'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Wednesday, March 30, 2011

Laerskool Nylstroom in situ in Volksrust

Dit is 'n jaarlikse hoogtepunt vir rugbyliefhebbende ouers van Laerskool Nylstroom, die begin van elke Maart vakansie. Op uitnodiging van Laerskool Pionier in Volksrust vergader die ses skole: Pionier, Marietjie van Niekerk (Marietjie speel baie goeie rugby!), Lucas Meyer, Generaal Iemandbekendvanlanklankgelede, Oranjegloed (vernoem na die industriële besoedeling se weerkaatsing op die suurreënwolke in Secunda), en dan natuurlik Laerskool Nylstroom.

Lank voor die tyd vergader die ouers van die o/11 span rondom 'n braaivleisvuur by die laerskool. Spanklere word uitgedeel. Kwaliteite van elke speler word besing, borge word plegtig bedank. Die vure brand hoog, en die pappies word dors. Rugby gaan seëvier in Volksrust! Die volgende aand is dit die EERSTESPAN se beurt- daardie droom ouens van elke graad vyf dogtertjie. Die geleentheid word herhaal, met nog meer opgewondenheid. Klere word uitgedeel, die borge het goed gedoen vanjaar!

Elke moontlike gastehuis in Volksrust word vroegtydig bespreek, die een by die dam is eerste op die ranglys. Proviande word vroegtydig aangekoop. En dan, Sondagoggend vertrek die Konvooi. Volksrust word op horings geneem, en die seuns word ingeburger.

Maandagoggend skop die rugby in alle erns af. Die ouers maak 'n tonneltjie, die seuns, ons trots, hardloop daardeur. Eers die onder Elfs, later die Eerstespan. Hulle kry die nodige eerbied, hierdie draers van ons Toekomshoop. Breëbors draf hulle op- toekomstige Bulle en Bokke, in pappie en mammie se oë- elke liewe een van hulle.


Maar o wee, vanjaar gaan dit nie heeltemal so goed met ons nie! Die ander skole het intussen leer rugby speel. Natuurlik was dit dikwels die Ref se skuld- 'n hele paar van hulle het dan nie eens kwalifikasies as skeidsregters nie. Maar ons Toekomshopies maak dit ook nie makliker nie. Die hartseer realiteit is: die eerstespan is nie heeltemal so goed soos laas jaar s'n nie. Ons moet onthou, 'n klomp kernspelers het aanbeweeg Hoërskool toe. En elf van die eerstespan is nou eers in Graad 6. Ons bou vir volgende jaar, 'n mens kan nie elke jaar die Volksrustweek wen nie!

Halftyd breek aan. Die koppe hang. Mnr Hempies praat moed in.

Die koppe styg tien grade, die gesigsuitdrukkings raak meer vasberade... Helaas, nog balle word ge"knock". Die wedstryd gaan ook na halftyd nie heeltemal na verwagting nie. Pa's se humeure vat vlam, ma's spring op en af, die spel gaan voort...  genadiglik blaas die eindfluitjie uiteindelik.

Die ma's gaan sit op die kampstoele. Die pa's verdwyn een na die ander- dorp se rigting toe. Trio slaghuis word vinnig ontdek, en ook die paar "grootmens-apteke" in die hoofstraat, wat hoesmedisyne verkoop, vir die keel.

Terug langs die veld, en daar kan omtrent 'n beheerliggaam verkies word- daar is verseker 'n 15% kworum soos vereis deur die Onderwyswet.  Daar is baie Nylstromers langs die veld- die meeste van al die skole teenwoordig.

Uiteenlopende beroepe is daar langs die veld verteenwoordig- prokureurs en boere, bandemagnate, en mondhigiëniste, 'n verdwaalde dominee en 'n tronkbewaarder, 'n satelietskottelingenieur en 'n deurmaker. Polisiemanne, seepmakers, en... 'n genuine egte Pool! Nie Noord of Suid nie, van Poland af. Op besoek aan Suid Afrika saam met Blackie se kinders.

Soveel verskillende beroepe is daar langs die veld verteenwoordig, uit omtrent elke denkbare geloofsgemeenskap uit die dorp uit. Mense word groot vriende daar langs die rugbyveld, die liefde vir rugby en die liefde vir ons kinders bind ons saam, hegter as wat die kerk dit regkry. Daar is tyd vir baie gesels, daar is tyd om mekaar baie beter te leer ken. Maskers val af, ons almal is maar net mens.



Maandagaand is daar 'n ouerbraai daar langs die rugbyveld. Nee, ons braai nie ouers nie, die ouers braai lekker saam. En die sakegemeenskap van Volksrust word elke nou en dan al hoe liewer vir ons- daar sal more weer 'n aflewering van Klippies en Cola uit die grootstad moet wees, anders gaan die plaaslike bevolking opstandig raak.  Maar dit is baie lekker- om met mense te gesels rondom die vuur, en net te hoor wat in hulle harte aangaan, sonder dat dominee dit "huisbesoek" hoef te noem.

Dinsdag se rugby kom en gaan. Soms gaan dit beter, soms nie. Dit maak nie regtig saak wat die uitslag is nie, Nylies is wenners. Seuns leer om oorwinning met grasie te aanvaar, om nederlaag in die gesig te staar en te soek na beter vir die volgende wedstryd. Enkeles wonder dalk net hoekom hulle die hele tyd "bench", as ander net soveel aanjaag soos hulle?

Woensdagoggend kom, die laaste rondte vind plaas. Daarna kom die prysuitdeling. Oor die hele ou Republiek van Suid-Afrika is Afrikaners oral dieselfde- ons hou van baie praat. Oral praat ons dieselfde dinge, op dieselfde stemtoon, en maak dieselfde ou grappies. Eers word al die borge weer plegtig bedank, sonder hulle (en ons aansienlike koste per kind!?) sou die geleentheid nie moontlik wees nie. Al die helpers word bedank, van die skeidsregters tot ou Sophie in die kombuis. Al die afrigters, al die ouers, al die bestuurders wat nugter gebly het om die kinders daar te kry (OK, hulle het dit nou nie gesê nie :-) )
Die seuns sit almal in die bloedige son, die afkondiger belowe om gou te maak, maar hy kry dit nie reg nie.

Daarna wil 'n ander skoolhoof ook eers namens die besoekende leerlinge die gasheerskool bedank, en die afkondiger, en die oulike dames wat so lekker kos gemaak het, en...  'n hele paar minute se woordewaarde deur die liewe skoolhoof van Drakensberg.

Uiteindelik word die Voorsitter-van-die-beheerliggaam-se-vrou genooi om die medaljes en trofees uit te deel. Die wonderlikste spelers van elke moontlike aard word bedank. Die wenners kry goue medaljes, silwer vir die tweedes, brons vir die res. Na baie woorde het elke seun erkenning gekry.

'n Groot sirkel word in die middel van die veld gemaak deur al die spelers en afrigters. Daar word mooi gebid, en dankie gesê vir veiligheid op die veld, vir talente, vir die spelers se gesindhede, en vir die mooi spel wat ons kon geniet het. Amen.

Tot volgende jaar- veilig ry! Onthou van die "special" by Tops op Klippies en Coke... hulle is een van ons borge...

Rugby het weer geseëvier...

No comments:

Post a Comment

En jy daar, wat sê jy?