'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Monday, April 11, 2011

Vrydagaand se Lamskerriepotjie in die Pastorie

'n Week in die Pastorie is nogal baie, baie besig. Dwarsdeur die week hardloop elkeen van die inwoners in hulle eie rigting. Pa hardloop rond tussen huisbesoeke, huwelikskategese, huwelikspanning, sterfgevalle, vergaderings wat baie sinvol is, vergaderings wat na nêrens lei, en soms net agter mense se doodgewone nonsens aan.  Ma hardloop rond agter skoolwerk aan, en speel algemene Taxi vir al die inwoners wat nog nie scooters op die pad mag ry nie. Ousus is in matriek en het 'n scooter- sy word net nou en dan opgemerk in die wandelgange. Ouboet is te vinde naby die naaste spieël, soos hy van nog 'n oefensessie af terugkom. En die jongste twee is maar êrens besig om te baklei, of oor die algemeen te KKNK.

Omdat elkeen 'n stywe dagboek het, is die een, enkele aand waarna ons geweldig baie uitsien, Vrydagaand. Saterdagaand werk nie in die Pastorie nie. Dan is Pa gestress oor Sondag se preek. Saterdagaand is nooit 'n goeie kuieraand in die pastorie nie.

Maar Vrydagaande is ons aand. Dan probeer ons die gesin bymekaar hou, en saam iets lekkers eet. Dit is hoekom hierdie Dominee nooit baie gelukkig lyk as een of ander gemeentelid 'n visie kry om op 'n Vrydagaand 'n gemeentefunksie te reël nie. Daar was selfs al van hulle wat so oorywerig was om 'n gemeenskapsbiduur op 'n Vrydagaand te probeer reël- gee jou beste tyd vir die Here, sien? Maar as Dominee nou nog daarby ingeskakel het, dan was hy nie meer vandag gelukkig getroud nie. Daar kom 'n tyd wanneer gesin eerste moet kom. Vrydagaand, met die hoogste uitsondering, is so 'n aand in ons huis.

Op 'n Vrydagaand sal ons soms vriende oornooi. Mense wat waarde toevoeg tot ons gesinslewe. Mense wat die lewe vir ons lekkerder maak, hulle is welkom op 'n Vrydagaand. Maar mense wat ons aan diens laat voel- hulle is welkom op 'n ander werksgerigte aand.

Die afgelope ruk het ek dikwels verby restourante gestap wat Lamskerrie op die menu het. Toe die jongste twee rugby gespeel het in Volksrust, het die mammies van daardie skool die heerlikste lamskerrie en rys bedien- die beste wat ek nog ooit geproe het. En toe ek nou die dag by Meatrite verby ry, is daar C graad skape beskikbaar teen 'n uitstekende prys. Kyk, deesdae kos 'n skaap meer as 'n motorfiets! As 'n mens 'n skaap op 'n eerbare manier in jou vrieskas kan kry, dis nou te sê nie soos agter in die ambulans nie, dan het jy 'n stuk lewensgeluk beleef.

Vrydagaand was dit weer so. Vroeër in die week het 'n vriend 'n bottel Chateu Libertas daar agter gelos. Daar was 'n pakkie skaap oor. Darem nog twee uie te sien in die spens.  Ons gaan koop 'n pakkie klein aartappeltjies, en 'n sakkie bevrore groente.

Vir 'n slag was ek sommer net lus om in 'n skottelskaar op die grond vuur te maak, en net op my blaker daar te sit, niks fênsie nie. En terwyl ek die vuur aan die gang kry, potjie warm maak, olie ingooi en uie braai, kry ek lekker kans om met my naamgenoot te sit en gesels. Of ek gesels, en hy luister na sy musiek op sy selfoon!  Maar ons sit langs mekaar en geniet die middagson, en mekaar se teenwoordigheid.

Dis vir sulke oomblikke dat ek lewe. Oomblikke saam met my geliefdes. Oomblikke wat ons maar net die lewe se mooi saam kan geniet.

Later die middag het goeie vriende by ons aangesluit by ons glad-nie-fensie viering van die lewe.
Ons het heerlik gekuier. Groot dinge gesels. En dit was 'n baie mooi aand. Ook ma en dogter kon tot laat sit en filosofeer oor die lewe rondom die kampvuurtjie na ete.

Wel, dit was die vinnigste wat een van my potjies nog ooit opgeëet was. Skaap doen dit aan 'n mens!

Wil jy ook probeer? Hier is so effense aanduiding van wat gebeur het, maar soos in enige selfrespekterende potjie is alles maar na gedagte bygevoeg, en nie in presies afgemete hoeveelhede nie.

Bestanddele:
Skaap
Aartappels
Gemengde groente
Rys
Twee uie

Speserye:
Mild kerrie. 1 teelepel en 'n bietjie koljander. 1 teelepel komyn. 1 teelepel gemmer. Bietjie ou rooiwyn, wat jy nie die vorige keer kon klaarmaak nie (sou dit moontlik wees!)

Metodologie:
Kry 'n nommer 3 potjie op 'n stabiele hitte. Gooi alles bymekaar. Los tot skaap sag is. Eet.
Bietjie fyner?

Verhit die potjie oor die kole. Gooi kookolie in en laat dit warm word. Kap die uie in fyn stukkies, soos Jamie Oliver dit in die Bosveld sou doen met 'n Okapi mes. Braai die uie tot bruin in die olie. Voeg die kerrie, gemmer, komyn en koljander by. Jou skaap is in blokkies gesny, of in hanteerbare stukkies gebreek, soos jy dit verkies. Laat die skaap lekker bruin braai in die pot vir 'n ruk. Hy maak sy eie sous. Later kan jy vir hom so bietjie rooiwyn (enige iets tussen 100 ml en 1 l- dis jou pot!) byvoeg vir ingeval die hitte die skapie dors maak. Los lekker lank, so lank soos wat dit neem om die Blou Bulle se wedstrydstrategie teen die Crusaders (27-0 verloor) te ontleed en beter alternatiewe vir die afrigter saam te stel.

As die kok goed gemarineerd is, en die skaap begin sag word, voeg jy die aartappeltjies by. Gooi 'n stewige handvol Marina Braaisout bo-oor. Los vir nog 'n ruk, terwyl jy of jou geliefde elders 'n pot rys gereed maak, veral Basmati rys werk lekker vir kerriepotjies.  As die aartappels amper sag is, dan voeg jy die gemengde groente by, en los hulle tot dit net lekker deurwarm is. As dit nou net anderkant Payday is, dan kan jy ook klein sampioene bo-op gooi- dit maak dit baie lekker.

As alles nou eers gereed is (en jy bepaal dit, dis jou pot, onthou. Moet nou nie vir wetenskaplike tydsberekeninge vra volgens Greenwich se Mediaantyd nie- as jy dit soek, bel vir Jamie of Ainsley of Gordon), dan bedien jy dit op 'n bed van rys. Jy pak dit baie netjies op die bord, en neem 'n foto, en stuur vir Huisgenoot se wenresepte en vir jou ouma. Of jy begin 'n blog oor die ervaring. Wie sou nou so iets wou blog?

As jy hierdie potjie maak, maak seker dat jy omring is met mense wat jy werklik voor omgee. Mense saam met wie jy 'n botteltjie rooi kan deel. As jy dit nie in jou lewe het nie, gaan  koop eerder KFC en gaan sit voor die TV, en drink Savannah Light. 'n Potjie en 'n bottel rooiwyn is bedoel om gedeel te word, sodat dit deel kan word van die mooi ervarings van jou lewe. Dit is nou LEWE! KFC en Savanna Light het jy al klaar twee dae later vergeet. Dit is net bestaan. Tot volgende Vrydag!

Monday, April 4, 2011

Die pad na Santiago toe...

Vanoggend omstreeks 03h30 skrik ek skielik wakker. Ek besef skielik weer dat my droom om die Camino de Santiago te gaan stap, nou so naby as volgende maand is. En daar is nog so baie om te doen voor ek op Lufthansa vlug LH573 via Frankfurt na Madrid toe kan klim op 27 Mei 2011 om 18h55.

Reeds gedoen:
Koop 'n vliegkaartjie Spanje toe- reeds op 1 Augustus 2010 gedoen, en baie goeie prys self op die Internet by Lufthansa gekry- Flight Centre wou my op EGYPT AIR!!! vir meer as R2000 meer geplaas het. Dis darem net baie lekkerder Frankfurt oor met 'n vliegtuig met movies en bier,  as weer op Egypt Air sonder movies en bier, en met 'n F veiligheidsgradering, en 'n oorstaan op Kaïro en 'n helse lang tweede vlug Madrid toe.

Toerusting aangeskaf:

  • Stapstewels wat goed ingestap moet wees, na deeglike opleeswerk besluit dat Wolverine Fortis die ding behoort te doen. Hulle is darem alreeds ingeloop- hulle gee my nie meer so baie blase nie!
  •  'n Baie kleiner rugsak as my 85 l Backpacker Boulder was nodig (anders gaan ek hom volpak!) . Ek het op 'n baie spesiale aanbod by Cape Union Mart 'n KWAY Alpine 55 rugsak gekoop.
  •  'n Baie goeie reënbaadjie van KWAY, met 'n reënbroek, want "the rain in Spain falls mainly on the plain..." daardie stukkie Spanje wat ek mos nou in die lente, in die reënseisoen gaan stap!  
  • Vyf pare goeie stapkouse by daardie wonderlike Cape Union Mart se Factory Outlet in Attenbury Value Mart- teen R20 'n paar, waar dit gewoonlik oor die R70 is vir Timberlands... 
  • First Ascent langboek en hemp, weeg 415 en 215 gram en word baie baie vinnig droog, om in katedrale mee in te stap. First Ascent kortbroek, en drie Drisport hemde van Mr Price Sport. 
  • En die wonderlike dames van my Bybelstudiegroep het my einde laas jaar bederf met 'n kontantgeldjie, wat genoeg was om 'n First Ascent Travelite slaapsak (5 Grade, weeg net 750g!) te koop.
Om nog te doen: sal dalk nog 'n stapbroek van First Ascent moet koop. Finale besluit moet geneem word oor  watter, indien enige bordegoed saamgeneem word, dalk net 'n Spork en 'n plastiese bord en beker.

Wat my vanoggend wakker gemaak het, was die bekommernis oor die reisversekering. Die Spaanse Ambassade wil hê 'n mens moet ten minste R300 000 se mediese versekering hê, met duidelike "assistance", nie "refund" nie as jy wel in die moeilikheid kom. Toe ek destyds by Flight Centre navraag gedoen het, wou hulle aan my 'n polis van R1300 verkoop. Ek het vanoggend om 03h40 op die internet uitgevind ek het voldoende dekking op my Nedbank goue kaart, en het so bietjie ekstra (R5 miljoen vir 'n mediese noodgeval) gekry vir net oor die R413.00. Reisversekering is nou uitgesorteer.

Nou kort ek nog net Maart se amptelike bankstaat, want die Spanjaarde wil 3 maande s'n sien om te kyk of ek ook 'n  "illegal alien" gaan wees uit Afrika.  Hulle wil graag adresse hê waar ek gaan oorbly, en ek hoop my Pilgrim's Passport, wat 'n mens by die Confraternity of Saint James of South Africa in Kaapstad bestel, gaan die ding doen.  Ek weet nog nie eers hoe ver kan my liggaam in 'n dag stap nie!

