'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Sunday, May 8, 2011

Om eendag met waardigheid te gaan deur die Jordaan...

Ek was vanoggend by 'n baie besondere troosdiens. My pa is al in 1993 oorlede. My ma het nooit weer getrou nie. Die afgelope sewe jaar (ongeveer) het sy 'n Engelse vriend in haar lewe gehad.  Hulle twee was baie goed vir mekaar, en dit het die eensaamheid in albei se lewens weggejaag.

Die Engelsman is Saterdagoggend aan kanker dood. Hy was op pad 72 toe.

By die troosdiens vanoggend het baie mense geleentheid gehad om te sê hoe hy hulle lewens aangeraak het. Ja, ek het geweet hy was in sy jonger dae maar baie bedonnerd gewees, en het nie altyd goeie verhoudings met sy gesinslede gehad nie. Ja,  ek weet dat die verhouding tussen sy kinders ook nie altyd so lekker is nie.

Dié Engelsman was baie eksentriek. Hy was skatryk- het bv twee maande gelede 'n Prado 4l splinternuut gekoop met al die ekstra lekker dinge in, en hy self het seker nie 100 km in hierdie wa gery nie. Hy het elke Desember sy uitgebreide familie, en my ma, na 'n luukse oord in die Drakensberge toe geneem oor Kersfees. Baie geld gehad. Maar hy het nog steeds vir elke mens wat sy pad gekruis het, gevra wie hulle is en waar hulle vandaan kom.  Dit kon ons soms ernstig irriteer. Dan eet ons in 'n restourant, en hy vind die kelnerin se hele geskiedenis uit- wanneer sy uit Zimbabwe uit gekom het, of sy kans gehad het om verder te leer, of dit goed gaan met haar ouers of sy haar mooi glimlag by haar pa of ma gekry het. Soos sy eie seun sê: soms baie cheesy!

So totaal anders as ek. Maar ek het vandag na getuienis na getuienis geluister oor sy lewe. Hoe so baie mense getuig hoeveel sy gasvryheid vir hulle beteken het- hy het graag by sy kerk se deure gestaan en mense verwelkom. Hy kon dadelik sien as iemand nuut daar inkom. En met sy persoonlikheid kon hy hulle dadelik laat welkom voel.  Hy was dieselfde teenoor hooggeplaastes en motorwagte. Ek voel skuldig dat dit my kon irriteer dat hy so was- ek dink hy het iets verstaan wat ek nog moet leer in die lewe- elke mens wil net so graag raakgesien word, en bietjie erkenning kry vir hulle lewensverhaal.

Op sy sterfbed het ek hom ook besoek wanneer ek ook al vinnig in Pretoria 'n draai gemaak het. En in die hospitaal kon hy nog steeds sy humorsin behou, en ook sê daar is nog altyd iets om voor dankbaar te wees.
Toe hy sterf, was sy versoek om in die eenvoudigste kis moontlik geplaas te word, en veras te word. En hierdie was vir my, wat al baie mense se afskeidsdienste gelei het, 'n eerste. Die kis is Woensdagoggend by sy huis afgelaai, (leeg natuurlik!) Al sy kleinkinders het gekom, en hulle het sy kis versier soos hulle dit graag wou hê. 'n Eenvoudige dennekis het 'n wonderlike familiestorie begin vertel, van kleinkinders wat werklik lief is vir hulle oupa. Elkeen het deel gehad aan die versiering van die kis- hulle almal is omtrent nog voorskools.

Elkeen van ons het maar ons eie kwota klonte. Elkeen van ons jaag maar aan in ons lewe, niemand van ons het die volmaakte storie met ons lewensverhaal geskryf. Maar waar daar liefde is, daar is God die Heer! (Ubi caritas est, et amor, ubi caritas est, Deus ibi est.)

Dankie Robbie, dat ek jou ook kon ken, met jou klonte en al, met jou irriterende gewoontjies, met jou eksentriekheid. Jy was eg jy, sonder om maskers op te sit. En dit waardeer ek die heel meeste van iemand op hierdie stadium van my lewe.
Ek hoop daar waar jy nou is, kan jy baie mooier sing, en 'n lekker dansie dans!

Ter herinnering aan Robert James Douglas Macintosh- 6 September 1938- 30 April 2011

Tuesday, May 3, 2011

Camino de Santiago- D-Dag minus 24

Vrydag oor drie weke is die groot dag waarop ek op die Lufthansa vliegtuig klim. Weet julle, my maag begin draai oor die gedagte. Ek begin wonder: wat op aarde het ek aangevang!  Die vrees pak my beet in die aand in die bed. Hoe gaan ek die stappery oorleef? Ek het gisteroggend weer 12 km gaan stap, met 'n ligte rugsak. Ek het nie naastenby geoefen soos ek moes nie. Ek het nog nie die Spaanse taal CD's hierdie jaar geluister nie. En daar is nog so baie om in die gemeente te doen hierdie tyd van die jaar, gaan ek al my takies klaarmaak voor die tyd?  So baie klein jakkalsies kom vreet snags my wingerd op...

Aan die ander kant, ek het Donderdag sonder enige moeilikheid my Spaanse visum gekry. Daardie Credential briefie van die Confraternity of Saint James is regtig die goue kaartjie van Charley and the Chocolat Factory. Ek het al die toerusting wat ek wou gehad het. Anja het vir my my eie unieke Camino wapen ontwerp. Die oorspronklike is mos die "scallop shell"- daardie skulp wat die Shell oliemaatskappy ook as logo gebruik. Die simboliek agter die Camino skulp is dat alle paaie na Santiago de Campostelo  toe lei- waar die apostel Jakobus volgens legende begrawe lê. Ek wil nie vir Jakobus gaan kuier nie. Ek wil saam met Jesus 'n pad deur my lewe stap, en stilte beleef om net te kan wees, en die koers vir my toekoms te gaan deurdink. Daarom is daar op my embleem die kruis van Jesus bygevoeg- sonder Hom is alle ander paaie redelik nutteloos volgens my verstaan. Hier is Anja se ontwerp, wat op my hoed en hemde en rugsak geborduur gaan word...

My persoonlike Camino logo, soos ontwerp deur my dogter Anja
Aan die een kant raak ek baie versigtig vir die onbekende reis wat voorlê. Aan die anderkant begin die roete my naam al harder roep, en weet ek dis een van daardie geleenthede wat die Here vir 'n mens soms êrens langs jou lewenspad skep, om jou aan te raak en vir altyd te verander.Ek moet bieg dat ek banger vir die onbekendheid is as wat ek soms voorgee. Maar ek is ook so baie, baie lus vir 'n avontuur!

Hoe fiks kan 'n mens nog raak in 24 dae sonder om myself seer te maak? Hoeveel Spaanse woorde kan ek leer in 24 dae? Watter positiewe verskil kan ek nog in 24 dae in my gemeente maak? Soos op my blog gesien, is die klok besig om te tik. Tempest fugit.

Tuesday, April 26, 2011

Die Schmidt familie Wapen


BLAZONING OF THE SCHMIDT COAT OF ARMS

BLAZON (Wappen der Familie Schmidt):
ARMS (Shield):
Azure a lion rampant or, holding a hammer bendways of the second
CREST (Helmet):
On a torse of the colors a lion issuant as in the arms
MANTLE (Decken):
Not deScribed (Mantling is seldom deScribed unless other than the Primary Tinctures are to be used)

MOTTO:
None recorded (It is rare for the German Achievement to deScribe a motto) 
 ARMS (Shield) INTERPRETATION:
Azure - (Means the Shield is Blue (Azure = Blue))
A Lion Rampant Or - (Means, in profile, a rampaging (Rampant) male Lion standing on one hind leg and colored golden (Or = Gold) is placed upon the Shield)
holding a hammer bendways of the second - (Means the Lion is holding a hammer in a diagonal attitude/orientation (Bendways) and it takes the color of the second color mentioned (Or))

CREST (Helmet) INTERPRETATION:
On a Torse of the colors - (Means the next thing deScribed will go upon a cloth wreath (Torse) of 6 twists, alternating between the primary tinctures)
A Lion Issuant as in the Arms - (Means a Lion "comes out" as if from behind the Helmet (Issuant) and is otherwise like the Lion on the Shield (as in the Arms) and is affixed by the Torse (together with the Mantling to the Helmet, which is drawn in Profile with its Visor Closed, or with no Visor nor Grilles - the kind used by a "Bürgerliche" (Esquire/Commoner/Citizen))

SYMBOLISM:
Hammer - (Honor; emblem of the smith's trade)
Lion - (Courage)
Colors:
Azure (Blue) - (Loyalty and truth)
Or (Gold) - (Generosity)
  
Bron: http://freepages.genealogy.rootsweb.ancestry.com/~kuntz/schmidt.html

Vir my kinders- mag ons altyd met eer lewe, vol moed om die toekoms aan te pak en te vorm. Mag ons altyd lojaal wees in dit wat ons in glo. Mag ons lewens van die Waarheid getuig, en mag ons vrygewig wees teenoor almal wat minder as ons het. 

Monday, April 25, 2011

Klim die berg- omdat hy daar is om te klim.

Gedurende 1988, êrens in April,  het ek bo-oop Mont aux Sources gestaan.
Dit was 'n naweek in my derde jaar. Die universiteit se stapklub het so vinnige wegbreek gereël.

Ek was nog nooit 'n goeie stapper nie, en nog altyd 'n slegter klimmer. Maar die uitdaging was net te groot om nee te sê. My pa het baie keer weggevlug na die berge toe as die lewe vir hom te veel geword het. Hy het vertel van Mont aux Sources se uitsig, ek vermoed dit is waar hy sy een duur kamera  verloor het- dit moes 'n traumatiese long drop gewees het!  My pa het my egter nooit saamgeneem op hierdie trippies van hom nie.  En ek het altyd gewonder hoe voel dit om bo-op die berg te staan.

Die kettingleer daar van Witsieshoek se kant af op was nogal 'n uitdaging. Die ketting was yskoud, en dis 'n redelike fris geleentheid om ver te val daar.  Maar ek dink dit was destyds een van die ervarings op my Bucket List wat ek net moes doen. In elk geval- hier is die fotografiese bewys: ek het al die kettingleer oorwin!

As 'n mens eers daar bo is, dan is die uitsig oor die rand van die afgrond regtig asemrowend. 'n Mens kan baie, baie ver in Natal insien, sommiges sê tot by die see op 'n helder dag. Maar dié dag was so effens deinserig.  Ons het ons tente bo op die eskarp opgeslaan in 'n sirkeltjie.  Daardie nag het dit koud geword daarbo- minus 14 grade volgens een se termometertjie. So koud dat ons op 'n stadium 14 mense in 'n driemantent gesit het, en kaart speel en schnapps drink- jy wou net nie gehad het die ysbere moet jou alleen aantref nie. Net studente kry so baie mense in so klein ruimtetjie in!  Mans en dames gemeng, baie lekker aand gewees!

Die volgende dag het ons nog hoër geklim. Bo-op Mont aux Sources is Crow's Nest 'n verdere koppietjie, met so lekker afgrond aan die een kant. Die stapklub het 'n paar ervare klimmers, wat toue en harnasse saamgebring het. Daar het ek vir die eerste keer absailing gedoen. Praat nou van 'n uitdaging om jou hoogtevrees te oorwin!  Daar is altyd iets om oor dankbaar te wees, dit kon die loodregte afgrond daar waar die Tugela 1 km ver val gewees het!

