'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Monday, June 13, 2011

Dag 14 Portomarin na Palas del Rei

Vandag moes seker ook in my lewe gebeur het vir ´n doel. Alhoewel wat die die doel is, sal ´n mens nie nou al weet nie. Dalk ook nie vir die volgende 100 jaar nie. Dis soos Elia se besembos ervaring- die een oomblik is daar ´n groot hoogtepunt, en dan moet ´n mens weer skielik aarde toe kom.

Vandag was nag gewees. Ek het halfsewe begin stap, omdat vandag die langste dag sover op die Camino gaan wees. ´n Mens stap eers oor so ´n ysterbruggie uit Portomarin uit. Dan klim jy geleidelik vir 10 km. Die eerste plek wat jy kry, se naam is Toxico- dit gee jou ´n idee wat om te verwag! Daar is allerhande fabrieke en goeters langs die pad. Dit is ook ´n stretch wat die stappers baie in mors.

Die eerste koffie is by Gonzar, 7.9 km van Portomarin af. Soos altyd is daardie eerste koffie in die oggend regtig iets om na uit te sien. Maar daar is verskriklik baie pelgrims wat wag vir diens, synde die eerste koffieshop...
´n Tweede koffiestop is by Hospital. Al hierdie Hospital plekke is vernoem na plekke wat siek pelgrims in die antieke tye versorg het, maar meestal nou nie meer doen nie.
By Hospital het dit begin reën. Ek het myself en my rugsak maar in die poncho probeer toedraai. En aanghou stap. Na 18 km kom ´n mens by Ligonde uit, en daar raak dit interessant. Die gidse gee almal verskillende afstande van hoe ver dit van hier af is na Palas del Rei toe. Maar dit is nog ten minste 7 km. En dit reën. En ek stap. Anderkant 20 km gebeur ´n vreemde ding in Spanje. Skielik word ´n kilometer BAIE verder...  Na 22 km word die pyn in die voete baie erg. Na 25 km raak dit onhoudbaar.

So 4.5 km buite Palas del Rei het ´n jong man by my gestop, en vir my ´n pamflet in die hande gestop. Hy bestuur ´n nuwe privaat Alburgue, en nooi my om vir € 10 daar te kom bly. Omdat ek vandag geweldig stadig gestap het, vra ek hom om solank vir my ´n plek te bespreek. Alburgue Méson de Benito is die plek se naam, reg agter die kerk in Palas del Rei. Baie modern en skoon, met drie rekenaars vir internet toegang.
Ongelukkig vanaand die boonste bunkbed vir die eerste keer, ek was bang daarvoor. Maar ek voel darem al heelwat beter na die stort en die glas rooiwyn wat ek nou in het.

Ek het gehoop om by die skedule van John Grierley te bly, en nog drie dae te stap. Daar is nou net 65 km oor. Maar vandag was ´n skok op die lyf, ek weet nie of ek more kans sien vir nog 25 km na Arzua toe nie. Buitendien, in Melide (halfpad) is daar ´n plek wat glo wêreldberoemd is vir sy seekat in die ink voorberei, wat ek eenvoudig sal moet gaan proe- Pulperia Exequiel. Maar dit gaan maak dat ek nie Donderdag in Santiago aankom nie, eers Vrydag. Dit gaan maak dat ek my sertifikaat gaan kry Vrydag, maar Saterdag se mis gaan misloop om 12 uur waar hulle my naam gaan lees, en waar ek begin loop het. Want ek wil Saterdag verskriklik graag met die bus na Finisterre toe gaan, daardie westerlike punt van die Europese kontinent. Fotos wat ek daarvan gesien het, lyk nes Kaappunt. Ek wil dit so graag sien, en het gehoop ek sou nog die 78 km daarnatoe ook kon stap. Maar ek was net te stadig.

Ek gaan nou woes siesta, dan kos soek, dan probeer hergroepeer en kyk wat ek more moet doen. Lekker dag daar by julle elkeen!

