'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Thursday, May 24, 2012

Nog 'n stappie nader aan grootword...

Nee, nie my seun nie, ekke...

Vanoggend het Bernard sy leerlinglisensie gekry vir 'n 125cc motorfiets...

 

Dit bring so baie mooi herinneringe terug. Ek het ook baie vinnig na my 16e verjaardag my leerlinglisensie gekry, vir my pragtige nuwe Honda MTX 50 motorfiets.

Daardie leerlinglisensie het vir my 'n nuwe wêreld oopgemaak: If you don't own wings you'll never fly...  Dit was so opwindend- daardie gevoel van absolute vryheid as jy daardie enjin aan die gang skop, en met 'n woeste draai van die regtergewrig laat wegtrek op die paaie van die lewe in, met 'n groot avontuur wat wag agter die horison. 

Daardie eerste leerlinglisensie, en my eerste motorfiets, het 'n passie begin wat seker lewenslank sal bly, en my dalk nog eendag deur die Jordaanrivier sal vat... Die vryheid, die roepstem van die pad, die onbekende plekke wat nog ontdek moet word. 

Ek kan dieselfde kyk in my seun se oë sien. Soos my teatersuster-ma wil ek waarsku: wees versigtig Seun, die goed is gevaarlik... maar die Bikerpa in my jubel en sê: welkom in ons wêreld! Mag daar altyd 'n pad wees om te gaan kyk wat agter jou horison lê, mag daar altyd 'n BIKE onder jou wees wat jou vinnig en veilig dra, mag daar goeie vriende wees om die ervaring mee te deel, en mag die regte Passasier (Sy!) eendag agterop jou bike klim, om saam met jou die mooi paaie te gaan ry! 

Draai  daai regteroor, my seun, maar onthou om betyds te briek. Kyk altyd uit vir almal rondom jou, veral hulle wat nie kan of wil dink en sien nie... 

As ek eendag groot is, wil ek graag saam met my seuns, elkeen op eie Bike, op 'n lekker roadtrip gaan. Hulle moet die regte dinge gaan studeer, ek droom van Route 66! 

Bernard: Yol Bolsun!

Wednesday, May 16, 2012

Bernard is nou sestien!

Dit voel so onwerklik- die klein mannetjie wat destyds so vinnig gebore is, en so rustig van kleins af was, het Maandag 16 jaar oud geword. Die klein mannetjie is nou 'n hele ent langer as ek. Hy is nog steeds baie rustig en vredeliewend. Tot hy op 'n rugbyveld opdraf! Ek is so bly hy hoef my nie te tackle nie!

In elk geval, Maandag moes Bernard eers 'n ou toetsie deurwerk so op sy verjaardag. Daarna het ek hom by die Hoërskool gaan uittteken. Eers het ons sy ma en sy vermoedelik siek boetie by die Koffieshop in die dorp ontmoet vir koffie en koek. Daarna het ek en hy die pad stad toe gevat.

Ons het heerlik motorfietse gaan kyk by Honda (sy belangstelling) en BMW (myne...) Ja, dit voel soos nou die dag wat ek 16 geword het, en die leerlinglisensie vir my swart Honda MTX 50 gaan skryf het, en my seun deel die liefde...

Na die motorfiets kyk het ons gaan Calamari ringe eet by die Food Lovers Market in Zambesiweg.





Ons het later sy ousus by Menlyn gaan ontmoet vir 'n vinnige koffietjie by Parrots. En daarna het ons vir die man gaan Rugbytokse koop- hy het nou al meer pare as Francois Hougaardt!

Dit was 'n baie lekker daggie saam met my seun, en ek hoop hy sal sy 16e verjaardag onthou as 'n baie spesiale dag. Vrydag gaan hulle eers teen die Kopstampers rugby speel (Naboomspruit se Hans Strijdom- ek wonder of hulle naam ook nou na Solomon Mahlango verander soos Hans Strijdomstraat in TSwanetoria...)
Daarna gaan hy en die rugbyspan hier braai, ek vermoed ons gaan daarna 'n nuwe pastorie nodig hê!

Een van my oudste vriende Roché Vermaak, leraar in Kalifornië, is in Madrid om die CAmino te gaan stap. Volg gerus sy reis by:  rochevermaak.blogspot.com


Sunday, March 18, 2012

Familie is belangrik!

Maggies, maar ek was lanklaas op hierdie blog van my!

Soos ek ouer word, het ek meer en meer behoefte aan familie. Gelukkig kan ek my moedertjie redelik gereeld sien, maar my suster sit aan die ander kant van die wêreld.
Aan moederskant is die familie omtrent almal klaar in die hemel. Ma se broers was oujongkêrels, en niks niggies en nefies aan daardie kant nie. En albei is al oorlede.

Aan pa se kant van die familie het ons nooit regtig by mekaar uitgekom nie. Ek het 'n neef in Beaufort Wes wat ek nog nooit ontmoet het nie.
Ek het twee niggies in Pretoria wat ek gelukkig so nou en dan te siene kry.

Wat vir my baie lekker was op hierdie trippie Kaap toe vir die Argus was, was om na byna 20 jaar weer my pa se broer en al sy kinders weer te sien. In die jare toe ek in Bloemfontein gestudeer het, het hulle so baie vir my beteken.  Na my pa se dood het ons kontak verloor, tot my niggies my weer opgespoor het op facebook.

Ek het op pad Kaap toe by my neef in Bloemfontein oorgeslaap. Hy het 'n wonderlike lewenspad gestap sover, lyk dit vir my- hy is 'n sammajoor in Panserskool, en sy vrou 'n suster by 'n privaat hospitaal in Bloemfontein. Hulle het die pragtigste twee dogtertjies.
Ek kon vir so rukkie saam met my niggie kuier wat net enkele dae jonger as ek is- het nog altyd 'n sagte plek vir haar in my hart gehad.
My oom en tannie lyk ook nog goed, al het die ouderdom maar sy tol stadig begin eis met die gesondheid. Kon so lekker saam met hulle gesels terwyl ons vir my neef wag om sy pligte by die oorlog vir die dag klaar te maak.
Onder in die Kaap kon ek ook weer vir die eerste keer in meer as 20 jaar die jongste niggie en haar gesin sien. Ook hulle is baie gelukkig, met twee pragtige dogters. Ek het so lekker by hulle gekuier, en ek wens 'n mens kon soveel meer saam kuier...

Ek wou net ietsie deel wat ek op die internet opgespoor het, wat ek so graag meer oor sou wou weet. Familiegeskiedenis is nogal onduidelik en onseker by ons...

My pa se biologiese ma is oorlede in 1946, met die geboorte van haar tweede kind (as ek die storie reg het!)
Sy is begrawe in Onder Papegaaiberg in Stellenbosch. Die man wat hom oor my pa ontferm het soos 'n eie pa, lê langs haar begrawe- hy het so baie vir my pa, my oom en susters beteken, maar is oorlede in my pa se matriekjaar, of kort daarna. My pa het nooit oor hierdie seer stukke geskiedenis met my gepraat nie, en so baie stories van waar ek vandaan kom, het net verdwyn. Die ouma wat ek as Ouma Schmidt geken het, is na haar heengaan veras, en my oom en familie het haar as by hierdie graf gestrooi.