Ek sal my twee visavorms moet invul, kleurfotos kry, en dit persoonlik by die Spaanse Ambassade gaan inhandig. Dit lyk of die Visa nogal ook ietsie gaan kos!

Die ander ding wat ek nog glad nie uitgesorteer het nie, is sakgeld. Dié wat dit al gedoen het, sê 'n mens het so ongeveer R250- R300 per dag nodig om in die pelgrimshostels te slaap, en 'n Pilgrim's Menu by 'n plaaslike restaurant te eet. Gerugte wil dit hê dat 'n mens vir 10 Euro 'n driegang maaltyd met 'n bottel wyn kan kry as jy 'n pelgrim is. Ek moet eers 'n Visum hê, voordat ek kan geld wissel. Geld het ek ook nog nie. Sal dalk uit die huislening so effentjies moet leen.

En dan, die laaste ding wat ek nou aan kan dink, is om te begin stap. Ek het nouwel die Argus vanjaar oorleef, maar die stappery is totaal 'n ander "ballgame"!  Ek sal binnekort moet vroeg begin opstaan, en dan so 8km vroegoggend gaan stap. My voete moet nou finaal gewoond raak aan die stappery, die ou magie moet begin krimp, en die spiere moet klaar rek- want ek beplan om tot 26 km per dag te stap.

Die heel heel laaste ding wat ek aan kan dink, is om nou my Spaanse taalles CD te begin luister. Daar waar 'n mens op die Camino Frances wil loop, klink dit nogal erg plattelands. Dié ouens het glo nog nooit rede gesien om Engels te leer praat nie. En 'n mens wil darem weet waar jy vanaand kan slaap, waar jy kos kan kry, waar die naaste toilet is, en wat die goeters kos.

Soos julle op die Blog se buitekant kan sien- die klok is besig om te tik- die tyd loop uit. Ek begin al meer bang raak, en versigtig uitsien na hierdie ervaring. Gaan ek dit kan maak? Gaan ek die stilte kan hanteer? Gaan ek die lang tyd van die huis af kan hanteer? Gaan my kinders vir my "oom" sê as ek terugkom?

Ek moes kies tussen die ses verskillende roetes na Santiago toe. Ek het maar besluit op die oudste een, die roete vanuit Frankryk uit. Dit lyk of die infrastruktuur daar die beste is, en die dorpies is naby aan mekaar. Maar die Portugese roete- van Porto af teen die Atlantiese kus op tot by Finistere en dan na Santiago toe, het ook goed gelyk. Die roete van Madrid af boontoe is die nuutste, maar dorpe is ver uit mekaar uit. Die Engelse roete is weer te kort, net net oor die minimum 100 km wat 'n mens nodig het om jou sertifikaat te verdien.

Hoekom hierdie tyd van die jaar? Ek het baie op die Internet gelees, en baie boeke tweedehands op Betterworld gekoop oor die Camino. Op 24 Junie begin die Europese lang skoolvakansie. Dan raak baie restaurante baie duurder, en die hostels raak skielik vol toergroepe vol skoolkinders. En hulle gaan die beddens beset, en die stilte verbreek. Daarom het ek gekies om die 22e Junie terug te kom, en van daar af drie weke teruggewerk. Dit is in die Europese lente net voor hoogsomer. April is 'n baie besige tyd in die kerk, ek kon dit nie aan my kollega doen om dan langverlof te neem nie. Maart kan nog baie koud wees in die berge. Julie en Augustus is duur, en baie, baie warm. En so bietjie later kan dit weer baie baie koud in die berge raak.

Ek sou so graag die hele Camino Frances, van St Jean Pied de Port af wou stap. Maar dit is 800 km, oor drie bergreekse soos die Perineë. Al waarvoor ek nou kans gaan hê, is 300 km van Léon af.  (Ek sou so graag Pamplona wou sien, 200 km verder, waar die mense saam met die bulle hardloop- nee, nie Bakkies en Victor nie, daai met die twee skerp horings voor). Ek kan my vrou nie saamvat nie- die skoolvakansieprobleem! Maar eendag- eendag sal ons dalk saam die hele Camino Frances kan stap.

Hoekom doen ek dit? Ek is dan nie Rooms Katoliek nie, en glo nie eers die legende dat Jakobus, die broer van Johannes, daar begrawe kan lê nie. Ek het nie 'n saak met ikone en heilige beendere nie.

Wel, hierdie is 'n baie belangrike oorgangsjaar in my eie lewe. Ek is 44 jaar oud, en gemeet teen my pa en my oupa se lewensduur, is ek lankal verby halfpad. My oudste kind maak klaar met skool vanjaar. Ek is soms lekker deurmekaar oor wie ek is, en hoe ek oor die toekoms moet dink. En stap was nog altyd vir my moeilik- ek het 'n groot uitdaging nodig om uit my gemaksone te kom.

Die Camino gaan deur een van die mooi dele van Europa- dit is veilig om daar te stap, en die plaaslike bevolking is pelgrims baie goedgesind. Die infrastruktuur op die Camino kom al van die 12 eeu af, en die dorpies is naby mekaar. Elkeen het êrens goedkoop verblyf vir die pelgrim. Ek hoef nie kos saam te neem nie, 'n mens eet baie basies uit die winkels waar die plattelanders hulle kos koop.

En dan bly een van my hoofredes vir hierdie reis daardie aantrekkingskrag om af te skaal. Om vir drie 1/2 weke met net 3 stelle klere reg te kom. Om minder as 10 kg te pak, ek kry dit nie eers reg vir 'n naweek in Pretoria nie! Om af te skaal van die gerief van my bakkie,af te skaal van my sekerheid oor waar ek vanaand gaan slaap, wat ek vandag gaan eet.  Waar ek wil wees, sal ek moet loop. Ek wil die horlosie afhaal, en net wees. Ek gaan my dood verlang na my vrou en kinders. En as ek daar terugkom, gaan ek sommer weer 'n nuwe waardering vir elkeen van hulle hê.

Die reis is simbolies van my lewensreis, en ek wil graag baie meer tyd in stilte saam met die Here spandeer. Dit gaan vir my 'n gebedsreis wees. Soms gaan ek bid om net lewendig vanaand by die volgende dorp uit te kom, so moeg gaan ek wees. Ander kere gaan ek op 'n bergtop staan en uitroep: "Hoe groot is U!" Ek wil die mooi van Spanje op so 'n primitiewe manier gaan geniet.

Met hierdie reis wil ek die Here baie mooi vra om my geestelike batterye vol te laai, sodat ek gereed is vir die volgende fase van my lewe, wat my baie, baie vinnig bestorm. In al die bronne wat ek gelees het, het niemand onveranderd teruggekom van die Pelgrimsreis nie. Ek wil ook nie dieselfde terugkom nie...

Thursday, March 31, 2011

Vir Jou- baie, baie dankie...



In my lewe is daar heelwat dinge waaroor ek onseker is. Ek is baie dikwels onseker oor watter kar ek moet ry, oor watter motorfiets vir my beskore is. Ek is dikwels onseker oor myself en my eie identiteit. Ek is onseker tussen mense. Ek is dikwels onseker oor my beroep, en wonder of ek iets daarin regkry. Ek is selfs dikwels onseker oor God, oor geloof, oor gebed... 

Maar ek het baie lank terug sekerheid oor een ding gekry- daar is net een mens wat ek langs my op die lewenspad wil hê. Ander kan saamstap, en hulleself ons kinders noem. Nog 'n paar besondere ander kan saamstap, en hulle ons vriende noem. Elkeen van hulle is vir my baie kosbaar.

Maar die kosbaarste een van almal bly Jy wat vir my ja gesê het. Jy wat gekies het om met jou hele menswees deel van my lewe te word, en my toegelaat het om deel van jou lewe te word. Jy wat vir my nog altyd so mooi is. Jy wat so kalm kan bly as ek dit verloor langs die pad. Jy wat met soveel wysheid kan redeneer, en soveel opsies kan onderskei vir die keuses wat ek moet maak. Jy wat met soveel humor daar binne jou sit, en met ogies wat so kan vonkel groot waarhede kan kwytraak in 'n grap. 

Jy wat so 'n uitstekende moeder vir ons kinders is. Jy wat soveel van jouself kan gee, en so bitter min vra. Jy wat die groot seer met soveel geloof kan dra, en met soveel hoop deur moeilike tye kan gaan. 

Dankie dat jy verby al my nonsens kan kyk, en my ken vir wie ek werklik is. 
Dankie dat jy in my glo, selfs al sukkel ek so dikwels om dit self reg te kry.
Dankie vir die potensiaal wat jy in my sien, en wat jy met jou menswees en jou daarwees al soveel vorm help gee het. 
Dankie dat jy my nooit gelos het nie, al het ek jou al soveel keer moedeloos gemaak. 
Dankie dat jy glo, in dae wat ek nie die Here se stem kan hoor nie. 
Dankie vir jou humorsin, al het ek al jou grappies so verkeerd verstaan.
Dankie dat jy so opreg is, en so eerlik is, dat almal weet waar hulle met jou staan. 

Dankie vir daardie pragtige oggend in Bloemfontein se klipkerk, toe jy met daardie bewende bossie blomme aan jou pa se sy in die gang afgestap het, om jou lewe met my te deel. 
Dankie vir ons vier pragtige kinders, wat elkeen ietsie van jou wonderlike eienskappe het. Dankie vir ons twee kinders wat in die hemel gebore is, waar ons saam seergekry het, en in mekaar se arms troos kon vind.

Dankie dat jy my beste vriend is, met wie ek alles kan deel. Dankie dat ek na jou kan verlang wanneer ek weg van jou af is, dat ek nooit 'n sonsondergang soveel waardeer as jy nie langs my is om dit saam te geniet nie. 
Dankie dat jy my beminde is, in jou arms kan ek in die hemel glo. 
Dankie dat jy met soveel liefde vir my kos maak, dat elke ete saam met jou 'n baie spesiale ervaring is. 
Dankie dat ek altyd seker van jou liefde is, dankie dat ek altyd op jou kan staatmaak, dankie dat ek jou nog altyd met my diepste hartsgeheime kon vertrou, dankie dat jy my so goed ken dat ek niks vir jou kan wegsteek nie, jy lees my gesig soos 'n kinderboek!
Dankie dat my grys hare vir jou sexy is, dat dit nie 'n bedreiging vir jou is dat ek ouer word nie. 

Dankie vir 21 jaar met al die seer, en vreugde, wat ons kon deel. Dankie dat ons saam geliefdes se dood, en nuwe geliefdes se geboortes kon deurmaak. 

Ek is so ongelooflik dankbaar dat jy my lewensmaat is. Ek is so onbeskryflik lief vir jou na al die jare, en op een of ander Goddelike manier word dit net al hoe sterker soos ons ouer word. 
Ek is so jammer vir die kere wat ek jou hartseer gemaak het. Ek is so jammer oor die kere wat ek lelike dinge vir jou gesê het, wat ek jou goeie bedoelings so kon misverstaan en in jou gesig kon teruggooi. 