Die ander eerste, wat ek by Willie Wessels van Wesselsbron geleer het (en nog nooit weer gedoen het nie!) was waar die hele toergroep saam tunaslaai in 'n skoon swart asbliksak maak. Tamaties en komkommer en slaaiblare word daarin opgekerf, rys word op die blou gasstofies gemaak en ingegooi, en 'n paar blikke tuna met mayonaise ingegooi, en goed geroer. Dit was nogal baie lekker- seker so na al die opwinding van die absailing. 

Tunaslaai a la Swartsak
  Party van die meer ervare stappers wou graag die Sentinel gaan klim. Dit is die groot kop aan die linkerkant van Mont aux Sources- hoogste of tweedehoogste punt in die Drakensberge. Maar daarvoor moes 'n mens eers weer af teen die kettingleer, en dan weer op en op en op, en dan is daar glo  'n stukkie regop klim teen 'n rotswand ook betrokke. Daarvoor het ek nou nie kans gesien nie. Eerder die middag gelê en gesels met die dames- dis 'n moeilike werk, maar iemand moet dit doen!


Sondagoggend was dit maar weer tyd om af teen die berg, tot by die polisiestasie in Witsieshoek waar ons geparkeer het. Ons het 'n groepfoto geneem van almal daar teenwoordig. Ek persoonlik kan omtrent net twee of drie van hulle se name nog onthou. Maar die ervaring saam met die klomp Kovsies was regtig lekker.

Dit het my geleer dat 'n mens soms 'n berg moet gaan uitklim, net omdat hy daar is om geklim te word. Van die heel grootste ervarings in die lewe kom nie maklik nie. Dit is juis 'n groot ervaring, omdat 'n mens jou eie vrees in die oë moes kyk, en moes deurdruk. Goeie ervarings lê dikwels anderkant jou eie persepsies van waar jou grense lê. Soms moet 'n mens so bietjie vasbyt en deurdruk, om die uitsig van bo af te kan bewonder.
Ek kan nie meer onthou wat ek vir die volgende week se Griekse toets gekry het nie. Maar hierdie ervaring kan ek nog steeds duidelik onthou. Ek vermoed 'n mens moet soms maar ruimte maak om die lewe te geniet ook. Dis wat ek dalk vir die Griekse proffie gesê het toe ek die toets teruggekry het.

Kovsies se Stapklub, Mont aux Source April 1988- met die Sentinel in die agtergrond.





Sunday, April 24, 2011

My Universiteitskamermaat- Heinrich Eksteen


 Dit is Opstandingsondag. Ek kyk na kerk deur 'n ou fotoalbum. En skielik sien ek weer die fotos van my ou kamermaat. EN soos die afgelope paar jaar al, begin ek verlang na hom.

Van die wonderlikste tye in 'n mens se lewe beleef jy op universiteit.  En dit is regtig 'n voorreg om in 'n Universiteitskoshuis te kan woon.

Ek het dit baie geniet om 'n Kovsie te wees. Universiteit van die Oranje Vrystaat.  Ek het ook die voorreg gehad om in die Huis van Meesters te woon, Huis J.B.M. Hertzog.

My eerste jaar was so bietjie van 'n gemors (om dit lig te stel!). Net so voor Geloftedag aan die einde van matriek is my jongste sussie aan kanker dood. 'n Maand later moet ek die grootmenswêreld aandurf, as eerstejaar in 'n koshuis. Ek het baie issues gehad, ek weet dit vandag.

My eerstejaar kamermaat het ook issues gehad, en aan die einde van ons eerste jaar die koshuis verlaat. Dit was nie 'n goeie match gewees nie.

Van my tweede tot my vierde jaar het ek die ongelooflike voorreg gehad om Heinrich Ostwald Peters Eksteen (soms bekend as HOP in sekere kringe) as kamermaat te hê. Maar ek dink dalk sy ergste nagmerrie het waar geword toe hy my as kamermaat gekry het.  Maar Heinrich is 'n mens met ongelooflike uithouvermoë.

Heinrich het saam met my begin teologie studeer. Maar waar ek pas uit die Hoërskool en nat agter die ore daar in Bloemfontein aangekom het, was Heinrich reeds in die weermag, twee jaar as Korporaal by Pantserskool.  Die een ding wat 'n mens dadelik van Heinrich kan sê: Hy is 'n baie netjiese mens.  Die een ding wat 'n mens van my kan sê: ek is nie 'n netjiese mens nie. Ons was behoorlik twee teenpole.
Heinrich se klerekas sou enige dag 'n weermaginspeksie kon deurstaan. Sy klere was in sulke netjiese blokke gestapel. Sy boeke was baie netjies gepak in die boekrak. En ander besittings in sy weermag staaltrommel aan die voetenend van sy bed.

My klere was enige plek van die kas tot onder die bed, al die pad tusssenin, in verskillende grade van skoon. My boeke het op die lessenaar gelê in hope. Ek was regtig slordig! Vandag voel ek baie skaam daaroor! (Heinrich, as jy dié dalk ooit lees- ek is toe gestraf- my oudste is 'n rooikop dogter, en sy is drie keer erger as ek!) Mense het altyd baie opmerkings gemaak as hulle in ons kamer instap. Maar Heinrich het dit geduldig aanvaar.

In ons tweede jaar het Heinrich die Universiteit se mobiele klankstelsel gereeld ge"operate". So nou en dan het daardie klankstelsel oornag in ons kamer, in JBM se gang 3, wat so mooi uitkyk op Verwoerd en De Wet. So nou en dan, na 23h00, is die luidsprekers uitgedra, en dan het  Heinrich vir die manne in stereo byklanke gespeel, soos 'n trein wat verby kom. Dit het ook so nou en dan amper tot koshuisgevegte gelei- seker omdat De Wet en Verwoerd vol akademiese reuse was wat hulle slaap nodig gehad het! 

In ons derde jaar het ons 'n kamer gehad by trappe in Gang 7, wat afloop na die universiteit se muurbalbane toe. Ons het baie gereeld na 22h00 in die aande vinnig afgehardloop, en 'n paar balle gaan slaan.
Die koffies saam met Heinrich in die aande is iets wat ek regtig baie mis. Heinrich is 'n diep mens, met wonderlike insigte.

Die Grieks en die Hebreeus het hom egter bietjie gepootjie. Ek het die goed net-net deurgekom, Heinrich het altyd daardie een of twee punte gekort. Dit was eintlik vreeslik snaaks om te sien hoe goed Heinrich kon beplan. Hy kon baie mooi studieskedules opstel met die bietjie tyd wat oor was voor 'n toets. Dan is daar ook ruimte vir 'n muurbal, ruimte vir koffie, saam met my of saam met 'n dame. Dan ruk die kuier bietjie hande uit, dan is sy skedule deurmekaar, en dan herbeplan hy weer. Hy het verskriklik baie tyd aan beplanning afgestaan. Ek het nooit beplan nie, net in die laaste minute soveel as moontlik inligting in my deurmekaar verstand probeer inprop. En dit het daai 2% verskil gemaak tussen ons.

Heinrich was altyd 'n galante heer met die dames. Hy sou altyd verskriklik belang stel in iemand, haar soos 'n regte dame laat voel, en absoluut soos enige skoonma se droom optree met die skoner geslag. Hy het nooit soos baie van ons 'n dop te veel gevat nie, hy het 'n reguit pad as gelowige gestap.

Ons paaie het ongelukkig geskei na ons koshuistyd. Heinrich het sy droom laat vaar om dominee te word. Hy het vir die SAUK gaan werk. Ek het uit die koshuis uitgegaan om te gaan trou. Ons het kontak verloor, iets waaroor ek verskriklik jammer is.

Ek het klaargemaak met universiteit, en ook maar deur die weermag gaan worstel. Heinrich sou geglimlag het om te hoor dat die luitenant wat ons opgelei het in basies, eendag die ander manne in die bungelow geroep het om na my kas te kyk- dit was die standaard wat hy graag by hulle almal wou sien! (Dit het egter nie gehou nie!)

Soos ek ouer word, mis ek my kamermaat baie. EK het hom op facebook raakgeloop, maar hy is nie baie aktief daar nie. Hy het, 21 jaar na my, uiteindelik 'n kamermaat gekry met wie hy die langpad kan saamstap. Ek het die facebook fotos van sy huweliksmaat gesien- Mercia is 'n pragtige vrou!

Ek het ook onlangs 'n CD raakgeloop wat hy opgeneem het, met sy selfoonnommer op. Maar ek is nog half huiwerig om hom te skakel.

Heinrich, jammer vir die kere wat ek 'n drol was! Jammer vir die onnetjiese kamer wat jy in moes bly. Baie dankie vir jou geduld, jou humorsin, en dat jy regtig daardie tyd 'n great ou was, ek hoop jy is dit nog steeds. Dankie vir jou aanvaarding, jy het regtig 'n baie groot rol in my lewe gespeel, en ek kon dit nie destyds regkry om dit te wys of vir jou te sê nie. Dankie vir sulke wonderlike tye saam!

Ek verlang verskriklik na 'n koppie koffie saam met jou. Ek sal so graag vir Mercia wil ontmoet.

Monday, April 18, 2011

Die Camino de Santiago se tweede groot uitdaging...

Die eerste groot uitdaging van die Camino de Santiago in Spanje is mos maklik- dit is om daardie stryd teen jouself te wen. Daar is altyd verskriklik baie goeie redes om nie die Camino de Santiago op jou Bucket List te sit nie. Jy is nie 'n Rooms Katoliek nie. Jy glo nie in heilige relekwieë soos die beendere van sekere mense nie. Jy hou nie van stap nie, in elk geval nie verder as van die bed af badkamer toe nie. Jy het genoeg geld om Spanje met 'n Travalgar toer te sien. Jy deel nie graag jou slaapkamer met 80 vreemde mans en vrouens nie. Jy reis nie oorsee voor jy nie eers die hele wonderlike Suid-Afrika gesien het nie. Soos ek gesê het, daar is baie goeie redes om nie die Camino te stap nie.

Maar as daar dalk net so 'n klein vlammetjie van avontuurlus in jou hart brand, as jy soos daardie beroemde Spanjaard Christopher Columbus net so bietjie vir 'n rukkie van die huis en die beskawing wil wegkom, dan kom daardie eerste uitdaging- kom stap 'n gedeelte van die Camino de Santiago. Net afgetredenes het tyd om die hele erkende 728.2  km van St Jean Pied de Port net oor die Franse grens (anderkant die PERINIEë- daar waar Contador en Schleck mekaar so gas gee op die Tour d' France- daai bulte!!!) tot in Santiago de Campostela te stap- dit vat 'n goeie vyf weke vir redelike fikse mense. Jy moet ten minste 100 km ononderbroke loop- die laaste 100 km, om daardie gesogde Campostela sertifikaat teen jou studeerkamermuur te kan sit. Dis uitdaging 1- oorwin al jou verskonings, en sê ja vir die roepstem van die Camino.