As die familie ooit na hierdie graf wil gaan soek- gaan na die Onderpapegaaiberg begraafplaas toe op die pad uit Stellenbosch na Kuilsrivier toe... soek die Hebreeuse begraafplaas, wat redelik prominent is. Parkeer voor dit. Loop dan na die linkerkant van die Hebreeuse begraafplaas (bokant) toe, en stap daar verby tot aan die agterkant. Nog so drie rye in die gewone begraafplaas in, reg in lyn met die boonste draad van die Hebreeuse begraafplaas, lê die Schmidt grafte, dit is in blok GG maar die mense by die kantoor het geen idee waar dit is nie. Die bordjies is al byna heeltemal verroes.

Ek sou so graag meer oor hierdie mense se lewens wou weet.  As familie en vriende iets kon aanstuur, sou dit baie waardeer word.
Die familie se onthou sê dat hierdie oupa Jimmy Schmidt by die Zonderwater gevangenis by die Italiaanse krygsgevangenes betrokke was, sommige gerugte wil dit hê dat hy die kampkommandant was. Ek sou so graag meer oor hierdie dinge ook wou weet...

Enige inligting of fotos sal baie waardeer word!

Sunday, February 5, 2012

Die verjaarsdag wat ek nooit weer wil oorhê nie...


Ek het op 'n manier so uitgesien na my 45e verjaarsdag. Ons het die seuns uit die skool uit gehaal, en die vorige dag al deurgery Pretoria toe.
Die beplanning was om lekker as gesin saam ontbyt te eet, en dan vir my dogter te help met die finale inskrywings by haar plek van studie, en om al die materiale wat sy nodig het vir haar grafiese ontwerpkursus te gaan koop.


Vroegoggend skakel; ons die jonge dame- sy is nie dadelik gereed om te gaan nie. Die res van ons gaan solank Menlyn toe met 'n paar aankope.
Die volgende oomblik lui my foon. Dis my dogter, en sy klink in 'n verskriklike toestand. Sy het nou net 'n groot ongeluk gemaak. Waar? Skuins agter Menlyn. Gelukkig was die res van ons minder as 'n kilometer weg, binne Menlynsentrum self.  Ons is binne minute op die toneel.  Daar blyk dit dat sy 'n motor kort agter haar dopgehou het,  en toe sy voor haar kyk, het die lig rooi geslaan. Sy sê sy kon nie veilig stop nie, en die volgende oomblik het 'n man met 'n splinternuwe Jetta in haar passasiersdeure getref, en die kar meer as negentig grade op sy wiele tot op die middelmannetjie laat skuif. Indrukwekkende wegtrek om so 'n impak te maak!

In elk geval, toe ons op die ongelukstoneel opdaag, was daar al drie insleepwaens. Net enkele minute is daar 'n privaat ambulans op die toneel. Hulle vra watter hospitaal toe ons wil hê sy moet gaan, en ons kies dadelik die Wilgers, aangesien ons familie daar rondom woon.  Intussen staan ek witgeskrik met my makelaar ook en praat op die selfoon om te hoor wat om nou te doen.  Ek het 'n kar vol witgeskrikte seuntjies wat eenkant sit en wonder wat nou aangaan.

Annelie het saam met die ambulans gery, en ek agterna met ons ander Corolla.
By die Wilgers is sy by die ongevalle eenheid ingeboek, en moes toe vir X-strale gaan.
Die trauma dokter kom ondersoek haar, en daar kry ons toe 'n verrassing- sy is die skoondogter van een van my ma se oudste vriendinne, en hulle eet baie Sondae saam.  Gelukkig is sy baie goed in wat sy doen. en kort daarna kon ons Anja uit die hospitaal uit vat- baie styf maar gelukkig ongeskonde verder.

Hierdie familievriende van baie jare het vir ons nog verder baie beteken. Hulle het in die familie 'n ou Beetletjie, wat in 'n baie beter toestand as myne is.  En hulle het hierdie karretjie vir ons geleen, tot al ons moeilikheid uitgesorteer is, waaroor ons baie dankbaar is.

Intussen het die persoon in die ander voertuig ons ook al 'n paar keer gebel en woes gedreig. Hy sê Anja het in haar polisieverklaring gelieg, en ons probeer hom op allerhande maniere skuldig maak aan die ongeluk.

Praat van gemengde gevoelens.
1. Groot dankbaarheid dat nie sy of die ander persoon ernstig beseer is nie.
2. Groot skok dat so iets voor ontbyt op 'n mens se verjaardag toeslaan.
3. Paniek oor die finansiële implikasies van hierdie ongeluk- die verlies aan 'n baie betroubare voertuig.
4. Bekommernis oor die jonge dame se bestuursvernuf of gebrek daaraan in stadsverkeer.  En daardie vrees vir haar wat nou elke oggend in spitsverkeer moet regkom tussen haar blyplek en studeerplek.
5. Groot dankbaarheid vir vriende se ondersteuning, veral vir die Beetle se leen. Maar ook vir verskeie vriende, 'n hele paar is goeie  blogvriende, wat my baie deur die dag ondersteun het- baie dankie julle!!!
6. Kwaad wees oor sy oor 'n rooi lig gery het en so onnodige ongeluk veroorsaak het.
7. Voel klein oor sy op pad was om vir my 'n verjaardaggeskenk te gaan koop.
8. Geloofskrisis- waar is die beskerming wat Psalm 91 van praat...
9. Groot bekommernis, eers was Annelie amper in 'n reuse ongeluk, en 'n week later Anja wel in een...
10. Groot dankbaarheid weer 'n keer- my hele gesin leef en is gesond vanaand...

My emosies is regtig deurmekaar oor hierdie saak. Ek stoei oor hierdie ding, en al wat ek wil sê is dat ek nooit ooit weer so 'n verjaardag wil hê nie.
Gelukkig het die dag heelwat later bietjie beter gedraai, toe my ma vir my en Anja by Rustica in Moreletapark vir ete gevat het. Lekker spareribs het darem uiteindelik so klein, klein bietjie vreugde voorsien op 'n andersinds baie slegte dag in my lewe. Maar my kind lewe. En alles anders maak nie soveel saak soos dit nie!

Ouma en kleindogter in Rustica...


Spareribs wat weer hoop gebring het...

Tuesday, January 17, 2012

Nommer Drie op pad Hoërskool toe!

Ons is so besig om te fokus op nommer 1 wat die huis verlaat, dat ons amper, ampertjies vergeet van die ander ritus van oorgang: klein Ewald is vanmiddag twee uur op pad Hoërskool toe, om te hoor van alles wat vir hom voorlê. More begin sy nuwe fase as Hoërskoolseun.

Dit voel so onwerklik. Gister stuur ons vriendin Adriani vir ons hierdie foto van Ewald en WJ op die een konsert voordat hy laerskool toe is:
Ewald en WJ op die kleuterskoolkonsert
 En so gou is sewe jaar se Laerskooljare verby. Ek hoop net die jong man gaan soos sy ousus blom in die Hoërskool, sy voete in die lewe vind en werklik gelukkig wees! 

Twee naamgenote... en ons naam is nie Derek nie!
 Onthou Donderdagnag, seun, dis net 'n groot geraas... hulle kan niks aan jou doen nie. Geniet die Hoërskool, en sprei jou vlerke!

Sunday, December 25, 2011

Kersfees in die Schmidt huisgesin...

VAndag is daar nie baie woorde nie,  a picture is more worth than a thousand words...

Ouma Nell-Marie en Stephan


   
Ewald en Bernard   


Anja en haar tannie Liezel- die Rooi Brigade...


En nou kom Annelie by... 
En dan die foto wat die wêreld geskok het...