Dankie vir die dans van die lewe wat ons twee saam kan dans. Ek hoop regtig ons word gespaar om eendag ons 50e huweliksherdenking oor 29 jaar saam te kan vier. 31 Maart 2040.  Ek weet as dit so uitwerk, gaan jy vir my sê: "Sien, ek het jou mos gesê alles gaan reg uitdraai, waaroor het jy jou so bekommer?" Ek hoop daardie dag is ons weer in die Blue Peter, derde kamer in die gang af, met die wonderlike uitsig oor Tafelberg en Robbeneiland. As ek dit nie tot daar maak nie, sal ek in die see jou naam saggies roep... 

Soos 21 jaar gelede sê ek vandag weer: Hier is my hart, en my hand. Ek gee myself vir jou, vir altyd. 




Wednesday, March 30, 2011

Laerskool Nylstroom in situ in Volksrust

Dit is 'n jaarlikse hoogtepunt vir rugbyliefhebbende ouers van Laerskool Nylstroom, die begin van elke Maart vakansie. Op uitnodiging van Laerskool Pionier in Volksrust vergader die ses skole: Pionier, Marietjie van Niekerk (Marietjie speel baie goeie rugby!), Lucas Meyer, Generaal Iemandbekendvanlanklankgelede, Oranjegloed (vernoem na die industriële besoedeling se weerkaatsing op die suurreënwolke in Secunda), en dan natuurlik Laerskool Nylstroom.

Lank voor die tyd vergader die ouers van die o/11 span rondom 'n braaivleisvuur by die laerskool. Spanklere word uitgedeel. Kwaliteite van elke speler word besing, borge word plegtig bedank. Die vure brand hoog, en die pappies word dors. Rugby gaan seëvier in Volksrust! Die volgende aand is dit die EERSTESPAN se beurt- daardie droom ouens van elke graad vyf dogtertjie. Die geleentheid word herhaal, met nog meer opgewondenheid. Klere word uitgedeel, die borge het goed gedoen vanjaar!

Elke moontlike gastehuis in Volksrust word vroegtydig bespreek, die een by die dam is eerste op die ranglys. Proviande word vroegtydig aangekoop. En dan, Sondagoggend vertrek die Konvooi. Volksrust word op horings geneem, en die seuns word ingeburger.

Maandagoggend skop die rugby in alle erns af. Die ouers maak 'n tonneltjie, die seuns, ons trots, hardloop daardeur. Eers die onder Elfs, later die Eerstespan. Hulle kry die nodige eerbied, hierdie draers van ons Toekomshoop. Breëbors draf hulle op- toekomstige Bulle en Bokke, in pappie en mammie se oë- elke liewe een van hulle.


Maar o wee, vanjaar gaan dit nie heeltemal so goed met ons nie! Die ander skole het intussen leer rugby speel. Natuurlik was dit dikwels die Ref se skuld- 'n hele paar van hulle het dan nie eens kwalifikasies as skeidsregters nie. Maar ons Toekomshopies maak dit ook nie makliker nie. Die hartseer realiteit is: die eerstespan is nie heeltemal so goed soos laas jaar s'n nie. Ons moet onthou, 'n klomp kernspelers het aanbeweeg Hoërskool toe. En elf van die eerstespan is nou eers in Graad 6. Ons bou vir volgende jaar, 'n mens kan nie elke jaar die Volksrustweek wen nie!

Halftyd breek aan. Die koppe hang. Mnr Hempies praat moed in.

Die koppe styg tien grade, die gesigsuitdrukkings raak meer vasberade... Helaas, nog balle word ge"knock". Die wedstryd gaan ook na halftyd nie heeltemal na verwagting nie. Pa's se humeure vat vlam, ma's spring op en af, die spel gaan voort...  genadiglik blaas die eindfluitjie uiteindelik.

Die ma's gaan sit op die kampstoele. Die pa's verdwyn een na die ander- dorp se rigting toe. Trio slaghuis word vinnig ontdek, en ook die paar "grootmens-apteke" in die hoofstraat, wat hoesmedisyne verkoop, vir die keel.

Terug langs die veld, en daar kan omtrent 'n beheerliggaam verkies word- daar is verseker 'n 15% kworum soos vereis deur die Onderwyswet.  Daar is baie Nylstromers langs die veld- die meeste van al die skole teenwoordig.

Uiteenlopende beroepe is daar langs die veld verteenwoordig- prokureurs en boere, bandemagnate, en mondhigiëniste, 'n verdwaalde dominee en 'n tronkbewaarder, 'n satelietskottelingenieur en 'n deurmaker. Polisiemanne, seepmakers, en... 'n genuine egte Pool! Nie Noord of Suid nie, van Poland af. Op besoek aan Suid Afrika saam met Blackie se kinders.

Soveel verskillende beroepe is daar langs die veld verteenwoordig, uit omtrent elke denkbare geloofsgemeenskap uit die dorp uit. Mense word groot vriende daar langs die rugbyveld, die liefde vir rugby en die liefde vir ons kinders bind ons saam, hegter as wat die kerk dit regkry. Daar is tyd vir baie gesels, daar is tyd om mekaar baie beter te leer ken. Maskers val af, ons almal is maar net mens.



Maandagaand is daar 'n ouerbraai daar langs die rugbyveld. Nee, ons braai nie ouers nie, die ouers braai lekker saam. En die sakegemeenskap van Volksrust word elke nou en dan al hoe liewer vir ons- daar sal more weer 'n aflewering van Klippies en Cola uit die grootstad moet wees, anders gaan die plaaslike bevolking opstandig raak.  Maar dit is baie lekker- om met mense te gesels rondom die vuur, en net te hoor wat in hulle harte aangaan, sonder dat dominee dit "huisbesoek" hoef te noem.

Dinsdag se rugby kom en gaan. Soms gaan dit beter, soms nie. Dit maak nie regtig saak wat die uitslag is nie, Nylies is wenners. Seuns leer om oorwinning met grasie te aanvaar, om nederlaag in die gesig te staar en te soek na beter vir die volgende wedstryd. Enkeles wonder dalk net hoekom hulle die hele tyd "bench", as ander net soveel aanjaag soos hulle?

Woensdagoggend kom, die laaste rondte vind plaas. Daarna kom die prysuitdeling. Oor die hele ou Republiek van Suid-Afrika is Afrikaners oral dieselfde- ons hou van baie praat. Oral praat ons dieselfde dinge, op dieselfde stemtoon, en maak dieselfde ou grappies. Eers word al die borge weer plegtig bedank, sonder hulle (en ons aansienlike koste per kind!?) sou die geleentheid nie moontlik wees nie. Al die helpers word bedank, van die skeidsregters tot ou Sophie in die kombuis. Al die afrigters, al die ouers, al die bestuurders wat nugter gebly het om die kinders daar te kry (OK, hulle het dit nou nie gesê nie :-) )
Die seuns sit almal in die bloedige son, die afkondiger belowe om gou te maak, maar hy kry dit nie reg nie.

Daarna wil 'n ander skoolhoof ook eers namens die besoekende leerlinge die gasheerskool bedank, en die afkondiger, en die oulike dames wat so lekker kos gemaak het, en...  'n hele paar minute se woordewaarde deur die liewe skoolhoof van Drakensberg.

Uiteindelik word die Voorsitter-van-die-beheerliggaam-se-vrou genooi om die medaljes en trofees uit te deel. Die wonderlikste spelers van elke moontlike aard word bedank. Die wenners kry goue medaljes, silwer vir die tweedes, brons vir die res. Na baie woorde het elke seun erkenning gekry.

'n Groot sirkel word in die middel van die veld gemaak deur al die spelers en afrigters. Daar word mooi gebid, en dankie gesê vir veiligheid op die veld, vir talente, vir die spelers se gesindhede, en vir die mooi spel wat ons kon geniet het. Amen.

Tot volgende jaar- veilig ry! Onthou van die "special" by Tops op Klippies en Coke... hulle is een van ons borge...

Rugby het weer geseëvier...

Sunday, March 20, 2011

Een Somersaand op Loftus... (it was a dark and stormy night...)

Daar is soms onverwagte vreugde in die lewe op plekke waar jy dit nie verwag het nie. En soms draai onverwagte vreugde ook anders uit as wat jy dalk sou beplan het.



So gebeur dit toe eendag lank, lank, gelede (gisteraand om meer presies te wees) dat ek 'n uitnodiging kry om saam met wonderlike mense na Loftus toe te gaan. Die geleentheid: Die Super 15 kragmeting tussen die Bulle en die Stormers. Dit het beloof om 'n epiese stryd te wees, soos in vanmelewe se dae toe my eie persoonlike pa nog gelewe het, en so die hel in kon raak vir ene Naas Botha as die Bulle teen WP speel. Pa het sy hele lewe lank 'n Streeptrui gebly, tot op die laaste...

In elk geval, geen regdenkende mens sê Nee vir 'n geleentheid om op Loftus te kom nie, behalwe miskien as iemand baie besonders onnadenkend daardie tydgleuf gekies het om te trou nie. Of as jy in intensiewe sorg lê na 'n onderonsie met jou skoonma, of in die kraamsaal, of onder die puin van 'n aardbewing vasgekeer is- daar mag dalk enkele verskonings wees wat 'n bietjie meriete mag hê. Andersinds, as jy 'n kaartjie het vir Bulle vs Stormers, is enige reggeskape mens daar.

So het ons vriende toe opgeruk in getalle na Loftus toe. Ons het deeglik beplan: daar was vloeibare verversings, biltong en droëwors, en die gasbraaier, steaks en wors en broodrolletjies, tamatiesous en mosterd. Ons het vroeg gegaan, om daar voor Parkstraat 964 te parkeer, en langs die motor te braai. Daar was so enkele vae bekommernissie: dit het gietend gereën. Maar behalwe vir die Sondvloed van Noag se dae, anderkant dag 7, of die reën van Queensland in Australië, mag 'n mens nie reën gebruik as verskoning om nie te braai buite Loftus nie.  Die Braai was toe suksesvol ongeag die reën. Goeie vriende, sambrele en 'n gasbraaier is die manier om te gaan.

Annelie, Piet, Adriani, Marie en Billy


Nadat ons heerlik gebraai het, eendag lank lank gelede, gisteraand, het ons te voet vertrek na daardie katedraal van rugbyaanbidding. Die een ding wat darem altyd wonderlik is, is as jy snags in Loftus ingaan, en so deur die tonnel inbeweeg tot binne daardie helder verligte Colosseum met sy groen gras en blou sitplekke. Die geraas wat eers 'n dowwe dreuning is, dan al hoe meer in intensiteit toeneem totdat dit jou oorweldig en meesleur- kom in, kom word deel van ons!

Ons kry toe baie interessante plekke- kyk, ons was die amptelike verteenwoordigers van die Phagameng Rugbyklub. Ons sitplekke is toe net langs die WAGS se losie. WAGS? Kom uit die sokkerwêreld- Wifes and Girlfriends van die spelers. Dit was pragtig om te sien. Die gemiddelde Bloubul is baie lief vir blonde, baie sexy meisies. 'n Paar van die ouer manne se vrouens het kinders, tot drie soos Bakkies Botha. Sy vrou is 'n pragtige swartkop, soos jy kan sien op die reuse foto van hulle voor Etienne Lewis se winkel in Zambesiweg. Pragtige kinders. Bakkies se seun is seker so 2 1/2, en lyk verskriklik baie soos sy pa, net baie slimmer...
Opmerklik. Nie een van die WAGS of kiddies het Bloubulklerasie aangehad nie. Hulle was wel baie modieus aangetrek, enkeles was ook ver swanger- dit lyk of die skrumwerk darem nie agterweë gebly het nie.