Uitdaging twee lê nader aan jou vertrekdatum. Jy het vir jou 'n vliegkaartjie Spanje toe geboek, jy het 'n rugsak wat gemaklik sit en nie te groot is nie, aangeskaf. Jy het stapstewels gekoop en ingestap. Jy het opgelees oor wat om te verwag. En die datum kom vinnig nader. Uitdaging twee: Die SPAANSE AMBASSADE! Jy het 'n Schengen visum nodig, en Spanje is waarskynlik die land in Europa waar jy gaan arriveer, en die langste gaan wees. Al wat ek vir jou wil sê, is STERKTE! Spanje se ambassade is in Afrika! En dit voel soos 'n Afrikaland se red tape!

Kom ek help jou net met 'n paar tips:
1. Sluit so vinnig as moontlik by die Suid Afrikaanse Confraternity of Saint James aan, en kry deur hulle 'n Pelgrimspaspoort. Die Confraternity of Saint James is die organisasie wat die Camino de Santiago vir die Rooms Katolieke kerk bestuur. Hulle plaaslike tak in Kaapstad is baie hulpvaardig, en dit kos so ongeveer R100 om vir 'n jaar aan te sluit, en jou Pelgrimspaspoort te kry. Saam met die Pelgrimspaspoort kry jy 'n "Credential del Peregrino"-brief wat soos die goue kaartjie in Charlie and the Chocolate factory is! Die Spanjaarde is baie skepties oor mense van Afrika wat in hulle land wil kom toer- daar kom te veel onwettige immigrante deur Marokko uit Afrika daar aan. En daar is seker  baie wat sê hulle gaan daar studeer, wat ook net wegraak in die Europese Unie. Spanje kry baie gas daaroor by die huisvergaderings van die EU. Daarom is hulle BAIE taai oor besoekers aan hulle land, behalwe as jy 'n miljoenêr is!  Maar geheimpie- hulle hou baie van pelgrims!  Soek die CSJ by www.csjofsa.za.org- sluit aan. Jy het in elk geval 'n Pelgrimspaspoort nodig om in die refugio's te bly, en daarin elke dag die stempel te ontvang wat sê jy was 'n eerlike pelgrim. Daarsonder kry jy nie 'n CAmpostela nie.

2. Kry die NUUTSTE inligting oor Spaanse visumvereistes, op hulle webwerf- www.embassyinsouthafrica.maec.es  Jy mag net elektronies inbetaal vir jou visumaansoek, en dit MOET presies die regte bedrag wees, anders aanvaar hulle stelsel dit nie. Vir 2011 (van 1 April af) het die prys gestyg na R574 toe.

3. Maak seker jy het AL die dokumentasie reg, anders gaan hulle jou huis toe jaag. Hulle voel vere of jy 1000 km afgelê het om by die ambassade uit te kom- as jou goed nie reg is nie, gaan jy dit regmaak en weer kom. Die ambassade is net oop tussen 9 en 12 op weeksdae, en die kantoor is in Brooklynweg 337 in die Lord Charles gebou in Hatfield, Pretoria. Jy moet visums persoonlik inhandig. (daar is ook 'n kantoor in Kaapstad, maar daarvan weet ek niks...)

Regte dokumentasie is:
  •  'n Geldige paspoort wat nog ten minste 6 maande geldig is, en ten minste 2 visumbladsye oop het. En 'n fotokopie van die inligtingsblad van jou paspoort, die gesig en paspoortnommer deel.
  • 2 van die regte visumaansoekvorms (kry dit by hulle voor die tyd!)  
  • Twee paspoortfotos- 45 X 35 mm in kleur met 'n WIT agtergrond- een plak jy op die vorm, een sit jy met 'n paperclip op dieselfde vorm vas, gesig ondertoe. 
  •   Jou vliegkaartjie, met 'n duidelik vertrekdatum terug waar jy vandaan kom, hulle soek jou nie op hulle welsyn nie!
  • Reisversekering- ten minste R300 000 mediese dekking, en "Assistance", nie "Refund" nie, as jy iets daar sou oorkom en teruggevlieg moet word, of, mag jy gespaar word, as jy daar sou sterf en daar veras moes word. Betaal jou vliegkaartjie met jou kredietkaart en kyk of die versekering nie outomaties genoeg gaan wees nie...  Pasop vir Flight Centre se toonbank reisversekering, ek het by my eie bank 1/4 daarvan betaal vir beter dekking! 
  • Bewys van inkomste- drie maande se bankstate, kredietkaartstate en wat jy ook al kan bewys dat jy beskikbaar het. Die inligtingsvorm sê jy moet Euro 562 beskikbaar hê vir die eerste week, en Euro 68 per dag daarna om in te kom.
  •  Bewys van akkommodasie- my Pelgrimspaspoort was genoeg bewys. Ek het ook 'n tentatiewe roetebeskrywing aangeheg net vir ingeval!



Die storie van die Visumaansoek:

Vanoggend is ek sewe uur by die huis weg, om darem nege-uur eerste in die tou te staan by die Spaanse Ambassade. Groot verrassing. Toe ek half nege daar stop, toe gaan ek deur 'n metaalverklikker, en vat 'n nommer. Daar binne sit alreeds omtrent 15 ander mense. Baie van hulle groet mekaar soos ou bekendes- van hulle was al 'n paar keer daar, en kry net nie al die dokumentasie reg nie. 'n Hele paar was by reisagente, wat hulle verseker het die koste van die visumaansoek is R563, en dit het hulle elektronies inbetaal. Die man wat langs my sit, het van Port Elizabeth af vir die dag ingevlieg om sy aansoek in te dien.  Aan die ander kant sit 'n egpaar van Indiese oorsprong van Rustenburg af- almal nog die verkeerde bedrag inbetaal. So Engelse dame vertel leedvermakerig aan hulle almal hoe hulle net-nou rondgeshunt gaan word.

Nege- uur maak die glasvenster in die wagkamer se blinders oop. Daar agter sit so aantreklike Spaanse dametjie, met 'n gesigsuitdrukking wat sê: "Moenie met my *** soek nie!" Eers val daar 'n ry mense in 'n tou- dit is die gelukkiges wat hulle visums na 5 werksdae kom afhaal. En hoor my lied- as jy jou visum gaan haal, maak seker jy is 9 uur presies betyds in daardie kantoor, anders gaan jy 'n nommer vat en sit tot twaalfuur toe.
Die ontvangers van visums word redelik vinnig gehelp- voor jy die kantoor verlaat moet jy seker maak jou visum is reg, anders gaan jy die hele proses van voor af moet doen. Een dame s'n is verkeerd, die Spaanse dametjie raak weg vir tien minute, en kom dan met 'n gewysigde visum na vore.

Nou is dit die aansoekers se beurt. Die leedvermakerige Engelse dame het gewaarsku dat dit tot 'n kwartier per persoon gaan vat. En my nommer is E 45! Gelukkig begin die aftelling op die rooi letterbord toe by E37. Ongelukkig is die PE mannetjie, en die Indiër egpaar voor my in die ry. Hulle almal probeer vinnig R11 oorplaas. Nee, sê die Spanjaard, so werk dit nie. Jy moet die presiese regte bedrag elektronies inbetaal, en dit moet op ons state reflekteer, dan kan ons jou help. Ons sal die R563 terugbetaal, maar jy gaan R574 elektronies inbetaal. Ons neem nie kontant hier nie. PE se skouers hang, die Indiërs bel haastig vir Mohammed. (Wat toe hulle seun blyk te wees, nie 'n langgestorwe Arabiese profeet uit die 6e eeu nie!)

Net voor my in die tou staan twee swart persone. En elkeen van hulle het omtrent tien aansoeke in die hand. Hulle is Visa- agente. Mense betaal hulle om in die tou te gaan staan. En omtrent nie een van die aansoekers se papierwerk is op datum nie. Dié een het swart en wit fotos opgeplak, daardie een het nie reisversekering nie... Dit voel of dit ure en ure neem.

Uiteindelik is dit E45 se beurt. My broek bewe. Niemand het nog suksesvol 'n aansoek ingedien vanoggend nie, almal het 'n her gekry vir die Spaanse toets.  Die Spaanse dametjie neem my paspoort, en sien hy verval eers in 2016. My aansoekvorms lyk reg. Daar is drie maande se bankstate en kredietkaartstate om te wys ek is nie heeltemal op die Diens van Barmhartigheid se lys nie. Daar is ekstra reisversekering. En wonder bo wonder- daar is 'n afskrif van die "Credential" brief. Haar gesig helder op- die son kom op in daardie kantoor. My niggie was reg- hulle hou van bona fide pelgrims in Spanje! Die aansoek word aanvaar, ek moet die 28e April presies om 9 uur daar wees om my paspoort met sy Schengen visum af te haal. Glo my, ek sal alles in my vermoë doen om presies 9 uur daar te wees! Eers as daardie paspoort weer terug in my besit is, en die visum se datums is reg, sal ek kan ontspan. Eers dan gaan die tweede uitdaging oorwin wees!

Sunday, April 17, 2011

Skoonfamilie is nie altyd uit die hel uit nie...

My Skoonsuster word vandag 50 jaar oud. Swaer is 'n digter, en het al verskeie gedigte aan haar opgedra. In elkeen van sy gepubliseerde bundels sal jy 'n gedig aantref: Vir Retha. Skoonsus het ook verlede week Ouma geword!

Gister het ons daar buite Pretoria as skoonfamilie bymekaargekom en fees gevier.

Skoonma was daar. Vir die meeste ouens is dit 'n krisis, die meeste vrouens verander as hulle dogtertjie trou,  in 'n wrede gedrog met skubbe en  kieuwe en so 'n branderige knoffelasem wat in vlamme uitbars. Ek is een van die bitter min ouens wat nie daardie probleem het nie. My skoonma was van die eerste dag af baie nice met my. Dalk het sy gedink omdat ek 'n dominee is, sal ek nie 'n wrede wolf met haar dogter wees nie. Juffrou, ek is nie 'n wolf nie, maar halloooooooooooooo! Ek dwaal van die punt af. Skoonpa is einde Januarie oorlede. Skoonma begin nou met groter vrymoedigheid wegbeweeg van die huis waar sy so lank vir Skoonpa versorg het. Skoonma was gister daar, en dit was baie lekker.

Een sussie, die jongste sit in Ierland (sy skryf Groete uit Ierland op Blogger). Ons het haar gister baie gemis, saam met haar gesin. Die res van ons was almal daar. Skoonma en Skoonpa het gesorg vir 'n groot nageslag. Hulle het vyf kinders, en elkeen behalwe die jongste het vier en meer kleinkinders voorsien vir die uitbreiding van die volk en vaderland. Gister was daar twee susters, en twee broers, met eggenote en aanwas teenwoordig. Plus nog 'n hele klomp vriende. O ja, as julle dink ons teel woes aan- die een vriendin was daar met 'n pasgebore tweeling. Hoor hierdie een- sy het nou vyf kinders, waarvan die oudste vier is! Pragtige mamma, lyk goed versorgd, haar man lyk so half verdwaasd...

Skoonsus se oudste is 'n chef van die voorste gestoeltes- sy publiseer 'n baie wyd geleesde kosblog.
Ons het gister geëet! Eet is een van die oudste vreugdes wat gemeenskap veroorsaak. Daardie gevoel dat ons saam behoort. Toe ons daar aankom, het swaer die wonderlikste wynversameling uitgepak. Daar was so besondere Italiaanse bottel met daardie geweefde bodempie op, wat hemels was. Verskeie ander belowende bottels beleë vreugde in wit en rooi.

