'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Saturday, October 1, 2011

Die Matriekafskeid

Om een of ander rede is daar twee datums wat elke dogter se pa vrees. Die Matriekafskeid. En dan die Grote...

Matriekafskeid is 'n ernstige besigheid. In ons dorp begin die kinders mekaar al in  Graad 8 vra. Met die hoop dat die gevraagde ene mooi sal ontwikkel in persoonlikheid, emosionele volwassenheid, banksaldo, en mees belangrik van dit alles in die jong hormoonfabriek se oë, dat die liggaampie van 'n standerd sessie mooi sal ontwikkel tot volwassenheid op al die regte plekke...

Dit lewer natuurlik ook komplikasies op- die vier1/2 jaar voor die tyd gevraery.  Want in die Hoërskool sal daar dalk nog baie verhoudinge ontwikkel.  X lyk vir Y so mooi op Lentedag, en dan ontstaan daar spontane kombustie van die romantiese hormonale sisteme, daardie wat tjoklits na die hart toe pomp. En die blommetjies blom, en die voëltjies die sing in C mineur...

Met Valentynsdag is X en Y saam by die sokkie, en skielik stap Z verby in 'n pragtige rooi rokkie... en woeps- daar trek X se belangstelling... maar hoe nou gemaak om sagkens van Y ontslae te raak wat oor twee 1/2 jaar saamgenooi is matriekafskeid toe? Komplikasies komplikasies....

Ek vermoed dit is baie makliker om 'n seun deur 'n Matriekafskeid toe te stuur. Jy sny sy hare in Februarie met 'n nommer twee knipper, jy koop in April vir hom 'n nuwe stel vellies,  in Junie koop jy 'n somershemp en das by Woolworths se someruitverkoping op special. En so begin September gaan huur jy vinnig 'n suit...

'n Jonge Dame, daarteenoor, is totaal 'n ander spesie...  Dit is meer kompleks om 'n dame te klee vir 'n matriekafskeid, as wat dit is om hernubare energie uit water te ontgin wat jy in 'n binnebrandmotor kan gebruik om jou Ford Figo aan te dryf.

Eerstens is daar die kwessie van die figuur. Geen vrou in die ganse geskiedenis van die mensdom het nog ooit gedink sy lyk mooi genoeg vir die twee groot dae nie.  Daar word ernstig gedieët tot depressie intree, en dan word tjoklits geëet tot hulle weer beter voel...

Tweedens is daar die kwessie van Die Rok... Daar word meer energie spandeer in die navorsing van die Rok as wat daar in 'n doktorale verhandeling oor die einde van wêreldarmoede ingaan.  Dis 'n verskriklike belangrike saak, as hier verkeerd besluit word, is die gevolge erger as die hongersnood in Somalië...

Sê 'n mens die resep waarmee die Rok gemaak word? Daardie ding wat op die bruin koevertjie is, met al sulke toebiepapier in... dan is Heidi Klum in die oorspronklike rok. Maar soos die Body Shop in Menlyn so lank gesê het in daardie pragtige poster- drie biljoen vroue in die wêreld, net 8 supermodelle...  O ja, hulle noem dit 'n Patroon. Ons manne ken dit as iets waarmee jy bokke doodskiet.  Vrouens wil seker maar "dressed to kill" wees...

Indien die Patroon gevind word, word daar jaloers gewaak oor die spesifieke een.  Dit is 'n groter geheim as die resep van Coca Cola daar in Atlanta se kluis... En as iemand anders dalk in daardie rigting kyk, kom die naels uit. "Nee, man, daardie resep sal jou net dik laat lyk... het jy al na Simplicity se reeks gekyk?"
Die Complexity patroon word soos die kroonjuwele opgepas.

Na die Patroon kom die Materiaal.  En daar werk dit nie om by die Indiese winkel in Klerksdorp in te stap,  en te vra wat is op Special vir R9.99 per meter nie... Aanbevelings vir  hessian vir daardie Afrika look val op dowe ore. Nee,  laat die oom vir julle vertel, materiaal is duurder as goud per meter.  Maar die probleem is nie die prys nie, dit kan jy op jou kredietkaart oor twee dekades afbetaal op budget...   Nee, dit is om die regte kleur, en tekstuur te kry...  Wat het geword van blou, groen, rooi en geel? Nee, daar is deesdae twee miljoen vier honderd drie en dertig duisend sewe honderd en twintig skakerings van blou.
Maar uiteindelik! Eendag, nadat die pa al sy polse afgekou het soos 'n mal hyiena, en die ma deur twee lorries vol Pienk Pilletjies geknibbel het, is dit daar... DIE MATERIAAL wat matriekdame se ogies laat blink. Ek dink dis makliker om die regte  huweliksmaat te kry as die regte materiaal...

