'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Sunday, July 11, 2010

Met 'n rugsak reis jy op die "road less travelled"


Kan ek een ding van my hart af kry? Ek kry verskriklik swaar op 'n staptoer, my hele lewe lank al. Daar is iets aan 'n rugsak wat my doodmoeg maak. En al is ek hoe fietsryfiks, hierdie is 'n ander tipe fiks wat ek net nie bemeester nie.

Maar net so moeilik as wat dit is, so is daar iets wat my van kleins af trek rondom 'n rugsak, 'n blou gasstofie, en 'n pad waar my kar nie kan  ry nie. Ek dink dit het al in Standerd 4 begin, toe ons met die Voortrekkers by Graskop  Veldskool was. Ek het in Standerd 8 die Fanie Botha gestap saam met 'n paar vriende. EK het die Holkrans wandelpad op Lisa van Niekerk se plaas twee maal gestap- bestaan hy nog? Die Blyderiviers saam met Annelie toe ons nog net uitgegaan het. (FAmilie was bang ons gaan saam stout wees, maar ons was te moeg om daaraan te dink!)
Op Universiteit was ek saam met die Stapklub in die Drakensberge, tot bo- op Mount Aux Sources. Ek het in my eerste gemeente 'n staptoer gereël daar bokant Pelgrimsrust. EN in Nylstroom-Oos gemeente het my vorige kollega begin met die ding om die belydenisklas Drakensberge toe te neem. Ek was een keer saam na Cathedral Peak toe, maar dit was 'n baie erge ervaring, veral met hulle gewoonte om een nag 12 uur kamp op te slaan en na die piek toe te klim met rugsakke en al.

Vandat Lukas na Outjo toe terug beroep is, het ek drie keer die Belydenisklas na Monk's Cowl, daar net langs Champagne Castle hotel toe geneem, nou so onlangs as 5-9 Julie 2010 weer. En dit bly steeds lekker, al is my bene steeds seer soos ek hier sit en skryf!  My rugsak was alweer anderkant 20 kg, en met my onfikse lyf was dit erg om hom na bo te sleep, veral daar teen die kant van die Sfinks uit. Maar om die tent in die rivierlopie op te slaan, die heerlike soet water daar bo te drink waar geen mens dit nog kon besoedel nie, en die sterre te sien waar geen elektriese lig hulle glans steel nie- dit bly die lewe!

Ek het die voorreg gehad om my dogter hierdie jaar saam te neem. En ek is baie trots op haar. Sy is nou nie heeltemal die grootste aanhanger van kampeer nie, en hierdie was haar eerste ervaring van 'n rugsak, en om 6 km van die naaste toilet af te wees. En tog het sy dit baie goed gevat, selfs haar 17e verjaarsdag opgeoffer om dit saam met haar pa te doen.

Die lekker van stap met 'n rugsak is om weg te kom van beskawing. Weg van televisie en internet, weg van brandstofrekeninge en geraas. Om weer vir 'n slag op jou rug te kan lê in die winterson, en te kyk hoe 'n arend hoog bo die bergpieke sweef- dit maak die lewe weer die moeite werd.

Die groot droom begin opbou- Die Camino de Santiago in Spanje, maar dis 'n ander storie.

No comments:

Post a Comment

En jy daar, wat sê jy?