Tussen Skoonma, Skoonsus en Niggie het hulle kos gemaak! (Moenie die prentjie kry van kappies en Voortrekkermonument nie, inteendeel, hulle is heel aan die ander kant van die spektrum van Afrikanerskap...)

Die wonderlike fees het begin met Franse brood, met drie verskillende olyfolies en Dukus (sulke sade en gebreekte neute uit Marokko uit) gedoop in balsamiese asyn. In die Spaanse Tapas tradisie was daar Boggerol (ek weet mos nou nie hoe om dit te spel nie- dis sulke neute wat jy peusel.) Daar was verskillende kleure olywe wat met knoffel gestop is. Daar was sulke wit vissies (is hulle nou die boggerol?) en verskeie kasies. Saam met Sangria. EK en bebaarde swaer (meer tradisionele Afrikaner) het ingelê in hierdie voorgereg. Hierdie swaer en sy vrou ruik aan die wyn se prop, dan het dit al 'n invloed... Ons het gegiggel soos nonne wat wortels rasper in die kloosterkombuis.

Na die voorgereg het ons bymekaar gekom op die stoep terwyl die reën heerlik val daar buite. Swaer Digter het 'n kosbare heildronk op sy vrou ingestel. Hy het een van sy ouer gedigte aan haar voorgelees. Hy het baie emosioneel dankie vir haar gesê vir die kosbare lewenspad saam, vir die ses kinders wat hulle saam kon grootmaak, ook vir seer tye wat hulle saam kon troos vind in mekaar se arms. Hierdie twee mense se liefde vir mekaar en vir hulle gesin is baie inspirerend.

Toe het ons ingeval by die hoofgereg. Ek ken nie al die fensie name nie. Maar daar was wildspasteie, en skaapboud in sulke netjiese snitte. Daar was verskeie slaaie en die lekkerste aartappelgeregte. Die pampoenkoekies was hemels! Een bord kon nie soveel vreugde maklik bevat nie.

Nagereg heelwat later was ook weer iets besonders. Daar was gesmelte sjokelade met marshmellows en piesangskywe, daar was die wonderlikste Pavlova met granaatpitte, daar was 'n bloubessietert, en nog ander gebakte poedings. Maar op hierdie stadium kon ek nie meer 'n enkele ryskorrel inneem nie.

Ek self het nie baie familie nie. Ek het net 'n ma in Suid- Afrika, en 'n oom wat besig is om aan kanker te sterf in Hermanus. Ek het 'n suster in Engeland, wat besig is om te skei, na wie ek baie verlang deesdae. Dis my familie- dié wat ek mee kontak het.
My skoonfamilie het my familie geword. Ek is baie lief vir dié klomp mense.
Ouboet in Heidelberg, met sy unieke humorsin, wat rekenaars programmeer vir die bank.
Ousus wat met Digter getroud is in Pretoria- swaer is ook kerkleier van 'n netwerk- kerk.
Baardman boetie se huis is in Volksrust, hy is 'n elektriese ingenieur en sy vrou is 'n Chemiese kenner en onderwyser.
My vrou is nommer 4. Kleinsus is in Ierland, haar man is 'n elektrisiën.

Die klompie het tussen hulle vir twintig kleinkinders gesorg. En verlede week is Skoonma se eerste agterkleinkind gebore. Skoonsus het Ouma geword, en die jonge heer was ook by sy ouma se partytjie.
My skoonfamilie is so uiteenlopend wat politiek en geloof aanbetref. Daar is soveel verskillende sieninge en waardes in die verskillende huisgesinne. Maar daar is liefde. Wanneer die familie saamkom, is dit met soveel vrede, en soveel humor. Dit is vir my so lekker om deel van hierdie groepie mense te wees. En soms lyk dit of party van hulle nogal oor die weg met my ook kom!

Dankie dat julle ook vir my plek gemaak het in die familie! Die dag toe ek loop vrou vra, het Skoonpa dadelik gesê: "Welkom in die familie." Dankie dat ek nog steeds welkom is.

Monday, April 11, 2011

Vrydagaand se Lamskerriepotjie in die Pastorie

'n Week in die Pastorie is nogal baie, baie besig. Dwarsdeur die week hardloop elkeen van die inwoners in hulle eie rigting. Pa hardloop rond tussen huisbesoeke, huwelikskategese, huwelikspanning, sterfgevalle, vergaderings wat baie sinvol is, vergaderings wat na nêrens lei, en soms net agter mense se doodgewone nonsens aan.  Ma hardloop rond agter skoolwerk aan, en speel algemene Taxi vir al die inwoners wat nog nie scooters op die pad mag ry nie. Ousus is in matriek en het 'n scooter- sy word net nou en dan opgemerk in die wandelgange. Ouboet is te vinde naby die naaste spieël, soos hy van nog 'n oefensessie af terugkom. En die jongste twee is maar êrens besig om te baklei, of oor die algemeen te KKNK.

Omdat elkeen 'n stywe dagboek het, is die een, enkele aand waarna ons geweldig baie uitsien, Vrydagaand. Saterdagaand werk nie in die Pastorie nie. Dan is Pa gestress oor Sondag se preek. Saterdagaand is nooit 'n goeie kuieraand in die pastorie nie.

Maar Vrydagaande is ons aand. Dan probeer ons die gesin bymekaar hou, en saam iets lekkers eet. Dit is hoekom hierdie Dominee nooit baie gelukkig lyk as een of ander gemeentelid 'n visie kry om op 'n Vrydagaand 'n gemeentefunksie te reël nie. Daar was selfs al van hulle wat so oorywerig was om 'n gemeenskapsbiduur op 'n Vrydagaand te probeer reël- gee jou beste tyd vir die Here, sien? Maar as Dominee nou nog daarby ingeskakel het, dan was hy nie meer vandag gelukkig getroud nie. Daar kom 'n tyd wanneer gesin eerste moet kom. Vrydagaand, met die hoogste uitsondering, is so 'n aand in ons huis.

Op 'n Vrydagaand sal ons soms vriende oornooi. Mense wat waarde toevoeg tot ons gesinslewe. Mense wat die lewe vir ons lekkerder maak, hulle is welkom op 'n Vrydagaand. Maar mense wat ons aan diens laat voel- hulle is welkom op 'n ander werksgerigte aand.

Die afgelope ruk het ek dikwels verby restourante gestap wat Lamskerrie op die menu het. Toe die jongste twee rugby gespeel het in Volksrust, het die mammies van daardie skool die heerlikste lamskerrie en rys bedien- die beste wat ek nog ooit geproe het. En toe ek nou die dag by Meatrite verby ry, is daar C graad skape beskikbaar teen 'n uitstekende prys. Kyk, deesdae kos 'n skaap meer as 'n motorfiets! As 'n mens 'n skaap op 'n eerbare manier in jou vrieskas kan kry, dis nou te sê nie soos agter in die ambulans nie, dan het jy 'n stuk lewensgeluk beleef.

Vrydagaand was dit weer so. Vroeër in die week het 'n vriend 'n bottel Chateu Libertas daar agter gelos. Daar was 'n pakkie skaap oor. Darem nog twee uie te sien in die spens.  Ons gaan koop 'n pakkie klein aartappeltjies, en 'n sakkie bevrore groente.

Vir 'n slag was ek sommer net lus om in 'n skottelskaar op die grond vuur te maak, en net op my blaker daar te sit, niks fênsie nie. En terwyl ek die vuur aan die gang kry, potjie warm maak, olie ingooi en uie braai, kry ek lekker kans om met my naamgenoot te sit en gesels. Of ek gesels, en hy luister na sy musiek op sy selfoon!  Maar ons sit langs mekaar en geniet die middagson, en mekaar se teenwoordigheid.

Dis vir sulke oomblikke dat ek lewe. Oomblikke saam met my geliefdes. Oomblikke wat ons maar net die lewe se mooi saam kan geniet.

Later die middag het goeie vriende by ons aangesluit by ons glad-nie-fensie viering van die lewe.
Ons het heerlik gekuier. Groot dinge gesels. En dit was 'n baie mooi aand. Ook ma en dogter kon tot laat sit en filosofeer oor die lewe rondom die kampvuurtjie na ete.

Wel, dit was die vinnigste wat een van my potjies nog ooit opgeëet was. Skaap doen dit aan 'n mens!

Wil jy ook probeer? Hier is so effense aanduiding van wat gebeur het, maar soos in enige selfrespekterende potjie is alles maar na gedagte bygevoeg, en nie in presies afgemete hoeveelhede nie.

Bestanddele:
Skaap
Aartappels
Gemengde groente
Rys
Twee uie

Speserye:
Mild kerrie. 1 teelepel en 'n bietjie koljander. 1 teelepel komyn. 1 teelepel gemmer. Bietjie ou rooiwyn, wat jy nie die vorige keer kon klaarmaak nie (sou dit moontlik wees!)

Metodologie:
Kry 'n nommer 3 potjie op 'n stabiele hitte. Gooi alles bymekaar. Los tot skaap sag is. Eet.
Bietjie fyner?

Verhit die potjie oor die kole. Gooi kookolie in en laat dit warm word. Kap die uie in fyn stukkies, soos Jamie Oliver dit in die Bosveld sou doen met 'n Okapi mes. Braai die uie tot bruin in die olie. Voeg die kerrie, gemmer, komyn en koljander by. Jou skaap is in blokkies gesny, of in hanteerbare stukkies gebreek, soos jy dit verkies. Laat die skaap lekker bruin braai in die pot vir 'n ruk. Hy maak sy eie sous. Later kan jy vir hom so bietjie rooiwyn (enige iets tussen 100 ml en 1 l- dis jou pot!) byvoeg vir ingeval die hitte die skapie dors maak. Los lekker lank, so lank soos wat dit neem om die Blou Bulle se wedstrydstrategie teen die Crusaders (27-0 verloor) te ontleed en beter alternatiewe vir die afrigter saam te stel.

As die kok goed gemarineerd is, en die skaap begin sag word, voeg jy die aartappeltjies by. Gooi 'n stewige handvol Marina Braaisout bo-oor. Los vir nog 'n ruk, terwyl jy of jou geliefde elders 'n pot rys gereed maak, veral Basmati rys werk lekker vir kerriepotjies.  As die aartappels amper sag is, dan voeg jy die gemengde groente by, en los hulle tot dit net lekker deurwarm is. As dit nou net anderkant Payday is, dan kan jy ook klein sampioene bo-op gooi- dit maak dit baie lekker.

As alles nou eers gereed is (en jy bepaal dit, dis jou pot, onthou. Moet nou nie vir wetenskaplike tydsberekeninge vra volgens Greenwich se Mediaantyd nie- as jy dit soek, bel vir Jamie of Ainsley of Gordon), dan bedien jy dit op 'n bed van rys. Jy pak dit baie netjies op die bord, en neem 'n foto, en stuur vir Huisgenoot se wenresepte en vir jou ouma. Of jy begin 'n blog oor die ervaring. Wie sou nou so iets wou blog?