Sunday, June 12, 2011

Dag 13- Sarria na Portomarin

Vandag is nou die een dag wat dinge presies uitgewerk het soos ek my Camino verwag het. Dit was ´n fantastiese dag in my lewe!

Ek het vanoggend eers half sewe opgestaan.  Die dag het so amper somber begin- dit het so bietjie reënerig gelyk. En die stap begin met ´n baie kwaai afdraende, verby die begraafplaas van Sarria. Nou kan ek nie onthou of ek al vir julle iets van Spaanse begraafplase vertel het nie. Dit werk glad nie soos by ons nie. Dink nou aan ´n gedenkmuur soos wat ons in Suid- Afrika ken. Die nisse is net heelwat groter, ´n hele kis kom daarin! So amper ´n woonstelblok vol kiste, niemand gaan in die grond in nie, lyk dit vir my, almal word mooi netjies gestoor vir die oordeelsdag...
Terwyl ek daar verby stap, is dit nog half skemer en reënerig. En die enigste geluid is die gekrys van ´n kraai... Spooky!

Maar dit het heelwat beter uitgedraai net daarna. Alhoewel ´n mens vandag weer heelwat geklim het, was ´n groot deel van die roete onder skaduwees- die reën het toe ook wegbeweeg, en heerlike sonskyn het ons getref.

Net eers hierdie een deel met almal wat nog die Camino gaan stap- van O Cebreiro af is die Camino in die Gallicea provinsie van Spanje, en daarvandaan word die kilometers elke halwe kilometer op ´n sement blok aangedui. Die Alburgue was by km 111, maar as jy uit Sarria uitstap, by kilometer 108, is die mooiste blyplek wat ek nog gesien het sover, vir €9 per nag! As dit nie so naby was nie, en my tyd nie so vinnig uitgehardloop het nie, het ek wragtag oorgebly. Skryf neer:  Casa Barbedelo- km 108. EK het daar ´n Café con Leche Grande gedrink, en die musiek net baie geniet. Die plek is nuut, baie netjies,  dit lyk baie lekker om daar te bly!

Omtrent die tyd wat al die goeie mense in die kerk sit, het ek DIE ervaring van die CAmino gehad! Daar is ´n stukkie wat die pad lyk of dit ´n rivier word. Daar is net klippe om te loop op langs die rivierbed. Daar kabbel ´n stroompie daar deur, en dit is asemrowend mooi. Ek het net daar gestop, die rugsak afgehaal, en die oomblik geniet. En daar het ek die woorde van Psalm 23 skielik op ´n baie intense manier beleef: Waters waar daar vrede is...  En op daardie oomblik het ek een van die lewe se piekervarings gehad. Alles het skielik, vir een oomblik, net bymekaar uitgekom. Skielik was daar totale vrede- met God, my naaste, myself, die natuur... Ek weet nie hoe om dit regtig in woorde te beskryf nie. Maar dit was AWESOME!!!  Dis wat ek gesoek het, en ek het dit gevind...

Dit het my diep geraak, en  ek het lank daaroor loop en dink. So het die roete ook vandag op en af, deur plaasopstalle en klein dorpies, oor landerye en deur skilderagtige landskappe beweeg. EK neem verskriklik baie fotos, daar behoort ´n klompie mooi desktops te wees...

