n boom langs die pad waar jy jouself kan help. Ander kere verkoop boere dit in die dorpe. Hierdie is so 1 Euro s'n, nadat ek al so vier geëet het.


Soms was daar tyd om te rus,



en bestek op te neem van die koste...


En  ook weer tyd om batterye te herlaai...



In die tydskrif van die Camino-gasvryheidsbedryf het ek net gesien hoe hulle daarvan bewus is dat almal in die heelal graag die Camino wil stap, en aanmeld met hulle Pelgrims paspoorte om gestempel te word dat hulle ook daar deur is...

Camino de Santiago- Fotos deel 4- Dag 6 na Molinaseca

Dag 6 het ek vroeg begin by El Acebo, met die gedagte om dit net 'n rusdag te maak tot by Molinaseca. Ek was morsdood na die vorige dag, en dit was Sondag. Die hartseer is dat nie almal die Camino oorleef nie. Net buite El Acebo is 'n Duitse fietsryer deur 'n kar doodgery, en sy vriende het vir hom 'n standbeeld opgerig...



Ek het die afdraande aangepak, na Riego de Ambros toe, en by 'n bruggie uitgekom waar iemand blykbaar baie haastiger as ek was...




By hierdie brug was dit eers tyd vir 'n breuk...



Toe moes ek die volgende stuk na Molinaseca toe aandurf. Dis afdraande, maar baie mooi gebied wat 'n mens deurgaan. Ek het seker gemaak dehidrasie pak my nie weer nie, daarom het ek iets vir die niere saamgebring. Maar dit was swaar, en ek kry nie bier so vroeg in die oggend in my lyf in nie, toe los ek hom daar in 'n boomstomp vir die dors ou wat vanmiddag daar verby gaan kom.


Daar is my beroemde hoed, toe dit nog myne was... Hy is nog steeds besig met die Camino, daar êrens onder Santiago lughawe se aanloopbaan.  Ek kon dit nie glo nie, dat die John Briersley dag 24 van Rabanal tot Molenaseca gaan, 26.5 baie harde kilometers. Ek het dit in twee dae gedoen, en is nie skaam daaroor nie.

Molinaseca is 'n baie mooi dorpie...







Die stadsvaders het selfs in die rivier 'n heerlike swemplek gemaak vir die dorpsinwoners. Maar hierdie dag was net te koud om self gebruik te maak daarvan.




Net 'n vinnige daggie se fotos, ek moet amper gaan aansit by my eerste gesinsmaaltyd in vyf weke waar al my gunsteling mense saam is! Onthou, vandag is Vadersdag vir my...

Saturday, June 25, 2011

Camino de Santiago- Fotos deel 3- Dag 4 en 5 Astorga na El Acebo

Uit Astorga uit op Dag 4 het die roete nogal baie verskillende tipes landskappe gekruis.


Vroegoggend net buite Astorga.

Party dorpe maak regtig moeite met die Camino wat daar deurgaan, soos Murias de Rechivaldo.



Soms is die Camino goed onderhoude grondpad, soos net buite Murias de Rechivaldo op die pad na Santa Catalina de Somoza toe...




Een van die hoogtepunte langs die pad is waar 'n mens soms kan aftrek vir 'n koppie koffie. Leer om te sê : "Café Con Leche Grandé, por favor."  Een groot koppie koffie met melk, asseblief. En moenie verbaas wees as dit in 'n drinkglas aankom nie!



In die klein dorpies probeer almal ook maar 'n bestaan maak, deur verkope van Camino goeters soos stapstokke en die "Scallop Shells" wat die CAmino se simbool is- alle paaie lei na Santiago toe. Dit klink vaagweg bekend, want die ander pelgrimstog ken dit ook: alle paaie lei na Rome toe- Petrus se graf...




Soms is koffie nie genoeg vir harde paaie loop nie, en dan word jy verras met heerlike kuierplekke soos die Cowboy bar in El Ganzo, waar 'n lang bier 'n mens soms moed gee om net nog sewe kilometer te oorweeg na die volgende blyplek toe in Rabanal de Camino...




Die gasvryheid van mense langs die roete is soms oorweldigend. Net buite Rabanal was ek lekker moeg en dors na 'n lang dag se loop. EN in die middel van die veld het iemand 'n tafeltjie opgeslaan, met bottels water, en vrugte, met 'n rugsak daar om te wys die eienaar gee om vir die pelgrim, hy was seker self een. Die eienaar is nie naby nie, en daar is net 'n bordjie by- "Donativo"- jy kan vat wat jy wil, en 'n donasie los as jy lus het.  Ek sou dit nie in Suid Afrika waag nie...



Na 'n lang dag soek 'n mens blyplek, en die privaat alburgue langs die pad gee baie dikwels baie goeie diens teen 'n billike prys, 'n bed en 'n warm stort, en plek om jou klere te was en uit te spoel soos hierdie heerlike plek: Albergue el Pilar in Rabanal de Camino.





Na Rabanal de Camino raak die lewe baie interessant, 'n dag van klim na die Cruz de Ferro (Ysterkruis toe.) Die dag begin met 'n klim na Foncebadon, wat maar meestal ruïnes is soos hier onder gesien. Let op die gradiënt deur die dorpie...
Hierdie dag is beskryf in Dag 5.



Net na  Foncebaddon, as jy water kry, maak vol! Dit kan die laaste water vir 'n moeilike dag wees!



Jy gaan begin klim, verby ou ruïnes in boere se landerye. Die wêreld hier is mooi, die uitsig is ongelooflik. Die Camino is daardie streep wat skuins op beweeg daar agter die ou muurr.



Tot jy uiteindelik bo uitkom by die Cruz de Ferro uitkom. Die tradisie is dat jy 'n klippie (of rots vir party ouens wat 'n groot gewetenswroeging saamgebring het Camino toe) daar op die klipstapel gaan los.


Ek het op Melkbosstrand 'n klippie opgetel, wat ek saamgedra het vir 'n baie goeie vriend en sy gesin, wat die ma van hulle huis in 'n motorongeluk verloor het. En ek het op die lughawe een van my jongste se soldaatjies gevat, as simbool van my eie gesin. Veral vir die twee gesinne het ek baie gebid op die Camino.  Ek het vir ons hierdie twee simbole daar gelos, eers mooi op 'n groter klip vir die foto gesit, en toe in 'n skeur tussen die klippe ingegooi dat niemand Stephan se soldaatjie sal steel nie. Ek hoop eendag kan ek en hy saam daar staan op sy Camino. In die vlees, of in die gees...



Anderkant is dit steil afdraande, sonder water. 'n Mens kom vinnig by die baie eksentrieke Roger se Refugio in die dorpie Manjarin, waar net hy en sy vrou, en 'n helse spul katte saam woon. Jy kan hier water en heuningbrood teen donasiebasis kry, jy kan oorbly. Dit voel net baie weird daar...



Hiervandaan klim 'n mens eers op tot by 'n lugmaginstallasie bo op die berg, en dan sak jy baie vinnig deur die veld na El Acebo toe. Onder in die vallei lê die industriële stad Ponferada, met 'n groot kragstasie wat dadelik die aandag trek. (Foto onder, vaagweg sigbaar in regter bo hoek). Toemaar, die Camino stap aan die anderkant verby, deur die mooi deel. Maar dit lê nog in die toekoms.So 'n afdraande soos hierdie in die dorpie in is glad nie pret met 'n rugsak op nie!




El Acebo is egter nog 'n baie klein dorpie, met pragtige huisies tussen ander murasies.


En dit was dag 4 en 5 vir my gewees, baie op en baie af. Maar aan die einde van elke dag is daar 'n stort, kos en 'n bed gewees, al was die dag hoe moeilik, soos dag 5, wat een van die heel moeilikste dae in my hele lewe was. Dankie dat jy saam kyk en beleef!