As jy hierdie potjie maak, maak seker dat jy omring is met mense wat jy werklik voor omgee. Mense saam met wie jy 'n botteltjie rooi kan deel. As jy dit nie in jou lewe het nie, gaan  koop eerder KFC en gaan sit voor die TV, en drink Savannah Light. 'n Potjie en 'n bottel rooiwyn is bedoel om gedeel te word, sodat dit deel kan word van die mooi ervarings van jou lewe. Dit is nou LEWE! KFC en Savanna Light het jy al klaar twee dae later vergeet. Dit is net bestaan. Tot volgende Vrydag!

Monday, April 4, 2011

Die pad na Santiago toe...

Vanoggend omstreeks 03h30 skrik ek skielik wakker. Ek besef skielik weer dat my droom om die Camino de Santiago te gaan stap, nou so naby as volgende maand is. En daar is nog so baie om te doen voor ek op Lufthansa vlug LH573 via Frankfurt na Madrid toe kan klim op 27 Mei 2011 om 18h55.

Reeds gedoen:
Koop 'n vliegkaartjie Spanje toe- reeds op 1 Augustus 2010 gedoen, en baie goeie prys self op die Internet by Lufthansa gekry- Flight Centre wou my op EGYPT AIR!!! vir meer as R2000 meer geplaas het. Dis darem net baie lekkerder Frankfurt oor met 'n vliegtuig met movies en bier,  as weer op Egypt Air sonder movies en bier, en met 'n F veiligheidsgradering, en 'n oorstaan op Kaïro en 'n helse lang tweede vlug Madrid toe.

Toerusting aangeskaf:

  • Stapstewels wat goed ingestap moet wees, na deeglike opleeswerk besluit dat Wolverine Fortis die ding behoort te doen. Hulle is darem alreeds ingeloop- hulle gee my nie meer so baie blase nie!
  •  'n Baie kleiner rugsak as my 85 l Backpacker Boulder was nodig (anders gaan ek hom volpak!) . Ek het op 'n baie spesiale aanbod by Cape Union Mart 'n KWAY Alpine 55 rugsak gekoop.
  •  'n Baie goeie reënbaadjie van KWAY, met 'n reënbroek, want "the rain in Spain falls mainly on the plain..." daardie stukkie Spanje wat ek mos nou in die lente, in die reënseisoen gaan stap!  
  • Vyf pare goeie stapkouse by daardie wonderlike Cape Union Mart se Factory Outlet in Attenbury Value Mart- teen R20 'n paar, waar dit gewoonlik oor die R70 is vir Timberlands... 
  • First Ascent langboek en hemp, weeg 415 en 215 gram en word baie baie vinnig droog, om in katedrale mee in te stap. First Ascent kortbroek, en drie Drisport hemde van Mr Price Sport. 
  • En die wonderlike dames van my Bybelstudiegroep het my einde laas jaar bederf met 'n kontantgeldjie, wat genoeg was om 'n First Ascent Travelite slaapsak (5 Grade, weeg net 750g!) te koop.
Om nog te doen: sal dalk nog 'n stapbroek van First Ascent moet koop. Finale besluit moet geneem word oor  watter, indien enige bordegoed saamgeneem word, dalk net 'n Spork en 'n plastiese bord en beker.

Wat my vanoggend wakker gemaak het, was die bekommernis oor die reisversekering. Die Spaanse Ambassade wil hê 'n mens moet ten minste R300 000 se mediese versekering hê, met duidelike "assistance", nie "refund" nie as jy wel in die moeilikheid kom. Toe ek destyds by Flight Centre navraag gedoen het, wou hulle aan my 'n polis van R1300 verkoop. Ek het vanoggend om 03h40 op die internet uitgevind ek het voldoende dekking op my Nedbank goue kaart, en het so bietjie ekstra (R5 miljoen vir 'n mediese noodgeval) gekry vir net oor die R413.00. Reisversekering is nou uitgesorteer.

Nou kort ek nog net Maart se amptelike bankstaat, want die Spanjaarde wil 3 maande s'n sien om te kyk of ek ook 'n  "illegal alien" gaan wees uit Afrika.  Hulle wil graag adresse hê waar ek gaan oorbly, en ek hoop my Pilgrim's Passport, wat 'n mens by die Confraternity of Saint James of South Africa in Kaapstad bestel, gaan die ding doen.  Ek weet nog nie eers hoe ver kan my liggaam in 'n dag stap nie!

Ek sal my twee visavorms moet invul, kleurfotos kry, en dit persoonlik by die Spaanse Ambassade gaan inhandig. Dit lyk of die Visa nogal ook ietsie gaan kos!

Die ander ding wat ek nog glad nie uitgesorteer het nie, is sakgeld. Dié wat dit al gedoen het, sê 'n mens het so ongeveer R250- R300 per dag nodig om in die pelgrimshostels te slaap, en 'n Pilgrim's Menu by 'n plaaslike restaurant te eet. Gerugte wil dit hê dat 'n mens vir 10 Euro 'n driegang maaltyd met 'n bottel wyn kan kry as jy 'n pelgrim is. Ek moet eers 'n Visum hê, voordat ek kan geld wissel. Geld het ek ook nog nie. Sal dalk uit die huislening so effentjies moet leen.

En dan, die laaste ding wat ek nou aan kan dink, is om te begin stap. Ek het nouwel die Argus vanjaar oorleef, maar die stappery is totaal 'n ander "ballgame"!  Ek sal binnekort moet vroeg begin opstaan, en dan so 8km vroegoggend gaan stap. My voete moet nou finaal gewoond raak aan die stappery, die ou magie moet begin krimp, en die spiere moet klaar rek- want ek beplan om tot 26 km per dag te stap.

Die heel heel laaste ding wat ek aan kan dink, is om nou my Spaanse taalles CD te begin luister. Daar waar 'n mens op die Camino Frances wil loop, klink dit nogal erg plattelands. Dié ouens het glo nog nooit rede gesien om Engels te leer praat nie. En 'n mens wil darem weet waar jy vanaand kan slaap, waar jy kos kan kry, waar die naaste toilet is, en wat die goeters kos.

Soos julle op die Blog se buitekant kan sien- die klok is besig om te tik- die tyd loop uit. Ek begin al meer bang raak, en versigtig uitsien na hierdie ervaring. Gaan ek dit kan maak? Gaan ek die stilte kan hanteer? Gaan ek die lang tyd van die huis af kan hanteer? Gaan my kinders vir my "oom" sê as ek terugkom?

Ek moes kies tussen die ses verskillende roetes na Santiago toe. Ek het maar besluit op die oudste een, die roete vanuit Frankryk uit. Dit lyk of die infrastruktuur daar die beste is, en die dorpies is naby aan mekaar. Maar die Portugese roete- van Porto af teen die Atlantiese kus op tot by Finistere en dan na Santiago toe, het ook goed gelyk. Die roete van Madrid af boontoe is die nuutste, maar dorpe is ver uit mekaar uit. Die Engelse roete is weer te kort, net net oor die minimum 100 km wat 'n mens nodig het om jou sertifikaat te verdien.

Hoekom hierdie tyd van die jaar? Ek het baie op die Internet gelees, en baie boeke tweedehands op Betterworld gekoop oor die Camino. Op 24 Junie begin die Europese lang skoolvakansie. Dan raak baie restaurante baie duurder, en die hostels raak skielik vol toergroepe vol skoolkinders. En hulle gaan die beddens beset, en die stilte verbreek. Daarom het ek gekies om die 22e Junie terug te kom, en van daar af drie weke teruggewerk. Dit is in die Europese lente net voor hoogsomer. April is 'n baie besige tyd in die kerk, ek kon dit nie aan my kollega doen om dan langverlof te neem nie. Maart kan nog baie koud wees in die berge. Julie en Augustus is duur, en baie, baie warm. En so bietjie later kan dit weer baie baie koud in die berge raak.

Ek sou so graag die hele Camino Frances, van St Jean Pied de Port af wou stap. Maar dit is 800 km, oor drie bergreekse soos die Perineë. Al waarvoor ek nou kans gaan hê, is 300 km van Léon af.  (Ek sou so graag Pamplona wou sien, 200 km verder, waar die mense saam met die bulle hardloop- nee, nie Bakkies en Victor nie, daai met die twee skerp horings voor). Ek kan my vrou nie saamvat nie- die skoolvakansieprobleem! Maar eendag- eendag sal ons dalk saam die hele Camino Frances kan stap.

Hoekom doen ek dit? Ek is dan nie Rooms Katoliek nie, en glo nie eers die legende dat Jakobus, die broer van Johannes, daar begrawe kan lê nie. Ek het nie 'n saak met ikone en heilige beendere nie.

Wel, hierdie is 'n baie belangrike oorgangsjaar in my eie lewe. Ek is 44 jaar oud, en gemeet teen my pa en my oupa se lewensduur, is ek lankal verby halfpad. My oudste kind maak klaar met skool vanjaar. Ek is soms lekker deurmekaar oor wie ek is, en hoe ek oor die toekoms moet dink. En stap was nog altyd vir my moeilik- ek het 'n groot uitdaging nodig om uit my gemaksone te kom.

Die Camino gaan deur een van die mooi dele van Europa- dit is veilig om daar te stap, en die plaaslike bevolking is pelgrims baie goedgesind. Die infrastruktuur op die Camino kom al van die 12 eeu af, en die dorpies is naby mekaar. Elkeen het êrens goedkoop verblyf vir die pelgrim. Ek hoef nie kos saam te neem nie, 'n mens eet baie basies uit die winkels waar die plattelanders hulle kos koop.

En dan bly een van my hoofredes vir hierdie reis daardie aantrekkingskrag om af te skaal. Om vir drie 1/2 weke met net 3 stelle klere reg te kom. Om minder as 10 kg te pak, ek kry dit nie eers reg vir 'n naweek in Pretoria nie! Om af te skaal van die gerief van my bakkie,af te skaal van my sekerheid oor waar ek vanaand gaan slaap, wat ek vandag gaan eet.  Waar ek wil wees, sal ek moet loop. Ek wil die horlosie afhaal, en net wees. Ek gaan my dood verlang na my vrou en kinders. En as ek daar terugkom, gaan ek sommer weer 'n nuwe waardering vir elkeen van hulle hê.

Die reis is simbolies van my lewensreis, en ek wil graag baie meer tyd in stilte saam met die Here spandeer. Dit gaan vir my 'n gebedsreis wees. Soms gaan ek bid om net lewendig vanaand by die volgende dorp uit te kom, so moeg gaan ek wees. Ander kere gaan ek op 'n bergtop staan en uitroep: "Hoe groot is U!" Ek wil die mooi van Spanje op so 'n primitiewe manier gaan geniet.

Met hierdie reis wil ek die Here baie mooi vra om my geestelike batterye vol te laai, sodat ek gereed is vir die volgende fase van my lewe, wat my baie, baie vinnig bestorm. In al die bronne wat ek gelees het, het niemand onveranderd teruggekom van die Pelgrimsreis nie. Ek wil ook nie dieselfde terugkom nie...

Thursday, March 31, 2011

Vir Jou- baie, baie dankie...



In my lewe is daar heelwat dinge waaroor ek onseker is. Ek is baie dikwels onseker oor watter kar ek moet ry, oor watter motorfiets vir my beskore is. Ek is dikwels onseker oor myself en my eie identiteit. Ek is onseker tussen mense. Ek is dikwels onseker oor my beroep, en wonder of ek iets daarin regkry. Ek is selfs dikwels onseker oor God, oor geloof, oor gebed... 

