'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Saturday, July 3, 2010

Reis soms buite die gemaksone...

Om op reis te wees, is nie altyd maklik nie. EK hou baie van my eie bed. Ek geniet dit as die stort 3 m weg is, en die naaste toilet nie verder as 10 m nie.

Maar van kleins af was daar ook 'n ander stem wat soms diep in die nag fluister. Daardie stem van die natuur, om te gaan waar my kar nie kan loop nie. Om onder die sterretjies te slaap. Om nie te bad nie, water uit die rivier te drink. Terug na die basiese ding van menswees.

Die een goeie ding wat ek by my vorige kollega geërf het, is die belydenisklas- daardie jong manne en dames in Graad 11, wat gereed maak om die grootmenswêreld self aan te durf.  En Sondag na Sondag sien ek of my vriend Danie hulle na kerk. Sondag na Sondag het ons 40 minute om hulle rustig te kry, om die gejaag van die normale lewe stil te kry, en ietsie van 'n Hemelse Vader se liefde met hulle te deel. Amper onmoontlik. Maar in die Julievakansie kry ons die geleentheid van 'n leeftyd. Die goeie tradisie is dat ons almal wat kan, saamneem na die Drakensberge toe. Hoekom in Julie? Want ons is bang vir die weerligseisoen! Hoekom die Drakensberge? Want dit is 'n baie spesiale plek om die Here te ontmoet. 'n Plek waar jy nie anders kan as om stil te word, en oorweldig te word deur die grootheid van die mooi nie.

Voorheen was ons by Cathedral Peak- en dit lyk mos regtig mooier as enige katedraal! Deesdae gaan ons by Monk's Cowl- net veiliger, en net so mooi. Ons slaap die eerste aand onder, soos julle my op die foto kan sien. 'n Mens klim mos nie in daai tentjie in nie, jy trek hom aan! In elk geval, hier lyk ek op my mooiste, net voor alles in die rugsak kom. Dan klim ons teen eie pas op tot bo by Blindman's Corner. 'n Gepaste plek om outjies heen te vat, sodat hulle oë kan oopgaan...

Maandag 5 Julie sal my amptelike derde toer wees wat ek gereël het. Ek gaan weer self die Kinderhuis se bus bestuur. Ek gaan baie moeg wees as ons daar aankom! Die volgende dag gaan ek my onfikse bas teen die berg opsleep, en probeer om nie te lyk asof Saffas my enige oomblik gaan kom haal nie.  Bo gaan ons kamp opslaan, kos maak, en dan net.... WEES!!! Ons gaan stil wees, ons gaan mens wees, ons gaan DAAR wees... Wat gaan ons doen? Ek weet nie regtig nie. EK gee ook nie om nie. EK het nie hierdie jaar 'n gedrukte program nie. In ons stil wees vertrou ek dat ons die sagte fluistering van die Heilige Gees, en die lied van die wind, en die teenwoordigheid van die berg sal beleef.

Vrydag 9 Julie sal ons waarskynlik, DV, teen sononder weer by die huis aankom. Ons sal warm kos eet, warm bad, skoon klere aantrek, en in 'n warm bed klim. Die jonge manne en dames gaan hopelik 'n nuwe waardering vir hulle Hemelse Vader, vir hulle eie huise, ouers, kos, menswees hê. Ek vertrou dat dit vir my net so blywend gaan aanraak- 'n nuwe stuk dankbaarheid gaan losmaak, net om weer te kan WEES...

No comments:

Post a Comment

En jy daar, wat sê jy?