Friday, June 24, 2011

Camino de Santiago- Fotos deel 2

Omdat Palomino gevra het, en ek vandag af het... Ek belowe ek gaan nie al 992 fotos plaas nie!


Vir Palomino, wat gevra het hoe lyk die hele kerkie. Jakobus staan daar links bo die deur.

'n Katedraal, meanwhile... baie, baie groter, soos hierdie fotos van Leon se katedraal: Verskoon fokus en foutjies, ek het nie my groot kamera en driepoot hier gehad om dit reg te doen nie! Geen kameraflits toegelaat in die katedraal nie...




 Is dit nou Doriese, Ioniese of Gotiese kolomme? Ek kan nie onthou nie. Maar die argitektuur van die Middeleeue is fassinerend- dit is wonderlik hoe hierdie kolomme daardie dak bo hou deur die eeue heen! Die akkoestiek is manjefiek, ek wens my gemeente se kerkgebou het sulke akkoestiek gehad! Hulle speel Taize tipe meditatiewe musiek in die katedraal, en dit voel baie heilig daar binne! Amper so heilig soos in 'n wonderlike natuurtoneel! :-)



Partykeer was dit selfs onder snelweë baie mooi! Die Spanjaarde is nie bang om 'n snelweg doer bo te bou nie! Hierdie een is nog laag, wag tot ons by Ruitelan kom!



Ek het die een dag geskryf oor David, van Barcelona, wat drie jaar gelede besluit het om weg te breek uit die ratrace, en net die pelgrims te dien wat hier verby loop.  Dis beskryf op dag 3, die skof tussen Hospital de Orbigo en Astorga, en hy is net voordat jy by San Justo de Vega kom. "Nothing is impossible..." Hy het verskillende tees en vrugtesappe, en water, en jy kan vat wat jy wil hê, en kies of jy 'n donasie wil los of nie. Ek hoor by Astorga se Albergue  dat hy somer en winter hier is, dis maar sy lewe...



Hierdie is Gaudi se weergawe van 'n katedraal uit die 1800's, bekende argitek van Spanje, en dit is glo Neo-Goties. Nie almal hou daarvan wat argitektuur ken nie, dit was vir my baie mooi. Dit is deesdae 'n Pelgrimsmuseum, reg langs die klassieke katedraal van Astorga.


'n Syaansig van die klassieke katedraal van Astorga. Jammer, met 'n kompakte kamera kry 'n mens net nie alles altyd in nie!


'n Stukkie van die Camino net buite Astorga, en hierdie tel as 'n slegte teerpad in Spanje...

Enkele Spaanse Fotos vir dié wat gevra het... Deel 1.

Caminofotos vir die wat die reeks gevolg het oor my Camino. Dié wat nie daarvan hou nie, beweeg net aan na die volgende ou se blog toe.



Airbus se nuwe A 380 en die koets na my droom toe. Baie groot, baie luuks, baie lekker vliegtuig.


Die Prado Museum in Madrid, waar pragtige kunswerke bly.


Spanish Train, die een gaan Leon toe.


Die katedraal in Leon, waar my reis begin het- BAIE nat dag!




'n Deur in Leon- ek wonder altyd wat gaan agter deure aan?


Een van honderde Pelgrimstandbeelde langs die pad.


Net buite Leon kry 'n mens hierdie Tellytubbie tipe huisies. Dit is tradisioneel, weet nie of iemand nog so bly nie. Dit behoort egter nogal 'n verskil te maak in die winter met sy sneeu. Ek dink die somer kan baie ongemaklik wees, en die uitsig is glo ook nie so lekker nie...


By La Virgen del Camino wys 'n moderne Jakobus (staan tussen die ander apostels buite op die kerk) die Pad aan met sy hand- sien ook die "Scallop Shell" op sy hand- die embleem van die Camino.


As 'n mens in St Jean begin stap het, het jy by Leon al 500 km geloop. Genoeg om lekker gatvol vir jou stapskoene te wees! Hierdie gesig, van heel skoene langs die pad, sou nog dikwels plaasvind, en my eie duur stewels kan hulleself gelukkig ag dat hulle nie nou in die Atlantiese oseaan swem nie.


'n Tipiese Pelgrimsete- eerste gereg- groentesop met 'n baie klein verdwaalde stukkie vark êrens, vind hom en wen 'n Datsun! So twee glase rooiwyn en 'n bietjie Spaanse brood is ook deel van die pakket. (Dit kos gewoonlik so 9 Euro)


Die hoofgereg- huil in jou hande, Australian Masterchef! Dit sal nie in enige goeie restaurant deurgegaan het as goed voorberei nie. Gaar, maar smaakloos. En daai tjippies- misdadig. Maar dit is goedkoper as om normaalweg te gaan uiteet, en 'n mens het elke kilojoule nodig wat jy kan kry. Dis nog dieselfde brood en wyn.  En Poeding- dink maar aan 'n Flamby in 'n bordjie- dis gewoonlik een van die keuses, hulle noem dit Flan.


Ontbyt on the go- brood en blikkie sardientjies, goed vir 'n lekker sooibrand. Waar is die Eno's as jy dit nodig het?


Prediker 3 sê daar is 'n tyd om bymekaar te maak, en 'n tyd om te laat gaan. Die bekertjie is by 'n China shop gekoop. Maar hy het so gekeklankeklank buite my rugsak, dat hy my woes geirriteer het. Die sjokelade was toe al die tyd baksjokelade, en vreksleg vir gewone eet. Albei is daar op die muurtjie agter gelos vir die volgende persoon wat verby kom en dit nodig het. Ek hoop die tannies van die plaas kon lekker koek bak vir hulle kiddies met hierdie sjokelade!



Op hierdie brug by Hospital de Orbigo het een van die vreemdste liefdesverklarings ooit plaasgevind. Don Suero de Quinones het in 1434 'n "Jousting" toernooi gereël vir die ridders van sy tyd, op hierdie brug. Hyself het belowe om 300 lanse te breek vir die liefde van sy lewe. Ek sou nie graag in 'n blik-suit van 'n perd af wou val op hierdie brug nie! En om oor te val- verseker verdrinking!

Monday, June 20, 2011

Spanish Train...

Aan die agterkant van ń opwindende reis begin ń mens gewoonlik ook jou agterkant sien.  Eergister was so ń wonderlike dag in Finisterre. Maar ek moet bieg- daardie dubbelbed het my oorweldig! Niemand anders in die kamer nie, en my eie badkamer. Met niemand wat snork in die kamer nie, niemand wat ander snaakse geluide maak in die nag nie. En die verlange huis toe... Ek het toe nie so lekker geslaap nie.

Gister, op die heilige Sondag, het ek vir oulaas ń koppie koffie gaan drink by die plek wat die mooiste internettoegang in Spanje het. Toe moes ek gaan sit en wag vir die bus- wat eers 11h45 vertrek op ń Sondag. Dit was ń LANG sit en wag! Op die bus het ek weer vir Petro van Warmbad raakgeloop, en ek het langs haar gesit, dat sy haar Caminostories vir my kan vertel. Sy het by St Jean PdP begin, en reg deur gestap Finisterre toe. Dis 1000 km!

