'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Friday, July 16, 2010

Daardie dag met die Harley...

My vriende weet: die tweede naweek in Maart is ek altyd weg uit Nylstroom uit. Dan is dit tyd vir twee van die mees kosbare afsprake in my lewe. Die kleiner ene is om om Tafelberg met die fiets (trap) te gaan ry- so klein dingetjie genaamd die Argus, met sy 40 000 ryers, die Suid-Ooster ens. Maar die groter afspraak is met my vriend Marthinus en sy familie in Melkbosstrand- kosbare mense in my lewe. Dit kan dalk ook soms gebeur dat 'n bottel KWV 5 jaar oud per ongeluk sy *** sien, maar dis ook weer 'n ander storie.

Een van die liefdes wat ek en Marthinus deel, behels twee wiele en 'n enjin. So gebeur dit een jaar dat my foon lui een sonnige dag in Februarie. Dis Marthinus. En hy sê as ek weet wat is goed vir my siel, dan sal ek sorg dat ek al die naweek voor die Argus by hom is. Nou kyk, as daar een mens in my lewe is wie se aanbevelings ek dadelik vat sonder om vrae te vra, is dit Marthinus Britz s'n- 'n wyse man, voorwaar!

Ter wille van my sondige siel sorg ek toe dat ek al die naweek voor die Argus by sy huis in Melkbosstrand inklok. Die saak staan nou so: Marthinus en 'n paar vriende het 'n verjaardagklub gehad. Elke maand betaal elkeen so iets in. En as dit jou verjaarsdag is, dan maak hulle een van jou drome waar, solank dit nou nie Pamela Anderson of so iemand behels nie...

Marthinus se vriende het vir hom gehuur: 'n Haley Davidson Electra Glide- die oumeneer van die HArley's.
So ry ons na Kaapstad se middestad toe, en gaan boek die Harley uit. So 'n vormpie word ook geteken dat as jy hom beskadig, gaan dit jou R10 000 kos. Marthinus teken braaf, daarna trek hy en Elna weg met die Harley, en ek agterna in sy Tiburon (die dae voor hy BMW kon bekostig!)

Nou ja, om uit die familie uit te praat- daardie eerste draai om die eilandjie was amper rampspoedig. Want Marthinus sit hom netjies, versigtig op sy kant neer. Ek lag niks nie- ek belowe. Hardloop om hom te gaan help.

Die Saterdagoggend was pret. Die Suid-ooster het so liggies gewaai, nie te kwaai nie. Marthinus en Elna is op die Harley, ek in die Tiburon, en ons gaan Hermanus toe. Maar die ou windjie waai. Marthinus spook maar met die fiets. En ek sit lekker in die Tiburon, musiek kliphard. Lekker geëet in Hermanus, terug Melkbos toe. Daardie middag het die vriende wat help betaal het, ook kom saamspeel.

Sondag moes Marthinus preek. Maar ek was nie in sy diens nie! Een van my drome het toe ook waar geword. Lucy Jordan se ballade het mos gesê dat sy toe nooit deur Parys met 'n sportmotor gery het, met die wind in haar hare nie. Wel, ek het toe deur Kampsbaai se hoofstraat met die grootste Harley gery, geparkeer voor 'n koffieshop, en met so lekker windgat houding daar ingestap, asof die plek aan my behoort. Een ding van die Bucket List af!

Twee goedjies wat ek graag wil noem- kyk daardie helmet op die foto. Marthinus vat seker 'n Medium helmet. Ek het 'n XXL nodig. Ek moes my bakore so netjies opvou en probeer indruk. Toe die helmet met 'n tienpondhamer slaan om op my kop te pas. En dadelik hoofpyn gekry soos die ding my druk. Maar vir sekere sake is ek bereid om te ly! Drome waar maak is een van hulle.

Tweede ding: ek verstaan toe hoekom die Harley so maklik gaan lê het in die eerste draai. Die blêrrie ding weeg seker 'n halwe ton! En in die verkeer bestuur hy amper soos 'n Olifant tenk.  Dis verseker nie 'n fiets wat ek sal koop om mee te "commute" nie! Maar daardie "potato-potato" klank, en die bleek outjies in hulle Merc's en Shitty Golfs se gesigsuitdrukking maak die intimidasie faktor so heerlik macho!

Ten spyte van die gewig was dit baie, baie lekker om Chapman's Peak se draaie te gaan vat met hom. En ja, hy pas in by Kampsbaai se hoofstraat (-strand!) Image het hy verseker.

So het Marthinus een van my drome waar gemaak. Thanks Pal! Wat nou van Route 66 in Amerika met twee sulke menere? (Onttrekkings by Nedbank met balaklavas en ons 9 mils sal seker dit kan finansier?)

1 comment:

  1. Ek sien hierdie wonderlike ervaring was al in 2004 gewees!

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?