In my lewe is daar heelwat dinge waaroor ek onseker is. Ek is baie dikwels onseker oor watter kar ek moet ry, oor watter motorfiets vir my beskore is. Ek is dikwels onseker oor myself en my eie identiteit. Ek is onseker tussen mense. Ek is dikwels onseker oor my beroep, en wonder of ek iets daarin regkry. Ek is selfs dikwels onseker oor God, oor geloof, oor gebed...
Maar ek het baie lank terug sekerheid oor een ding gekry- daar is net een mens wat ek langs my op die lewenspad wil hê. Ander kan saamstap, en hulleself ons kinders noem. Nog 'n paar besondere ander kan saamstap, en hulle ons vriende noem. Elkeen van hulle is vir my baie kosbaar.
Maar die kosbaarste een van almal bly Jy wat vir my ja gesê het. Jy wat gekies het om met jou hele menswees deel van my lewe te word, en my toegelaat het om deel van jou lewe te word. Jy wat vir my nog altyd so mooi is. Jy wat so kalm kan bly as ek dit verloor langs die pad. Jy wat met soveel wysheid kan redeneer, en soveel opsies kan onderskei vir die keuses wat ek moet maak. Jy wat met soveel humor daar binne jou sit, en met ogies wat so kan vonkel groot waarhede kan kwytraak in 'n grap.
Jy wat so 'n uitstekende moeder vir ons kinders is. Jy wat soveel van jouself kan gee, en so bitter min vra. Jy wat die groot seer met soveel geloof kan dra, en met soveel hoop deur moeilike tye kan gaan.
Dankie dat jy verby al my nonsens kan kyk, en my ken vir wie ek werklik is.
Dankie dat jy in my glo, selfs al sukkel ek so dikwels om dit self reg te kry.
Dankie vir die potensiaal wat jy in my sien, en wat jy met jou menswees en jou daarwees al soveel vorm help gee het.
Dankie dat jy my nooit gelos het nie, al het ek jou al soveel keer moedeloos gemaak.
Dankie dat jy glo, in dae wat ek nie die Here se stem kan hoor nie.
Dankie vir jou humorsin, al het ek al jou grappies so verkeerd verstaan.
Dankie dat jy so opreg is, en so eerlik is, dat almal weet waar hulle met jou staan.
Dankie vir daardie pragtige oggend in Bloemfontein se klipkerk, toe jy met daardie bewende bossie blomme aan jou pa se sy in die gang afgestap het, om jou lewe met my te deel.
Dankie vir ons vier pragtige kinders, wat elkeen ietsie van jou wonderlike eienskappe het. Dankie vir ons twee kinders wat in die hemel gebore is, waar ons saam seergekry het, en in mekaar se arms troos kon vind.
Dankie dat jy my beste vriend is, met wie ek alles kan deel. Dankie dat ek na jou kan verlang wanneer ek weg van jou af is, dat ek nooit 'n sonsondergang soveel waardeer as jy nie langs my is om dit saam te geniet nie.
Dankie dat jy my beminde is, in jou arms kan ek in die hemel glo.
Dankie dat jy met soveel liefde vir my kos maak, dat elke ete saam met jou 'n baie spesiale ervaring is.
Dankie dat ek altyd seker van jou liefde is, dankie dat ek altyd op jou kan staatmaak, dankie dat ek jou nog altyd met my diepste hartsgeheime kon vertrou, dankie dat jy my so goed ken dat ek niks vir jou kan wegsteek nie, jy lees my gesig soos 'n kinderboek!
Dankie dat my grys hare vir jou sexy is, dat dit nie 'n bedreiging vir jou is dat ek ouer word nie.
Dankie vir 21 jaar met al die seer, en vreugde, wat ons kon deel. Dankie dat ons saam geliefdes se dood, en nuwe geliefdes se geboortes kon deurmaak.
Ek is so ongelooflik dankbaar dat jy my lewensmaat is. Ek is so onbeskryflik lief vir jou na al die jare, en op een of ander Goddelike manier word dit net al hoe sterker soos ons ouer word.
Ek is so jammer vir die kere wat ek jou hartseer gemaak het. Ek is so jammer oor die kere wat ek lelike dinge vir jou gesê het, wat ek jou goeie bedoelings so kon misverstaan en in jou gesig kon teruggooi.
Dankie vir die dans van die lewe wat ons twee saam kan dans. Ek hoop regtig ons word gespaar om eendag ons 50e huweliksherdenking oor 29 jaar saam te kan vier. 31 Maart 2040. Ek weet as dit so uitwerk, gaan jy vir my sê: "Sien, ek het jou mos gesê alles gaan reg uitdraai, waaroor het jy jou so bekommer?" Ek hoop daardie dag is ons weer in die Blue Peter, derde kamer in die gang af, met die wonderlike uitsig oor Tafelberg en Robbeneiland. As ek dit nie tot daar maak nie, sal ek in die see jou naam saggies roep...
Soos 21 jaar gelede sê ek vandag weer: Hier is my hart, en my hand. Ek gee myself vir jou, vir altyd.
Sooooo, pragtig. Mens is net meer lief vir mekaar as jy baie dinge deurgemaak het.
ReplyDelete