Die aand op Loftus was baie goed vir my jong, onskuldige gemoed. Soveel mooi meisies, soveel wonderlike dinge wat 'n mens beleef daar langs die veld in die reën. En toe draf die Bulle op...

Die Rugby self was nie baie lekker nie. Die ref was 'n p*****l, natuurlik. Maar die Bulle self het ook nie gelyk of daar enige lus was om te wen nie. Almal het rondgetjommel, balle aangeslaan, gepaas wanneer hulle nie moet paas nie, nie gepaas nie wanneer hulle moes paas. So het hulle gesorg vir veertig minute se loutere, onverdunde pyn. Toe kom Laurika Rauch op die veld en stuur groete vir Mannetjies Roux. Maar sy kon dit sommer self vir hom gesê het, want hy het in sy Springbokbaadjie langs haar gestaan...  Hy word nou oud, maar sal altyd 'n legende bly in Springbokrugby. Respek, oom Mannetjies!

Toe gaan ek na die kleinhuisie toe daar agter die Laerskoollosie. En my sommer lelik vervies. So 'n omie in sy 60's wat duidelik lekker in die Losie gekuier het, met sy WP baadjie aan, kom druk sommer reg voor die ry in waar ons almal staan en knyp. Klas kan jy nie koop nie...

Toe begin die tweede helfte. En reg voor ons staan 'n duidelike antie in Bloubulklere, met die selfoon in die hand. Haar beste vriendin sit aan die oorkant van die veld, en sy wil net so graag hê haar vriendin moet haar raaksien. So met haar duidelike lyf staan sy en waai en chat op die selfoon, met nie 'n saak wie agter haar sit en nie die spel kan sien nie. Klas kan jy nie koop nie...

Die ander ding wat sleg is op enige stadion, is wanneer daar wel iets opwindends gebeur. Outomaties staan almal skielik op om beter te kan sien, of daardie lankgeknypte poep te los, of wat ook al. Maar omdat almal skielik staan, kan niemand iets sien nie.  As almal net mooi bly sit het, kon almal sien... Klas kan jy nie koop nie...

Die een ou op die veld wat sy kant gebring het, was die Bulle se Mascot. Daardie ou is uitstekend! Dit is lekkerder om vir hom te kyk as vir Wynand Olivier. Baie beter bewegings. En die Bulls Babes was ook pragtig in hulle blou en wit uniformpietjies.

Die rugby was uit 'n Bulondersteuner se oogpunt 'n ramp. Bryan Habana het sy eerste drie sedert die groot Runderpes van 1896 aangeteken, en was so duidelik aangedaan oor die enkele oomblik van sukses in 'n lang, lang tyd wat na sy kant toe gekom het. Dié drie was so skuins voor ons, 'n mens kon elke trekkie op sy gesig duidelik sien. Dit was nie die afgelope tyd lekker om Bryan Habana te wees nie.

Die Stormers wen toe die wedstryd met 23-13.  Ek wou toe eers vir die Bulle se dames ('n mens mag nie sê koeie nie, want nie een van hulle lyk soos een nie) vra om tog asseblief geen skrumwerk toe te laat tot die manne se "performance" op die veld verbeter nie. Maar die moed het my begewe. Dink net, ek kon net daar die Super 15 se gang vir 2011 drasties verander het.

Dankie vir die kaartjies, Billy, dit was nog steeds BAIE lekker, ongeag die rugby!

Let op Mev Bakkies Botha daar langs Annelie


:

Sunday, March 13, 2011

Bucket List item 499- ‘n Besoek aan Hermanus!

Hermanus se mooi deel- sien- dis verlate!

Dit bly elke boer aan die anderkant van die Oranjerivier, en duskant die Vaalrivier soos jy uit die Kolonie uitry, se groot toekomsdroom. Elkeen wil so graag ‘n huisie by Hermanuspietersfontein hê, in die volksmond beter bekend as Hermanus. Daar lê die pragtige dorp tussen die walvisse in die koue Atlantiese oseaan, en die fynbos van die Overberg. Soos ‘n mens hierdie juweel van ‘n plek betree vanaf Onrustrivier se kant, kom jy inderdaad ook agter dat heelwat van die skaapboere tussen die Oranje en Vaalriviere wel hulle droom kon bewaarheid, sommiges dalk al so lank terug as 1948, toe DF Malan nog die Natte gelei het, en die Sappe nog sapperig was. Hoe, mag jy dalk wonder, weet ‘n mens dit? Wel, die eerste leidraad vind ‘n mens in die dubbelpad, wat presies in die middel beset word deur ‘n dame met pers gespreide hare, wat net mooi die spoedgrens met die helfte mis. Teen 30 km per uur word die middedorp bestorm met ‘n 1981 Mercedes 560 SE. Agter haar volg ‘n string motors, geduldig ingeperk soos in ‘n begrafnisstoet, ‘n ry wat strek tot by die Arabella landgoed verby.  Kom sy by die Pick ‘n Pay, wys die flikkerlig ‘n begeerte om links te draai, gevolg deur ‘n ywerige pluk aan die stuurwiel na regs. Die dame wil eintlik net graag ietsie lekkers vir die oom kry… Die gevolg van die koeksusterbrigade se optrede is ‘n permanente treffiek jem in Mainstraat. Wat aansienlik vererger word deur negentigjarige omies met hoede agter die stuurwiel van blou Hiluxbakkies van 1976 met 500 000 km op die klok, en 130 000 km op die tires. Soos die ANC Jeugliga is ‘n mens nooit heeltemal seker waarheen hulle op pad is nie, hulle self dikwels ook nie.  Hermanus is ‘n baie groot ouetehuis, sonder ‘n dak op.

Spoorloos op Hermanus
‘n Mens moet ook groot moeite doen om die spoorwegstasie in Hermanus te besoek. Jy sien, die saak staan nou eintlik so: êrens gedurende die Nasionale Party se bewind het een van Julius Malema se wit voorgangers op ‘n dag bang gewees hy gaan op sy hêrrie kry in die volgende verkiesing. Toe belowe hy die klomp afgetrede boere ‘n eie spoorwegstasie, dat hulle weer kan voel soos in vanmelewe se dae, toe die melktrein nog verby die plaas gekom het. Die eerste jaar  van die belofte was daar toe net mooi genoeg geld om die stasiegebou op te rig- pragtig, rein en funksioneel. Die spoorlyn self, die lokomotief en die trokke? Wel, die spesifieke politikus het mos ‘n stasie belowe en daar is hy nou- die res het toe nooit gerealiseer nie. Tussen stasies is daar basies nie noodwendig treine nie, met apologie aan Lochner. Hulle het intussen maar ‘n mall langs die stasie gebou, waar jy darem koffie kan gaan drink, en oor treine van vanmelewe se dae kan mediteer.

Die ander vreemde verskynsel in Hermanus se strate, is die helfte van die bevolking wat in blou gekleurde uniforms op straat verskyn. Hulle elkeen dra so ‘n elektroniese apparaat oor die skouer. As jy bietjie lank by die stopstraat staan, verskyn een van hulle langs jou venster. “R1,50 vir ‘n halfuur, en R3,00 vir ‘n uur, my lanie…”  “Om te wat?” “Om te parkeer.” “Maar ek parkeer nie, ek wag nog vir daai perskoptannie in die Merc om haar mind op te maak waar sy wil heen gaan…” By elke moontlike stopplek is hulle daar. Selfs as daar ‘n walvis verby swem, gaan dit jou kos- R1,50 ‘n halfuur, R3,00 per uur.
Baie vriendelike parkeerassistent in Hermanus.
Ek gaan gooi brandstof in by die caltexgarage. Ek vra die persoon agter die glasruit om asseblief die kleinhuisie vir my oop te sluit. En toe ek net so gemaklik gaan sit, is daar ‘n klop aan die deur- “My lanie, jy moet betaal- R1,50 per halfuur, R3,00 per uur.” “Hoekom nou al weer?”brom ek vies. “Ek het jou mos betaal toe ek hier buite gestop het!” “My Lanie, dis eintlik vir jouself! Hier in Hermanus kan ons nie sommer  net enige plek park nie. Hier is dit park en betaal!”

Sunday, March 6, 2011

Pick 'n Pay/Cape Argus nommer 17 op 13 Maart 2011

Ek moet dit vanaand bely- die Argus is in my bloed, ek is totaal verslaaf, en kan niks daaraan doen nie. 110 km op 'n fiets om Tafelberg- vir die 17e jaar agtereenvolgend.

Daardie begin- om vroegoggend op te staan, die motor by die parkeerterrein by die Waterfront in Kaapstad in te boek. Laaste keer by die toilet by die Caltex garage in te hol, en dan jou weg te vind na die wegspringblok toe. Met angstige oë na Tafelberg te kyk vir daardie dekselse duiwel wat so rook daar bo, en verklap dat die Suid-Ooster al weer ons lewe hel gaan maak tot by die halfpadmerk daar bo op Smitswinkelbaai.
Vind die blok, gee jou wegspringkaartjie in. Die wenners het so pas klaargemaak! Die vlae wapper (en in 2009 rol die tydelike toilette gat oor kop in die straat af!) Elke paar minute skuif jy bietjie nader aan die wegspring, tot dit jou beurt in die drukgang is. Piet Koekemoer verjaar vandag in blok FF, hy is 69 jaar oud, en dis sy 19e Argus. Kyk ook uit vir FF 12345, hy ry met 'n blou nommer, 21 Argii voltooi. Een of ander ANC minister is in die blok, seker weer rang getrek om vroeg weg te spring. En drie Stormers is ook daar na gister se pak slae op Nuweland- oorweeg 'n nuwe loopbaan in fietsry...  Dan speel die musiek: Three two one- everybody says WHOOPAH!  En dan sing die speke, die cleats click in, jy vermy rakelings die ou voor jou, en ry onderdeur die Burgersentrum van Kaapstad. Normaalweg effe gevaarlik, die adrenalien skop in. En in 2009 waai die wind die fiets net daar reg onder my uit! Eerste en enigste val sover in die Argus...