Die Boodskap van Kersfees is baie belangrik, die mense in ons lewens is BAIE belangrik, en dan is daar nog so 'n laaste ou ietsie wat die kinders vaagweg onthou...

Ons Kersfees is baie lekker vanjaar- hoop julle s'n is/was ook die moeite werd gewees!

Saturday, December 17, 2011

Wonderlike ervarings wanneer die vis wel byt...

Ekskuus, ek het bietjie lanklaas hier met julle gesels...

So op die Geloftedag het ek en my jongste twee weer die viswaters gaan aandurf!
Twee ervare vissermanne- let op die professionele opset, die netheid...
Ons het die ekspedisie deeglik beplan. Twee houers met erdwurms is aangeskaf, elkeen van hulle 'n vrywilliger wat hulle lewens wou gee vir die groter saak van die bevordering van die mensdom...

'n Paar keer het dit al gebeur dat ons absoluut niks vang nie. Maar nie vandag nie! O nee, vandag sou ons nie met leë hande huis toe gaan nie. Die eerste byt van die dag was epies.  Die poliesman het opgespring op klein Ewald se stok. Net soos op daardie groot hengelprogramme wat ons graag kyk op DSTV, storm my seun nader, en kap behendig die vis vas aan die hoek. 'n Epiese stryd tussen man en vis ontstaan. Dan neem die vis weer 'n lopie wat die lyn afrol van die katrol af, dan word die rem aangedraai, en weer met bultende spiere ingekatrol. Ek en Jongste dra maar koeldrankies aan, en vee die sweet af...  So dis hoekom mense so verslaaf aan hengel kan raak? Daardie oeroue stryd tussen die mens en sy kos...
Na wat soos 'n ewigheid gevoel het, is die vis uiteindelik ingebring tot in die hande van die trotse hengelaar. Ons moes natuurlik eers 'n foto vir die familie se trofeekamer neem, voordat die vis toegelaat is om sy lewe in die dam te gaan voortsit...



Vis nommer 1 in 'n lang tyd! Kurper?

Na die epiese worstelstryd het daar stilte neergedaal oor die waters... die natuur was in rou oor die reus wat geval het...
Maar na so 'n ruk keer die natuur mos maar altyd weer terug na sy gebaande weë- 'n nuwe ekwilibrium word gevind wanneer die sisteem so wreed versteur is. En kort voor lank gebeur dit weer- 'n volgende reus onder visse maak 'n klein berekeningsfoutjie.  Hy hap na die vrywillige erdwurm aan die hoek. Soms is die versoeking net te groot, al het jou ma jou dalk gewaarsku om nie jou mond aan enige ding te sit nie...

En na nog 'n titaniese stryd het vis nommer 2- 'n baars? die stryd verloor teen die kombinasie van man en Shimano...


Vis nommer twee- is dit 'n Swartbaars?
Nou ja, dis vir dae soos hierdie wat ons lewe. Twee pragtige fotos om teen die herinneringsmuur te sit, saam met die marlyne, leeus en olifante wat nog in die toekoms gejag gaan word...
Min dinge is so sleg soos om met leë hande terug te gaan huis toe. En tog is daar ook 'n groot stuk vrede in die "catch & release" beginsel, om hierdie reuse die geleentheid te gee om nog bietjie groter te word, en nog kampioen visse daar tussen die riete te gaan verwek...

Saturday, October 29, 2011

Ons vang vis vandag

So met die afgelope paar weke se baie spannende tye het ons besluit ons het 'n goeie gesinsdag nodig.  Ek het my Rhino Rally opgeoffer, en ons het ons gemeente se gesinskamp ook prysgegee.
Vroeër in die week het ons 'n familievergadering gehou. Elkeen kon hulle opinie oor die gesinsdag op die tafel plaas. Eers het Stephan tydens daardie geleentheid gesê hy kan niks op die tafel plaas nie. Want daar is te veel skottelgoed, en boeke, en ander gemors op die tafel...

Ousus wou graag Krokodilplaas toe gegaan het, maar die broers het niks daarvan gehou nie.  Pa en Ma het buite stemming gebly. Ons het aanvanklik toe ooreen gekom om 'n heerlike gesinsdag by die Weesgerus oord net buite Nylstroom, se dagbesoekersgebied te gaan deurbring. Daar is 'n swembad en 'n piekniek gebied. Dan is daar 'n heerlike dam, met baie vis. So gesê so gedaan- almal was tevrede.  Ons moes net so paar rand alweer belê om ons visvang toerusting op datum te kry.

So ry ons uit na Weesgerus toe. Nou kyk, die dagbesoekersgebied het twee areas- aan die een kant is die Damlapa, waar 'n mens lekker etes teen goeie prys kan eet, En heel oorkant die dam is die ander dagbesoekers gebied, waar die swembad is, braaiplekke, badkamers, en hengelgebied.... Ons stop by die hek. Nee, sê hulle, ons moet by die oord self se kantoor gaan betaal om te mag inkom. Ons kom daar, nee, sê hulle, daar is 'n privaat funksie in die Damlapa. Geen dagbesoekers vandag nie. Ons probeer verduidelik dat ons nie by die Damlapa wil wees nie, maar by die oorkant. Niks  "joy"  nie- ons is nie welkom vandag nie...

Ons skakel ons gemeentelede met 'n luukse oord by ons dorpsdam. Nee, sê hulle, vandag is daar 'n troue, en ons is ook nie vandag daar welkom nie. Ek wou net begin hartseer raak. Ek het dan die motorfietse, en die doughnuts en die versnelrenne in Harrismith opgeoffer vir vandag, en nou wil niemand ons hê nie!

Ons ry maar verder, na die oorkant van die Donkerpoortdam toe. Daar waar die ou visvangklub was, is net groot borde op- Privaat Eiendom, geen toegang nie. Ek stap maar daar in, en gelukkig herken ek een van die mense wat daar binne sit en hengel. Hy verduidelik dat die munisipale hengelterrein net bietjie verder aan is.

Uiteindelik het ons darem langs die water uitgekom.  Toe was die groot frustrasie om drie visstokke weer gereed te kry, lyn op lank vergete katrolle te span, weer te onthou hoe hoeke en sinkers aan lyn vaskom.  Na 'n hele gesukkel het ons drie lyne in die water.

Ons het ons gasbokkie saamgeneem, en 'n baie lekker brunch gemaak, insluitende bacon en eiers, cheese bangers, varkrashers, brood, kaas, aarbeie en jogurt, en uiteindelik lekker koffie.

Toe raak Anja skielik lus om ook te probeer. En wonder bo wonder- daar geniet sy die hengel idee! "Dit is baie relaxing..."

 Die pa was weer baie bedonnerd, die ma was weer baie vredeliewend, die dogter was emo, die seuns het gemoan en groan- basies 'n doodgewone oggend in die Schmidt familie se geskiedenis.

En uiteindelik het ons dit baie geniet!  Hier is die bewyse...

Totale aantal visse= 0.

Bernard, Anja. Annelie, Stephan en Ewald jnr.

Bernard en sy Mammie... 
Bernard, Anja en Ewald

Sarah de Jager...

Entoesiastiese hengelaars!

Friday, October 21, 2011

Die Prysuitdeling uit die voorste gestoeltes...

Gisteraand het ek nou vir die heel eerste keer in my ganse lewe in die eregaste sitplekke gesit by ons Hoërskool se Prestige Aand (alias Prysuitdeling).  Daar het ek my posisie ingeneem langs Gerespekteerde Skoolhoof en sy vrou, en Beheerliggaamsvoorsitter en Mevrou.  Die eer het ek verdien, omdat ek moes opdraf in die begin, en plegtig die geleentheid op gepaste wyse tweetalig open.

