'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Tuesday, May 3, 2011

Camino de Santiago- D-Dag minus 24

Vrydag oor drie weke is die groot dag waarop ek op die Lufthansa vliegtuig klim. Weet julle, my maag begin draai oor die gedagte. Ek begin wonder: wat op aarde het ek aangevang!  Die vrees pak my beet in die aand in die bed. Hoe gaan ek die stappery oorleef? Ek het gisteroggend weer 12 km gaan stap, met 'n ligte rugsak. Ek het nie naastenby geoefen soos ek moes nie. Ek het nog nie die Spaanse taal CD's hierdie jaar geluister nie. En daar is nog so baie om in die gemeente te doen hierdie tyd van die jaar, gaan ek al my takies klaarmaak voor die tyd?  So baie klein jakkalsies kom vreet snags my wingerd op...

Aan die ander kant, ek het Donderdag sonder enige moeilikheid my Spaanse visum gekry. Daardie Credential briefie van die Confraternity of Saint James is regtig die goue kaartjie van Charley and the Chocolat Factory. Ek het al die toerusting wat ek wou gehad het. Anja het vir my my eie unieke Camino wapen ontwerp. Die oorspronklike is mos die "scallop shell"- daardie skulp wat die Shell oliemaatskappy ook as logo gebruik. Die simboliek agter die Camino skulp is dat alle paaie na Santiago de Campostelo  toe lei- waar die apostel Jakobus volgens legende begrawe lê. Ek wil nie vir Jakobus gaan kuier nie. Ek wil saam met Jesus 'n pad deur my lewe stap, en stilte beleef om net te kan wees, en die koers vir my toekoms te gaan deurdink. Daarom is daar op my embleem die kruis van Jesus bygevoeg- sonder Hom is alle ander paaie redelik nutteloos volgens my verstaan. Hier is Anja se ontwerp, wat op my hoed en hemde en rugsak geborduur gaan word...

My persoonlike Camino logo, soos ontwerp deur my dogter Anja
Aan die een kant raak ek baie versigtig vir die onbekende reis wat voorlê. Aan die anderkant begin die roete my naam al harder roep, en weet ek dis een van daardie geleenthede wat die Here vir 'n mens soms êrens langs jou lewenspad skep, om jou aan te raak en vir altyd te verander.Ek moet bieg dat ek banger vir die onbekendheid is as wat ek soms voorgee. Maar ek is ook so baie, baie lus vir 'n avontuur!

Hoe fiks kan 'n mens nog raak in 24 dae sonder om myself seer te maak? Hoeveel Spaanse woorde kan ek leer in 24 dae? Watter positiewe verskil kan ek nog in 24 dae in my gemeente maak? Soos op my blog gesien, is die klok besig om te tik. Tempest fugit.

4 comments:

  1. Hi Ewald - dis nou oorspronklik! Het 'n vraag onder jou vorige pos gelos, nie seker of jy dit gesien het nie? Voorspoed met die voorbereiding - ek dink as jy elke dag net so 'n halfuur stap sal jy ook ok wees.

    ReplyDelete
  2. Baie dankie Emilene! Nog nie die ander vraag opgespoor nie, sal daar gaan soek.

    ReplyDelete
  3. So 'n onbekende "weet nie wat gaan gebeur" opwinding is iets om na uit te sien. Sterkte met die laaste 3 weke se voorbereidings

    ReplyDelete
  4. Moenie vergeet om RUS ook in jou voorbereiding toe te laat nie!! Veral die laaste week.
    4 dames van ons kontrei het dit gaan stap. Een dag het hulle effens onseker geraak van die pad in 'n dorp. Hulle vra toe in die heel beste "spaans" hulp by 'n man wat daar verbygestap het. Toe hulle uiteindelik, met baie afrikaanse opmerkings en al, vir die man kans gee om te praat, s♪ hy: "ek het nie die vaagste benul nie" !!! :) Lekker stap

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?