Jy tref daardie brug wat uitlei na die N2 toe, verby die Spur advertensie op linkerkant. Daar het 'n groot dooie rietrot in die Argus van 1997 daar gelê... Onderdeur die brug langs die Holiday in, as die wind nie te erg is nie, is Hospitaalheuwel ook nie te erg nie. Vinnige afdraende verby Grootte Schuur Hospitaal, en hier val 'n paar ouens al klaar jaarliks hulself in die kraamsaal in... Die bondels kom van agter af, iemand skree histeries: "Keep left..." Af af af, dan weer op op op, verby die windmeul. Universiteit van Kaapstad regs, baie lui studente drink en braai (eintlik wyse mense- is dit nie die beste manier om aan die Argus deel te neem nie?)  Dan skielik daardie 2 km van Edinburgh drive... Loutere hel as jy dik en onfiks is... Die Kleurlingman wat in 2008 skree: Push- push- push en as jy verby kom: It will come out soon...  helse stryd om net bo- op Edinburgh Drive uit te kom. Dan die lekker van die Blou roete af- as die Suid-Oos nie waai nie. Lekker snelweg, goeie bondels, mooi meisies langs die pad. Draai af vir Wynberg, Tokai of wat ook al. EN die laaste paar jaar- die ekstra pyn van Boyles Drive- nog twee erge bulte by terwyl die DA sukkel om die paaie deur Kalkbaai reg te maak doer onder. 'n helse gevaarlike afdraende wat jou remme tot die uiterste toe beproef. Terug na seevlak toe- lekker tot in Simonstad, as die Suidoos nie waai nie...
By Simonstad die groot waterpunt, waar ek in 1996 langs Just Nuisanse se standbeeld gesit en huis toe verlang het na die Suid-Oos my beetgehad het, en nog steeds met bo-menslike inspanning, twee Bar-Ones en twee liter Energade nog verder gegaan het om uiteidelik klaar te maak.
Deur Simonstad na Millers Point toe, waar al die bome teen 45 grade groei- glo ook iets met die Suid-Oos te doen. As dit 'n stil dag is- heerlik verby die gholfbaan, en lekker deur Smitswinkelbaai se effense opdraendes (as die Suid-Oos nie waai nie).
Smitswinkelbaai het 'n pragtige see-uitsig. Jy hou aan trap tot bo verby die halfpadmerk. Daar is 'n lekker lang, effense afdraende verby die Kaappunt Natuurreservaat. Dit hou vir sewe kilometer aan, en die wind is 99.9 persent van die tyd van agter- heerlik! Draai af vir Scarborough, waar die kameel se rots is wat ek nog nooit gesien het nie- dalk moet ek volgende jaar stop en kyk. Pragtige dog windverwaaide dorpie, lyk na weird mense wat daar bly- die sout van die aarde. Een van die wonderlikste ervarings op die Argus- as jy vroeg nog in die berg se skaduwee langs Misty Cliffs kan verby ry. Net- net bo seevlak, lekker koel, geen wind nie, dan voel die lewe sommer net reg. Effense moeilike klim en dan 'n vinnige afdraende in Noordhoek in. Skerp links vir Chapmans Peak, reguit aan vir daardie 4 dekselse jare wat ons oor die gehate Detour gery het.

Chapmans Peak is fantasties- dis die rede hoekom ons Argus ry. Die beste uitsig in die ganse wêreld. Jy bars- eers klein Chappies, dan weer afdraende, dan groot Chappies. Daardie ry om die hoek, en dan lê die slangroete op- met fietsryers doer ver daar bo- waar jy met baie sweet en trane oor 5 km gaan uitkom. Maar die uitsig- onverbeterlik!  Daardie lekker verby die ou kliptolhuisie, die bo uitkom, en dan daardie heerlike gejaag teen die afdraende aan die anderkant af tot in Houtbaai. Hier kramp my bene al te gesellig. Daardie draai na regs, en dan... Suikerbossie. Eers een kilometer op. Die hele Houtbaai sit en braai langs die pad. En drink bier- wyse mense... Weer af. En dan twee kilometer kwaai opdraende. Daar sit duisende mense. Sommiges langs die pad spuit jou met hulle tuinslange nat as jy wil. Die vier bane word later net een, so baie mense drom daar saam langs die pad. Trots hou jou op die fiets- jy kan nie voor daardie mooi meisie afklim en stoot nie. Jou longe brand en jou bene kramp. Op, op, op. Halfpad kry jy die padteken met die koffiekoppie en die 1 km teken op. Die lyding is nou eers halfpad, elke 10 km het jy nog 100 meter gevorder, so voel dit. Maar daardie immensely trots gevoel as jy uiteindelik bo- oor Suikerbossie gaan- ek het hom weer 'n keer oorwin! Die vinnige af voor Llundudno verby, nie tyd om te loer of daar iets by Sandy Bay aangaan nie. En die briek daar onder deur die wind as die Suid-ooster in daardie een vallei afkom, en jou van 60 km/u na 10km/u in 20 meter toe vat. As die weer mooi is my vriend, is dit 'n fees om van bo van Suikerbossie af terug te ry. Daar onder die wakende oë van die 12 Apostels gaan dit baie goed met jou, as die wind nie van voor af kom nie- die Suid-wester! Af, Af,Af, verby die 12 Apostelshotel, tot in Kampsbaai. Daar verby al die rykgatte met die Harleys en Porsches, wat saam met hulle supermodel meisies in die Coffieshops sit en bly is dit is nie hulle alies op daardie fietse nie...
Daardie lawwe bult aan die einde van Kampsbaai, waar die Argus se eindpunt nog tot 1996 was. As jy daar kon stop- die uitsig op Clifton se 4e strand is om meer as een rede wêreldklas! En die Suid-Ooster pla nooit vir Clifton nie. Maar jy is op jou fiets, daar bo verby. Deur Clifton en Bantry Bay, waar 'n enkelmotorhuis 'n dominee se salaris vir 'n leeftyd kos... Draai links, in Seepunt in, al langs die see af, Groenpunt stadion toe. Jou bene brand, jou alie is morsdood, maar die einde is in sig. Joune en die wedren s'n. Hou net uit. Baie toeskouers wat sit en wag vir geliefdes, baie wat voor jou klaargemaak het, sit daar met 'n bier in die hand.

Hou net uit. Tot by die tydmeters se matte onder die brug. Briek hard. Klim af. Voel of jou kuite nog daar is. Trek die fietsrybroek se shammy uit jou *** uit. Stap met bewende bene tot waar die vriendelike Rotary tannie jou medalje, jou Coke en Energade voucher vir jou gee. Gooi die Energade voucher dadelik weg- jy is alreeds deur vyf liter van die goed, en is nou gatvol daarvoor. Kry 'n yskoue Coke. Dan sak die besef in- ek is klaar. Ek het dit gemaak! Ek het nog 'n jaar oorleef! Bel vir Mamma tuis, en sê sy kan maar weer die testament terugsit in die kluis. Die Argus is nou verby, maar nog nie heeltemal nie.

Klim terug op die fiets. Jou *** is die hel in vir jou, en jou bene ook. Maar ry tot by die Waterfront. Stop daar by Ferrymans, die ou kliphuisie. Bestel vir jou 'n Mitchell's Bosun's Bitter Draft- dit gaan jou kos. Drink hom vinnig. Gaan badkamer toe. Die urine gaan seermaak, en bloed bevat- dit is normaal vir 'n onfikse vettie soos jy! Gaan terug, kry 'n tweede Bosun's Bitter. Nou begin dit lyk of jy dalk gaan oorleef.  Ry daarna Spur toe, kry vir jou daardie reuse T-Been Steak, jy verdien hom. Terug by jou kar op die waterfront- haak jou fiets aan die fietshaak. Trek jou helmet en jou handskoene uit, trek die fietsryskoene uit en jou ou Crocs aan. Gaan sak agter jou stuurwiel in. Sê vir jouself dit was nou die laaste keer ooit. En as jy by die Waterfront uitry, en op die N1 noord klim, dan is jou Argus uiteindelik verby.

Tot 1 September. Wanneer die inskrywings weer oopmaak. En jy na die fiets onder die dik laag stof kyk, en dink aan Misty Cliffs. En daardie meisie met die volstruisvere voor Chappies in 2007... En jy maar weer...

Monday, February 28, 2011

My hunkering na 'n veilige hawe vir 'n rukkie...

Houtbaai- 25 Februarie 2011 om 12 uur

Wanneer die Atlantiese oseaan se koue water lank genoeg  deur die Suid-Ooster deurmekaar geroer word, daar by die Kaap van storms, wanneer die nimmer-eindigende deining die horison verswelg, wanneer die visserskuit se ruim nie meer kan vat nie,  wanneer die verlange na huis en haar te veel word, dan is dit tyd om hawe toe terug te keer. Om vas te meer teen die kaai, om weer op terra firma voetspore in die sand te los.
Daar is 'n tyd vir storms, en daar is 'n tyd vir rus. Daar is 'n tyd om te huil, en 'n tyd om te lag.

Here, ontmoet my in die storm. Bestuur my skippie na 'n veilige hawe. Of leer my om op water te loop.  Here, wees U...

Sunday, February 20, 2011

Die dood van 'n baie spesiale vriendin...

'n Mens het baie kennisse in die lewe. Jy het minder pêlle, saam met wie jy sommer gou 'n bier of 'n koffie kan gaan drink. 'n Mens het nog minder ware vriende, saam met wie jy 'n bottel rooiwyn om 'n kampvuur kan drink. Maar in my lewe is daar net enkele mense vir wie ek kaalvoet oor kole sal loop, en dadelik gewillig sal wees om my lewe voor te gee. Daardie enkele vriende wat jy drie-uur in die more kan bel as die lewenstorme woedend oor jou neuk. Vriendskappe wat oor jare kom, wat al 'n paar groot seerkrye hanteer het.

My hart breek vanaand oor so 'n vriend, wat gisteraand sy vrou (so 'n vriendin) verloor het.
Marthinus Britz is my broer, al het ons nie dieselfde ma nie.  Ons vriendskap het oor jare al hoe dieper gegroei, en ons het menigte kere met seer harte om 'n bottel KWV 5 jaar oud op die ys oor baie diep dinge gesels. Ons vriendskap gaan so ver terug dat ons in die kraamsaal gaan kuier het toe sy dogter Anlé gebore is. En vir daardie meisiekind is ek so lief soos my eie dogter. Ek ken haar al van haar eerste dag in die lewe af. Ons was saam met hulle toe hulle aankondig dat hulle tweede een op pad is, en Annelie sê: ek moet dalk ook maar die ou toetsie doen. Anja en Cornelius verskil 'n week- ons het saam feesgevier oor hulle swangerskappe, en hulle geboortes. Ek is so trots op Cornelius soos my eie seuns- ek is mal oor die man wat hy besig is om te word.

Elke jaar was dit die een hoogtepunt in my bestaan om by hulle tuis te gaan vir die Argus. Die fietsry is eintlik 'n bysaak- dit het gegaan oor die vriendskap, wat vir my so ontsettend baie beteken.

Ek stap vanoggend na kerk by my huis in. En sien dat Marthinus my drie keer al vanoggend probeer bel het. Ek bel hom dadelik terug. My vriend is stukkend. Elna, wat vir hom so ongelooflik baie beteken, wat hom so gevorm het tot die man wat hy is, was gister in 'n motorongeluk. Die kar waarin sy 'n passasier was, het gerol. Sy het dit nie gemaak nie.

My hart is baie, baie seer vanaand. Maar my vriend is stukkend. Sy kinders sal ook wees.
Die Bybel sê daar is 'n vriend wat nader as 'n broer is. Hy is dit vir my, ek hoop ek kan ook iets daarvan vir hom wees. Ek vlieg moreaand af Kaap toe. Ek hoop ek kan hulle las net so 'n klein bietjie ligter maak.  Ek wil so graag iets doen om dit beter te maak. Maar ek weet self nie wat om te doen nie. Soos Marthinus sê- ons kan altyd ander mense help in sulke tye. As dit met ons gebeur- dan breek ons ook.