Ek was nogal net lus om ietsie te sê oor Spreuke 20:4 in beide tale van ons land wat ek ken. Zulu is nie meer een van hulle nie... In elk geval, Spreuke 20:4 sê: "Die Luiaard plant nie in die saaityd nie, en soek iets in die oestyd wat nie daar is nie..."   Ek het hulle vinnig verseker dat ek nou nie met die luiaards praat nie, want hier is ons dan om 'n pragtige oes te vier. Daar is hard in die saaityd gesaai- tyd op die harde banke en op die sportvelde deurgebring, om sukses te verseker. En daardie oes word vanaand gevier...  Maar vir die ouens wat nie daar kon wees nie (gebrek aan oes, sien?) en dié wat daar was vir Padpatrollie, het ek verseker dat die volgende saaityd binnekort aanbreek, en volgende jaar se oes kan heelwat beter lyk as vanjaar s'n.  Daar is altyd geleenthede om jouself te verbeter...  wyse woorde, né?

Dit het my nou diep laat nadink, soos die Prediker sou sê. En hier is 'n paar gevolgtrekkings oor die Prysuitdeling of dalk eerder: my ervaring van die Prestige aand...

  1.  Maak nie saak hoe lank 'n Dominee op 'n Prestige aand praat nie, dit sal altyd te lank wees...  (onthou nou- ek was nog altyd so effens aandagafleibaar...) 
  2.   Dis nie lekker om Grênd te wees nie. Dis nie lekker om daar heel voor te sit op die harde plastiekstoele vir 3 1/2 ure aanmekaar nie. Ek hou baie meer daarvan om buite die deure te sit en inkyk, op my eie kampstoel. En eendag gaan ek nog my gasbraaier ook saamvat, al dreig Annelie my.   En 'n koelboks. Met Windhoek Light in...
  3. Daar is darem ongelooflike begaafde kinders in onse dorpie... 
  4. Daar is baie kinders wat soos my skooldae presteer- net-net genooi na die Prestige Aand vir 'n kulturele aktiwiteit of Padpatrollie... Noudat ek daaraan dink, Padpatrollie was op my twee sussies se CV, nooit op myne nie... 
  5. Daar uit die voorste gestoeltes lyk dit darem baie lekker as hulle so in die openbaar jou prestasies aflees en dit vat so lank... nie negatief bedoel nie, ek glo elkeen moet sy gawes ten volle benut, en dit is lekker as jy soms erkenning kry daarvoor.
  6.  Die hartseer in die oë van party van die mees briljante kinders, omdat hulle dalk oorgewig is en nie so sosiaal aanvaarbaar voel soos die eerste netbalspan nie...  hulle dink hulle is nie so goed soos die ander nie, terwyl... 
  7. Party rugbyspelers kry darem baie groot applous vir 'n enkele prestasie, en ander akademiese wrakke kry amper geen vir baie prestasie nie...  Gewildheid op skool is 'n vreemde ding, en 'n gejaag na wind... 
  8. Die heel lekkerste ding van die Prysuitdeling is om na 3 1/2 ure op te staan van daardie stoele en jou alie te laat rus van die marteling! 
  9. Soms wens ek ook dat daar soms in die grootmenswêreld gesê kon word as 'n mens presteer het in iets. In my werk is dit egter baie moeilik om te presteer. 
  10. Ek is so dankbaar Prysuitdelings vind net een keer 'n jaar plaas! 
So al die Nylstromers- ek het mooi na julle kinders gekyk daar uit die voorste linie uit. En ek is trots op elkeen van hulle!  Dié met die agt vakprestasie sertifikate, die vier olimpiades en die sewe provinsiale sporttoekennings. En dié wat die Padpatrollie sertifikaat gekry het, en opgestap het, gelukkig in hulle eie menswees.

Ek het net in my lewe al gesien, soos die Prediker sou sê, dat die Skool se Prysuitdeling nie veel sê oor wie eendag in die Grootmenswêreld gelukkig gaan wees, en wie sukses gaan behaal nie.
Ons kinders was pragtig, en dit is vir my mooi...

Sunday, October 16, 2011

Die Ma van ons huis is terug- business as usual...

Een van die spreekwoorde tussen my en Annelie is: "Too much reality, too soon..."

Dit gebeur basies elke keer wat een van die ouers alleen moes weggaan, en dan terugkeer.  Die ander ouer neem die vrag van verantwoordelikheid vir die huishouding op hulle skouers, soos die klere was in die wasmasjien, die daaglikse pendeldiens waarin almal getaxi moet word waar hulle moet wees, die daaglikse brood en melk koop en kos maak.  Die ouer wat weg is, geniet gewoonlik die stukkie rus en vrede sonder die res van die gesin se aandrang op behoeftes wat vervul moet word. Vir 'n ruk. En dan begin 'n mens verlang na jou mense, as jy lank genoeg van die huis af is, begin jy selfs verlang na die normale konflik van die gesin. Die verlange bou op- en dan uiteindelik kan jy by die gesin aansluit. Maar die res van die gesin se lewe het volgens ou patrone aangegaan. Die normale  wrywing en baklei vir persoonlike ruimte het onverpoosd voortgegaan. En as ma of pa terugkom, dan bars die fontein van ingehoude frustrasie oop. In plaas van 'n heerlike familiereunie word dit 'n moddergooiery- nommer 4 wil eerste sy storie van persoonlike leed met die afwesige ouer deel. Die gevolg: Too much reality too soon...


Donderdagoggend het Annelie om 10h18 geland, en saam met swaer en skoonsuster huis toe gery by die Wilgers... Ek het haar daar opgelaai. Die ma van ons huis wou vreeslik graag so vinnig as moontlik tuis kom. Dit het iets te doen met 24 uur op reis wees van ander skoonsus se huis af Dublin toe, eerste vlug Frankfurt toe, vyf ure oorstaan, tweede vlug Johannesburg toe. Al drie lughawens is gekenmerk deur onvriendelike doeanepersoneel.  Onpersoonlike wagplekke (net die rykgatte sit op die leerbanke met die flatscreen teevees en die Douwe Egberts koffie en petite pasteitjies.)  Toe ek haar oplaai, wou sy net by die huis wees...

Ons het vinnig ietsie gekoop om te braai by Food Lovers Market, en toe huis toe gegaan. Die eerste uur was heel lekker- geskenkies is uitgedeel, vreemde tjoklits is opgevreet.  Kort daarna wou die ou griewe begin kop uitsteek.

Ons het darem 'n heerlike aandete gehad. Ek het vir twee vergaderings afgevra, en vir my vrou op die Weber 'n hoender flattie en varktjoppies gebraai. Ons het dit geniet saam met Panini brood, en 'n lekker slaai. Ek wonder nou nog wie van die kiddies het die Bessiesap opgesuip wat ek vir haar tuiskoms gekoop het.

In elk geval, Ma is weer terug by die huis. Die kinders baklei steeds onverpoosd voort. Die Pa is steeds bedonnerd... Business as usual...

Die Fourie Ma en Dogters neem Ierland op horings...

Tuesday, October 4, 2011

Wat is 'n huis tog sonder 'n moeder?

Dit was nou al vier slapies sonder jou.  En ek het klaar weer my les geleer. Ek kan nie sonder jou lewe nie.  Dis net nie lekker om tuis te kom en jy is nie hier nie. Dis nie lekker om aandete te maak, en jy is nie hier nie. Dis nie lekker as die kiddies so baklei, en jy is nie hier nie. Dis nie lekker in die bed in die aand, en jy is nie hier nie...

