'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Friday, October 21, 2011

Die Prysuitdeling uit die voorste gestoeltes...

Gisteraand het ek nou vir die heel eerste keer in my ganse lewe in die eregaste sitplekke gesit by ons Hoërskool se Prestige Aand (alias Prysuitdeling).  Daar het ek my posisie ingeneem langs Gerespekteerde Skoolhoof en sy vrou, en Beheerliggaamsvoorsitter en Mevrou.  Die eer het ek verdien, omdat ek moes opdraf in die begin, en plegtig die geleentheid op gepaste wyse tweetalig open.

Ek was nogal net lus om ietsie te sê oor Spreuke 20:4 in beide tale van ons land wat ek ken. Zulu is nie meer een van hulle nie... In elk geval, Spreuke 20:4 sê: "Die Luiaard plant nie in die saaityd nie, en soek iets in die oestyd wat nie daar is nie..."   Ek het hulle vinnig verseker dat ek nou nie met die luiaards praat nie, want hier is ons dan om 'n pragtige oes te vier. Daar is hard in die saaityd gesaai- tyd op die harde banke en op die sportvelde deurgebring, om sukses te verseker. En daardie oes word vanaand gevier...  Maar vir die ouens wat nie daar kon wees nie (gebrek aan oes, sien?) en dié wat daar was vir Padpatrollie, het ek verseker dat die volgende saaityd binnekort aanbreek, en volgende jaar se oes kan heelwat beter lyk as vanjaar s'n.  Daar is altyd geleenthede om jouself te verbeter...  wyse woorde, né?

Dit het my nou diep laat nadink, soos die Prediker sou sê. En hier is 'n paar gevolgtrekkings oor die Prysuitdeling of dalk eerder: my ervaring van die Prestige aand...

  1.  Maak nie saak hoe lank 'n Dominee op 'n Prestige aand praat nie, dit sal altyd te lank wees...  (onthou nou- ek was nog altyd so effens aandagafleibaar...) 
  2.   Dis nie lekker om Grênd te wees nie. Dis nie lekker om daar heel voor te sit op die harde plastiekstoele vir 3 1/2 ure aanmekaar nie. Ek hou baie meer daarvan om buite die deure te sit en inkyk, op my eie kampstoel. En eendag gaan ek nog my gasbraaier ook saamvat, al dreig Annelie my.   En 'n koelboks. Met Windhoek Light in...
  3. Daar is darem ongelooflike begaafde kinders in onse dorpie... 
  4. Daar is baie kinders wat soos my skooldae presteer- net-net genooi na die Prestige Aand vir 'n kulturele aktiwiteit of Padpatrollie... Noudat ek daaraan dink, Padpatrollie was op my twee sussies se CV, nooit op myne nie... 
  5. Daar uit die voorste gestoeltes lyk dit darem baie lekker as hulle so in die openbaar jou prestasies aflees en dit vat so lank... nie negatief bedoel nie, ek glo elkeen moet sy gawes ten volle benut, en dit is lekker as jy soms erkenning kry daarvoor.
  6.  Die hartseer in die oë van party van die mees briljante kinders, omdat hulle dalk oorgewig is en nie so sosiaal aanvaarbaar voel soos die eerste netbalspan nie...  hulle dink hulle is nie so goed soos die ander nie, terwyl... 
  7. Party rugbyspelers kry darem baie groot applous vir 'n enkele prestasie, en ander akademiese wrakke kry amper geen vir baie prestasie nie...  Gewildheid op skool is 'n vreemde ding, en 'n gejaag na wind... 
  8. Die heel lekkerste ding van die Prysuitdeling is om na 3 1/2 ure op te staan van daardie stoele en jou alie te laat rus van die marteling! 
  9. Soms wens ek ook dat daar soms in die grootmenswêreld gesê kon word as 'n mens presteer het in iets. In my werk is dit egter baie moeilik om te presteer. 
  10. Ek is so dankbaar Prysuitdelings vind net een keer 'n jaar plaas! 
So al die Nylstromers- ek het mooi na julle kinders gekyk daar uit die voorste linie uit. En ek is trots op elkeen van hulle!  Dié met die agt vakprestasie sertifikate, die vier olimpiades en die sewe provinsiale sporttoekennings. En dié wat die Padpatrollie sertifikaat gekry het, en opgestap het, gelukkig in hulle eie menswees.

Ek het net in my lewe al gesien, soos die Prediker sou sê, dat die Skool se Prysuitdeling nie veel sê oor wie eendag in die Grootmenswêreld gelukkig gaan wees, en wie sukses gaan behaal nie.
Ons kinders was pragtig, en dit is vir my mooi...

No comments:

Post a Comment

En jy daar, wat sê jy?