'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Tuesday, August 16, 2011

'n Hartseer bladsy uit my fotoalbum... Ilse Schmidt 16 Augustus 1970- 10 Desember 1985


Toe ek in Standerd nege was, en verjaar het, het my jongste sussie hierdie verjaarsdagkaartjie vir my gemaak.  Sy was deeglik bewus van my liefde vir motorfietse en karre...  Dit is een van my gunsteling besittings, en ek kan dit nie waag om dit uit die album te haal nie, uit vrees dat dit sal disintergreer.
Net na my 18e verjaardag is sy met kanker gediagnoseer. Sy het dapper daarteen baklei, maar die stryd uiteindelik verloor op 10 Desember 1985. Sy was vyftien jaar oud. (standerd 7).

So dikwels dink ek aan wat alles moontlik kon wees. Sy wat volwasse kon word, kon studeer, kon liefhê en trou en kinders hê.

So dikwels dink ek aan hoe ek as matriekseun glad nie geweet het hoe om haar siekte te hanteer nie.  Hoe ek dit maar probeer ignoreer het in die hoop dat dit net sal weggaan.  Hoe ek nie geweet het hoe om te sê dat ek eintlik hel baie omgee, en nie geweet het hoe om dit te wys nie. Dat daar 'n helse stuk seer in my hart was, wat net op my motorfiets soms uitgeklim het as ek roekeloos deur die draaie van die dorp gejaag het, en soms afgebliksem het in die proses.  Hoe ek nie geweet het hoe om na haar te luister nie, dat ek te bang was om te vra omdat ek nie die antwoorde geken het nie... (nog steeds nie...) 

 Ek het al baie gewonder hoe het ons, as gesin wat lief is vir fotos neem, niks beter fotos van haar het as hierdie een in die Newcastle Advertiser se berig nie. 

Haar dood het in my eie lewe 'n geweldige leemte gelos.  Dit het vir my nog altyd daardie vrees gegee om iemand lief te hê- kyk hoe seer is dit as so iemand weggevat word.  Dit het vir my van al my onskuld beroof- skielik gebeur slegte dinge nie net met IEMAND ANDERS nie.  Die spook van kanker in ons familie maak my steeds bang... 

In ons gesin van oorsprong het dit elkeen van ons nog meer in ons eie hoekies toegeverf.   Na Ilse se dood was niks meer dieselfde nie. 

En enkele weke later moes ek die ouerhuis verlaat, en my pad gaan oopveg in die universiteit. Skielik moes ek die grootmenslewe hanteer, die ontgroening in die koshuis, om skielik 'n kamermaat te hê, om Grieks en Hebreeus te probeer deurkom. Ek het net nooit die tyd gevat om behoorlik oor Ilse te rou nie...  En daardie seer kom nog steeds elke nou en dan uit. Verlede jaar sou sy 40 gewees het, dit het my baie hard geslaan.  Elke jaar op 16 Augustus onthou ek... 

Ek wens ek was 'n beter ouboet. Ek wens ek het meer gehad om te gee. Ek is jammer. Jy was baie spesiaal! En ek was te fucked up om jou so te behandel.  Ons ander sussie kry swaar op die oomblik. En weer weet ek nie hoe om te wys ek gee om nie, en weer weet ek nie hoe om te help nie...


2 comments:

  1. Net jou daar wees, in daardie tyd was vir haar genoeg - ek glo dat sy verstaan het, en nie van jou gedink het, soos jy van jouself hierbo dink nie!! Moenie jouself verwyt nie - sy wil nie he dat jy dit aan jouself doen nie!! Ek is seker daarvan!! Maak vrede met jouself!! Jy was daar en dit was vir haar genoeg - sonder dat jy iets spesiaals gedoen of gese het!! Op die manier kan jy daar wees en sal jy weet wat om te doen en te help met jul ander sussie!! Die belangrikste is: (en jy weet dit) gaan in jou binnekamer en le dit alles voor Hom neer, soveel kere as wat jy kan. Dan kom jou vrede oor jouself en kry jy jou antwoorde om jul ander sussie te help! Die ander troos, is die wonderlikste, dat sy aan Jesus se voete sit, en dis die beste plek ooit!! Baie sterkte, Ewald!!

    ReplyDelete
  2. Ek voel jou hartseer en verwyt. Ek wil net sê dat jy nie jouself moet verwyt nie. Ons Vader weet hoekom dit gebeur het. Ek het my pa verloor toe ek net 11jr oud was en dit was die seerste seer, ek het baie daarmee gesukkel en eers op die dag wat hy sou 60 word, het ek vrede gemaak met alles. Kon ek sê..nou is ek okey daarmee. Met my ma se afsterwe verlede jaar..voel ek so verlore..nou's ek 'n weeskind, maar ek het 'n wonderlike man, ousus en stiefpa en ons ondersteun mekaar geweldig baie, maar dit sou nie moontlik gewees het, as ons nie kinders van God was nie. Ek het 'n middel sussie wat deur baie drama gaan en grootliks oor sy ook nie kon vrede maak dat ons Moeks nie meer daar is nie. Ons steunpilaar. Ek bid dat jy ook vrede sal vind en nie langer jouself sal verwyt aan iets wat niemand iets kon doen nie. Ek glo daar is baie wat met my saam sal stem..Jy is vir ons spesiaal!

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?