In elk geval, die bus vat 3 ure om die 89 km kuslangs tot naby Santiago te ry. As ń mens eers weet waarvoor om te kyk, kan ń mens Finisterre eintlik al van baie ver af sien.
By die Autobus stasie het ek Petro gegroet, sy sou nog tot 21h30 daar sit en dan die oornagbus Madrid toe neem, en dan op die lughawe vandag gaan sit tot twaalfuur vanaand, voor die Iberia vlug haar huis toe neem.
Ek het ń plaaslike bus gekry om my treinstasie toe te vat. Toe ek daar aankom, hoor ek die oornagtrein is vol. Maar daar is ń plan te maak. Daar is een plek oop tot in een stad, en dan word twee treine aanmekaar gelas, en daarvandaan kan ek ń ander plek op dieselfde trein kry. Maar dit gaan my €12 meer kos as die normale treinkaartjie. Ek was nie lus vir die bus idee nie, want ek het in my kop daardie prentjie gehad van ń trein met beddens. Ek betaal toe maar die €64 vir die treinkaartjie. Nou is daar ń probleempie- daar is nie lockers op die stasie nie, en die trein vertrek eers om 22h33. Ek het toe maar, met my rugsak en al, die opdraande terug katedraal toe aangepak. Met die Pelgrimsmis was dit so vol dat ek nooit die plek kon bekyk nie. Ek het afgegaan na waar Jakobus se bene vermoedelik in ń silwer kis le.  Dit het nou nie regtig iets vir my geestelike lewe beteken nie!

Ek het maar teruggestap stasie toe, en by ń kafee daar naby ń bogadillio en koffie geeet.  Toe gaan sit ek op die stasie en wag. Vir vier ure lank. Santiago is nie net ń katedraal nie, daar is ń baie moderne universiteit daar. En trein na trein spoeg studente uit wat huis toe was vir die naweek. Pragtige meisies, die mannetjies lyk deur die weer...
Daar was snaakse episodes. Spaanse ouma klim uit die trein uit, en stop dood in die deur. Sy groet nou eers haar hele familie, al kan niemand uit die trein uit klim nie. ń Ander trein stop, vertrek, en stop skielik aan die einde van die perron. Staan lank stil, en dan word ń man en sy vrou van die trein af begelei- hy is duidelik ontsteld en probeer vir almal sy kant van die storie verduidelik.

Uiteindelik, ń ewigheid later, kom my trein aan, die hoteltrein. Verrassing- net die eersteklas (wat net €5 duurder is as wat ek betaal het, maar daar was nie meer plek nie) kry beddens. Die res van ons sit regop. En probeer slaap. En agter my sit Spaanse tienermeisies- regte bakvissies, wat giggel en histeries lag...

Ek het toe gelukkig 00h15 in die regte trein oorgeklim, anders sit ek dalk nou in Berlyn... Ons het vanoggend 08h05 aangekom in Madrid. Ek het eers ń koffie gaan drink, toe ń twee dae Metrokaartjie vir die moltreine en busse gekoop. Ek het dadelik gaan bevestig ek het hierdie keer ń plek om te slaap, en hulle was so vriendelik om my rugsak te hou tot hulle 13h00 oopmaak.
Ek soek nou ietsie vir die vrou en kinders, maar my rugsak het regtig GEEN plek om iets saam te bring nie, dis ń probleempie. Asook die budget hy es nie meer nie...

Dis maklik om my op die oomblik in Madrid te vind. Ek is daardie ou wat so stink dat almal wye kringe om my loop. Ek het rooi oe van niks slaap nie, en is heel grumpy teenoor alle Spanjaarde... Ek wil nou huis toe gaan. Ek gaan eenuur inboek, stort, en dan slaap. Sal laatmiddag weer ń draai stap in Madrid, more die trein vat lughawe toe, en dan vlieg ek 13h55 Frankfurt toe. En van 15h55 tot 23h00 sit ek alweer op die lughawe...

Dis die prys van ń lekker reis... dis nie altyd so maklik om klaar te maak, en huis toe te gaan nie. Ek kan sien ek is gereed vir die huis, elke Spanjaard herinner my nou aan iemand tuis wat ek ken... 

Saturday, June 18, 2011

Dag 19 Finisterre

Liewe vriende,
Party dae (ongelukkig heeltemal te min van hulle!) loop heeltemal perfek. VAndag is een van hulle in my lewe.
Miskien net ietsie oor gisteraand by die Seminario Belvis- dit is regtig ´n lekker plek om in oor te bly in Santiago. Miskien het dit iets te doen met die afwesigheid van bunkbeddens, en vreemde bedmaatjies...
Die kombuis en internet is onder in die kelder. Daar is heelwat van daardie twee plaat elektriese stofies. Ek het baie ver gestap om ´n supermark te kry. Terug by die Seminario het ek besluit: aangesien ek in so baie Albergues ekstra macaroni en ander bestanddele vir volgende mense gelos het, gaan ek vir een maal ook gebruik wat ander voor my agter gelos het. Gewoonlik is dit vir my baie beter om te gee as om te neem. Maar daar was heelwat ekstras in die kombuis na ander met hulle Caminos klaargemaak het. Ek het ´n pot gevat, bietjie olyfolie en sout ingegooi, en dit op die stoof gesit. Na ´n hele ruk se wag kom ek agter dat die goed eintlik ingeplug moet word. Terwyl ek toe wag dat die water begin kook, raak ek aan die gesels met ´n vrou, wat duidelik soos iemand van Asiatiese (Viet-Nam?) afkoms lyk. Maar haar naam is Anne, en sy kom van New Mexico in Amerika af. Sy maak cous-cous nadat sy knoffel en stukkies ham gebraai het in olyfolie. En sy lag haar dood vir my, want nie een van die 10 stoofplate wil genoeg hitte gee om my macaroni te kook nie. Langs ons staan ´n Duitse omie, wat ´n kitspizza in ´n supermark gekoop het. Hy gooi die ding op hoog in die mikrogolf vir 5 minute, dat dit later soos popcorn klink in daardie mikrogolf. Julle moes die eindresultaat en sy gesig gesien het! Priceless...

Na ´n hele ruk se gesukkel kom die geleende macaroni tot kook. Toe die water kook, is die macaroni klaar al denté! EK het van my ham en blokkies kaas bygevoeg, en Anne het vir my van haar botteltjie Salsa gegee. Dit was ´n lekker ete! Vroeg in die bed geklim, so teen halftien.

VAnoggend eerste in die kamer opgestaan, my rugsak so saggies as moontlik gepak om nie die ander wakker te maak nie, en toe die lang pad na die Autobus stasie aangepak. Soos ek s♪, sover het alles mooi uitgewerk vandag. Die eerste plek wat ek vra in die stasie, verkoop die retoerkaartjies Finisterre toe. Die retoerkaartjies is €23. Toe die bus kom, is dit een van daardie mooi dubbeldekkers soos wat Greyhound in Suid-Afrika ook soms gebruik. Die pad hiernatoe, s♪ die gidse, is iets tussen 78 en 84 km. Dit neem oor die twee ure met ´n bus, maar meer as die laaste uur loop langs die kus verby. EDk weet nou nog nie hoe die mense sê ´n mens stap van Santiago na Finisterre toe in 3 of 4 dae nie, dit voel baie ver in die bus!

Ek het in die week by die Hotel Finisterre ´n kamer bespreek op die internet vir €36. Ek het gesit en wonder: hoe op aarde gaan ek die Hotel kry. Toe stop die bus reg voor die hotel! Die dorpie self is pragtig, en die hotel ook (dalk het dit iets met die eie dubbelbed en badkamer te doen! Maar ek glo die balkon wat op die hawe uitkyk, het ook iets daarmee te doen. En dit vir R360 per aand! Ek sou dit nooit in Suid- Afrika gekry het nie.)