Ek weet nie hoekom ons so kan vassit by tye nie. Ek weet net die goeie tye is baie meer as die slegte tye. Ek verlang na jou...

Ek is so bly jy kom volgende week terug!

Saturday, October 1, 2011

Die Matriekafskeid

Om een of ander rede is daar twee datums wat elke dogter se pa vrees. Die Matriekafskeid. En dan die Grote...

Matriekafskeid is 'n ernstige besigheid. In ons dorp begin die kinders mekaar al in  Graad 8 vra. Met die hoop dat die gevraagde ene mooi sal ontwikkel in persoonlikheid, emosionele volwassenheid, banksaldo, en mees belangrik van dit alles in die jong hormoonfabriek se oë, dat die liggaampie van 'n standerd sessie mooi sal ontwikkel tot volwassenheid op al die regte plekke...

Dit lewer natuurlik ook komplikasies op- die vier1/2 jaar voor die tyd gevraery.  Want in die Hoërskool sal daar dalk nog baie verhoudinge ontwikkel.  X lyk vir Y so mooi op Lentedag, en dan ontstaan daar spontane kombustie van die romantiese hormonale sisteme, daardie wat tjoklits na die hart toe pomp. En die blommetjies blom, en die voëltjies die sing in C mineur...

Met Valentynsdag is X en Y saam by die sokkie, en skielik stap Z verby in 'n pragtige rooi rokkie... en woeps- daar trek X se belangstelling... maar hoe nou gemaak om sagkens van Y ontslae te raak wat oor twee 1/2 jaar saamgenooi is matriekafskeid toe? Komplikasies komplikasies....

Ek vermoed dit is baie makliker om 'n seun deur 'n Matriekafskeid toe te stuur. Jy sny sy hare in Februarie met 'n nommer twee knipper, jy koop in April vir hom 'n nuwe stel vellies,  in Junie koop jy 'n somershemp en das by Woolworths se someruitverkoping op special. En so begin September gaan huur jy vinnig 'n suit...

'n Jonge Dame, daarteenoor, is totaal 'n ander spesie...  Dit is meer kompleks om 'n dame te klee vir 'n matriekafskeid, as wat dit is om hernubare energie uit water te ontgin wat jy in 'n binnebrandmotor kan gebruik om jou Ford Figo aan te dryf.

Eerstens is daar die kwessie van die figuur. Geen vrou in die ganse geskiedenis van die mensdom het nog ooit gedink sy lyk mooi genoeg vir die twee groot dae nie.  Daar word ernstig gedieët tot depressie intree, en dan word tjoklits geëet tot hulle weer beter voel...

Tweedens is daar die kwessie van Die Rok... Daar word meer energie spandeer in die navorsing van die Rok as wat daar in 'n doktorale verhandeling oor die einde van wêreldarmoede ingaan.  Dis 'n verskriklike belangrike saak, as hier verkeerd besluit word, is die gevolge erger as die hongersnood in Somalië...

Sê 'n mens die resep waarmee die Rok gemaak word? Daardie ding wat op die bruin koevertjie is, met al sulke toebiepapier in... dan is Heidi Klum in die oorspronklike rok. Maar soos die Body Shop in Menlyn so lank gesê het in daardie pragtige poster- drie biljoen vroue in die wêreld, net 8 supermodelle...  O ja, hulle noem dit 'n Patroon. Ons manne ken dit as iets waarmee jy bokke doodskiet.  Vrouens wil seker maar "dressed to kill" wees...

Indien die Patroon gevind word, word daar jaloers gewaak oor die spesifieke een.  Dit is 'n groter geheim as die resep van Coca Cola daar in Atlanta se kluis... En as iemand anders dalk in daardie rigting kyk, kom die naels uit. "Nee, man, daardie resep sal jou net dik laat lyk... het jy al na Simplicity se reeks gekyk?"
Die Complexity patroon word soos die kroonjuwele opgepas.

Na die Patroon kom die Materiaal.  En daar werk dit nie om by die Indiese winkel in Klerksdorp in te stap,  en te vra wat is op Special vir R9.99 per meter nie... Aanbevelings vir  hessian vir daardie Afrika look val op dowe ore. Nee,  laat die oom vir julle vertel, materiaal is duurder as goud per meter.  Maar die probleem is nie die prys nie, dit kan jy op jou kredietkaart oor twee dekades afbetaal op budget...   Nee, dit is om die regte kleur, en tekstuur te kry...  Wat het geword van blou, groen, rooi en geel? Nee, daar is deesdae twee miljoen vier honderd drie en dertig duisend sewe honderd en twintig skakerings van blou.
Maar uiteindelik! Eendag, nadat die pa al sy polse afgekou het soos 'n mal hyiena, en die ma deur twee lorries vol Pienk Pilletjies geknibbel het, is dit daar... DIE MATERIAAL wat matriekdame se ogies laat blink. Ek dink dis makliker om die regte  huweliksmaat te kry as die regte materiaal...

Nou is dit Die Patroon, en Die Materiaal. Nou moet dit deur 'n kundige persoon aanmekaar gesit word. En daardie persoon se reputasie moet beter wees as die gemiddelde Nasa ruimteingenieur wat Space Shuttles aanmekaar gesit het...  Alles moet presies reg bymekaar uitkom, anders is die gevolge net so spektakulere gemors as die dag toe die Challenger laas gelanseer is...

Dit vat maande se beplan, knip, stik, aanpas, huil, dieëet, tjoklits vreet, liters water drink, oefen, aanpas, huil...
Maar, liewe potensiële vaders van jonge dames... hier eindig dit helaas nog glad nie. Jy is dalk nie eers halfpad nie.  Die Bykomstighede!  Het jy geweet dat daar binne 'n vyfhonderd kilomter radius 5239 skoenwinkels is? Weet jy hoe dit sukkel om Die Skoene te kry wat waardig gaan wees om by Die Rok te dra?  Daar moet eers deur 100 002 pare skoene gewerk word. En dan sal die finale keuse gewoonlik by die eerste winkel wat jy jare gelede saam met haar besoek het, stowwerig in 'n boks in die agterkamer lê- niemand anders het die potensiaal van daardie paar skoene raakgesien nie, en dit was enkele minute voor hulle geskenk is om iemand in Somalië se vlugtelingskampe te gaan skoei...

Soos die Matriekafskeid nader kom, word dit erger en erger (ja, jy is reg- lees ook duurder en duurder...) Jy moet by geboorte begin spaar vir Die Hare... Ek het op my rug geval. Met dit was Die Hare kos, kan ek, en die broers, vir vyf jaar lank gaan hare sny!  Daar is 'n trial run 'n maand voor die tyd, dat enige rampe 'n kans het om te herstel. Erens in die week voor die tyd word dit weer in Die Snit gesny. En erens, in die oggend voor die matriekafskeid, word dit weer GEBLAAS...

Dan is daar Die Make-up. Dit word sorgvuldig beplan, beter as wat Vincent van Gogh ooit na sy verfpalet gekyk het. Daar is ook drie miljoen en drie verskillende kleure van "Die hele vakansie op Clifton se strand gelê- bruin..."