Nou is dit Die Patroon, en Die Materiaal. Nou moet dit deur 'n kundige persoon aanmekaar gesit word. En daardie persoon se reputasie moet beter wees as die gemiddelde Nasa ruimteingenieur wat Space Shuttles aanmekaar gesit het...  Alles moet presies reg bymekaar uitkom, anders is die gevolge net so spektakulere gemors as die dag toe die Challenger laas gelanseer is...

Dit vat maande se beplan, knip, stik, aanpas, huil, dieëet, tjoklits vreet, liters water drink, oefen, aanpas, huil...
Maar, liewe potensiële vaders van jonge dames... hier eindig dit helaas nog glad nie. Jy is dalk nie eers halfpad nie.  Die Bykomstighede!  Het jy geweet dat daar binne 'n vyfhonderd kilomter radius 5239 skoenwinkels is? Weet jy hoe dit sukkel om Die Skoene te kry wat waardig gaan wees om by Die Rok te dra?  Daar moet eers deur 100 002 pare skoene gewerk word. En dan sal die finale keuse gewoonlik by die eerste winkel wat jy jare gelede saam met haar besoek het, stowwerig in 'n boks in die agterkamer lê- niemand anders het die potensiaal van daardie paar skoene raakgesien nie, en dit was enkele minute voor hulle geskenk is om iemand in Somalië se vlugtelingskampe te gaan skoei...

Soos die Matriekafskeid nader kom, word dit erger en erger (ja, jy is reg- lees ook duurder en duurder...) Jy moet by geboorte begin spaar vir Die Hare... Ek het op my rug geval. Met dit was Die Hare kos, kan ek, en die broers, vir vyf jaar lank gaan hare sny!  Daar is 'n trial run 'n maand voor die tyd, dat enige rampe 'n kans het om te herstel. Erens in die week voor die tyd word dit weer in Die Snit gesny. En erens, in die oggend voor die matriekafskeid, word dit weer GEBLAAS...

Dan is daar Die Make-up. Dit word sorgvuldig beplan, beter as wat Vincent van Gogh ooit na sy verfpalet gekyk het. Daar is ook drie miljoen en drie verskillende kleure van "Die hele vakansie op Clifton se strand gelê- bruin..."

'n Ander reuse kopseer, wat 24 maande voor die tyd al gereël moet word, is Die Aankoms. Nee, jy leen nie net jou ma se ou Beetle nie...  Die aankoms, dit is enige dag net so belangrik soos die Hollywood sterre se aankoms by die Oscars. Dit word deeglik beplan.  Motors word uit die groot stad uit gehuur.  Italiaanse sportmotors is natuurlik bo aan die lys. Maar dan is daar ook die Stretch Limo's. Afslaankapmotors van verskillende modelle.  Of, soos sekere jong manne by ons- op 'n leer rusbank voor aan die laaigraaf van 'n moerse groot John Deere trekker...  Jy moet kan Arriveer!  Die ganse sterrestelsel moet vir 'n oomblik tot stilstand kom en bewonderend toekyk hoe jy uitklim....

Na jare se beplanning gebeur die Matriekafskeid eintlik ongelooflik vinnig. Aankoms, plekke inneem, die dominee (dis nou ekke vanjaar) preek sy hart uit want driekwart van hulle gaan nooit weer tot hulle troudag in die kerk kom nie... Kalm, my kind!  Dan spiets die hoofseun en hoofdogter, dan spiets die skoolhoof, dan eet almal vinnig die heerlike aandete. Daar word so drie danse gedans... en dan is dit klaar. Dan jaag hulle huis toe om hulle gewone klere te gaan aantrek vir die Afterparty.... Terwyl die ouers nog sukkel met die gemengde emosies van die kind wat so mooi lyk, en die tweede huisverband wat nou afbetaal moet word na die twee ure van groot joy!

Liewe ouers, Matriekafskeid is nie vir sissies nie. En as ek so daarna kyk, dan begin ek ernstig worry- as dit nou al so gaan, hoe gaan ons eendag die Troudag oorleef?
Dankie Neeltje vir hierdie foto- die aankoms...

Die Eindresultaat van Jare se Drome...

No comments:

Post a Comment

En jy daar, wat sê jy?