Ek het my rugsak in die kamer gelos, en toe die pad aangedurf na die vuurtoring by die mees Westerlike punt van Europa toe- volgens die Romeinse keisers in elk geval, as die satelietfotos dalk iets anders sou sê.  Ek het seker die neiging om plekke te vergelyk met ander plekke wat reeds aan my bekend is. Maar hierdie plek lyk verskriklik baie soos Valsbaai, daar waar ´n mens op die Argus verby Simonstad en Millers Point na Smitswinkelbaai toe ry. Daar is ook ´n reuse baai hier. Dis ook Atlantiese oseaan. En die pad klim omtrent soos Smitswinkelbaai na die vuurtoring toe. VAndag het ek besef dat ek fikser geword het die afgelope drie weke. Sonder die rugsak het ek daardie klim nie gevoel nie, dit het gevoel asof ´n mens daar uitsweef! Vir ´n slag was die lug blou, en ek het my sonbrandroom vergeet. Maar baie vinnig tot bo gekom, by ´n baie mooi vuurtoring. Daar is baie mense. Maar daar is ook ´n pragtige uitsig! Die een legende is toe waar, baie mense verbrand simbolies ´n stuk pelgrimsklere hier. Dit is verbode, maar die owerhede kyk duidelik anderpad.  Die ander legende is toe nie so maklik nie. Dit is baie hoog bo die see, met baie rotse. ´n Mens spring toe nie sommer net kaalgat hier in die see nie. As jy dit doen, gaan jy bereid moet wees om Amerika toe te swem, of dalk gooi die seestroom jou poedelnakendkaal in Ierland uit...

DIe pad afdraande was ook baie lekker, net weer besef my stewels pas nie reg nie. Ek het ´n stort gaan vat, en toe ´n klomp wasgoed in die bad gegooi, en met Head & Shoulders shampoo gewas (wat goedkoper in hierdie kusdorpie as in Suid-Afrika is!)  Dit hang nou oor my balkon, maar ek weet nie of die son ooit daar gaan bykom nie.

Na ´n kort siesta het ek besluit om hierdie dag ten volle te benut. Toe ek uitstap, hier op die hawe, kry ek ´n restourant met internet. Soos ek hier sit, is daar ´n geel heiningtjie, met tafels en stoele reg buite die venster voor my. DAn is dit die pad, en dan die kaai. Ek is omtrent so 20 meter van ´n klomp (see-) bakkies in die water, anderkant hulle lê ´n paar vissersbote, en dan die kaai, met die oop see agter dit. Aan die oorkant van die baai lyk dit soos die Outeniqua berge by George, met daardie reuse groot windturbines oral op die rante, soos hare op ´n hond se rug.

Hier is glo ´n 2 km lange strand links van Finisterre, ek gaan dit netnou soek. Ek dink om hierdie perfekte dag af te sluit, moet ek weer ´n seekosplek soek wat daai heerlike Pulpo (seekat) verkoop.
More kan ek lekker laat slaap, en dan 11h30 die bus buite my hotel terug Santiago toe kry. EK het ´n nuywe opsie ontdek, en dit is om moreaand om 22h30 die nagtrein yerug Madrid toe te vat. Dan kom ´n mens 08h05 in Madrid aan, en het ek nog ´n dag om ietsie vir die vrou en kinders te soek. Die alternatief- die treine en busse Madrid toe neem amper 9 ure, as ek Maandagoggend vertrek, kom ek eers na 21h00 in Madrid aan, niks tyd om iets te soek nie, want Dinsdag vroeg moet ek die metro lughawe toe vat.

Daar is julle alweer op hoogte met my bewegings. As iemand nou net vir my kan sê waarom my vrou se dekselse selfoon nie geantwoord word nie...

Friday, June 17, 2011

Dag 18= Arca du Piñho na Santiago de Campostelo

En so breek die laaste deel van enige reis ook uiteindelik aan. Ek moet bieg dat dit klein bietjie langer gevat het van Leon af as wat ek gedink het. My liggaam het so bietjie meer ingegee as wat ek wou, my voete het my redelik baie meer moeilikheid gegee as wat ek kon beplan.


EK het gistermiddag maar weer op ñ pelgrimsmenu besluit. My liggaam het dit uitgeskree vir iets anders. So julle wat my goed ken, sal dit nie glo nie. My eerste gereg was ñ gemengde slaai. Tweede gereg was ñ vleis lasagne, want ñ mens kan ook net soveel vegetaries wees, met ñ vla vir nagereg. Voor ons verder gaan, hierdie is alweer een van daai baie weird keyboards, waarop niks soos in Suid Afrika werk nie, baie frustrerend.

EK het vanoggend sesuur opgestaan, om halfsewe in die pad te val, met die doel om die pelgrimsmis by die katedraal van Santiago om 12 uur by te woon. En die wegspring was fantasties, dit was so mooi met die straatligte in Arca of Pedrosa wat nog brand, met die baie donker koningsblou van die lug voor die son opkom. Die eerste gedeelte van die oggend was ook prentjiemooi in ñ bos, in die skemer. Met tientalle pelgrims rondom my in die skemer, almal haastig op pad Santiago toe.  EK het skaars drie of vier kilometer geloop, toe is daar ñ brug onderdeur die pad, met ñ baie mooi koffieshop net daar anderkant. Ook vandag het ek twee stempels in my Pelgrimspaspoort nodig gehad, en het hier my eerste een gekry. Vinnig ñ koffie gedrink, en toe: tragedie ª. My getroue hoed, waar ek self nog ñ Suid Afrikaanse vlag aan vasgewerk het met naald en garing, het ek daar vergeet, hy hang seker nou nog oor die stoel se rand. Dit was bewolk, met reën plek plek, en ek het eers agtergekom ek is hoedloos na çn stewige drie kilometer se klim. Dit is tot agter Santiago Internasionale lughawe se aanloopbaan, die enigste lughawe in die wêreld wat na çn stroom vernoem is waar pelgrims hulle skrotums gewas het voor hulle die heilige stad betree: Lavacolla lughawe.

Ek het nie kans gesien vir ñ verdere ses km by die dag nie, en het maar aanhou stap, met çn traan in my oog.
Van die lughawe af was die roete net nie meer pret nie. DIé wat beplan om die Camino te stap, wees hierop voorbereid. Dit is verder as wat die gidse sê. Die kilometer padtekens hou skielik by die lughawe op by die 13 km bordjie, wat die redelike mens laat vermoed dat dit nog 13 km tot by die katedraal is.
Dan begin die paadjie kronkel deur klomp woongebiede heen. Daar is heelwat opdraandes op die laaste dag, wees daarop voorbereid.

So ses kilometer voor die einde kom ñ mens by çn vreeslike plek uit, net so verby Gallicea televisie se geboue. Die plek se naam is San Marcos, en êrens in çn heilige jaar in die 1990 s het die owerhede dit goed gedink om hier ñ reuse pelgrimsmonument te bou,  baie abstrak, so dat ek dit ook nie verstaan nie. Daar is ñ reuse munisipale refugio, met oor die 500 beddens, ñ amfiteater, en soos die gidse spot= die Pelgrimsweergawe van Disneyworld kom seker ook nog eendag hier.
Net verby San Marcos is çn baie steil afdraande. Daar is çn bordjie teen ñ lamppaal wat sê katedral nog 4.7 km, en dit is waarskynlik reg. Dan lê ñ groot deel van Santiago voor ñ mens. Eers stap ñ mens deur ñ baie moderne deel van die stad. ñ Mens kan die katedraal glad nog nie sien nie. Dan stap jy baie ver. Jy kom later by ñ verkeersirkel uit. Jy stap baie verder. En uiteindelik, as jy voel jy kan nie meer nie, dan stap jy nog ñ MOERSE entª  Dit voel of die katedraal heeltemal aan die ander kant van die stad is, ñ stad wat so groot soos Bloemfontein voel.