'n Ander reuse kopseer, wat 24 maande voor die tyd al gereël moet word, is Die Aankoms. Nee, jy leen nie net jou ma se ou Beetle nie...  Die aankoms, dit is enige dag net so belangrik soos die Hollywood sterre se aankoms by die Oscars. Dit word deeglik beplan.  Motors word uit die groot stad uit gehuur.  Italiaanse sportmotors is natuurlik bo aan die lys. Maar dan is daar ook die Stretch Limo's. Afslaankapmotors van verskillende modelle.  Of, soos sekere jong manne by ons- op 'n leer rusbank voor aan die laaigraaf van 'n moerse groot John Deere trekker...  Jy moet kan Arriveer!  Die ganse sterrestelsel moet vir 'n oomblik tot stilstand kom en bewonderend toekyk hoe jy uitklim....

Na jare se beplanning gebeur die Matriekafskeid eintlik ongelooflik vinnig. Aankoms, plekke inneem, die dominee (dis nou ekke vanjaar) preek sy hart uit want driekwart van hulle gaan nooit weer tot hulle troudag in die kerk kom nie... Kalm, my kind!  Dan spiets die hoofseun en hoofdogter, dan spiets die skoolhoof, dan eet almal vinnig die heerlike aandete. Daar word so drie danse gedans... en dan is dit klaar. Dan jaag hulle huis toe om hulle gewone klere te gaan aantrek vir die Afterparty.... Terwyl die ouers nog sukkel met die gemengde emosies van die kind wat so mooi lyk, en die tweede huisverband wat nou afbetaal moet word na die twee ure van groot joy!

Liewe ouers, Matriekafskeid is nie vir sissies nie. En as ek so daarna kyk, dan begin ek ernstig worry- as dit nou al so gaan, hoe gaan ons eendag die Troudag oorleef?
Dankie Neeltje vir hierdie foto- die aankoms...

Die Eindresultaat van Jare se Drome...

Wednesday, September 14, 2011

DAARDIE boek oor wie niemand my glo nie...

Daar was vriende wat my nie geglo het dat hierdie boek bestaan nie...  Moet nooit met my oor boeke stry nie...


Dog ek wou net sê...

Saturday, September 10, 2011

Die tragiese verhaal van die einde van 'n Droom...

Eendag lank, lank gelede, verlede Saterdag om presies te wees, het die jongste prins in die Koninkryk van Schmidt besluit om 'n boer te word. Tydens die kerk se fees het hy twee kuikens gekoop.  Hulle name is dadelik gegee as Mollie en Wors. Die vader van die huis was diep geskok- hy het nie eers geweet dat die jongste weet wie is  Mollie en Wors nie.

En so is die droom van Stephan's Fried Chicken gebore. Nou nie in die prins se gedagtes nie, hy is lief vir diere. Hy sien net groot hoenders en baie kuikens in die agterplaas in sy gedagtes... Maar sy ouers sien Barrells en Nuggets!

Saam met Mollie en Wors het 'n sakkie kuikenkos gekom, en gelukkig is daar 'n leë voëlhok in die agterplaas.

Die hele week het ons die gerusstellende tweet tweet tweet uit die hok gehoor. Die boerdery was op koers, die toekoms blink.  Maar Woensdagaand het die doodsengel van klein kuikentjies die eerste keer opgedaag. Wors is wreed uit hierdie wêreld weggeruk. Sy plek is leeg, sy stem is stil. Sy nageslag sal nie meer 'n reuse besigheid kan oplewer nie. Donderdagoggend lê Wors bones in de lite in sy kosbak. Daar is ook geen waardigheid in die dood nie! Daar is plegtig begrafnis gehou, en Wors is te ruste gelê onder die ou Kareeboom in die pastorie.

Mollie het diep getreur. Die lewe sonder haar Wors was vir haar net te veel om te hanteer. Sy is gediagnoseer met Major Depressie. Die lied in haar hart was weg. Die toekoms het soos 'n eindelose reguit pad deur die woestyn voor haar gelê. Is daar Prozac op die mark vir 'n twee weke oue kuiken sonder 'n mammie of 'n pappie, en sonder haar lewensmaat?

Die las was net te swaar om te dra. Die dekselse doodsengel van klein kuikentjies was weer in die omgewing. Gisteraand het Mollie nog verwese gepiep...piep... piep. Maar dit het al swakker geword. Die vonk van lewe het al laer gebrand. Die prinses van die koninkryk het dit gehoor, en vir 'n slag haar ontferm oor die swakkere. Sy het Mollie in die donkerste duisternis gaan haal, en in die huis in 'n boks kom sit...
Helaas- die skok was te veel. Vanoggend, toe die son opkom, was Mollie nie meer met ons nie...


Die hartseer eindig ongelukkig steeds nie hier nie...

Gisteraand, tydens die noodbehandeling, het die mediese personeel 'n inspuiting gebruik om die moeë Mollie te rehidreer.
Vanoggend, na die hele treurspel in die lig gekom het, het Stephan oudergewoonte die inspuiting gegryp, en vol water getrek, en in sy mond gespuit. Kort daarna het die skokkende nuus gekom: daardie inspuiting het dan Mollie probeer help...

Stephan was dadelik in 'n toestand. Hy weet genoeg van kieme en besmetting om dadelik in sy gemoed die prentjie te sien van 'n dodelike hoendervirus wat Mollie geëis het, wat nou ook op hom vatplek gekry het.
Sy prognose, selfgediagnoseer, is dat hy nou vyf maande oor het om te lewe. En dadelik is hy depressief...

 Sy suster gebruik natuurlik die geleentheid om hom te verseker dat hy nou hondsdolheid het...
Dis die einde van die Wêreldwye Hoender Franchise droom- Stephan's FC sal nooit KFC inhaal nie.

Nou is Stephan baie depressief. En as hy depressief is, haal hy sy kitaar uit. Hy verwoord sy pyn in musiek, in die tradisie van Leonard Cohen, of Ella Fitzgerald, of Edith Piaf.  Die lewe se pyn word melodie en rym... ongelukkig kon ek nou nie presies die woorde hoor daar in die tuin nie.


So geliefdes, dink asseblief vandag aan hierdie huis van smart...  Ons pyn is diep...
Maar met die genade sal ons dit seker maak...

Tuesday, August 30, 2011

Anderkant jou en my, lê daar 'n Berg... *


"Ek het 'n vriendin, ver by die blou see... Teen die hange van Tafelberg, as die son sak.." Koos Kombuis- Lisa se Klavier

Ek weet nie wat is vandag in my lewe aan die gang nie. Ek het hierdie ongelooflike hunkering om in die Kaap te wees vanaand. Om die sonsonder oor Robbeneiland te sit en aanskou, met verskuldigde eerbied, van die Blue Peter se stoep af. Ek het die behoefte om saam met goeie vriende daar 'n Pizza te eet, en 'n tweede en 'n derde bottel rooiwyn saam leeg te maak.

Ek verlang na die Kaapse paaie met my motorfiets. Ek verlang na daardie uitjaag verby Atlantic Beach se hobbelpad, verby Derdesteen, waar die Suid-Ooster my altyd verby my topspoed druk in die rigting van Melkbosstrand. Ek verlang na die draaie daar verby Rooi-Els, die Franschhoekpas, Helshoogte. Ek verlang na die reuk van Kalkbaai, selfs die pong daar voor Simonstad is reg met my vanaand. Ek verlang na die uitsig van Millers Point en Slangkop en Chapmans Peak.

Ek verlang na die Afrikaans van die blommeverkopers in die middestad, ek verlang na Ferryman's se Bosun's Bitter bier. Ek verlang na Exclusive Books in CAnal Walk, en die boekwinkel agter die Windpomp by West Coast Village.

