So gebeur dit toe eendag lank, lank, gelede (gisteraand om meer presies te wees) dat ek 'n uitnodiging kry om saam met wonderlike mense na Loftus toe te gaan. Die geleentheid: Die Super 15 kragmeting tussen die Bulle en die Stormers. Dit het beloof om 'n epiese stryd te wees, soos in vanmelewe se dae toe my eie persoonlike pa nog gelewe het, en so die hel in kon raak vir ene Naas Botha as die Bulle teen WP speel. Pa het sy hele lewe lank 'n Streeptrui gebly, tot op die laaste...
In elk geval, geen regdenkende mens sê Nee vir 'n geleentheid om op Loftus te kom nie, behalwe miskien as iemand baie besonders onnadenkend daardie tydgleuf gekies het om te trou nie. Of as jy in intensiewe sorg lê na 'n onderonsie met jou skoonma, of in die kraamsaal, of onder die puin van 'n aardbewing vasgekeer is- daar mag dalk enkele verskonings wees wat 'n bietjie meriete mag hê. Andersinds, as jy 'n kaartjie het vir Bulle vs Stormers, is enige reggeskape mens daar.
So het ons vriende toe opgeruk in getalle na Loftus toe. Ons het deeglik beplan: daar was vloeibare verversings, biltong en droëwors, en die gasbraaier, steaks en wors en broodrolletjies, tamatiesous en mosterd. Ons het vroeg gegaan, om daar voor Parkstraat 964 te parkeer, en langs die motor te braai. Daar was so enkele vae bekommernissie: dit het gietend gereën. Maar behalwe vir die Sondvloed van Noag se dae, anderkant dag 7, of die reën van Queensland in Australië, mag 'n mens nie reën gebruik as verskoning om nie te braai buite Loftus nie. Die Braai was toe suksesvol ongeag die reën. Goeie vriende, sambrele en 'n gasbraaier is die manier om te gaan.
Annelie, Piet, Adriani, Marie en Billy |
Nadat ons heerlik gebraai het, eendag lank lank gelede, gisteraand, het ons te voet vertrek na daardie katedraal van rugbyaanbidding. Die een ding wat darem altyd wonderlik is, is as jy snags in Loftus ingaan, en so deur die tonnel inbeweeg tot binne daardie helder verligte Colosseum met sy groen gras en blou sitplekke. Die geraas wat eers 'n dowwe dreuning is, dan al hoe meer in intensiteit toeneem totdat dit jou oorweldig en meesleur- kom in, kom word deel van ons!
Ons kry toe baie interessante plekke- kyk, ons was die amptelike verteenwoordigers van die Phagameng Rugbyklub. Ons sitplekke is toe net langs die WAGS se losie. WAGS? Kom uit die sokkerwêreld- Wifes and Girlfriends van die spelers. Dit was pragtig om te sien. Die gemiddelde Bloubul is baie lief vir blonde, baie sexy meisies. 'n Paar van die ouer manne se vrouens het kinders, tot drie soos Bakkies Botha. Sy vrou is 'n pragtige swartkop, soos jy kan sien op die reuse foto van hulle voor Etienne Lewis se winkel in Zambesiweg. Pragtige kinders. Bakkies se seun is seker so 2 1/2, en lyk verskriklik baie soos sy pa, net baie slimmer...
Opmerklik. Nie een van die WAGS of kiddies het Bloubulklerasie aangehad nie. Hulle was wel baie modieus aangetrek, enkeles was ook ver swanger- dit lyk of die skrumwerk darem nie agterweë gebly het nie.
Die aand op Loftus was baie goed vir my jong, onskuldige gemoed. Soveel mooi meisies, soveel wonderlike dinge wat 'n mens beleef daar langs die veld in die reën. En toe draf die Bulle op...
Die Rugby self was nie baie lekker nie. Die ref was 'n p*****l, natuurlik. Maar die Bulle self het ook nie gelyk of daar enige lus was om te wen nie. Almal het rondgetjommel, balle aangeslaan, gepaas wanneer hulle nie moet paas nie, nie gepaas nie wanneer hulle moes paas. So het hulle gesorg vir veertig minute se loutere, onverdunde pyn. Toe kom Laurika Rauch op die veld en stuur groete vir Mannetjies Roux. Maar sy kon dit sommer self vir hom gesê het, want hy het in sy Springbokbaadjie langs haar gestaan... Hy word nou oud, maar sal altyd 'n legende bly in Springbokrugby. Respek, oom Mannetjies!
Toe gaan ek na die kleinhuisie toe daar agter die Laerskoollosie. En my sommer lelik vervies. So 'n omie in sy 60's wat duidelik lekker in die Losie gekuier het, met sy WP baadjie aan, kom druk sommer reg voor die ry in waar ons almal staan en knyp. Klas kan jy nie koop nie...
Toe begin die tweede helfte. En reg voor ons staan 'n duidelike antie in Bloubulklere, met die selfoon in die hand. Haar beste vriendin sit aan die oorkant van die veld, en sy wil net so graag hê haar vriendin moet haar raaksien. So met haar duidelike lyf staan sy en waai en chat op die selfoon, met nie 'n saak wie agter haar sit en nie die spel kan sien nie. Klas kan jy nie koop nie...
Die ander ding wat sleg is op enige stadion, is wanneer daar wel iets opwindends gebeur. Outomaties staan almal skielik op om beter te kan sien, of daardie lankgeknypte poep te los, of wat ook al. Maar omdat almal skielik staan, kan niemand iets sien nie. As almal net mooi bly sit het, kon almal sien... Klas kan jy nie koop nie...
Die een ou op die veld wat sy kant gebring het, was die Bulle se Mascot. Daardie ou is uitstekend! Dit is lekkerder om vir hom te kyk as vir Wynand Olivier. Baie beter bewegings. En die Bulls Babes was ook pragtig in hulle blou en wit uniformpietjies.
Die rugby was uit 'n Bulondersteuner se oogpunt 'n ramp. Bryan Habana het sy eerste drie sedert die groot Runderpes van 1896 aangeteken, en was so duidelik aangedaan oor die enkele oomblik van sukses in 'n lang, lang tyd wat na sy kant toe gekom het. Dié drie was so skuins voor ons, 'n mens kon elke trekkie op sy gesig duidelik sien. Dit was nie die afgelope tyd lekker om Bryan Habana te wees nie.
Die Stormers wen toe die wedstryd met 23-13. Ek wou toe eers vir die Bulle se dames ('n mens mag nie sê koeie nie, want nie een van hulle lyk soos een nie) vra om tog asseblief geen skrumwerk toe te laat tot die manne se "performance" op die veld verbeter nie. Maar die moed het my begewe. Dink net, ek kon net daar die Super 15 se gang vir 2011 drasties verander het.
Dankie vir die kaartjies, Billy, dit was nog steeds BAIE lekker, ongeag die rugby!
Let op Mev Bakkies Botha daar langs Annelie |
:
Nee wat, jy gee Blou Willem en Dana Snyman 'n goeie go!
ReplyDeleteUit respek vir jou pa glo ek jy is in ekstase oor die uitslag van die wedstryd!! ;)
ReplyDelete