Uiteindelik het ek by die katedraal uitgekom. Dit sou regtig lekker gewees het as hulle darem die laaste 3 of so km vir ñ mens met bordjies aangedui het. Selfs wanneer jy by die katedraal aankom, is daar geen bordjies om jou te help waarheen om te gaan nie. ñ MEns vra maar ñ vreemdeling om jou af te neem voor die katedraal. EK het so half twaalf by die katedraal aangekom, en toe was daar al klaar nie meer sitplek beskikbaar nie, die diens is VOL  Bustoeriste wat vir die show gekom het. Ek het in die katedraal heelwat van die mense raakgesien wat ek langs die pad oor weke ontmoet het. Ek het maar in çn hoekie op die grond gaan sit, en so tien minute van die diens uitgehou. Maar ek kon NIKS sien agter die pilare nie, en alles is natuurlik in Latyn. Terwyl ek so sit, en al die ouens wat vandag met rugsakke klaargemaak het, so sit en dophou, het ñ baie sondige gedagte by my opgekom. AS almal nou hier sit in die kerk, dan is daar seker min mense by die Pelgrimskantoor. En net daar het ek opgestaan, en na die Pelgrimskantoor toe gegaan. Dit is so twee blokke na die westekant van die katedraal. Ek het in ñ baie kort ry gestaan, so ses mense voor my. En hulle het nege toonbanke wat werk. So redelik vinnig is my nommer geroep, en het ek my pelgrimspaspoort met al sy stempels voorgelê. Op die vorm het ek aangedui dat my pelgrimstog godsdienstig van aard is, en dat ek te voet van Leon gestap het. En sonder enige moeilikheid het ek my Compostela gekry, daardie sertifikaat dat ek die Camino suksesvol voltooi het. My naam is in Latyn in Gotiese letters daarop geskryf, en daarmee saam is die reis voltooi.

EK kan verstaan dat so baie mense die einde as ñ antiklimaks kan beleef. Dit is baie koud en onpersoonlik in die Pelgrimsmis, ek gaan verseker nie rondhang dat hulle more my naam in die katedraal lees nie. Hulle gaan, ek gaan nie daar wees nie. Ek het oorkant die pelgrimskantoor eers my sertifikaat laat lamineer, want ek is bang hy reën nat, het ek onlangs gesê dit reën vandag vraagteken.

Daarna het ek op my gebruiklike manier sukses gevier met ñ lekker groot bier. €3, elke sent werd.
Toe moes ek my blyplek gaan soek. Ek het in die Belvis klooster bespreek, en ek is aangenaam verras. As ek raad mag gee, bespreek ook hier vir jou aankoms in Santiago. Maar gaan boek EERS jou rugsak daar in, dat jy nie daarmee in die katedraal hoef rond te sukkel nie. Dis ñ reuse ou klooster, met drie vloere vol beddens. Maar NIE bunkbeddens nie. En langs elke bed is ñ locker waarin jou rugsak maklik kan pas.
Ek het net my goed in die locker gestoor, en toe teruggestap al die pad katedraal toe, om die Poskantoor te soek. Ek weet nie wanneer anders ek my geposte goeters kon kry nie.  Poskantoor is ñ blok agter die toeriste inligtingskantoor, kan ek nou vir julle sê. EK het ñ  halfuur gesoek daarnaª

Santiago is vir my baie bedrukkend vandag. Behalwe vir die reën het ñ dronk vrou en ñ paar bedelaars my al gekonfronteer. In die ou gedeelte van die stad verdwaal ek in my glorie in met die smal stegies. En ek het kilometers ver gesoek vir ñ supermark vir kos.
EK is so bly ek kan more Finisterre toe gaan, en die pelgrimstog in die natuur gaan klaarmaak. Ek dink dit is ñ baie meer spesiale einde vir die Camino, om te reis tot waar die land ophou, die einde van die aarde.
Ek moet net nie verdwaal na daai busstasie toe nie. Nou stink ek verskriklik van al die sweet in my reënklere. Ek gaan stort, dalk ñ kort slapie vang, en dan aandete maak. Seker weer ñ ham en kaas boggadilio. Met çn bietjie Sangria, en ñ sjokelade mousse poeding om dit mee af te sluk.

Vergewe asb die spelling en punktuasie, dit was uiters frustrerend om op hierdie rekenaar te tik. Dankie vir elkeen van julle wat die reis so mooi gevolg het saam met my. Die stap is verby, die Camino in my lewe gaan voort. Stap gerus saam verder...

Thursday, June 16, 2011

Dag 17, Arzua na Pedrosa

Ek het nooit gister gesê waar ek gebly het nie. Dit was in die Albergue Ultreia in Arzua, wat ek baie sterk sal aanbeveel as iemand ooit die CAmino loop en raad sou vra.  Gisteraand het ek en die Kanadese meisie saamgespan om aandete te maak. Nee, dis glad nie soos wat julle stouterds dink nie! ´n Mens koop in Spane, net soos in Suid-Afrika, vermoed ek, redelik moeilik bestanddele om net vir een mens kos te maak. Macaroni pakkies is altyd gesin grootte. Jogurt en Flan kom net in hoeveelhede van vier. ´n Bottel wyn is te veel vir ´n normale mens. En ´n bottel salsa sous ook. Daarom maak dit net sin om so nou en dan iemand anders te kry, saam bestanddele te koop, en dan saam kos te maak. Wat ons gisteraand gedoen het.  En toe het iemand anders vir haar die oorblywende deel van hulle macaroni gegee, wat gemaak het dat ek eintlik maar vir myself gekook het. En dit was baie beter as daardie vorige kat/ seekat poging! Saam met macaroni het ek ´n blikkie mossels en ´n blikkie onbekende vis gekoop, wat toe uiteindelik hulle weergawe van Sardientjies was. Dit het ek in ´n pan warm gemaak in olyfolie. Dit keurig bo-op my macaroni geplaas, van die salsa oorgegooi, en ook so ´n sakkie van daai krummelrige kaas wat ´n mens oor pasta gooi, daaroor gestrooi. Saam met ´n glasie van Madeleine se rooiwyn was dit baie lekker. En ons kon vir ´n slag gesels- sy is ´n maatskaplike werker, besig met haar doktorale studies, want sy wil so gou as moontlik ophou met die normale maatskaplike werk. Dit lyk asof selfs die onskuldige Kanada maar sy hoeveelheid huismoles het, seker darem glad nie op die skaal van Suid- Afrika nie.

Ek het gisteraand redelik maklik aan die slaap geraak, maar van vroegoggend af baie sleg geslaap. Ek het weer so net na 7 vanoggend in die pad geval, nadat ek twee bakkies jogurt geëet het. Nou weet ek nie watter blinde sambok my slaan nie, maar my maag was vandag baie deurmekaar. Ek het nie verby ´n enkele openbare toilet geloop sonder om in te hardloop en hartlik van hulle dienste gebruik te maak nie.  VAndag se 22 km was redelik moeilik, maar onder normale omstandighede sou dit glad nie sleg gewees het nie. EK het heeldag baie pap gevoel met daai magie.

Vandag was weer een van daai dae wat daar letterlik niks koffieplekke of oorblyplekke vir die eerste 10 km is nie. Dit is goed ek het nie gister verder probeer vorder nie, ´n mens sou baie ver moes stap gister. En niks jaag my mos op die oomblik, behalwe my maag nie...

