'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Monday, April 25, 2011

Klim die berg- omdat hy daar is om te klim.

Gedurende 1988, êrens in April,  het ek bo-oop Mont aux Sources gestaan.
Dit was 'n naweek in my derde jaar. Die universiteit se stapklub het so vinnige wegbreek gereël.

Ek was nog nooit 'n goeie stapper nie, en nog altyd 'n slegter klimmer. Maar die uitdaging was net te groot om nee te sê. My pa het baie keer weggevlug na die berge toe as die lewe vir hom te veel geword het. Hy het vertel van Mont aux Sources se uitsig, ek vermoed dit is waar hy sy een duur kamera  verloor het- dit moes 'n traumatiese long drop gewees het!  My pa het my egter nooit saamgeneem op hierdie trippies van hom nie.  En ek het altyd gewonder hoe voel dit om bo-op die berg te staan.

Die kettingleer daar van Witsieshoek se kant af op was nogal 'n uitdaging. Die ketting was yskoud, en dis 'n redelike fris geleentheid om ver te val daar.  Maar ek dink dit was destyds een van die ervarings op my Bucket List wat ek net moes doen. In elk geval- hier is die fotografiese bewys: ek het al die kettingleer oorwin!

As 'n mens eers daar bo is, dan is die uitsig oor die rand van die afgrond regtig asemrowend. 'n Mens kan baie, baie ver in Natal insien, sommiges sê tot by die see op 'n helder dag. Maar dié dag was so effens deinserig.  Ons het ons tente bo op die eskarp opgeslaan in 'n sirkeltjie.  Daardie nag het dit koud geword daarbo- minus 14 grade volgens een se termometertjie. So koud dat ons op 'n stadium 14 mense in 'n driemantent gesit het, en kaart speel en schnapps drink- jy wou net nie gehad het die ysbere moet jou alleen aantref nie. Net studente kry so baie mense in so klein ruimtetjie in!  Mans en dames gemeng, baie lekker aand gewees!

Die volgende dag het ons nog hoër geklim. Bo-op Mont aux Sources is Crow's Nest 'n verdere koppietjie, met so lekker afgrond aan die een kant. Die stapklub het 'n paar ervare klimmers, wat toue en harnasse saamgebring het. Daar het ek vir die eerste keer absailing gedoen. Praat nou van 'n uitdaging om jou hoogtevrees te oorwin!  Daar is altyd iets om oor dankbaar te wees, dit kon die loodregte afgrond daar waar die Tugela 1 km ver val gewees het!

Die ander eerste, wat ek by Willie Wessels van Wesselsbron geleer het (en nog nooit weer gedoen het nie!) was waar die hele toergroep saam tunaslaai in 'n skoon swart asbliksak maak. Tamaties en komkommer en slaaiblare word daarin opgekerf, rys word op die blou gasstofies gemaak en ingegooi, en 'n paar blikke tuna met mayonaise ingegooi, en goed geroer. Dit was nogal baie lekker- seker so na al die opwinding van die absailing. 

Tunaslaai a la Swartsak
  Party van die meer ervare stappers wou graag die Sentinel gaan klim. Dit is die groot kop aan die linkerkant van Mont aux Sources- hoogste of tweedehoogste punt in die Drakensberge. Maar daarvoor moes 'n mens eers weer af teen die kettingleer, en dan weer op en op en op, en dan is daar glo  'n stukkie regop klim teen 'n rotswand ook betrokke. Daarvoor het ek nou nie kans gesien nie. Eerder die middag gelê en gesels met die dames- dis 'n moeilike werk, maar iemand moet dit doen!


Sondagoggend was dit maar weer tyd om af teen die berg, tot by die polisiestasie in Witsieshoek waar ons geparkeer het. Ons het 'n groepfoto geneem van almal daar teenwoordig. Ek persoonlik kan omtrent net twee of drie van hulle se name nog onthou. Maar die ervaring saam met die klomp Kovsies was regtig lekker.

Dit het my geleer dat 'n mens soms 'n berg moet gaan uitklim, net omdat hy daar is om geklim te word. Van die heel grootste ervarings in die lewe kom nie maklik nie. Dit is juis 'n groot ervaring, omdat 'n mens jou eie vrees in die oë moes kyk, en moes deurdruk. Goeie ervarings lê dikwels anderkant jou eie persepsies van waar jou grense lê. Soms moet 'n mens so bietjie vasbyt en deurdruk, om die uitsig van bo af te kan bewonder.
Ek kan nie meer onthou wat ek vir die volgende week se Griekse toets gekry het nie. Maar hierdie ervaring kan ek nog steeds duidelik onthou. Ek vermoed 'n mens moet soms maar ruimte maak om die lewe te geniet ook. Dis wat ek dalk vir die Griekse proffie gesê het toe ek die toets teruggekry het.

Kovsies se Stapklub, Mont aux Source April 1988- met die Sentinel in die agtergrond.





No comments:

Post a Comment

En jy daar, wat sê jy?