Maar ek het baie lank terug sekerheid oor een ding gekry- daar is net een mens wat ek langs my op die lewenspad wil hê. Ander kan saamstap, en hulleself ons kinders noem. Nog 'n paar besondere ander kan saamstap, en hulle ons vriende noem. Elkeen van hulle is vir my baie kosbaar.

Maar die kosbaarste een van almal bly Jy wat vir my ja gesê het. Jy wat gekies het om met jou hele menswees deel van my lewe te word, en my toegelaat het om deel van jou lewe te word. Jy wat vir my nog altyd so mooi is. Jy wat so kalm kan bly as ek dit verloor langs die pad. Jy wat met soveel wysheid kan redeneer, en soveel opsies kan onderskei vir die keuses wat ek moet maak. Jy wat met soveel humor daar binne jou sit, en met ogies wat so kan vonkel groot waarhede kan kwytraak in 'n grap. 

Jy wat so 'n uitstekende moeder vir ons kinders is. Jy wat soveel van jouself kan gee, en so bitter min vra. Jy wat die groot seer met soveel geloof kan dra, en met soveel hoop deur moeilike tye kan gaan. 

Dankie dat jy verby al my nonsens kan kyk, en my ken vir wie ek werklik is. 
Dankie dat jy in my glo, selfs al sukkel ek so dikwels om dit self reg te kry.
Dankie vir die potensiaal wat jy in my sien, en wat jy met jou menswees en jou daarwees al soveel vorm help gee het. 
Dankie dat jy my nooit gelos het nie, al het ek jou al soveel keer moedeloos gemaak. 
Dankie dat jy glo, in dae wat ek nie die Here se stem kan hoor nie. 
Dankie vir jou humorsin, al het ek al jou grappies so verkeerd verstaan.
Dankie dat jy so opreg is, en so eerlik is, dat almal weet waar hulle met jou staan. 

Dankie vir daardie pragtige oggend in Bloemfontein se klipkerk, toe jy met daardie bewende bossie blomme aan jou pa se sy in die gang afgestap het, om jou lewe met my te deel. 
Dankie vir ons vier pragtige kinders, wat elkeen ietsie van jou wonderlike eienskappe het. Dankie vir ons twee kinders wat in die hemel gebore is, waar ons saam seergekry het, en in mekaar se arms troos kon vind.

Dankie dat jy my beste vriend is, met wie ek alles kan deel. Dankie dat ek na jou kan verlang wanneer ek weg van jou af is, dat ek nooit 'n sonsondergang soveel waardeer as jy nie langs my is om dit saam te geniet nie. 
Dankie dat jy my beminde is, in jou arms kan ek in die hemel glo. 
Dankie dat jy met soveel liefde vir my kos maak, dat elke ete saam met jou 'n baie spesiale ervaring is. 
Dankie dat ek altyd seker van jou liefde is, dankie dat ek altyd op jou kan staatmaak, dankie dat ek jou nog altyd met my diepste hartsgeheime kon vertrou, dankie dat jy my so goed ken dat ek niks vir jou kan wegsteek nie, jy lees my gesig soos 'n kinderboek!
Dankie dat my grys hare vir jou sexy is, dat dit nie 'n bedreiging vir jou is dat ek ouer word nie. 

Dankie vir 21 jaar met al die seer, en vreugde, wat ons kon deel. Dankie dat ons saam geliefdes se dood, en nuwe geliefdes se geboortes kon deurmaak. 

Ek is so ongelooflik dankbaar dat jy my lewensmaat is. Ek is so onbeskryflik lief vir jou na al die jare, en op een of ander Goddelike manier word dit net al hoe sterker soos ons ouer word. 
Ek is so jammer vir die kere wat ek jou hartseer gemaak het. Ek is so jammer oor die kere wat ek lelike dinge vir jou gesê het, wat ek jou goeie bedoelings so kon misverstaan en in jou gesig kon teruggooi. 

Dankie vir die dans van die lewe wat ons twee saam kan dans. Ek hoop regtig ons word gespaar om eendag ons 50e huweliksherdenking oor 29 jaar saam te kan vier. 31 Maart 2040.  Ek weet as dit so uitwerk, gaan jy vir my sê: "Sien, ek het jou mos gesê alles gaan reg uitdraai, waaroor het jy jou so bekommer?" Ek hoop daardie dag is ons weer in die Blue Peter, derde kamer in die gang af, met die wonderlike uitsig oor Tafelberg en Robbeneiland. As ek dit nie tot daar maak nie, sal ek in die see jou naam saggies roep... 

Soos 21 jaar gelede sê ek vandag weer: Hier is my hart, en my hand. Ek gee myself vir jou, vir altyd. 




Wednesday, March 30, 2011

Laerskool Nylstroom in situ in Volksrust

Dit is 'n jaarlikse hoogtepunt vir rugbyliefhebbende ouers van Laerskool Nylstroom, die begin van elke Maart vakansie. Op uitnodiging van Laerskool Pionier in Volksrust vergader die ses skole: Pionier, Marietjie van Niekerk (Marietjie speel baie goeie rugby!), Lucas Meyer, Generaal Iemandbekendvanlanklankgelede, Oranjegloed (vernoem na die industriële besoedeling se weerkaatsing op die suurreënwolke in Secunda), en dan natuurlik Laerskool Nylstroom.

Lank voor die tyd vergader die ouers van die o/11 span rondom 'n braaivleisvuur by die laerskool. Spanklere word uitgedeel. Kwaliteite van elke speler word besing, borge word plegtig bedank. Die vure brand hoog, en die pappies word dors. Rugby gaan seëvier in Volksrust! Die volgende aand is dit die EERSTESPAN se beurt- daardie droom ouens van elke graad vyf dogtertjie. Die geleentheid word herhaal, met nog meer opgewondenheid. Klere word uitgedeel, die borge het goed gedoen vanjaar!

Elke moontlike gastehuis in Volksrust word vroegtydig bespreek, die een by die dam is eerste op die ranglys. Proviande word vroegtydig aangekoop. En dan, Sondagoggend vertrek die Konvooi. Volksrust word op horings geneem, en die seuns word ingeburger.

Maandagoggend skop die rugby in alle erns af. Die ouers maak 'n tonneltjie, die seuns, ons trots, hardloop daardeur. Eers die onder Elfs, later die Eerstespan. Hulle kry die nodige eerbied, hierdie draers van ons Toekomshoop. Breëbors draf hulle op- toekomstige Bulle en Bokke, in pappie en mammie se oë- elke liewe een van hulle.


Maar o wee, vanjaar gaan dit nie heeltemal so goed met ons nie! Die ander skole het intussen leer rugby speel. Natuurlik was dit dikwels die Ref se skuld- 'n hele paar van hulle het dan nie eens kwalifikasies as skeidsregters nie. Maar ons Toekomshopies maak dit ook nie makliker nie. Die hartseer realiteit is: die eerstespan is nie heeltemal so goed soos laas jaar s'n nie. Ons moet onthou, 'n klomp kernspelers het aanbeweeg Hoërskool toe. En elf van die eerstespan is nou eers in Graad 6. Ons bou vir volgende jaar, 'n mens kan nie elke jaar die Volksrustweek wen nie!

Halftyd breek aan. Die koppe hang. Mnr Hempies praat moed in.

Die koppe styg tien grade, die gesigsuitdrukkings raak meer vasberade... Helaas, nog balle word ge"knock". Die wedstryd gaan ook na halftyd nie heeltemal na verwagting nie. Pa's se humeure vat vlam, ma's spring op en af, die spel gaan voort...  genadiglik blaas die eindfluitjie uiteindelik.

Die ma's gaan sit op die kampstoele. Die pa's verdwyn een na die ander- dorp se rigting toe. Trio slaghuis word vinnig ontdek, en ook die paar "grootmens-apteke" in die hoofstraat, wat hoesmedisyne verkoop, vir die keel.

Terug langs die veld, en daar kan omtrent 'n beheerliggaam verkies word- daar is verseker 'n 15% kworum soos vereis deur die Onderwyswet.  Daar is baie Nylstromers langs die veld- die meeste van al die skole teenwoordig.

Uiteenlopende beroepe is daar langs die veld verteenwoordig- prokureurs en boere, bandemagnate, en mondhigiëniste, 'n verdwaalde dominee en 'n tronkbewaarder, 'n satelietskottelingenieur en 'n deurmaker. Polisiemanne, seepmakers, en... 'n genuine egte Pool! Nie Noord of Suid nie, van Poland af. Op besoek aan Suid Afrika saam met Blackie se kinders.

Soveel verskillende beroepe is daar langs die veld verteenwoordig, uit omtrent elke denkbare geloofsgemeenskap uit die dorp uit. Mense word groot vriende daar langs die rugbyveld, die liefde vir rugby en die liefde vir ons kinders bind ons saam, hegter as wat die kerk dit regkry. Daar is tyd vir baie gesels, daar is tyd om mekaar baie beter te leer ken. Maskers val af, ons almal is maar net mens.



Maandagaand is daar 'n ouerbraai daar langs die rugbyveld. Nee, ons braai nie ouers nie, die ouers braai lekker saam. En die sakegemeenskap van Volksrust word elke nou en dan al hoe liewer vir ons- daar sal more weer 'n aflewering van Klippies en Cola uit die grootstad moet wees, anders gaan die plaaslike bevolking opstandig raak.  Maar dit is baie lekker- om met mense te gesels rondom die vuur, en net te hoor wat in hulle harte aangaan, sonder dat dominee dit "huisbesoek" hoef te noem.

Dinsdag se rugby kom en gaan. Soms gaan dit beter, soms nie. Dit maak nie regtig saak wat die uitslag is nie, Nylies is wenners. Seuns leer om oorwinning met grasie te aanvaar, om nederlaag in die gesig te staar en te soek na beter vir die volgende wedstryd. Enkeles wonder dalk net hoekom hulle die hele tyd "bench", as ander net soveel aanjaag soos hulle?

Woensdagoggend kom, die laaste rondte vind plaas. Daarna kom die prysuitdeling. Oor die hele ou Republiek van Suid-Afrika is Afrikaners oral dieselfde- ons hou van baie praat. Oral praat ons dieselfde dinge, op dieselfde stemtoon, en maak dieselfde ou grappies. Eers word al die borge weer plegtig bedank, sonder hulle (en ons aansienlike koste per kind!?) sou die geleentheid nie moontlik wees nie. Al die helpers word bedank, van die skeidsregters tot ou Sophie in die kombuis. Al die afrigters, al die ouers, al die bestuurders wat nugter gebly het om die kinders daar te kry (OK, hulle het dit nou nie gesê nie :-) )
Die seuns sit almal in die bloedige son, die afkondiger belowe om gou te maak, maar hy kry dit nie reg nie.

Daarna wil 'n ander skoolhoof ook eers namens die besoekende leerlinge die gasheerskool bedank, en die afkondiger, en die oulike dames wat so lekker kos gemaak het, en...  'n hele paar minute se woordewaarde deur die liewe skoolhoof van Drakensberg.

Uiteindelik word die Voorsitter-van-die-beheerliggaam-se-vrou genooi om die medaljes en trofees uit te deel. Die wonderlikste spelers van elke moontlike aard word bedank. Die wenners kry goue medaljes, silwer vir die tweedes, brons vir die res. Na baie woorde het elke seun erkenning gekry.