Ai Elna, ek het nog so gehoop eendag op die ouetehuis se stoep gaan ons Britze en Schmidte kan sit met bewende kieries, en met ons kleinkinders kan spog. Die hemel is seker vandag 'n beter plek, maar ek was wragtag nie hierop voorbereid nie. My lewe is baie skielik baie, baie armer vandag.  Ek weet nie hoe Marthinus hier deur gaan kom nie. Maar ons gaan hom help, wat dit ook al vra.

My vriend, more aand twaalfuur is ek daar, ek bring die KWV, hou die ys reg...
Here Jesus, dra vir Marthinus, en Anlé, en Cornelius, deur hierdie donker diepte, asseblief. Moenie my vriend laat val nie...

Monday, January 31, 2011

Oor die dood van Skoonpa

John Donald Graham Fourie was my skoonpa. Ek was baie lief vir hom.

Hy was so stil soos 'n landmyn. Hy het daarvan gehou om eenkant te wees, weg van die rumoer. Hy was meer geheimsinnig as James Bond- op sy troosdiens het ons vir die eerste keer gehoor van die man in wie se kombi almal graag na die krieket en rugby wedstryde wou ry. Ons het vir die eerste keer gehoor dat hy op sy dag 'n Transvaal speler kortgevat het op die rugbyveld, omdat die skeidsregter te geintimideerd was om sy werk te doen.  Hy het 'n merkwaardige loopbaan gehad, veral by Vaal Reefs No 4 skag as ondergrondse bestuurder. In sy dae het hy 'n baie slegte mynramp baie netjies bestuur.

Op sy troosdiens het 'n mens 'n glimps gekry van die mens wat hy werklik was. Daar diep binne moes soveel stories gewees het wat die moeite werd was om te hoor. Maar al het ons probeer terwyl hy geleef het, het hy nooit daardie boek van sy lewenservaring oopgemaak en met sy gesin gedeel nie.

Was dit die mynramp wat hom so stil gemaak het, lank voordat ek hom ontmoet het? Was dit iets in sy kinderdae wat te seer was om oor te praat? Waai die woestynwind maar net so oor die veldblomme?

Ek weet net dat die stilte met hom was van voordat ek hom ontmoet het. En tog kon ek soms saam met hom sit en stil wees. Kon ek saam met hom sy rugby en krieket op televisie geniet. Kon ek soms gefrustreerd daar sit as hy in die middel van iets opwindends skielik kanaal op die skottel verander.  Ek kon my tong soms vasbyt as hy ongeduldig raak met my kinders wat in sy groot agterplaas speel en raas.  Maar ek kon hom ook vertel van my motorfietsrit deur sy geliefde Calitzdorp op die R62- hy het dit geniet, al was hy so  lank laas self daar gewees.

Ek weet nie altyd wat in sy hart aangegaan het nie. Maar ek weet dit- toe ek die dag vra om met sy dogter te trou, het hy my dadelik in sy familie verwelkom. Hy het my aanvaar soos wat ek is. Ek was altyd welkom by hom. Hy het my nooit *** gegee nie.

Dit was vir my een van die moeilikste dinge in my lewe om die dominee te wees wat sy troosdiens moes lei. Ek wou dit graag vir die familie doen, dit sou so sleg gewees het as 'n onbekende kollega daar voor staan en sy beste canfruit uithaal vir iemand wat hy nooit geken het nie. Maar dit was regtig moeilik, al het dit dalk nie so gelyk nie.

Pa Donald- ek hoop daar waar jy nou is, is die sport mooi, en dat jy dit weer kan sien en geniet!

Wednesday, December 29, 2010

Een en twintig jaar...

 Een en twintig jaar gelede, in 1989, het 'n jong man en 'n jonge dame die Blyderivierspoort staptoer saam aangedurf. Hulle was nog nie getroud nie, en dit het veral twee moeders baie bekommerd gemaak. Gaan dié twee nie stout wees nie? Die saamgeslapery in die hutte het na groot moeilikheid uit 'n ouer se oogpunt gelyk.

Die jong man was al tevore op staptoere. En daarom was hy baie slim, soos enige vierdejaarstudent mos maar dink hulle is. Al die wysheid klaar in pag. In daardie dae was die Blyderivierspoort staptoer vyf dae lank, en by tye nogal baie lank (22 km 4e dag), en baie moeilik- daardie afsak na Swadini toe op dag 5. Daar is ekstra BLIKKIESKOS ingepak, vir noodvoorraad... Warm klere, droë klere, swemklere... Die dekselse rugsakke het omtrent 'n ton elk geweeg- wel so voel enige iets anderkant 20 kg!

Die staptoer was nogal baie veeleisend destyds. Die jong paartjie was so moeg, en het soms so lekker baklei met mekaar, dat daar nie nog krag was om eers te dink aan stout wees in die hutte in die aand nie. Veral nie as die primitiewe geriewe in elk geval gedeel is met 'n klomp ander vreemde mense nie!

Met 'n redelike ernstige Godswonder het hierdie tweetjies se verhouding die staptoer en 'n paar ander mallighede oorleef, en op 31 Maart 2000 is hulle getroud...

Een en twintig jaar later. Die gemeente Nylstroom-Oos hou jaarliks 'n staptoer in Desember. Die twee het intussen ses geword in plaas van een! En die hele gesin besluit om saam te gaan stap. Gelukkig is die moeilikste twee dae weggeneem, die roete eindig nou by Bourke's Luck kolkgate.

En so, in Desember 2010, het Ewald en Annelie en hulle vier kinders, weer 'n keer die Blyderivierspoort staptoer aangedurf.

Een en twintig jaar gaan so verskriklik vinnig verby. Sou die twee jongetjies op die klip ooit kon dink wat nog alles in 21 jaar sou gebeur het? Die aanpassing van die huwelik, die klaar studeer, die Weermag. Die vroeë beroepslewe, die soek na 'n beroep as predikant. Die ouerskap van vier kinders. Die seer van twee miskrame, en dood van familielede. Die opwinding van die Eiffeltoring en die mooi van Skotland in die herfs.
In die normale gang van die lewe voel dit of daar nie regtig iets gebeur nie, en of alles in die lewe net so stadig voortsleur. Kyk 'n mens oor die voetspore van 21 jaar, dan sien 'n mens 'n duidelike reis.

Ja, in hierdie tyd het ons op 'n paar plekke gebly, Huis JBM Hertzog en die wit woonstelle, die plot Staalwater daar buite Bainsvlei, Bloemfontein. Die weermagbasis se treintrokhuis in Kroonstad. Die skoolkoshuis by die HTS Kroonstad. Die stukkende spoorweghuisie in Papenfusstraat 33 in Kroonstad.
Uiteindelik die beroep na Waterberg gemeente toe, die pastorie in Boshoffstraat, en later, die pastorie langs die kerk in Nylstroom-Oos.

Om na 21 jaar weer op dieselfde punt uit te kom waar ons was as jongmense, was vir 'n slag weer baie lekker. Dit het 'n mens se gedagtes sommer weer op ver paaie laat loop. Een en twintig keer om die son gereis. In hierdie tyd het ons baie liefgehad, soms baklei, baie gelag en soms gehuil, baie geëet en soms geoefen...

Die voetspore agter ons sal ek nie anders wou hê nie. Hoe lyk die voetspore vorentoe? Sal ons oor 21 jaar nog hier wees? Sal ons nog gesond genoeg wees om nog 'n keer die Blyderivierspoort te stap?  Gaan ons nog wonderlike mense ontmoet wat ons lewens gaan verryk? Gaan ons nog wonderlike ervarings hê, mooi plekke sien? Gaan die volgende skof net so goed wees soos die eerste een?

Wel, daar is net een manier om uit te vind. Kom ons loop...

Tuesday, October 26, 2010

Die sêd, sêd storie van 1 Oktober 2010

So baie mense het gehoor, en my gevra wat gebeur het met my Drifter op 1 Oktober. Hier is die volle, hartseer verhaal...

Dit was 'n sonnige Vrydag, en my afdag. My vrou wou graag iets by Pick 'n Pay gehad het (enkele dae voor Nylstroom s'n oopgemaak het!)

Ek het rustig die oggend deurgery, en haar inkopies gaan doen. Daarna het ek nie, soos gewoonlik, by 'n koffieshop gestop nie. Ek het uitgery op die Warmbad dampad, want ek het gehoor van 'n Engelse pub so 7 km verby die dam. Julle sal dit nie glo nie, ek het die pub gekry, en nie eers ingegaan nie. Ek het rustig verder gery- die lugversorging aan, mooi musiek op die radio, pragtige kameelperde en bokkies langs die pad. Die tipe dae waaroor 'n mens mos net droom in die "ratrace" ...

So entjie verder draai die Loubad pad uit na regs. Dadelik is daar 'n stewige S- kurwe, wat nie mooi aangedui is met padtekens nie. Die pad was ook pas geskraap. Ek het die tweede draai teen so 40 km/h genader, en toe ek my stuurwiel draai, het die agterkant baie skerp na regs weggebreek. Dan draai 'n mens mos in die gly in, en trap die versneller... maar my voorwiel het die walletjie getref, en die bakkie in die lug in opgeskiet.  Ek dra nie graag hierdie bakkie se veiligheidsgordel nie, want dit sit oor my nek. Maar ek moes toe vir lewe en dood aan die stuurwiel vasklou. Nie veel gehelp nie, want toe die bakkie so lê, toe lê ek op die stukkende venster van die passasiersdeur. As dit vinniger was, dan het die bakkie bo-op my beland!

Nou sit ek in die bakkie, en probeer my selfoon vind. EK kry dit in 10 minute se soek glad nie. Al die aankopies lê die hele wêreld vol, en geen selfoon in sig nie. Normaalweg bel so 3 miljoen mense my elke dag. Hierdie oggend- geen oproepe nie! Ek klim toe uit die bakkie uit by die boonste deur. Dis vrek warm, en al wat in die bakkie is, is 'n bottel wyn. Ek kan nie dit begin drink nie, netnou kom die polisie daar aan. Ek stap na die naaste plaashuis toe- en dis verlate. Besef my bakkie lê sleg in 'n draai, en iemand kan dalk in hom vasjaag en seerkry. Gaan wag by die bakkie vir die eerste voertuig wat verby kom. Dit neem toe meer as 'n uur, voor een van die naweekboere daar verby ry. Binne vyf minute is daar skielik nog vier voertuie verby- hoe werk dit? Dié Pieter bel van sy bure in die omgewing, die gesin Swart. Hulle kom met 'n trekker en 'n "winch", en ons katrol die bakkie tot terug op sy wiele. Ons bel vir Annelie, en sy bel terug. Waar kry ek my selfoon? Bo-op die passasiersitplek, teen die grond, met 'n bottel Achar wat oor dit gebreek het. Ek koop nooit Achar nie- dié was die eerste een in my lewe!

In elk geval, ek het stadig teruggery Nylstroom toe, en die bakkie gaan ingee by B+S paneelkloppers, op die versekering se aanbeveling. Nou wag ek maar geduldig-die skade beloop R45000. Om die Achar uit my selfoon te gaan haal- R350. My versekering gaan my verseker nou looi op die premies.

Maar om ongeskonde hier te kon uitklim, nadat van my gemeentelede op soortgelyke wyse dood is of nekke gebreek het, is regtig net genade. Ek wonder egter nog steeds wat die les was wat ek gedurende hierdie Oktober moes leer. Want kort daarna het die weerlig my rekenaar uitgeslaan. 'n reuse moerbeitak het net langs my geval. My dogter het twee keer geval met die scooter. Wat aangaan, is ek nie meer seker nie. Net dankbaar om nog hier te wees...