Ek het so eenuur in Pedrosa aangekom. Weer ´n keer was ek BAIE geseënd met blyplek, weer het ek in ´n baie mooi private Alburgue uitgekom wat vir my plek het- die Albergue Porta de Santiago. Hier speel die hele tyd die rustigste musiek. Daar is redelik baie spasie rondom die bunkbeddens. EN met hierdie blyplek het die onsekerheid oor waar ek bly, uiteindelik klaargemaak. Ek het gister oor die internet plek bespreek vir more aand in Santiago, en ook vir Sondagaand by ´n ander Albergue. Saterdag is ek vir ´n slag alleen in my eie hotelkamer in Finisterre, en ek sien BAIE daarna uit. Ek het gedink ek gaan so elke vierde of vyfde aand maar ´n hotelkamer kry op die reis om net weer privaatheid te hê en goed uit te rus. Maar ´n hotelkamer begin gewoonlik by € 25, ´n privaat Albergue is gewoonlik rondom €10. So ek het hierdie opsie al die pad uitgeoefen, en dit is vanaand seker al my negende aand in ´n ry in ´n Albergue.  As ek nou regtig baie geld wou spaar, kon ek die hele tyd in munisipale refugios gebly het vir €5 ´n aand, maar dit is heeltemal te raserig of te opeengehoop, ek hou nie daarvan dat vreemde Duitse mans nader aan my in die aand lê as wat my vrou gewoonlik aan my lê nie.

Vandag sal seker weer ´n lang dag wees om om te kry. My voete is seer van vandag se 22, en ek voel pap. Ek het nou ´n Coke gedrink en sal seker brood eet vir middagete.
Vaagweg begin dit in die agterkop groei dat die reis einde se kant toe begin staan. Die laaste bordjie wat ek gesien het, het gesê dis nog 18.5 km na Santiago toe. Die een belangrike ding wat ek òp hierdie reis geleer het, is dat enige ding moontlik is as jy hom stap vir stap doen. ´n Mens eet mos ´n olifant happie vir happie op, sê my liewe kollega. Die 317 km van Leon af was ook so gewees, dit was heeltemal te groot om aan te dink. Maar ek het net gedoen wat ek kon elke dag, en dag vir dag aangehou.

Ek gaan more seker so 06h00 probeer wegspring om more teen 12h00 in die pelgrimsmis in die Katedraal van Santiago te kan wees.  Ek verlang nou al baie huis toe, selfs vir die normale oorlog van die vier kinders!  Geniet julle vakansiedag in Suid-Afrika! Vriende, braai ´n vleisie, en dink aan my...

Wednesday, June 15, 2011

Dag 16- Melide na Arzua

Ek weet, ek weet, ek kan alweer nie vir julle vertel van honderde kilometer vir die dag, en sewentig blase op elke voet nie!  Vandag was eintlik so ´n doodgewone dag in die lewe van die gemiddelde mens. Vandag insluitend ekke.  EK het gisteraand baie vroeg ´n slaappil gedrink, dat ek redelik vinnig kan uitklok.

Ek het nie geweet hoe ver om vandag te stap nie. EK is bv glad nie meer op John Brierley se skedule nie, maar was eintlik bitter min dae gewees. Dis mos ook nie nodig nie, ek het my vasgestelde tyd vir Spanje, en my liggaam sê ook vir my baie. Soos dat dit lyk asof die gemiddelde afgetrede Europese burger op die Camino fikser as ek is...  Dis nogal erg om daaraan te dink. Die jong Europeërtjies het in elk geval hulle oorfone in, en maak asof dit ´n wedloop vir die eindstreep is.

En ek? Ek moes mooi gaan sit en dink presies wanneer ek wil klaarmaak, en wat ek nog alles wil doen voor ek volgende Dinsdag op die vliegtuig huis toe kan klim. EK kan nie die trein Berlyn toe haal, of Lissabon toe nie, daarvoor is daar heeltemal te min tyd en geld. Op die Camino self is dit baie goedkoop, die oomblik as ek afklim daarvan, raak dit baie duur.

Die issue gisteraand was: tot in Arzua van Melide af is dit weer net 15 km. Van Arzua af tot by die volgende noemenswaardige blyplek is nog 11 km, en dan is ´n mens net 19 van Santiago af. As ek vandag bv tot by Santa Irene geloop het, kon ek moreaand in Santiago gewees het.

Die gedagterigting wat gewen het is hierdie een: Ek het vanoggend half sewe al begin stap. Gister se dag volgens John Brierley se boek sou in Ribadiso geëindig het. Ek het vanoggend begin deur te verdwaal. Uit Melide uit stap ´n mens in ´n bos in. En ek het te vroeg begin loop, dit was nog donker. In die bos het ek ´n afdraai gemis. Ek het wel geel pyltjies op bome gesien, en toe ek dit volg, kom ek by ´n snelweg uit met ´n Ultra City tipe plek, hulle het toe op die geel pyle geadverteer dat hulle 24 uur ´n dag storte beskikbaar het. (donker Afrikaanse bromwoorde volg...) Ek het maar met die snelweg aangestap vir so 2 km, tot ek weer die Camino se pyltjies gekry het. By die eerste dorp, Boente, het ek koffie gedrink by Os Alburgue, daar was die vriendelikste jong man wat Engels praat, en self die Camino al ´n paar keer gestap het. Hy kon vir my baie raad gee. Deur Boente heen het ek die pad gevat Ribadiso toe. Dit is soos die gidse hier sê, ´n mens moenie afdraende alleen verwag eindpunt toe nie. Die Camino gaan hier deur ´n hele paar riviere se valleie, wat elke keer ´n steil afdraande en dan weer opdraende insluit.

By Ribadiso gaan ´n mens weer oor ´n ou Romeinse bruggie, met die groot munisipale albergue net daar langsaan, waar baie pelgrims op die Brierley skedule sou oorbly. Net langs die Albergue is ´n nuwe restourant. En ek het alweer nog niks geëet nie, brekfis is vir my ´n moeilike saak op die Camino! Ek het ´n ham en kaas bogadilleo bestel, en koffie. Met iets in die maag voel ´n dag darem ook baie beter.
Van Ribadiso is dit net 3 km na Arzua toe, maar dit is ´n skotige opdraande! (ek weet nooit of op- en afdraende met ´n ae of aa is nie!)  Ek het gedink aan my skedule, en besluit om in Arzua oor te bly by ´n privaat Albergue vir €10. Hierdie een is baie mooier as gisteraand s´n, en ook baie minder opmekaar.

Nou vir een van die interne grappies van die Camino. Eergisteraand het daar so ´n Spaanse omie met min tanne onder my in die bunkbed geslaap. Ek het gesien gisteroggend kyk hy my so skeef aan.  Toe ek gisteraand besluit om in Melide oor te bly, wie lê op die bed reg langs my? Dieselfde omie. En hy lei aan slaap-apnee of iets, hy maak die weirdste geluide as hy slaap. En hy snork verskriklik.  Ek het besluit om wye kringe om hom te loop vandag. En toe ek in Arzua inkom, en in die privaat Albergue inboek, wie sit daar? Einste. Ek het eers omgedraai, en by die een langsaan gaan hoor of hulle nie plek het nie. Maar hulle het daardie gevreesde woord gebruik: Completo. Hulle is klaar vol bespreek. Toe moes ek maar weer saam met oom Snorkie in die kamer inboek. Vanaand gaan dit seker weer twee slaappille vat om hom te oorleef!

Arzua is ´n groterige plek, so ongeveer 8000 mense. Ek het maar by die Supermark vir my weer pasta en ´n blik vis vir vanaand gekoop, ek is nie lus vir die pelgrimsmenu nie.
Ek het agtergekom as ´n mens stort, dan kan jou ou klere so per ongeluk onder jou voete beland. En as jy nou nog boonop sjampoo daarop mors, en dan die spul net so bietjie trap, dan spaar dit baie moeite later aan- spoel uit en hang op...