Ek verlang na my vriend die dominee en sy kids, ek verlang na die roomysman, ek verlang na die singende dominee, ek verlang na die kerkgebou van Bloubergstrand. Ek verlang na Ons Huisie restaurant, en sushi by Eastern Fusion op Melkbosstrand.  Ek verlang selfs na die wegspring met die fiets onder die Burgersentrum- "everybody says Whoopah!" Ek verlang na Mariner's Wharf se snoek, en die skoenlapperplek van Stellenbosch.

Ek verlang selfs na nuwe vriende wat ek nog nooit persoonlik ontmoet het nie- die dromer oor volgende jaar se Camino, die ene met die oranje huisie by die see, die vriendin met die hartseer oor 'n pragtige wit Run-X.  Die een met die helder flitsie by Swellendam, en die suster in die hospitaal.

Ek verlang na die reuk van mos na die oes, calamari langs die strand.  Ek verlang na die draairoomys met die sugercone, die stap daar by Dolphin Beach. Ek verlang na die ou wrak wat ek so van News Café kan sit en bekyk oor omelet en toast.

Vanaand wou ek graag DAAR wees, en nie HIER nie...
Wat gaan met my aan?


* Titel met apologie aan Dozi

Sunday, August 28, 2011

"Life is hard and full of disappointment..." Stephan

Onse jongste is die enigste van ons kinders wat van kleins af  belang stel in die teenoorgestelde geslag, in 'n jong, onskuldige weergawe van vaste verhoudings. Hy trek nou by sy tweede meisie. Die eerste een het hom afgesê vroeër vanjaar, en toe ontmoet hy die volgende meisie in sy klas...

Maar in Graad 4 is die verhoudings maar baie turbulent... Ons lei oor middagete af dat hy die "Dear Johnny" briefie onlangs ontvang het.  Hy lê sommer daar langs die swembad op sy rug, en speel sy kitaartjie, terwyl hy die "thousand yard stare" van die Vietnam oorlog volmaak naboots...  Hy wil nie met sy pa praat nie, en ongelukkig ken hy nog nie die woorde van "No-one knows the trouble I have seen" nie.

Terwyl ek my middagslapie so op die heilige Sondag geneem het, het hy een van die tente opgeslaan in die agterplaas. Hy wil net bietjie uit die huis uit kom... Dinge druk hom...

Ek dink ek moet maar vanaand 'n vuurtjie daar langs sy tent gaan maak, en saam met hom 'n worsie braai en rooikoeldrank drink, dat ons maar soos manne gesels oor ons probleme met die estrogeenfabrieke. Want hy ontdek dit gou- die dames dink en werk so anders as ons. Hy gaan nog baie keer wens vir 'n tent, later 'n motorfiets, om bietjie weg te kom van die moeilikheid van verhoudings.

Miskien is dit 'n goeie ding om vroeg in jou lewe 'n paar liefdesteleurstellings te hê. Dit leer 'n mens dalkies net om die regte een soveel meer te waardeer wanneer sy die dag opdaag. En dalk berei dit jou voor dat die regte een ook nooit die volmaakte een gaan wees nie. Selfs in 'n gelukkige verhouding gaan daar maar soms moeilikheid wees, en af tye, waar 'n mens mekaar goed die duiwel in gaan maak...


My jongste het so die vermoë om sy hele hart in 'n verhouding in te sit. Ek hoop nie seerkry breek dit ooit in hom nie.

Oom Mike Smuts Snr het altyd gesê 'n mens moet bly wees vir elke liefdesverhouding wat nog nie uitwerk nie- dit beteken die Here het iemand in gedagte wat nog beter by jou pas...

Sunday, August 21, 2011

The Legend of Sparky...!

Ek stap verby my naamgenoot se kamer, en sien hierdie teen sy muur...

Hoekom Sparky? Van baie kleins af het sy ogies so mooi geblink, daar was nog altyd so onnutsige kyk in sy oë, en so ondeunde glimlaggie. Van BAIE kleins af. Soos op hierdie foto.

Hy het nog altyd 'n wonderlike sin vir humor gehad, en is baie lief vir lag. Hy het 'n ongelooflike fyn waarnemingsvermoë, en kan mense baie fyn namaak.

Maar asseblief, julle mag hom nie Sparky noem nie! Hy hou niks daarvan as enige iemand anders as ek vir hom dit sê nie. 




My legendariese seun het so klein dopamientekort in sy brein. Dit maak dat hy soms sukkel om te fokus.  En daarom het hy nie altyd die beste akademiese punt nie. Hy kan ook op die sportveld soms aandag verloor.

 Hierdie goetertjies in sy lewe kry aandag op die oomblik. En eendag gaan hy agterkom dat daar niks verkeerd met sy brein is nie, dat daar eintlik 'n ongelooflike kreatiewe instrument daar binne skuil. Eendag gaan sy fokus mooi reg kom, en dan gaan hy sy droom waar maak, en  'n krieketbal oor die grens slaan dat mense vir weke lank gaan soek vir die daardie bal.

Eendag gaan hy sy kop optel, en in homself begin glo. En daardie dag gaan niemand hom weer stop in die lewe nie.  En ek beplan om elke tree van die pad saam met hom te wees, om hom aan te moedig...

Tuesday, August 16, 2011

'n Hartseer bladsy uit my fotoalbum... Ilse Schmidt 16 Augustus 1970- 10 Desember 1985


Toe ek in Standerd nege was, en verjaar het, het my jongste sussie hierdie verjaarsdagkaartjie vir my gemaak.  Sy was deeglik bewus van my liefde vir motorfietse en karre...  Dit is een van my gunsteling besittings, en ek kan dit nie waag om dit uit die album te haal nie, uit vrees dat dit sal disintergreer.
Net na my 18e verjaardag is sy met kanker gediagnoseer. Sy het dapper daarteen baklei, maar die stryd uiteindelik verloor op 10 Desember 1985. Sy was vyftien jaar oud. (standerd 7).

So dikwels dink ek aan wat alles moontlik kon wees. Sy wat volwasse kon word, kon studeer, kon liefhê en trou en kinders hê.

So dikwels dink ek aan hoe ek as matriekseun glad nie geweet het hoe om haar siekte te hanteer nie.  Hoe ek dit maar probeer ignoreer het in die hoop dat dit net sal weggaan.  Hoe ek nie geweet het hoe om te sê dat ek eintlik hel baie omgee, en nie geweet het hoe om dit te wys nie. Dat daar 'n helse stuk seer in my hart was, wat net op my motorfiets soms uitgeklim het as ek roekeloos deur die draaie van die dorp gejaag het, en soms afgebliksem het in die proses.  Hoe ek nie geweet het hoe om na haar te luister nie, dat ek te bang was om te vra omdat ek nie die antwoorde geken het nie... (nog steeds nie...) 

 Ek het al baie gewonder hoe het ons, as gesin wat lief is vir fotos neem, niks beter fotos van haar het as hierdie een in die Newcastle Advertiser se berig nie. 

Haar dood het in my eie lewe 'n geweldige leemte gelos.  Dit het vir my nog altyd daardie vrees gegee om iemand lief te hê- kyk hoe seer is dit as so iemand weggevat word.  Dit het vir my van al my onskuld beroof- skielik gebeur slegte dinge nie net met IEMAND ANDERS nie.  Die spook van kanker in ons familie maak my steeds bang... 

In ons gesin van oorsprong het dit elkeen van ons nog meer in ons eie hoekies toegeverf.   Na Ilse se dood was niks meer dieselfde nie. 

