Dit het so gebeur: Eendag, lank lank gelede was daar 'n dominee, wat altyd in sy hart die hunkering na stilte en vryheid het. So lank hy kan onthou, was sy gelukkigste tye op motorfietse gewees. Die tipe vriende wat hy in die motorfietswêreld gemaak het, was dié met wie 'n mens deur 'n oorlog sou kon gaan. Soms harde mense, soms rowwe kante, maar beslis nie soveel maskers en hang-ups as die algemene motorfietslose man op straat nie!
Weens finansies, en daardie een boeboe met die Honda CB 750 F was daar 'n dekade in sy lewe sonder 'n werkende, gewillige motorfiets. En soos in een van die vorige stories vermeld, daag vriend Sam Hoffmann nog boonop op met 'n uitnodiging na Buell se 2006 bekendstellingsdag. Wel, daar het die ou verslawing maar weer vasbytplek gekry. Julle ken natuurlik hierdie dominee, né?
Wel, op pad na die Buell dag toe stop ons by 'n motorfietswinkel in Zambesiweg, Pretoria. En daar op die vloer staan twee ou BMW 650 GS 'e. Dit was wat ek begin dink het om te koop. Maar langs hulle staan 'n Aprilia Pegaso, later model, heelwat minder geld, en dit lyk dieselfde vir my. Ek moet bieg, op hierdie oomblik het ek nog nooit regtig van Aprilia kennis geneem nie. Ek begin later soek op die Internet, en kom agter dat Aprilia die BMW 650 reeks vir BMW in hulle fabriek in Italië bou. Ek leer dat die Aprilia ook met 'n Rotax 648 cc enjin uitkom, daardie Oostenrykse staatmaker wat al verskeie toekennings gewen het vir die beste enkelsilinder enjin in die wêreld.
Laastens: dit het gegaan oor bekostigbaarheid. As geld nie 'n opsie was nie, het ek seker vandag 'n BMW 1200 gery- GS of RT, dalk selfs S soos 'n paar vriende...
Maar: geld was en is steeds 'n groot briek in my drome...
Daarna volg 'n paar weke: elke Donderdag die Junkmail koop. En op 'n goeie dag (eers die volgende Dinsdag) sien ek die advertensie raak: 2000 Model Aprilia Pegaso, net 10 000 km op die klok, R32 000 in Pretoria. Het julle al gesien hoe vinnig kan 'n mens afsprake rondskuif as jy regtig wil? Ek bel die ou: Ja, hy is nog steeds beskikbaar. Gryp Ouboet Bernard, en ry Pretoria toe. En toe die man sy garage oopmaak, en ons hierdie pragtige Italiaanse meisie met die oulike kurwes sien, toe is dit verby! Bernard sê : "Pa, koop hom!" En Pa dink: Watter besondere wysheid en insig is hierdie seun van my nie mee geseën nie!
In elk geval: ons vat hom vir 'n spin. Op daardie stadium het sy nie 'n enkele krappie op gehad nie, net 'n krakie in die windskerm. Ons kom terug en sê: Ons koop haar. In daardie week maar gaan reël vir 'n banktjekkie uit my huislening uit.
Met 'n lied in die hart die motorfiets vol petrol gemaak, en teruggery huis toe, met 'n Pavarotti lied in my hart, iets soos Nessum Dorma. Die eerste keer nie 'n Honda nie, die eerste keer nuwer as 1982! Hierdie motorfiets hanteer soos 'n droom, en was nou al 2 keer met my Kaap toe sonder enige probleme. Die liefdesverhouding duur steeds voort. So nou en dan (deur die Karoo!) wens 'n mens steeds vir daardie een met die blou en wit propellertjie wat anderkant 200 kan gaan, want gelaai sukkel ons twee maar om verby 150 te kom met 'n wind van voor. Maar hier in die dorp, en vir 'n vinnige hospitaalbesoek in Pretoria deur die verkeer het: onverbeterlik!
Kyk mooi na haar naam: Huisbesoek. Dan kan Annelie eerlik sê: Ewald is uit op Huisbesoek! Ek geniet Huisbesoek besonder baie!
No comments:
Post a Comment
En jy daar, wat sê jy?