Friday, August 27, 2010

En toe koop Oom 'n plaas! Of- hoogmoed kom tot 'n val?

So wen die jongste, Stephan, mos toe hierdie pragtige Silverback Reno bergfiets op NG Kerk Springbokvlakte se basaar.  En nou hou hy aan by sy pa, wat darem al 16 Argusse voltooi het: Kom ons gaan ry Vrydagmiddag in die Braksloot. Nou die Braksloot is enige 4X4 entoesias se droom: baie hektare vol grondpaadjies, bulte, draaie, slote, dongas, canyons... nou ja- jy kry seker die prentjie?
Net buite Nylstroom, twee kilometer van die huis af. Nou het Pa mos nog sy Trek 800 Trial, met voorste skokbrekers, wat darem 7 Argusse voltooi het. Ja, Pa het nou wel vier maande laas fiets gery, maar vir liefde se onthalwe gaan ons Vrydagmiddag Braksloot toe. Toe was daar so klein berekeningsfoutjie êrens langs die pad. Stephan se fiets het knobly bande op. Pa het Continental Town & Countries op- lekker op die teer, orraait op 'n grondpad, nag in die sand en op klippe.

Ons twee ry in by die Braksloot. Hy is lekker lig, en sweef oor die sand. Pa is, sal ons maar sê so bietjie duideliker, en met my bande sak ek net weg in die dik sand. Toe kom ons op wat lyk soos 'n moto X baan. Lekker hobbels, skerp draaie. Ou Stephan seil deur hulle- hoe moeilik kan dit nou wees as jy 9 jaar oud is, drie weke voor 10? Pa hyg en suig en probeer sy pose hou.

Tot in die eerste draai. Dit lyk darem so maklik! 90 Grade draai na regs, goeie pypvorm, klipperig- soos ek op skool met my "scrambler" van hulle gehou het. Pa verstaan mos hierdie goed. EN die volgende oomblik toe lê pa en klippies uit sy linkerbeen uit grawe, terwyl  hy sy bes probeer om nie te donker Afrikaans te besig wat vir die res van die seun se lewe in sy gedagtes sal bly nie!

Deksels- ek sal nuwe tires moet opsit as hierdie 'n gereelde speletjie gaan word. En ek sal beter maniere moet kry om te briek in die draaie. Nou ja, ten spyte van die bloed en die donker gedagtes was dit nog steeds lekker om saam met Stephan te gaan fietsry. Ek hoop net volgende keer is hy nie so wit geskrik vir die helse slag hier agter hom nie!



Linkerbeen gebruik as remskoene is nie 'n goeie idee nie!

Monday, August 16, 2010

Motorfiets nommer 5: My Aprilia Pegaso 650!

Dit het so gebeur: Eendag, lank lank gelede was daar 'n dominee, wat altyd in sy hart die hunkering na stilte en vryheid het. So lank hy kan onthou, was sy gelukkigste tye op motorfietse gewees. Die tipe vriende wat hy in die motorfietswêreld gemaak het, was dié met wie 'n mens deur 'n oorlog sou kon gaan. Soms harde mense, soms rowwe kante, maar beslis nie soveel maskers en hang-ups as die algemene motorfietslose man op straat nie!

Weens finansies, en daardie een boeboe met die Honda CB 750 F was daar 'n dekade in sy lewe sonder 'n werkende, gewillige motorfiets. En soos in een van die vorige stories vermeld, daag vriend Sam Hoffmann nog boonop op met 'n uitnodiging na Buell se 2006 bekendstellingsdag. Wel, daar het die ou verslawing maar weer vasbytplek gekry. Julle ken natuurlik hierdie dominee, né?

Wel, op pad na die Buell dag toe stop ons by 'n motorfietswinkel in Zambesiweg, Pretoria. En daar op die vloer staan twee ou BMW 650 GS 'e. Dit was wat ek begin dink het om te koop. Maar langs hulle staan 'n Aprilia Pegaso, later model, heelwat minder geld, en dit lyk dieselfde vir my. Ek moet bieg, op hierdie oomblik het ek nog nooit regtig van Aprilia kennis geneem nie. Ek begin later soek op die Internet, en kom agter dat Aprilia die BMW 650 reeks vir BMW in hulle fabriek in Italië bou. Ek leer dat die Aprilia ook met 'n Rotax 648 cc enjin uitkom, daardie Oostenrykse staatmaker wat al verskeie toekennings gewen het vir die beste enkelsilinder enjin in die wêreld.

Laastens: dit het gegaan oor bekostigbaarheid. As geld nie 'n opsie was nie, het ek seker vandag 'n BMW 1200 gery- GS of RT, dalk selfs S soos 'n paar vriende...
Maar: geld was en is steeds 'n groot briek in my drome...

Daarna volg 'n paar weke: elke Donderdag die Junkmail koop. En op 'n goeie dag (eers die volgende Dinsdag) sien ek die advertensie raak: 2000 Model Aprilia Pegaso, net 10 000 km op die klok, R32 000 in Pretoria. Het julle al gesien hoe vinnig kan 'n mens afsprake rondskuif as jy regtig wil? Ek bel die ou: Ja, hy is nog steeds beskikbaar. Gryp Ouboet Bernard, en ry Pretoria toe. En toe die man sy garage oopmaak, en ons hierdie pragtige Italiaanse meisie met die oulike kurwes sien, toe is dit verby! Bernard sê : "Pa, koop hom!" En Pa dink: Watter besondere wysheid en insig is hierdie seun van my nie mee geseën nie!

In elk geval: ons vat hom vir 'n spin. Op daardie stadium het sy nie 'n enkele krappie op gehad nie, net 'n krakie in die windskerm. Ons kom terug en sê: Ons koop haar. In daardie week maar gaan reël vir 'n banktjekkie uit my huislening uit.

Met 'n lied in die hart die motorfiets vol petrol gemaak, en teruggery huis toe, met 'n Pavarotti lied in my hart, iets soos Nessum Dorma. Die eerste keer nie 'n Honda nie, die eerste keer nuwer as 1982! Hierdie motorfiets hanteer soos 'n droom, en was nou al 2 keer met my Kaap toe sonder enige probleme.  Die liefdesverhouding duur steeds voort. So nou en dan (deur die Karoo!) wens 'n mens steeds vir daardie een met die blou en wit propellertjie wat anderkant 200 kan gaan, want gelaai sukkel ons twee maar om verby 150 te kom met 'n wind van voor. Maar hier in die dorp, en vir 'n vinnige hospitaalbesoek in Pretoria deur die verkeer het: onverbeterlik!

Kyk mooi na haar naam: Huisbesoek. Dan kan Annelie eerlik sê: Ewald is uit op Huisbesoek!  Ek geniet Huisbesoek besonder baie!

Monday, August 2, 2010

Die droom kom nader!

Foto: Jill and David se blog 1 Augustus 2010
Is dit die besef van die middeljare wat my in die spieël begin bekruip? Is dit die vrees vir 2012 en die eerste kuiken wat uit die nes uit moet vlieg? Is dit die gevoel van die mak sirkusleeu wat net te lank agter tralies is, en begin dowwe oë kry?

Iets in my skreeu dit uit: dis tyd vir 'n MOERSE avontuur! Tyd om totaal uit die groef uit te breek. Doen iets wat ek nog nooit voorheen gedoen het nie.

Wel, so paar jaar gelede het ek en Marthinus Britz 'n lesing bygewoon in die Kaap, waar 'n groep mense opgewonde vertel het van die CAmino de Santiago in die Noordweste van Spanje. Destyds net so effens kennis geneem daarvan: Ja, Ja, dis net vir julle Bloubergstrand rykgatte bedoel! Van verlede jaar af begin die roepstem saggies fluister, tot dit nou in my kop begin skreeu: gaan loop 'n deel van die Camino, dit sal jou baie goed doen!

Die pelgrimsreis is al bekend van ten minste die 12e eeu af. Die oorspronklike bedoeling daarvan was om te voet/perd en later ook fietse te reis van jou huis af na CAmpostelo, waar die legende lui dat Jakobus, die broer van Jesus, begrawe sou lê. Iets te make met ikone en ander heilige goeters van die Rooms Katolieke. Nou wel, die legende klink maar baie effentjies, siende dat Jakobus in Jerusalem tereg gestel is. Die mite sê die ander dissipels het sy liggaam geneem, en 'n boot sonder seile of roeispane het by die Middellandse See verskyn, die liggaam geneem, en daar by die einde van die wêreld gaan aflaai, waar dit in latere eeue deur spesiale openbaring aan 'n priester uitgewys is.

Nou kyk, ek het nie 'n saak met heiliges of hulle bene nie. Maar wat my trek, is daardie fisiese uitdaging. Dit lyk of dit 'n baie mooi deel van die wêreld is. Daar is verskriklik baie "refugio's" langs die roete- spesiale "backpackers lodges" net vir pelgrims. Dit kan taai raak- een skof is bv 38 km lank. Daarom moet 'n mens fiks wees, en lig pak, verkieslik nie meer as 10 kg rugsak nie. Dis wat my trek. Ek is tans goed oorgewig, ernstig op pad na 'n hartaanval toe, en sukkel om van die bed af toilet toe te loop sonder om te hyg. Ek voel vasgevang tussen 'n oormaat aardse besittings wat elke dag om aandag vra, en dreig om uitmekaar te val as daar nie DADELIK iets herstel word nie. En die roepstemme van 1700 mense wat almal dadelik huisbesoek wil hê, anders gaan hulle per ongeluk hel toe of so iets, maar net 200 wat rerig iets groter tot stand wil bring wat 'n verskil in die wêreld kan maak. (Oeps- hierdie een moes dalk op my anonieme blog verskyn het! :-) )

Dis die droom: kry iets om weer fiks voor te word. Kom vry van die aardse dinge. Kom in die natuur, kom in aanraking met mense wat my glad nie as DOMINEE ken nie. Weet nie presies waar ek vanaand slaap, of wat ek gaan eet nie. Ag, ek dink die enkele woordjie waarna ek soek, is 'n stukkie VRYHEID! En hoor dalk net weer die Here se fluisterstem in die storms en die wind, die son en die see.

Waar anders in die wêreld kan jy vir amper verniet deur 'n mooi land stap, waar jy as pelgrim met groot gasvryheid behandel word, en tyd kry om weer stil te word, sonder selfone wat lui, en mense wat dringend 'n klomp nonsens goeters met jou wil bespreek?

En die droom begin nou vlerke en voete kry. Verlede week my nuwe paar Wolverine Fortis skoene op die kredietkaart gekoop. Gisteraand my vliegkaartjie met my huislening betaal. Lufthansa via Frankfurt na Madrid: 27 Mei 2011. Terug na die realiteit 20 Junie 2011. Wens ek kon nog langer wegraak. Maar Annelie kan nie saamgaan nie, en ek verlang te veel na 3 weke- die nadeel van 'n gelukkige huwelik!

Het nou al 10 km op my nuwe skoene gesit. Blase: 3.
Nog baie ver na 39 km/dag af, maar ons het 'n begin gemaak. Campostelo, hier kom ek!