En enkele weke later moes ek die ouerhuis verlaat, en my pad gaan oopveg in die universiteit. Skielik moes ek die grootmenslewe hanteer, die ontgroening in die koshuis, om skielik 'n kamermaat te hê, om Grieks en Hebreeus te probeer deurkom. Ek het net nooit die tyd gevat om behoorlik oor Ilse te rou nie...  En daardie seer kom nog steeds elke nou en dan uit. Verlede jaar sou sy 40 gewees het, dit het my baie hard geslaan.  Elke jaar op 16 Augustus onthou ek... 

Ek wens ek was 'n beter ouboet. Ek wens ek het meer gehad om te gee. Ek is jammer. Jy was baie spesiaal! En ek was te fucked up om jou so te behandel.  Ons ander sussie kry swaar op die oomblik. En weer weet ek nie hoe om te wys ek gee om nie, en weer weet ek nie hoe om te help nie...


Monday, August 15, 2011

Ma, luister tog as die kinders praat...

 Dis interessant as 'n moeder 'n bemoedigende boodskap vir die gesin wil skryf, en dit so lelik op haar kan backfire... Dit lyk my die Vrug van die Gees van Vriendelikheid is so bietjie in Short Supply in die pastorie op die oomblik...

Saturday, August 13, 2011

Plattelandse basaar, en hoogmoed kom weer tot 'n val!

Vandag was weer NG Gemeente Springbokvlakte se jaarlikse basaar. En al is dit 'n entjie van ons huis af, is dit een van die hoogtepunte in die Schmidt familie (of dan twee derdes van ons) se jaar.

Die Ma van ons huis staan vyf dae 'n week baie vroeg op om almal gereed te kry vir skool. So behalwe vir nasionale rampe en uiters groot prettige geleenthede, staan sy nie vroeg op 'n Saterdag op nie. En nommer 3, my naamgenoot, is ook van nature baie lui en lief vir sy bed. Hierdie tweetjies wou nou nie saam vanoggend uitry Tuinplaas toe (waar Springbokvlakte gemeente is nie...)

Ons moes sewe uur daar wees, want die gemeente het 'n baie lekker fietswedren. 'n 48 km bergfietsren deur 'n paar plase vir die baie fikses, en 'n kort 10 km om die een oom se mielieland vir ons kinders en onfikses soos ek.  My jongste wou al baie lankal weet wanneer is hierdie fietswedren, want sien, hy het verlede jaar 'n R3300 bergfiets gewen in die "lucky draw" by daardie gemeentebasaar. 'n Mens sou kon sê hy beskou hulle nou as sy familie!  En Pa moet hierdie jaar saamry. Want verlede jaar was Pa saam. Maar ek het dieselfde sinusdrip gehad as hierdie jaar. Verlede jaar het ek agter in die bakkie gelê terwyl die seuns fietsry. Hierdie jaar het ek besluit om 'n beter pa te wees as dit. En tog maar op my ou geel bergfiets ook saam gery.
Ousus was ook saam, haar een hokkievriendin met dieselfde van as ons het by die biltongstalletjie gewerk. En Ouboet wou ook vreeslik graag saamgaan, hoekom het ons nie verstaan voor die tyd nie.  Dit blyk nou dat daar 'n blonde klasmaat is, 'n baie mooi meisie, saam met wie hy heerlik die hele oggend gekuier het. Vriendskap is darem 'n kosbare ding!

Ek en Kleinboet het in die koue maar onse sweetpakke afgestroop. Die ou vlakte is vandag baie, baie koud! Daar is nie baie wat deelneem aan die fietswedren nie, skaars so vyftien. Ek en jongste is heel agter van die begin af, hoofsaaklik vanweë ekke...  Ons draai van die teerpad af in, langs die oom se huis verby. Dis 'n groot boerdery, met die mooiste trekkers onder die afdak. Die eerste drie kilometer is 'n droom. Dis turfgrond hier, en die paadjie is lekker hard, met sulke fyn krakies in. Ek voel sommer goed en baie fiks. So ek het nie so baie verloor van die Argus af nie!  Een van die boere ry voor in sy Landcruiser bakkie. En toe draai hy verkeerd af. Hy wou ons seker help op 'n kortpaadjie. Die oorspronklike plan was dat ons om die buiterand van die landerye sou ry, in die harde paadjie. Die nuwe kortpad is hier tussen die lande deur, en die pad word skielik geploegde grond. En nou: my bande op my fiets is Continental Town & Country.  Hulle is gemaak om op teerpad te ry (75%) en as jy op harde grondpad sou ry, sak hy so bietjie in, en gee dan vir jou lekker traksie. Sand? Moeilikheid met 'n M!  Amper sê ek met 'n K!

Ons ry so entjie. Skielik duik daar  'n kontoerwal op. Jongste het geen probleem nie, sy fiets het die regte bande op, en hy is so lig soos 'n veertjie. Hy sweef oor die sand.  En sy pa? My voorwiel begin gly. Ek kry nie my voet uit die pedaal uitgeklik nie. Ek koop 'n plaas. Die eerste een. Daar is so bietjie velle af op my linkerbeen. Dit gebeur maar in die beste families, dis seker tyd vir my jaarlikse val.  Nog tweehonderd meter, nog 'n kontoerwalletjie, nog dik sand. Voorwiel gly, kry nie my voet uit nie, plaas nommer 2. En na nog 100 meter - digte los turfgrond. Voorwiel gly, voet sit vas, plaas nommer 3. Gelukkig is ons teen hierdie tyd ver agter almal. Want ek het die behoefte om lank en aanhoudend lelik te praat...

Ek laat jongste aanry, terwyl hy so goed doen. Daar is nog 6 km oor. As ek teen 3 valle per km gaan aanhou, gaan ek êrens seerkry, twee valle was weer op my linkerarm wat verlede jaar in die bakkierol seergekry het. Ek besluit om maar die km terug te stap na die harde pad toe, en dan terug te ry. Jongste ry aan. Gelukkig kom daar 'n back-up bakkie op daardie stadium aan, en laai my op. Daar is alreeds twee ander ook agterop. Gelukkig het ek niks om vandag te probeer bewys nie.  Ek klim met 'n lied in my hart op die bakkie.  Intussen het Jongste gas gegee, hy het sommer die bondel ingejaag sonder my wat hom terughou. Hy het sy wedren verskriklik baie geniet, en sommer 'n medalje ook gekry. 

Die Plattelandse basaar was verderaan baie lekker. Ek het so 'n ontbyt van lewer en pap en suursous gekoop. Met 'n ordentlike sosatie om dit mooi af te rond.   Daar is ook pannekoek geëet, en die heerlikste Peppermint Crisp tert vir R5.00. Verskeie koeldranke is gedrink. Die kinders het lekker gekuier met al die vriende. Ons het gebly vir die Lucky Draw, maar die keer het ons nie weer 'n fiets gewen nie...

Die seuns het die Waterballe baie geniet.

Hierdie is 'n klein gemeentetjie, wat swaar geraak word deur die ontvolking van die Platteland.  Hulle het die probleem dat kleiner boere dit nie meer maak ekonomiesgewys nie, en verkoop aan groter boere.  En tog het die groepie wat agtergebly het, besluit dat hulle gemeente sal voortbestaan, hulle gaan hul bes daarvoor probeer.  Daar was nie so baie mense by hierdie basaar vandag nie. En tog was die atmosfeer baie, baie lekker gewees. Ons sal maar volgende jaar weer so maak!