My Skoonsuster word vandag 50 jaar oud. Swaer is 'n digter, en het al verskeie gedigte aan haar opgedra. In elkeen van sy gepubliseerde bundels sal jy 'n gedig aantref: Vir Retha. Skoonsus het ook verlede week Ouma geword!
Gister het ons daar buite Pretoria as skoonfamilie bymekaargekom en fees gevier.
Skoonma was daar. Vir die meeste ouens is dit 'n krisis, die meeste vrouens verander as hulle dogtertjie trou, in 'n wrede gedrog met skubbe en kieuwe en so 'n branderige knoffelasem wat in vlamme uitbars. Ek is een van die bitter min ouens wat nie daardie probleem het nie. My skoonma was van die eerste dag af baie nice met my. Dalk het sy gedink omdat ek 'n dominee is, sal ek nie 'n wrede wolf met haar dogter wees nie. Juffrou, ek is nie 'n wolf nie, maar halloooooooooooooo! Ek dwaal van die punt af. Skoonpa is einde Januarie oorlede. Skoonma begin nou met groter vrymoedigheid wegbeweeg van die huis waar sy so lank vir Skoonpa versorg het. Skoonma was gister daar, en dit was baie lekker.
Een sussie, die jongste sit in Ierland (sy skryf Groete uit Ierland op Blogger). Ons het haar gister baie gemis, saam met haar gesin. Die res van ons was almal daar. Skoonma en Skoonpa het gesorg vir 'n groot nageslag. Hulle het vyf kinders, en elkeen behalwe die jongste het vier en meer kleinkinders voorsien vir die uitbreiding van die volk en vaderland. Gister was daar twee susters, en twee broers, met eggenote en aanwas teenwoordig. Plus nog 'n hele klomp vriende. O ja, as julle dink ons teel woes aan- die een vriendin was daar met 'n pasgebore tweeling. Hoor hierdie een- sy het nou vyf kinders, waarvan die oudste vier is! Pragtige mamma, lyk goed versorgd, haar man lyk so half verdwaasd...
Skoonsus se oudste is 'n chef van die voorste gestoeltes- sy publiseer 'n baie wyd geleesde kosblog.
Ons het gister geëet! Eet is een van die oudste vreugdes wat gemeenskap veroorsaak. Daardie gevoel dat ons saam behoort. Toe ons daar aankom, het swaer die wonderlikste wynversameling uitgepak. Daar was so besondere Italiaanse bottel met daardie geweefde bodempie op, wat hemels was. Verskeie ander belowende bottels beleë vreugde in wit en rooi.
Tussen Skoonma, Skoonsus en Niggie het hulle kos gemaak! (Moenie die prentjie kry van kappies en Voortrekkermonument nie, inteendeel, hulle is heel aan die ander kant van die spektrum van Afrikanerskap...)
Die wonderlike fees het begin met Franse brood, met drie verskillende olyfolies en Dukus (sulke sade en gebreekte neute uit Marokko uit) gedoop in balsamiese asyn. In die Spaanse Tapas tradisie was daar Boggerol (ek weet mos nou nie hoe om dit te spel nie- dis sulke neute wat jy peusel.) Daar was verskillende kleure olywe wat met knoffel gestop is. Daar was sulke wit vissies (is hulle nou die boggerol?) en verskeie kasies. Saam met Sangria. EK en bebaarde swaer (meer tradisionele Afrikaner) het ingelê in hierdie voorgereg. Hierdie swaer en sy vrou ruik aan die wyn se prop, dan het dit al 'n invloed... Ons het gegiggel soos nonne wat wortels rasper in die kloosterkombuis.
Na die voorgereg het ons bymekaar gekom op die stoep terwyl die reën heerlik val daar buite. Swaer Digter het 'n kosbare heildronk op sy vrou ingestel. Hy het een van sy ouer gedigte aan haar voorgelees. Hy het baie emosioneel dankie vir haar gesê vir die kosbare lewenspad saam, vir die ses kinders wat hulle saam kon grootmaak, ook vir seer tye wat hulle saam kon troos vind in mekaar se arms. Hierdie twee mense se liefde vir mekaar en vir hulle gesin is baie inspirerend.
Toe het ons ingeval by die hoofgereg. Ek ken nie al die fensie name nie. Maar daar was wildspasteie, en skaapboud in sulke netjiese snitte. Daar was verskeie slaaie en die lekkerste aartappelgeregte. Die pampoenkoekies was hemels! Een bord kon nie soveel vreugde maklik bevat nie.
Nagereg heelwat later was ook weer iets besonders. Daar was gesmelte sjokelade met marshmellows en piesangskywe, daar was die wonderlikste Pavlova met granaatpitte, daar was 'n bloubessietert, en nog ander gebakte poedings. Maar op hierdie stadium kon ek nie meer 'n enkele ryskorrel inneem nie.
Ek self het nie baie familie nie. Ek het net 'n ma in Suid- Afrika, en 'n oom wat besig is om aan kanker te sterf in Hermanus. Ek het 'n suster in Engeland, wat besig is om te skei, na wie ek baie verlang deesdae. Dis my familie- dié wat ek mee kontak het.
My skoonfamilie het my familie geword. Ek is baie lief vir dié klomp mense.
Ouboet in Heidelberg, met sy unieke humorsin, wat rekenaars programmeer vir die bank.
Ousus wat met Digter getroud is in Pretoria- swaer is ook kerkleier van 'n netwerk- kerk.
Baardman boetie se huis is in Volksrust, hy is 'n elektriese ingenieur en sy vrou is 'n Chemiese kenner en onderwyser.
My vrou is nommer 4. Kleinsus is in Ierland, haar man is 'n elektrisiën.
Die klompie het tussen hulle vir twintig kleinkinders gesorg. En verlede week is Skoonma se eerste agterkleinkind gebore. Skoonsus het Ouma geword, en die jonge heer was ook by sy ouma se partytjie.
My skoonfamilie is so uiteenlopend wat politiek en geloof aanbetref. Daar is soveel verskillende sieninge en waardes in die verskillende huisgesinne. Maar daar is liefde. Wanneer die familie saamkom, is dit met soveel vrede, en soveel humor. Dit is vir my so lekker om deel van hierdie groepie mense te wees. En soms lyk dit of party van hulle nogal oor die weg met my ook kom!
Dankie dat julle ook vir my plek gemaak het in die familie! Die dag toe ek loop vrou vra, het Skoonpa dadelik gesê: "Welkom in die familie." Dankie dat ek nog steeds welkom is.
ook gepubliseer op my ander blog- nie plagiaat nie!
ReplyDelete