'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Friday, April 12, 2013

Vrydagaand bly koning in die Pastorie!



More begin die Word Rider 2013, en ek is besig om in te pak daarvoor.

Maar op 'n Vrydagaand, as al my kinders tuis is, is dit vir my baie, baie belangrik om vir hulle lekker kos te maak. Met so bietjie hulp natuurlik! 

Gisteraand se episode van Australian Masterchef was so bietjie van 'n ramp, toe die finale 12 van die 2011 seisoen op 'n skaapplaas losgelaat is. Hulle moes op Matt Moran se pa se plaas 'n ete op die vuur voorberei. Hulle het die heerlikste vars lam tot hulle beskikking gehad, en baie netjiese giettyster potjies. En tog het die meeste van hulle maar goed drooggemaak, met 4 1/2 ure tot hulle beskikking... 

Ek hou van kos op die vuur maak.  Vanaand was daar hoenderdye beskikbaar. DIe hoenderdye se velle is afgehaal (net bloot omdat cholestrol glo nie goed vir 'n mens is nie, geen ander rede wat ek aan kan dink nie!) Dit is met so bietjie olyfolie gesmeer, en daar is growwe sout en speserye ingemasseer. 

Daarna is die hoendertjie in die Weber gebraai, met so bietjie eikehout wynvaatjie skaafsels om dit lekker te rook daarmee saam.  Baie keer vra my gaste my hoe ek weet wanneer dit gaar is. Ek weet nie wat om te antwoord nie. Ek het net die gevoel... As ek nie vir daardie gevoel luister nie, braai ek dit droog...  Die hoenderdye is die hele tyd ook bedrup met suurlemoensap. 

Vanaand was daar maar net Namibiese hardehout charcoal beskikbaar om dit op te braai, gewoonlik verkies ek 'n mengsel van sekelbos, en wettig geoesde hardekoolhout. 

So met die braaiery is 'n verdwaalde bottel Villiera Sauvignon Blanc opgespoor wat my vriend Bernard nog verlede jaar vir my gegee het. Daardie wyntjie het mooi geloop vanaand, Bernard! 

Die dames in die huis het aartappels gekook, met 'n suurroom op. Daar was gemengde groente in 'n romerige sous, en beetslaai uit die bottel. 

Die ete self het baie lekker afgeloop, met goeie geselskap, ons het maar die seuns se rapporte probeer vermy... 

Dit bly vir my so lekker, die kere wat ons as gesin saam kan wees en om 'n tafel kan aansit. Sonder enige selfone aan tafel.. Met al die kinders hier. Ons was vir soveel jare so gewoond daaraan, en skielik is selfs dit nie meer vanselfsprekend dat almal teenwoordig is nie. 

Ons het lekker gesels oor more se Super 16 finaal van ons Hoërskool teen Louis Trichardt, en Bernard wat vir die eerste keer in die begin uitdraf in die 1e Span, 'n baie groot geleentheid in ons gesin... 

My pa het glo 1e spanne gehaal, die talent vir rugby was helaas heeltemal afwesig by my gewees, ek was maar 'n benchwarmer vir die 3e span, en daarom ook nie te hoog gereken as positiewe bydrae tot die Hoërskool Newcastle se sportman van die jaar nie... 
Ek is net baie bly Bernard hoef my nooit te tackle nie, ek vermoed dit kan baie seer wees. Ons het ook gesels oor die Word Riders waarby ek more aansluit, vir die reis om Bybels te gaan plaas, en die Bybelgenootskap so bietjie beter bekend te stel. 

Maar die hoogtepunt van die aand, selfs beter as my hoender, was die nagereg! Anja was lus vir 'n Roly Poly, en het dit die eerste keer in haar lewe gebak.  Sy het dit meesterlik gedoen! 


Met so 'n poeding kan die aand mos net lekker wees!  Bedien met 'n heerlike warm vla. 

Na die tyd was daar filterkoffie, en toe 'n glasie van Calitzdorp kelders se Rooi Muskadel om die ete mee af te rond... 'n Heerlike aandjie in die Pastorie- ons eet byna nooit so luuks nie, maar ek is op pad van die huis af vir 'n week, en Anja Maandag terug universiteit toe. 

Daarom vier ons die lewe, familiewees, en soveel genade wat ons ontvang. 

En nou MOET ek regtig gaan pak vir die Word Riders...  Lekker aand by jou! 

No comments:

Post a Comment

En jy daar, wat sê jy?