Net buite Nylstroom, twee kilometer van die huis af. Nou het Pa mos nog sy Trek 800 Trial, met voorste skokbrekers, wat darem 7 Argusse voltooi het. Ja, Pa het nou wel vier maande laas fiets gery, maar vir liefde se onthalwe gaan ons Vrydagmiddag Braksloot toe. Toe was daar so klein berekeningsfoutjie êrens langs die pad. Stephan se fiets het knobly bande op. Pa het Continental Town & Countries op- lekker op die teer, orraait op 'n grondpad, nag in die sand en op klippe.
Ons twee ry in by die Braksloot. Hy is lekker lig, en sweef oor die sand. Pa is, sal ons maar sê so bietjie duideliker, en met my bande sak ek net weg in die dik sand. Toe kom ons op wat lyk soos 'n moto X baan. Lekker hobbels, skerp draaie. Ou Stephan seil deur hulle- hoe moeilik kan dit nou wees as jy 9 jaar oud is, drie weke voor 10? Pa hyg en suig en probeer sy pose hou.
Tot in die eerste draai. Dit lyk darem so maklik! 90 Grade draai na regs, goeie pypvorm, klipperig- soos ek op skool met my "scrambler" van hulle gehou het. Pa verstaan mos hierdie goed. EN die volgende oomblik toe lê pa en klippies uit sy linkerbeen uit grawe, terwyl hy sy bes probeer om nie te donker Afrikaans te besig wat vir die res van die seun se lewe in sy gedagtes sal bly nie!
Deksels- ek sal nuwe tires moet opsit as hierdie 'n gereelde speletjie gaan word. En ek sal beter maniere moet kry om te briek in die draaie. Nou ja, ten spyte van die bloed en die donker gedagtes was dit nog steeds lekker om saam met Stephan te gaan fietsry. Ek hoop net volgende keer is hy nie so wit geskrik vir die helse slag hier agter hom nie!
Linkerbeen gebruik as remskoene is nie 'n goeie idee nie! |
No comments:
Post a Comment
En jy daar, wat sê jy?