'n Groot sirkel word in die middel van die veld gemaak deur al die spelers en afrigters. Daar word mooi gebid, en dankie gesê vir veiligheid op die veld, vir talente, vir die spelers se gesindhede, en vir die mooi spel wat ons kon geniet het. Amen.

Tot volgende jaar- veilig ry! Onthou van die "special" by Tops op Klippies en Coke... hulle is een van ons borge...

Rugby het weer geseëvier...

Sunday, March 20, 2011

Een Somersaand op Loftus... (it was a dark and stormy night...)

Daar is soms onverwagte vreugde in die lewe op plekke waar jy dit nie verwag het nie. En soms draai onverwagte vreugde ook anders uit as wat jy dalk sou beplan het.



So gebeur dit toe eendag lank, lank, gelede (gisteraand om meer presies te wees) dat ek 'n uitnodiging kry om saam met wonderlike mense na Loftus toe te gaan. Die geleentheid: Die Super 15 kragmeting tussen die Bulle en die Stormers. Dit het beloof om 'n epiese stryd te wees, soos in vanmelewe se dae toe my eie persoonlike pa nog gelewe het, en so die hel in kon raak vir ene Naas Botha as die Bulle teen WP speel. Pa het sy hele lewe lank 'n Streeptrui gebly, tot op die laaste...

In elk geval, geen regdenkende mens sê Nee vir 'n geleentheid om op Loftus te kom nie, behalwe miskien as iemand baie besonders onnadenkend daardie tydgleuf gekies het om te trou nie. Of as jy in intensiewe sorg lê na 'n onderonsie met jou skoonma, of in die kraamsaal, of onder die puin van 'n aardbewing vasgekeer is- daar mag dalk enkele verskonings wees wat 'n bietjie meriete mag hê. Andersinds, as jy 'n kaartjie het vir Bulle vs Stormers, is enige reggeskape mens daar.

So het ons vriende toe opgeruk in getalle na Loftus toe. Ons het deeglik beplan: daar was vloeibare verversings, biltong en droëwors, en die gasbraaier, steaks en wors en broodrolletjies, tamatiesous en mosterd. Ons het vroeg gegaan, om daar voor Parkstraat 964 te parkeer, en langs die motor te braai. Daar was so enkele vae bekommernissie: dit het gietend gereën. Maar behalwe vir die Sondvloed van Noag se dae, anderkant dag 7, of die reën van Queensland in Australië, mag 'n mens nie reën gebruik as verskoning om nie te braai buite Loftus nie.  Die Braai was toe suksesvol ongeag die reën. Goeie vriende, sambrele en 'n gasbraaier is die manier om te gaan.

Annelie, Piet, Adriani, Marie en Billy


Nadat ons heerlik gebraai het, eendag lank lank gelede, gisteraand, het ons te voet vertrek na daardie katedraal van rugbyaanbidding. Die een ding wat darem altyd wonderlik is, is as jy snags in Loftus ingaan, en so deur die tonnel inbeweeg tot binne daardie helder verligte Colosseum met sy groen gras en blou sitplekke. Die geraas wat eers 'n dowwe dreuning is, dan al hoe meer in intensiteit toeneem totdat dit jou oorweldig en meesleur- kom in, kom word deel van ons!

Ons kry toe baie interessante plekke- kyk, ons was die amptelike verteenwoordigers van die Phagameng Rugbyklub. Ons sitplekke is toe net langs die WAGS se losie. WAGS? Kom uit die sokkerwêreld- Wifes and Girlfriends van die spelers. Dit was pragtig om te sien. Die gemiddelde Bloubul is baie lief vir blonde, baie sexy meisies. 'n Paar van die ouer manne se vrouens het kinders, tot drie soos Bakkies Botha. Sy vrou is 'n pragtige swartkop, soos jy kan sien op die reuse foto van hulle voor Etienne Lewis se winkel in Zambesiweg. Pragtige kinders. Bakkies se seun is seker so 2 1/2, en lyk verskriklik baie soos sy pa, net baie slimmer...
Opmerklik. Nie een van die WAGS of kiddies het Bloubulklerasie aangehad nie. Hulle was wel baie modieus aangetrek, enkeles was ook ver swanger- dit lyk of die skrumwerk darem nie agterweë gebly het nie.

Die aand op Loftus was baie goed vir my jong, onskuldige gemoed. Soveel mooi meisies, soveel wonderlike dinge wat 'n mens beleef daar langs die veld in die reën. En toe draf die Bulle op...

Die Rugby self was nie baie lekker nie. Die ref was 'n p*****l, natuurlik. Maar die Bulle self het ook nie gelyk of daar enige lus was om te wen nie. Almal het rondgetjommel, balle aangeslaan, gepaas wanneer hulle nie moet paas nie, nie gepaas nie wanneer hulle moes paas. So het hulle gesorg vir veertig minute se loutere, onverdunde pyn. Toe kom Laurika Rauch op die veld en stuur groete vir Mannetjies Roux. Maar sy kon dit sommer self vir hom gesê het, want hy het in sy Springbokbaadjie langs haar gestaan...  Hy word nou oud, maar sal altyd 'n legende bly in Springbokrugby. Respek, oom Mannetjies!

Toe gaan ek na die kleinhuisie toe daar agter die Laerskoollosie. En my sommer lelik vervies. So 'n omie in sy 60's wat duidelik lekker in die Losie gekuier het, met sy WP baadjie aan, kom druk sommer reg voor die ry in waar ons almal staan en knyp. Klas kan jy nie koop nie...

Toe begin die tweede helfte. En reg voor ons staan 'n duidelike antie in Bloubulklere, met die selfoon in die hand. Haar beste vriendin sit aan die oorkant van die veld, en sy wil net so graag hê haar vriendin moet haar raaksien. So met haar duidelike lyf staan sy en waai en chat op die selfoon, met nie 'n saak wie agter haar sit en nie die spel kan sien nie. Klas kan jy nie koop nie...

Die ander ding wat sleg is op enige stadion, is wanneer daar wel iets opwindends gebeur. Outomaties staan almal skielik op om beter te kan sien, of daardie lankgeknypte poep te los, of wat ook al. Maar omdat almal skielik staan, kan niemand iets sien nie.  As almal net mooi bly sit het, kon almal sien... Klas kan jy nie koop nie...

Die een ou op die veld wat sy kant gebring het, was die Bulle se Mascot. Daardie ou is uitstekend! Dit is lekkerder om vir hom te kyk as vir Wynand Olivier. Baie beter bewegings. En die Bulls Babes was ook pragtig in hulle blou en wit uniformpietjies.

Die rugby was uit 'n Bulondersteuner se oogpunt 'n ramp. Bryan Habana het sy eerste drie sedert die groot Runderpes van 1896 aangeteken, en was so duidelik aangedaan oor die enkele oomblik van sukses in 'n lang, lang tyd wat na sy kant toe gekom het. Dié drie was so skuins voor ons, 'n mens kon elke trekkie op sy gesig duidelik sien. Dit was nie die afgelope tyd lekker om Bryan Habana te wees nie.

Die Stormers wen toe die wedstryd met 23-13.  Ek wou toe eers vir die Bulle se dames ('n mens mag nie sê koeie nie, want nie een van hulle lyk soos een nie) vra om tog asseblief geen skrumwerk toe te laat tot die manne se "performance" op die veld verbeter nie. Maar die moed het my begewe. Dink net, ek kon net daar die Super 15 se gang vir 2011 drasties verander het.

Dankie vir die kaartjies, Billy, dit was nog steeds BAIE lekker, ongeag die rugby!

Let op Mev Bakkies Botha daar langs Annelie


:

Sunday, March 13, 2011

Bucket List item 499- ‘n Besoek aan Hermanus!

Hermanus se mooi deel- sien- dis verlate!

Dit bly elke boer aan die anderkant van die Oranjerivier, en duskant die Vaalrivier soos jy uit die Kolonie uitry, se groot toekomsdroom. Elkeen wil so graag ‘n huisie by Hermanuspietersfontein hê, in die volksmond beter bekend as Hermanus. Daar lê die pragtige dorp tussen die walvisse in die koue Atlantiese oseaan, en die fynbos van die Overberg. Soos ‘n mens hierdie juweel van ‘n plek betree vanaf Onrustrivier se kant, kom jy inderdaad ook agter dat heelwat van die skaapboere tussen die Oranje en Vaalriviere wel hulle droom kon bewaarheid, sommiges dalk al so lank terug as 1948, toe DF Malan nog die Natte gelei het, en die Sappe nog sapperig was. Hoe, mag jy dalk wonder, weet ‘n mens dit? Wel, die eerste leidraad vind ‘n mens in die dubbelpad, wat presies in die middel beset word deur ‘n dame met pers gespreide hare, wat net mooi die spoedgrens met die helfte mis. Teen 30 km per uur word die middedorp bestorm met ‘n 1981 Mercedes 560 SE. Agter haar volg ‘n string motors, geduldig ingeperk soos in ‘n begrafnisstoet, ‘n ry wat strek tot by die Arabella landgoed verby.  Kom sy by die Pick ‘n Pay, wys die flikkerlig ‘n begeerte om links te draai, gevolg deur ‘n ywerige pluk aan die stuurwiel na regs. Die dame wil eintlik net graag ietsie lekkers vir die oom kry… Die gevolg van die koeksusterbrigade se optrede is ‘n permanente treffiek jem in Mainstraat. Wat aansienlik vererger word deur negentigjarige omies met hoede agter die stuurwiel van blou Hiluxbakkies van 1976 met 500 000 km op die klok, en 130 000 km op die tires. Soos die ANC Jeugliga is ‘n mens nooit heeltemal seker waarheen hulle op pad is nie, hulle self dikwels ook nie.  Hermanus is ‘n baie groot ouetehuis, sonder ‘n dak op.

Spoorloos op Hermanus
‘n Mens moet ook groot moeite doen om die spoorwegstasie in Hermanus te besoek. Jy sien, die saak staan nou eintlik so: êrens gedurende die Nasionale Party se bewind het een van Julius Malema se wit voorgangers op ‘n dag bang gewees hy gaan op sy hêrrie kry in die volgende verkiesing. Toe belowe hy die klomp afgetrede boere ‘n eie spoorwegstasie, dat hulle weer kan voel soos in vanmelewe se dae, toe die melktrein nog verby die plaas gekom het. Die eerste jaar  van die belofte was daar toe net mooi genoeg geld om die stasiegebou op te rig- pragtig, rein en funksioneel. Die spoorlyn self, die lokomotief en die trokke? Wel, die spesifieke politikus het mos ‘n stasie belowe en daar is hy nou- die res het toe nooit gerealiseer nie. Tussen stasies is daar basies nie noodwendig treine nie, met apologie aan Lochner. Hulle het intussen maar ‘n mall langs die stasie gebou, waar jy darem koffie kan gaan drink, en oor treine van vanmelewe se dae kan mediteer.