Ek het netnou baie lekker met ´n Ierse gesin gesit en gesels wat ook vir die Albergue gewag het om oop te maak. Hulle van is Cullinan, en die man het in 1976 vir so vier jaar in Johannesburg gewerk. So lekker om met mense te kan gesels vir wie ek verstaan. En die Ierse meisies het so mooi aksent!

Nou wag daar weer ´n lang dag, niks om te lees in Engels nie, sal seker na ´n kort poging tot siesta gaan kyk hoe dit by die plaaslike priester en kerk gaan...
Sterkte met jou reis!

Tuesday, June 14, 2011

Bonus-uitgawe: Stilword op die Camino

Op my ander blog het ´n paar vriende gewonder of ´n mens ooit kans kry om werklik stil te word op hierdie reis.

Die een baie belangrike motivering vir die Camino se stap was juis vir my om ´n breuk uit die normale lewe te maak, en weer terug te gaan na fondamente in my lewe toe. In die alledaagse lewe van ´n groot gemeente, en ´n groot gesin, kom ´n mens tog dikwels agter dat daar net te veel dinge gelyk gebeur. So dikwels kan ons predikante op ander mense se nood en behoeftes fokus, dat ons so maklik ons gesinne en onsself afskeep in die proses.

Om werklik my roeping as leraar te kan uitleef, het ek dit vir myself nou weer op die Camino uitgemaak, is dit dringend belangrik dat ek self geestelik gesond sal wees. Dat my eie verhouding met die Here regtig dieper sal groei, en dat ek uit sy liefdevolle genade in my lewe sal kry wat ek nodig het om ook my bediening vir Hom te kan doen.  ´n Mens dien geen ander mens tog na behore as ´n mens nie eerste in Jesus se voetspore volg nie? Ek kan nie Sondag preek as ek nie in die week gehoor het wat die Here graag vir sy mense wil sê nie. Ek kan nie mense in hulle seer help, as ek nie self die Geneser ken nie.

Daarom, hierdie Camino het vir my baie sterk gegaan om met baie meer sensitiwiteit na die Here se stem te luister. Mense wonder: kry ek tyd daarvoor? En die antwoord is: Ja, verseker!
´n Dag begin gewoonlik met die baie vinnig opstaan, slaapsak oprol, rugsak pak, en so vinnig as moontlik onderweg kom. Ek eet nie ontbyt waar ek bly nie, probeer gewoonlik by ´n supermark ietsie vir dié doel koop. Verreweg die meeste dae het in klein dorpies begin. Binne minute is ek uit die dorp uit. En as ek uit die dorp uit beweeg, begin daar ´n stilte in my neerdaal. Dikwels sal ek by ´n mooi plek soos ´n waterstroompie gaan sit, en my ou weermagbybeltjie uithaal. Ek lees nogal baie Psalms op die oomblik! Hulle praat net van soveel verskillende menslike emosies en die hele saak van op reis wees.  Ek loop en dink oor wat ek gelees het, of oor wat die Here vir daardie entjie pad op my hart plaas. Elke dag is daar ook iemand vir wie ek spesifiek bid.  Op die oomblik is daar een van my kinders wat baie swaar trek in die lewe, en hy is baie in  my gedagtes.

Van die begin af was die Camino vir my ´n metafoor (beeld) van my eie lewe- soos ek al so dikwels gepreek het, dat ek dit sien as ´n reis. As daar mooi gebiede is, dan loof ek die Here daarvoor. As daar moeilike dele kom, soos dekselse steil AFdraendes, dan smeek ´n mens om hulp. As daar gevaarlike gebiede is, waar die roete soms op ´n teerpad saam met verkeer loop, is ´n mens baie meer intens bewus van ons behoefte aan die Here se beskerming.

Die Here praat normaalweg die meeste met my deur die Bybel. Maar op hierdie reis praat Hy nogal meer deur die natuur en die roete self! ´n Lang dag se stap is so sewe tot agt ure, wat gewoonlik al sewe uur die oggend begin het. Dit beteken dat ek gewoonlik hier rondom drie-uur al klaar ´n slaapplek het vir die aand, gewoonlik al gestort het (en die volgende dag se klere aangetrek het, onthou, ek het net 3 stelle hier, en op die oomblik is twee nat!) Ek kry nie regtig reg om in die middag te slaap nie, daarvoor raas dit te veel in die Alburgues. Maar weet julle wat? Elke liewe dorpie in Spanje het ´n oorvloed kerke, en die meeste van hulle staan oop in die dag.  Dit gebeur omtrent elke dag dat ek vir ´n hele ruk in die kerk gaan sit. En bid. En dink. En wees. Ek was netnou weer in Melide se groot kerkgebou vir ´n hele ruk.
Ek weet die Rooms Katolieke weergawe van die Christelike geloof is vir ons moeilik om te verstaan. In lande soos België maak hulle bv baie meer van Maria, soos in die katedraal in Brussels waar Maria met haar voet die slang se kop trap.  Ek weet in ´n groot deel van Europa is die kerkbywoning in elk geval daarmee heen, en is kerkgeboue net museums. Dalk in Spanje ook, maar in ´n baie kleiner mate as Frankryk of België.

Vir my gaan dit nie nou om reg of verkeerd te soek van die Rooms Katolieke kerk nie. Weet julle wat is besonders? Ek was in kerkgeboue wat al in die 1200´s in gebruik geneem is.  Ek het al in Ken Follett se boeke gelees hoeveel geslagte dit kon neem om ´n katedraal te bou. Ek is verstom oor die argitektuur wat vir soveel eeue steeds die dakke bo gehou het. Maar bo alles, ten spyte van al die bagasie- dit is plekke waar mense vir God gesoek het deur eeue heen. En daar is ´n stuk heiligheid, ´n stuk gewydheid daaraan. Nee, ek maak nie ´n kruis as ek in die kerk instap nie. Nee, ek sprinkel nie heilige water nie, ek verstaan dit nie. Ek betaal ook nie €1 om ´n rooi kers aan te steek nie. Maar in daardie heilige ruimtes is daar stilte. Daar kan ´n mens God ontmoet. Net soveel soos langs die riviertjie. Maar dis juis die punt van hierdie reis- God reis oral saam met ons. Heilige plekke is enige plek waar ek stil word om God te hoor. ´n Mens gee dalk net meer aandag in ´n antieke gebou. Daardie besef dat die aanbidding van God baie ouer as ek is. Dat baie geslagte hier bely het: Jesus is die Here.

Nee, ek gaan nie ´n Rooms Katoliek word nie. Maar ek dink ons kan so ietsie by hulle leer oor die meer mistieke (misterieuse?) deel van aanbidding. Om nie alles dood te wil verklaar nie, maar soms net stil in God se teenwoordigheid te kan wees.  In enkele geboue, soos in die katedraal van Leon, of in die kerkie bo-op O Cebrero, het daar Taize musiek gespeel. En dit doen iets aan ´n mens se gees...  As ´n mens ´n hele ruk daarna sit en luister, dan kom daar ´n baie diep gevoel van vrede in jou op.  Ek dink ek moet meer daarvan maak by die huis- meer sulke musiek in die hande kry, meer tyd maak vir stil word in die Here se teenwoordigheid.

En ja, ek is gewoonlik so moeg dat ek net na 8 in die aand uitklok vir die dag. En terwyl ´n mens so in die bed lê, dan kom die verlange na Annelie en die kinders. En dan praat ´n mens maar weer baie spesiaal met die Here oor elkeen van hulle.