Toe, op km 95, nadat ek nou al 16 vir die dag gedoen het, kom ´n mens skielik op ´n draai af by Mercadoiro. En daar is ´n restaurant en Alburgue. Die restaurant speel die mooiste musiek. Ek het daar `n Paella geëet met ´n bier by vir €4. Die eienaar vertel my toe in gebroke Engels van ´n Suid- Afrikaanse Alburgue 2 km verder. En sowaar, 2 km verder sien ek dit in geel letters op die pad: "Stadig..." en ´n paar tree verder ¨net om die draai...¨ en as ´n mens om die draai kom, is daar ´n poort waar ´n Suid-Afrikaanse vlag groot wapper. Toe ek ingaan, is die Alburgue nog nie operasioneel nie. Maar die eienaar (Gordon) en sy seuns sit saam met drie Suid- Afrikaanse dames daar en wyn drink. En dadelik skink hulle vir my ook enetjie. Ek het baie lekker vir so ´n uur daar gekuier, en ek dink Suid-Afrikaners op die Camino sal hierdie Alburgue baie geniet as hy klaar is, so 2 km voor Portomarin.

Ek het saam met die Suid Afrikaanse dames (Linda, Kim en Sally)  ingestap na Portomarin toe, hulle is in ´n hotel, en ek het plek gekry in ´n privaat Alburgue, dit lyk asof die dorp se blyplek vinnig besig is om vol te raak. Die klomp Suid-Afrikaners het ´n tentatiewe aandete afspraak by Alburgue Mirador se restaurant. Ek sal ook daar probeer uitkom, dis lekker om vir ´n slag met ons mense te praat...

Laaste dingetjie, as ´n mens in Portomarin instap, stap jy oor ´n HELSE hoë brug die dorp in. Ek het sommer hoogtevrees begin kry. Dorp self is baie mooi, en dit lyk of die Camino sy enigste rede vir bestaan is.

VAndag was ver, 22.4 km. Maar dit was opwindend. ´n Mens weet net nooit wat om die volgende draai vir jou wag nie...
Km oor tot in Santiago- 89 km.

Saturday, June 11, 2011

Dag 12- Triacastella na Sarria

Ek het uiteindelik in Sarria aangekom, daardie punt waar almal begin met die CAmino wat net die absolute minimum kan/ wil doen. ´n Mens moet die laaste 100 km loop, of die laaste 200 km fietsry om in Santiago de Campostelo die sertifikaat te kry dat jy die Pelgrimstog voltooi het. En tradisioneel tel die hoeveelheid pelgrims van hier af verskriklik baie op, nou raak dit glo baie, baie moeilik om in die aand ´n bed te kry.

Met dit in gedagte het ek vanoggend weggespring in Triacastella. Daar is dadelik ´n keuse. Aan die een kant kan jy die roete oor Samos vat, waar daar ´n reuse groot Benediktynse klooster is. Dit maak die roete so ongeveer 7 km verder vir die dag. Of daar is die ander roete, oor San Xil, wat so 18.5 km vir die dag meebring. Vir die eerste keer het ek die korter roete gekies. Omdat ek regtig bekommerd was oor akkomodasie in Sarria, dis nog Saterdag ook.

Dit was toe nie gelyk van Triacastella af nie. Daar was ´n redelike fris klim uit die dorp uit, na ´n bergspits met die naam Alto Riocabo.  Maar dis absoluut die moeite werd, die omgewing maak op vir alle pyn wat jy ekstra in jou lewe ingenooi het om die roete te doen. Daar was weer die mooiste stukke woud, met antieke ou "horse-chestnut" bome, wat verskriklike dik stamme het- hulle moet regtig baie eeue oud wees. Daar was die uitsig van bo op die berge af, met die son wat opgekom het met die mooiste pastel kleure landskap. Daar het mis in die valleie gelê, met die son wat bo dit skyn, prentjiemooi. Ek wens ek kon vir julle fotos laai!

