'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Sunday, April 24, 2011

My Universiteitskamermaat- Heinrich Eksteen


 Dit is Opstandingsondag. Ek kyk na kerk deur 'n ou fotoalbum. En skielik sien ek weer die fotos van my ou kamermaat. EN soos die afgelope paar jaar al, begin ek verlang na hom.

Van die wonderlikste tye in 'n mens se lewe beleef jy op universiteit.  En dit is regtig 'n voorreg om in 'n Universiteitskoshuis te kan woon.

Ek het dit baie geniet om 'n Kovsie te wees. Universiteit van die Oranje Vrystaat.  Ek het ook die voorreg gehad om in die Huis van Meesters te woon, Huis J.B.M. Hertzog.

My eerste jaar was so bietjie van 'n gemors (om dit lig te stel!). Net so voor Geloftedag aan die einde van matriek is my jongste sussie aan kanker dood. 'n Maand later moet ek die grootmenswêreld aandurf, as eerstejaar in 'n koshuis. Ek het baie issues gehad, ek weet dit vandag.

My eerstejaar kamermaat het ook issues gehad, en aan die einde van ons eerste jaar die koshuis verlaat. Dit was nie 'n goeie match gewees nie.

Van my tweede tot my vierde jaar het ek die ongelooflike voorreg gehad om Heinrich Ostwald Peters Eksteen (soms bekend as HOP in sekere kringe) as kamermaat te hê. Maar ek dink dalk sy ergste nagmerrie het waar geword toe hy my as kamermaat gekry het.  Maar Heinrich is 'n mens met ongelooflike uithouvermoë.

Heinrich het saam met my begin teologie studeer. Maar waar ek pas uit die Hoërskool en nat agter die ore daar in Bloemfontein aangekom het, was Heinrich reeds in die weermag, twee jaar as Korporaal by Pantserskool.  Die een ding wat 'n mens dadelik van Heinrich kan sê: Hy is 'n baie netjiese mens.  Die een ding wat 'n mens van my kan sê: ek is nie 'n netjiese mens nie. Ons was behoorlik twee teenpole.
Heinrich se klerekas sou enige dag 'n weermaginspeksie kon deurstaan. Sy klere was in sulke netjiese blokke gestapel. Sy boeke was baie netjies gepak in die boekrak. En ander besittings in sy weermag staaltrommel aan die voetenend van sy bed.

My klere was enige plek van die kas tot onder die bed, al die pad tusssenin, in verskillende grade van skoon. My boeke het op die lessenaar gelê in hope. Ek was regtig slordig! Vandag voel ek baie skaam daaroor! (Heinrich, as jy dié dalk ooit lees- ek is toe gestraf- my oudste is 'n rooikop dogter, en sy is drie keer erger as ek!) Mense het altyd baie opmerkings gemaak as hulle in ons kamer instap. Maar Heinrich het dit geduldig aanvaar.

In ons tweede jaar het Heinrich die Universiteit se mobiele klankstelsel gereeld ge"operate". So nou en dan het daardie klankstelsel oornag in ons kamer, in JBM se gang 3, wat so mooi uitkyk op Verwoerd en De Wet. So nou en dan, na 23h00, is die luidsprekers uitgedra, en dan het  Heinrich vir die manne in stereo byklanke gespeel, soos 'n trein wat verby kom. Dit het ook so nou en dan amper tot koshuisgevegte gelei- seker omdat De Wet en Verwoerd vol akademiese reuse was wat hulle slaap nodig gehad het! 

In ons derde jaar het ons 'n kamer gehad by trappe in Gang 7, wat afloop na die universiteit se muurbalbane toe. Ons het baie gereeld na 22h00 in die aande vinnig afgehardloop, en 'n paar balle gaan slaan.
Die koffies saam met Heinrich in die aande is iets wat ek regtig baie mis. Heinrich is 'n diep mens, met wonderlike insigte.

Die Grieks en die Hebreeus het hom egter bietjie gepootjie. Ek het die goed net-net deurgekom, Heinrich het altyd daardie een of twee punte gekort. Dit was eintlik vreeslik snaaks om te sien hoe goed Heinrich kon beplan. Hy kon baie mooi studieskedules opstel met die bietjie tyd wat oor was voor 'n toets. Dan is daar ook ruimte vir 'n muurbal, ruimte vir koffie, saam met my of saam met 'n dame. Dan ruk die kuier bietjie hande uit, dan is sy skedule deurmekaar, en dan herbeplan hy weer. Hy het verskriklik baie tyd aan beplanning afgestaan. Ek het nooit beplan nie, net in die laaste minute soveel as moontlik inligting in my deurmekaar verstand probeer inprop. En dit het daai 2% verskil gemaak tussen ons.

Heinrich was altyd 'n galante heer met die dames. Hy sou altyd verskriklik belang stel in iemand, haar soos 'n regte dame laat voel, en absoluut soos enige skoonma se droom optree met die skoner geslag. Hy het nooit soos baie van ons 'n dop te veel gevat nie, hy het 'n reguit pad as gelowige gestap.

Ons paaie het ongelukkig geskei na ons koshuistyd. Heinrich het sy droom laat vaar om dominee te word. Hy het vir die SAUK gaan werk. Ek het uit die koshuis uitgegaan om te gaan trou. Ons het kontak verloor, iets waaroor ek verskriklik jammer is.

Ek het klaargemaak met universiteit, en ook maar deur die weermag gaan worstel. Heinrich sou geglimlag het om te hoor dat die luitenant wat ons opgelei het in basies, eendag die ander manne in die bungelow geroep het om na my kas te kyk- dit was die standaard wat hy graag by hulle almal wou sien! (Dit het egter nie gehou nie!)

Soos ek ouer word, mis ek my kamermaat baie. EK het hom op facebook raakgeloop, maar hy is nie baie aktief daar nie. Hy het, 21 jaar na my, uiteindelik 'n kamermaat gekry met wie hy die langpad kan saamstap. Ek het die facebook fotos van sy huweliksmaat gesien- Mercia is 'n pragtige vrou!

Ek het ook onlangs 'n CD raakgeloop wat hy opgeneem het, met sy selfoonnommer op. Maar ek is nog half huiwerig om hom te skakel.

Heinrich, jammer vir die kere wat ek 'n drol was! Jammer vir die onnetjiese kamer wat jy in moes bly. Baie dankie vir jou geduld, jou humorsin, en dat jy regtig daardie tyd 'n great ou was, ek hoop jy is dit nog steeds. Dankie vir jou aanvaarding, jy het regtig 'n baie groot rol in my lewe gespeel, en ek kon dit nie destyds regkry om dit te wys of vir jou te sê nie. Dankie vir sulke wonderlike tye saam!

Ek verlang verskriklik na 'n koppie koffie saam met jou. Ek sal so graag vir Mercia wil ontmoet.

2 comments:

  1. Ek is nuuskierig om te weet of jy en jou vriend ooit weer bymekaar uitgekom het?

    ReplyDelete
  2. Dankie, ja, ons het! Het dit op facebook gesit, en 'n gedeelde vriendin het sy nommer vir my gestuur. Ek gaan nou eers bietjie Camino in Spanje, en as ek terugkom gaan ons lekker kuier. Dankie!

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?