Ek kry so min mense wat my kan verstaan, bitter min Engelssprekendes so ver. Wel die verrassings die afgelope ruk van die Suid- Afrikaners. En die ontmoeting met die Duitse Tannies. En ´n Franssprekende Kanadees wat so elke derde woord van my Engels verstaan. Maar die priesters hier rond verstaan nie eers Engels nie... Ek praat min met mense. ´n Dag in Europa is lank. So ek hoop dit antwoord die vraag: Daar is BAIE stilte in my lewe op die oomblik. En dit doen my baie goed. Ek kry waarna ek op soek was. Dankie vir jou gebed ook vir my!

Liefde!

Dag 15- Palas de Rei na Melide

Ek is nou vyftien dae ononderbroke aan die stap. Party dae was wel erg, met bitter min kilometer vir die dag. Maar die afgelope week was baie hard op my lyf. Veral gister se skof het my erg verinneweer.

Gisteraand daar in Albergue Meson de Benito was toe regtig lekker, dis ´n mooi plek, met baie goeie diens. Toe ek gisteraand gaan eet, nooi twee ou Duitse dames, Karen en Elizabeth, wat ek al vir meer as 1 1/2 weke gereeld raakloop, om saam met hulle te sit en eet. Ek was so dankbaar! Hulle kan gelukkig Engels gesels, en het albei baie lekker met my gesels. Die gebrek aan Spaans was alweer sigbaar, want ek wou eintlik die menu sien (onthou nou dis ´n "carta", ´n menu is die vaste keuses wat ´n mens soos vir pelgrims gee.  Uiteindelik eet ek toe maar weer die Pelgrims menu saam met die Duitse tannies. Die macaroni was vir ´n slag regtig baie lekker. Hoofgereg was Spare ribs. Maar moet nou asseblief nie Spur dink en borde vol kos sien nie. Nee, vyf ribbetjies, of eerder, halwe ribbetjies. Nou sit ek saam met dames, ek kan nie soos in Suid- Afrika die ding met die hand gryp en skoonvreet nie. Nee, met ´n mes en ´n vurk. Ek dink meer as die helfte het agtergebly. Nagereg was al weer ´n flan (ons flamby). MAar die kelnerin het hierdie keer nie die bottel wyn weggeneem nadat ons halfpad is soos gewoonlik nie. Nee, ons het nou lekker gekuier, ek en die twee Duitse oumas. Hulle is terloops baie fiks, hulle stap die hele CAmino van St Jean af!

In elk geval, gisteraand was my bene baie seer. Ek het toe maar twee Stopaynes en ´n slaappil gedrink. En redelik vinnig uitgeklok, dit was nou ´n lekker slapie. Dit het net omtrent dadelik gevoel wat ek weer moes wakker word.

Vanoggend toe ek in die pad val, was daar nogal frustrasies. Die Camino is nie so duidelik uit Palas de Rei aangetoon nie, dit het ´n rukkie gevat om die eerste geel pyl te vind. Vanoggend se landskap was weer pragtig, met golwende heuwels, boomryke lanings, sommer net baie mooi. Die eerste koffieshop was alreeds op 2 km, maar hy was so vol dat ek aanbeweeg het. Die tweede een kom toe eers op 8 km.Ek het by Casa de Somoza koffie gedrink. Die plek was baie vol. Daar was net ´n rugsak by een tafel, en ek het toe maar daar gaan sit. Na so rukkie kom ´n blonde meisie wat ek al van Sarria af langs die pad sien, en ek sien dis haar rugsak. Ek sê in Engels ek is jammer, ek het seker haar plek gevat. Toe antwoord sy in Afrikaans dis nie moeilikheid nie, ek kan by haar sit. Haar naam is Liezel, en sy het so pas opgebreek met ´n Fransman, Omdat dit nou ongemaklik is waar hulle gewoon het, het sy binne twee dae besluit om die Camino te stap, want sy het ´n oop week voor sy elders in Europa moet werkswinkels aanbied.  Daar was ´n oomblik van groot spanning, haar sigarette en haar pelgrimspaspoort het op die tafel gelê toe sy badkamer toe is, en skielik is dit weg. ´n Mens se pelgrimspaspoort is op hierdie stadium baie, baie belangrik. ´n Mens kan nie sommer net ´n ander een kry nie, jy het nou twee stempels per dag van Sarria af nodig om uiteindelik die CAmpostelo te kry. Dit bly toe dat die oorywerige Spaanse tannie wat daar werk, sommer gou alles in die asblik gegooi het. Gelukkig was die pelgrimspaspoort ongeskonde.

Van Casa de Somoza is dit nog so 7 km tot in Melide. Van ver af is ´n mens al in hulle nywerheidsgebied, 5 km uit kry ´n mens al motorhandelaars (en ja, karre is baie goedkoper in Spanje as in Suid-Afrika!) en ook Jimmy se Sportwinkel- genuine, ek sal vir julle die fotos wys! 
Die laaste kilos na Melide is nie mooi met al hierdie handelsaktiwiteite nie, maar die laaste kilo is wel. Dan stap ´n mens oor so antieke, seker Romeinse nog? bruggie die dorp binne. Reg anderkant die brug is die kerkie waar ´n mens jou paspoort kan gestempel kry. En langs die kerk is die bar, waar ek ´n biertjie kon nuttig. Vir ´n slag was daar lekker lewendige Spaanse musiek in die bar.

Die een ding wat ek my voorgeneem het- Die Gallicea provinsie is wêreldberoemd vir hulle seekos. En Melide is wêreldberoemd vir hulle resep seekat. En van al die restourante beveel al die gidse Pulperia Exequiel aan.  En vir een maal wou ek by so ´n plek eet. Die plek lyk maar baie basies. As jy by die deur instap, is daar ´n paar baie groot koperpotte op gasbranders. En binne in die potte is baie duidelik seekatte. Die restourant is niks fênsie nie, maar hy is groot, met BAIE houttafeltjies en stoeltjies. Wat sê hy is suksesvol.

Ek het toe vir my ook ´n porsie Pulpa en Vino Tinto bestel.  Hulle bring sommer ´n hele bottel rooi aan, met sulke pottery kommetjies wat jy wyn uit drink. Met die gebruiklike porsie Spaanse brood. En dan, so ´n kleinerige bergie seekat in stukke opgekap op ´n houtbord tentakels, lyf, enige deel. Maar weet julle, dit is verskriklik lekker.  Die seekat word bedien in olyfolie, met paprika? op. Dit smelt in die mond, en is regtig een van daai goeters wat ´n mens net moes doen. Vir €9. Ek vermoed hulle het my vir die hele bottel wyn laat betaal, maar ek het soos gebruiklik net ´n halwe een gedrink.

Hier moes ek nou groot besluite neem. Die volgende blyplekke is so ongeveer 11 km weg. MAar my bene bly regtig seer. Die afgelope paar dae het ek elke dag oor die 20 km gestap.  Maar dit maak regtig nie saak of ek nou oormore of eers Vrydagoggend in Santiago aankom nie. Ek het niks om te bewys om nou ekstra hard te probeer, en dan nog ´n aand duur in Santiago te moet slaap nie. So ek het die hartverskeurende besluit geneem om nie vandag deur te druk met die beplande 26 km nie, maar met 15 te volstaan tot by Melide. Ek het by ´n privaat Albergue langs die Camino ingeboek, Alburgue Aquador of so iets. Dit raak nou duurder- €12.  Hierdie een is BAIE beknop. Ek het darem ´n warm stort gekry, en kon my klere was en uithang. Dis deel van vandag se sukkel, met die reën van gister is baie van my klere nat, en daarmee saam baie swaarder.

Die Albergue het darem ook drie rekenaars vir Internet.  Ek weet nie presies hoe ek die dag gaan omkry tot 8 uur vanaand as ek ´n slaappil kan neem nie. Ek gaan nou ´n supermark soek, met ´n Coke.  Het klaar ´n rukkie gesiësta. As ek net ietsie in Engels kon kry om te lees...