Foto: Wolverine Fortis ICS Hiking Boots- van hulle website af. Hulle waarborg dit is die lekkerste skoen wat jy nog ooit gedra het, of jou geld terug na 'n maand. 

Friday, July 16, 2010

Daardie dag met die Harley...

My vriende weet: die tweede naweek in Maart is ek altyd weg uit Nylstroom uit. Dan is dit tyd vir twee van die mees kosbare afsprake in my lewe. Die kleiner ene is om om Tafelberg met die fiets (trap) te gaan ry- so klein dingetjie genaamd die Argus, met sy 40 000 ryers, die Suid-Ooster ens. Maar die groter afspraak is met my vriend Marthinus en sy familie in Melkbosstrand- kosbare mense in my lewe. Dit kan dalk ook soms gebeur dat 'n bottel KWV 5 jaar oud per ongeluk sy *** sien, maar dis ook weer 'n ander storie.

Een van die liefdes wat ek en Marthinus deel, behels twee wiele en 'n enjin. So gebeur dit een jaar dat my foon lui een sonnige dag in Februarie. Dis Marthinus. En hy sê as ek weet wat is goed vir my siel, dan sal ek sorg dat ek al die naweek voor die Argus by hom is. Nou kyk, as daar een mens in my lewe is wie se aanbevelings ek dadelik vat sonder om vrae te vra, is dit Marthinus Britz s'n- 'n wyse man, voorwaar!

Ter wille van my sondige siel sorg ek toe dat ek al die naweek voor die Argus by sy huis in Melkbosstrand inklok. Die saak staan nou so: Marthinus en 'n paar vriende het 'n verjaardagklub gehad. Elke maand betaal elkeen so iets in. En as dit jou verjaarsdag is, dan maak hulle een van jou drome waar, solank dit nou nie Pamela Anderson of so iemand behels nie...

Marthinus se vriende het vir hom gehuur: 'n Haley Davidson Electra Glide- die oumeneer van die HArley's.
So ry ons na Kaapstad se middestad toe, en gaan boek die Harley uit. So 'n vormpie word ook geteken dat as jy hom beskadig, gaan dit jou R10 000 kos. Marthinus teken braaf, daarna trek hy en Elna weg met die Harley, en ek agterna in sy Tiburon (die dae voor hy BMW kon bekostig!)

Nou ja, om uit die familie uit te praat- daardie eerste draai om die eilandjie was amper rampspoedig. Want Marthinus sit hom netjies, versigtig op sy kant neer. Ek lag niks nie- ek belowe. Hardloop om hom te gaan help.

Die Saterdagoggend was pret. Die Suid-ooster het so liggies gewaai, nie te kwaai nie. Marthinus en Elna is op die Harley, ek in die Tiburon, en ons gaan Hermanus toe. Maar die ou windjie waai. Marthinus spook maar met die fiets. En ek sit lekker in die Tiburon, musiek kliphard. Lekker geëet in Hermanus, terug Melkbos toe. Daardie middag het die vriende wat help betaal het, ook kom saamspeel.

Sondag moes Marthinus preek. Maar ek was nie in sy diens nie! Een van my drome het toe ook waar geword. Lucy Jordan se ballade het mos gesê dat sy toe nooit deur Parys met 'n sportmotor gery het, met die wind in haar hare nie. Wel, ek het toe deur Kampsbaai se hoofstraat met die grootste Harley gery, geparkeer voor 'n koffieshop, en met so lekker windgat houding daar ingestap, asof die plek aan my behoort. Een ding van die Bucket List af!

Twee goedjies wat ek graag wil noem- kyk daardie helmet op die foto. Marthinus vat seker 'n Medium helmet. Ek het 'n XXL nodig. Ek moes my bakore so netjies opvou en probeer indruk. Toe die helmet met 'n tienpondhamer slaan om op my kop te pas. En dadelik hoofpyn gekry soos die ding my druk. Maar vir sekere sake is ek bereid om te ly! Drome waar maak is een van hulle.

Tweede ding: ek verstaan toe hoekom die Harley so maklik gaan lê het in die eerste draai. Die blêrrie ding weeg seker 'n halwe ton! En in die verkeer bestuur hy amper soos 'n Olifant tenk.  Dis verseker nie 'n fiets wat ek sal koop om mee te "commute" nie! Maar daardie "potato-potato" klank, en die bleek outjies in hulle Merc's en Shitty Golfs se gesigsuitdrukking maak die intimidasie faktor so heerlik macho!

Ten spyte van die gewig was dit baie, baie lekker om Chapman's Peak se draaie te gaan vat met hom. En ja, hy pas in by Kampsbaai se hoofstraat (-strand!) Image het hy verseker.

So het Marthinus een van my drome waar gemaak. Thanks Pal! Wat nou van Route 66 in Amerika met twee sulke menere? (Onttrekkings by Nedbank met balaklavas en ons 9 mils sal seker dit kan finansier?)

Sunday, July 11, 2010

Met 'n rugsak reis jy op die "road less travelled"


Kan ek een ding van my hart af kry? Ek kry verskriklik swaar op 'n staptoer, my hele lewe lank al. Daar is iets aan 'n rugsak wat my doodmoeg maak. En al is ek hoe fietsryfiks, hierdie is 'n ander tipe fiks wat ek net nie bemeester nie.

Maar net so moeilik as wat dit is, so is daar iets wat my van kleins af trek rondom 'n rugsak, 'n blou gasstofie, en 'n pad waar my kar nie kan  ry nie. Ek dink dit het al in Standerd 4 begin, toe ons met die Voortrekkers by Graskop  Veldskool was. Ek het in Standerd 8 die Fanie Botha gestap saam met 'n paar vriende. EK het die Holkrans wandelpad op Lisa van Niekerk se plaas twee maal gestap- bestaan hy nog? Die Blyderiviers saam met Annelie toe ons nog net uitgegaan het. (FAmilie was bang ons gaan saam stout wees, maar ons was te moeg om daaraan te dink!)
Op Universiteit was ek saam met die Stapklub in die Drakensberge, tot bo- op Mount Aux Sources. Ek het in my eerste gemeente 'n staptoer gereël daar bokant Pelgrimsrust. EN in Nylstroom-Oos gemeente het my vorige kollega begin met die ding om die belydenisklas Drakensberge toe te neem. Ek was een keer saam na Cathedral Peak toe, maar dit was 'n baie erge ervaring, veral met hulle gewoonte om een nag 12 uur kamp op te slaan en na die piek toe te klim met rugsakke en al.

Vandat Lukas na Outjo toe terug beroep is, het ek drie keer die Belydenisklas na Monk's Cowl, daar net langs Champagne Castle hotel toe geneem, nou so onlangs as 5-9 Julie 2010 weer. En dit bly steeds lekker, al is my bene steeds seer soos ek hier sit en skryf!  My rugsak was alweer anderkant 20 kg, en met my onfikse lyf was dit erg om hom na bo te sleep, veral daar teen die kant van die Sfinks uit. Maar om die tent in die rivierlopie op te slaan, die heerlike soet water daar bo te drink waar geen mens dit nog kon besoedel nie, en die sterre te sien waar geen elektriese lig hulle glans steel nie- dit bly die lewe!

Ek het die voorreg gehad om my dogter hierdie jaar saam te neem. En ek is baie trots op haar. Sy is nou nie heeltemal die grootste aanhanger van kampeer nie, en hierdie was haar eerste ervaring van 'n rugsak, en om 6 km van die naaste toilet af te wees. En tog het sy dit baie goed gevat, selfs haar 17e verjaarsdag opgeoffer om dit saam met haar pa te doen.

Die lekker van stap met 'n rugsak is om weg te kom van beskawing. Weg van televisie en internet, weg van brandstofrekeninge en geraas. Om weer vir 'n slag op jou rug te kan lê in die winterson, en te kyk hoe 'n arend hoog bo die bergpieke sweef- dit maak die lewe weer die moeite werd.

Die groot droom begin opbou- Die Camino de Santiago in Spanje, maar dis 'n ander storie.

Saturday, July 3, 2010

Reis soms buite die gemaksone...

Om op reis te wees, is nie altyd maklik nie. EK hou baie van my eie bed. Ek geniet dit as die stort 3 m weg is, en die naaste toilet nie verder as 10 m nie.

Maar van kleins af was daar ook 'n ander stem wat soms diep in die nag fluister. Daardie stem van die natuur, om te gaan waar my kar nie kan loop nie. Om onder die sterretjies te slaap. Om nie te bad nie, water uit die rivier te drink. Terug na die basiese ding van menswees.

Die een goeie ding wat ek by my vorige kollega geërf het, is die belydenisklas- daardie jong manne en dames in Graad 11, wat gereed maak om die grootmenswêreld self aan te durf.  En Sondag na Sondag sien ek of my vriend Danie hulle na kerk. Sondag na Sondag het ons 40 minute om hulle rustig te kry, om die gejaag van die normale lewe stil te kry, en ietsie van 'n Hemelse Vader se liefde met hulle te deel. Amper onmoontlik. Maar in die Julievakansie kry ons die geleentheid van 'n leeftyd. Die goeie tradisie is dat ons almal wat kan, saamneem na die Drakensberge toe. Hoekom in Julie? Want ons is bang vir die weerligseisoen! Hoekom die Drakensberge? Want dit is 'n baie spesiale plek om die Here te ontmoet. 'n Plek waar jy nie anders kan as om stil te word, en oorweldig te word deur die grootheid van die mooi nie.

Voorheen was ons by Cathedral Peak- en dit lyk mos regtig mooier as enige katedraal! Deesdae gaan ons by Monk's Cowl- net veiliger, en net so mooi. Ons slaap die eerste aand onder, soos julle my op die foto kan sien. 'n Mens klim mos nie in daai tentjie in nie, jy trek hom aan! In elk geval, hier lyk ek op my mooiste, net voor alles in die rugsak kom. Dan klim ons teen eie pas op tot bo by Blindman's Corner. 'n Gepaste plek om outjies heen te vat, sodat hulle oë kan oopgaan...

Maandag 5 Julie sal my amptelike derde toer wees wat ek gereël het. Ek gaan weer self die Kinderhuis se bus bestuur. Ek gaan baie moeg wees as ons daar aankom! Die volgende dag gaan ek my onfikse bas teen die berg opsleep, en probeer om nie te lyk asof Saffas my enige oomblik gaan kom haal nie.  Bo gaan ons kamp opslaan, kos maak, en dan net.... WEES!!! Ons gaan stil wees, ons gaan mens wees, ons gaan DAAR wees... Wat gaan ons doen? Ek weet nie regtig nie. EK gee ook nie om nie. EK het nie hierdie jaar 'n gedrukte program nie. In ons stil wees vertrou ek dat ons die sagte fluistering van die Heilige Gees, en die lied van die wind, en die teenwoordigheid van die berg sal beleef.

Vrydag 9 Julie sal ons waarskynlik, DV, teen sononder weer by die huis aankom. Ons sal warm kos eet, warm bad, skoon klere aantrek, en in 'n warm bed klim. Die jonge manne en dames gaan hopelik 'n nuwe waardering vir hulle Hemelse Vader, vir hulle eie huise, ouers, kos, menswees hê. Ek vertrou dat dit vir my net so blywend gaan aanraak- 'n nuwe stuk dankbaarheid gaan losmaak, net om weer te kan WEES...