Die ander vreemde verskynsel in Hermanus se strate, is die helfte van die bevolking wat in blou gekleurde uniforms op straat verskyn. Hulle elkeen dra so ‘n elektroniese apparaat oor die skouer. As jy bietjie lank by die stopstraat staan, verskyn een van hulle langs jou venster. “R1,50 vir ‘n halfuur, en R3,00 vir ‘n uur, my lanie…”  “Om te wat?” “Om te parkeer.” “Maar ek parkeer nie, ek wag nog vir daai perskoptannie in die Merc om haar mind op te maak waar sy wil heen gaan…” By elke moontlike stopplek is hulle daar. Selfs as daar ‘n walvis verby swem, gaan dit jou kos- R1,50 ‘n halfuur, R3,00 per uur.
Baie vriendelike parkeerassistent in Hermanus.
Ek gaan gooi brandstof in by die caltexgarage. Ek vra die persoon agter die glasruit om asseblief die kleinhuisie vir my oop te sluit. En toe ek net so gemaklik gaan sit, is daar ‘n klop aan die deur- “My lanie, jy moet betaal- R1,50 per halfuur, R3,00 per uur.” “Hoekom nou al weer?”brom ek vies. “Ek het jou mos betaal toe ek hier buite gestop het!” “My Lanie, dis eintlik vir jouself! Hier in Hermanus kan ons nie sommer  net enige plek park nie. Hier is dit park en betaal!”

Sunday, March 6, 2011

Pick 'n Pay/Cape Argus nommer 17 op 13 Maart 2011

Ek moet dit vanaand bely- die Argus is in my bloed, ek is totaal verslaaf, en kan niks daaraan doen nie. 110 km op 'n fiets om Tafelberg- vir die 17e jaar agtereenvolgend.

Daardie begin- om vroegoggend op te staan, die motor by die parkeerterrein by die Waterfront in Kaapstad in te boek. Laaste keer by die toilet by die Caltex garage in te hol, en dan jou weg te vind na die wegspringblok toe. Met angstige oë na Tafelberg te kyk vir daardie dekselse duiwel wat so rook daar bo, en verklap dat die Suid-Ooster al weer ons lewe hel gaan maak tot by die halfpadmerk daar bo op Smitswinkelbaai.
Vind die blok, gee jou wegspringkaartjie in. Die wenners het so pas klaargemaak! Die vlae wapper (en in 2009 rol die tydelike toilette gat oor kop in die straat af!) Elke paar minute skuif jy bietjie nader aan die wegspring, tot dit jou beurt in die drukgang is. Piet Koekemoer verjaar vandag in blok FF, hy is 69 jaar oud, en dis sy 19e Argus. Kyk ook uit vir FF 12345, hy ry met 'n blou nommer, 21 Argii voltooi. Een of ander ANC minister is in die blok, seker weer rang getrek om vroeg weg te spring. En drie Stormers is ook daar na gister se pak slae op Nuweland- oorweeg 'n nuwe loopbaan in fietsry...  Dan speel die musiek: Three two one- everybody says WHOOPAH!  En dan sing die speke, die cleats click in, jy vermy rakelings die ou voor jou, en ry onderdeur die Burgersentrum van Kaapstad. Normaalweg effe gevaarlik, die adrenalien skop in. En in 2009 waai die wind die fiets net daar reg onder my uit! Eerste en enigste val sover in die Argus...

Jy tref daardie brug wat uitlei na die N2 toe, verby die Spur advertensie op linkerkant. Daar het 'n groot dooie rietrot in die Argus van 1997 daar gelê... Onderdeur die brug langs die Holiday in, as die wind nie te erg is nie, is Hospitaalheuwel ook nie te erg nie. Vinnige afdraende verby Grootte Schuur Hospitaal, en hier val 'n paar ouens al klaar jaarliks hulself in die kraamsaal in... Die bondels kom van agter af, iemand skree histeries: "Keep left..." Af af af, dan weer op op op, verby die windmeul. Universiteit van Kaapstad regs, baie lui studente drink en braai (eintlik wyse mense- is dit nie die beste manier om aan die Argus deel te neem nie?)  Dan skielik daardie 2 km van Edinburgh drive... Loutere hel as jy dik en onfiks is... Die Kleurlingman wat in 2008 skree: Push- push- push en as jy verby kom: It will come out soon...  helse stryd om net bo- op Edinburgh Drive uit te kom. Dan die lekker van die Blou roete af- as die Suid-Oos nie waai nie. Lekker snelweg, goeie bondels, mooi meisies langs die pad. Draai af vir Wynberg, Tokai of wat ook al. EN die laaste paar jaar- die ekstra pyn van Boyles Drive- nog twee erge bulte by terwyl die DA sukkel om die paaie deur Kalkbaai reg te maak doer onder. 'n helse gevaarlike afdraende wat jou remme tot die uiterste toe beproef. Terug na seevlak toe- lekker tot in Simonstad, as die Suidoos nie waai nie...
By Simonstad die groot waterpunt, waar ek in 1996 langs Just Nuisanse se standbeeld gesit en huis toe verlang het na die Suid-Oos my beetgehad het, en nog steeds met bo-menslike inspanning, twee Bar-Ones en twee liter Energade nog verder gegaan het om uiteidelik klaar te maak.
Deur Simonstad na Millers Point toe, waar al die bome teen 45 grade groei- glo ook iets met die Suid-Oos te doen. As dit 'n stil dag is- heerlik verby die gholfbaan, en lekker deur Smitswinkelbaai se effense opdraendes (as die Suid-Oos nie waai nie).
Smitswinkelbaai het 'n pragtige see-uitsig. Jy hou aan trap tot bo verby die halfpadmerk. Daar is 'n lekker lang, effense afdraende verby die Kaappunt Natuurreservaat. Dit hou vir sewe kilometer aan, en die wind is 99.9 persent van die tyd van agter- heerlik! Draai af vir Scarborough, waar die kameel se rots is wat ek nog nooit gesien het nie- dalk moet ek volgende jaar stop en kyk. Pragtige dog windverwaaide dorpie, lyk na weird mense wat daar bly- die sout van die aarde. Een van die wonderlikste ervarings op die Argus- as jy vroeg nog in die berg se skaduwee langs Misty Cliffs kan verby ry. Net- net bo seevlak, lekker koel, geen wind nie, dan voel die lewe sommer net reg. Effense moeilike klim en dan 'n vinnige afdraende in Noordhoek in. Skerp links vir Chapmans Peak, reguit aan vir daardie 4 dekselse jare wat ons oor die gehate Detour gery het.

Chapmans Peak is fantasties- dis die rede hoekom ons Argus ry. Die beste uitsig in die ganse wêreld. Jy bars- eers klein Chappies, dan weer afdraende, dan groot Chappies. Daardie ry om die hoek, en dan lê die slangroete op- met fietsryers doer ver daar bo- waar jy met baie sweet en trane oor 5 km gaan uitkom. Maar die uitsig- onverbeterlik!  Daardie lekker verby die ou kliptolhuisie, die bo uitkom, en dan daardie heerlike gejaag teen die afdraende aan die anderkant af tot in Houtbaai. Hier kramp my bene al te gesellig. Daardie draai na regs, en dan... Suikerbossie. Eers een kilometer op. Die hele Houtbaai sit en braai langs die pad. En drink bier- wyse mense... Weer af. En dan twee kilometer kwaai opdraende. Daar sit duisende mense. Sommiges langs die pad spuit jou met hulle tuinslange nat as jy wil. Die vier bane word later net een, so baie mense drom daar saam langs die pad. Trots hou jou op die fiets- jy kan nie voor daardie mooi meisie afklim en stoot nie. Jou longe brand en jou bene kramp. Op, op, op. Halfpad kry jy die padteken met die koffiekoppie en die 1 km teken op. Die lyding is nou eers halfpad, elke 10 km het jy nog 100 meter gevorder, so voel dit. Maar daardie immensely trots gevoel as jy uiteindelik bo- oor Suikerbossie gaan- ek het hom weer 'n keer oorwin! Die vinnige af voor Llundudno verby, nie tyd om te loer of daar iets by Sandy Bay aangaan nie. En die briek daar onder deur die wind as die Suid-ooster in daardie een vallei afkom, en jou van 60 km/u na 10km/u in 20 meter toe vat. As die weer mooi is my vriend, is dit 'n fees om van bo van Suikerbossie af terug te ry. Daar onder die wakende oë van die 12 Apostels gaan dit baie goed met jou, as die wind nie van voor af kom nie- die Suid-wester! Af, Af,Af, verby die 12 Apostelshotel, tot in Kampsbaai. Daar verby al die rykgatte met die Harleys en Porsches, wat saam met hulle supermodel meisies in die Coffieshops sit en bly is dit is nie hulle alies op daardie fietse nie...
Daardie lawwe bult aan die einde van Kampsbaai, waar die Argus se eindpunt nog tot 1996 was. As jy daar kon stop- die uitsig op Clifton se 4e strand is om meer as een rede wêreldklas! En die Suid-Ooster pla nooit vir Clifton nie. Maar jy is op jou fiets, daar bo verby. Deur Clifton en Bantry Bay, waar 'n enkelmotorhuis 'n dominee se salaris vir 'n leeftyd kos... Draai links, in Seepunt in, al langs die see af, Groenpunt stadion toe. Jou bene brand, jou alie is morsdood, maar die einde is in sig. Joune en die wedren s'n. Hou net uit. Baie toeskouers wat sit en wag vir geliefdes, baie wat voor jou klaargemaak het, sit daar met 'n bier in die hand.

Hou net uit. Tot by die tydmeters se matte onder die brug. Briek hard. Klim af. Voel of jou kuite nog daar is. Trek die fietsrybroek se shammy uit jou *** uit. Stap met bewende bene tot waar die vriendelike Rotary tannie jou medalje, jou Coke en Energade voucher vir jou gee. Gooi die Energade voucher dadelik weg- jy is alreeds deur vyf liter van die goed, en is nou gatvol daarvoor. Kry 'n yskoue Coke. Dan sak die besef in- ek is klaar. Ek het dit gemaak! Ek het nog 'n jaar oorleef! Bel vir Mamma tuis, en sê sy kan maar weer die testament terugsit in die kluis. Die Argus is nou verby, maar nog nie heeltemal nie.

Klim terug op die fiets. Jou *** is die hel in vir jou, en jou bene ook. Maar ry tot by die Waterfront. Stop daar by Ferrymans, die ou kliphuisie. Bestel vir jou 'n Mitchell's Bosun's Bitter Draft- dit gaan jou kos. Drink hom vinnig. Gaan badkamer toe. Die urine gaan seermaak, en bloed bevat- dit is normaal vir 'n onfikse vettie soos jy! Gaan terug, kry 'n tweede Bosun's Bitter. Nou begin dit lyk of jy dalk gaan oorleef.  Ry daarna Spur toe, kry vir jou daardie reuse T-Been Steak, jy verdien hom. Terug by jou kar op die waterfront- haak jou fiets aan die fietshaak. Trek jou helmet en jou handskoene uit, trek die fietsryskoene uit en jou ou Crocs aan. Gaan sak agter jou stuurwiel in. Sê vir jouself dit was nou die laaste keer ooit. En as jy by die Waterfront uitry, en op die N1 noord klim, dan is jou Argus uiteindelik verby.

Tot 1 September. Wanneer die inskrywings weer oopmaak. En jy na die fiets onder die dik laag stof kyk, en dink aan Misty Cliffs. En daardie meisie met die volstruisvere voor Chappies in 2007... En jy maar weer...