Voor ek weg is vanoggend, het ek die laaste twee van gisteraand se Flamby´s geëet. Daar was ook so 500 ml Coke in die bottel oor. Daarmee het ek die tog aangedurf. Wees gewaarsku as jy die roete wil loop en dalk net my blog volg: Dit is 10 km van Triacastela af na die eerste bar toe (Casa Francés of so iets), waar jy koffie kan kry! Daardie Café Con Leche Grandé was soos moedersmelk toe ek by hom uitkom. Want sien, my sweater is nog steeds nat! (K Way Termilator, word dekselswil nie droog as jy hom was nie!!! Toets AL jou klere voor jy gaan om te sien hoe lank vat dit om droog te word.) Omdat dit so koud in die oggende in die berg is, het ek maar my reënjas aangetrek. Maar hy laat ook nie sweet so maklik ontsnap soos wat KWay belowe nie! Na 90 minute was ek papnat gesweet, en het ek hom uitgetrek. Toe is ek deurnat en dis nog steeds koud. Daarom was die koffie met melk, groot size, baie welkom!

Met die akkomodasie in gedagte, het ek weer die pad gevat, en die volgende 8.5 km ook omtrent in een sessie gestap. ´n Mens kan Sarria al van baie ver sien. ´n Stad wat op ´n berg gebou is, kan ´n mens nie wegsteek nie, het Iemand baie slimmer as ek eendag gesê- gaan myk maar in Matteus 5 êrens.  Die probleem daarmee is- dit voel dan nie of die plek nader kom nie. My St James gids het my ook goed die hel in gemaak, praat van ´n plek wat net 3 km uit die stad uit sou wees, dan is dit 7 km!

Maar uiteindelik het ek in Sarria aangekom. My eerste keuse vir Akkomodasie was die Albergue International, omdat die St James gids so sê. En die plek is alweer ´n aangename verrassing, baie mooi modern, baie skoon, en nog glad nie vol nie. Die kamers bestaan net uit 4 bunkerbeddens, ver uit mekaar uit, wat ´n luukse op hierdie roete is, dit tel al amper as privaat! Kos bietjie meer as die ander (€10) maar dit lyk die moeite werd.

Na ingeboek gou weer gestort en klere gewas, die ou routine. Teruggestap vir so 500 m waar ek ´n kampwinkel gesien het. En hier het ek ´n lekker verrassing gekry. Ek wens al lankal vir ´n goeie gids. Dat ´n mens dit nou in Spanje, so in die pylvlak moet raakloop. As jy ooit die Camino wil stap, kry vir jou John Brierley se gids. Jy gaan betaal, maar dis die moeite werd- hy gee selfs elke dag se roeteprofiel. Dié boek het my €19.95 geruk, maar dit is elke sent werd. Sal maar twee Pilgrims menus skip en self kosmaak!

Nou vir die goed waaroor ek vandag geloop en wonder het:
  1. Hoeveel inligting wil ´n mens werklik hê van die stuk pad wat voor jou lê? Op hierdie roete is dit nogal baie belangrik, dit bepaal waar jy gaan bly, of selfs meer basies, hoe ver jy van drinkwater is. Maar die res van die lewe, hoe belangrik is dit om te weet wat kom?
  2.  Opdraendes is goed vir jou, dit gee jou sexy boudjies. Maar dis nie altyd lekker nie. Dit toets ´n mens partykeer, maar dan is dit ook weer lekker om bo uit te kom en te voel jy het iets bereik.
  3. Te veel afdraendes maak jou seer. Vandag weer beleef. Op ´n fiets is ´n afdraende ´n seën, as jy goeie remme het. Met ´n rugsak op is dit waar ´n mens die maklikste seerkry. Dis seker hoekom die Camino van die lewe ook nie net uit afdraendes bestaan nie...
  4. AS ´n mens hard gewerk het daarvoor, is ´n bier darem baie lekker!
  5.  ´n Mens kan soms op onverwagte plekke skielik hulp kry, wat jy nie sien kom het nie (die reisgids op die roete- ek het nou vir twee weke nog NIKS in Engels te lese gesien nie. En die een boek wat ek regtig op soek is na, spring so op my!)
Ek het ander dinge ook geloop en wonder, maar dis nie vir sensitiewe kykers se oë nie.

Mooi dag daar by jou! Geniet jou reis, waar jy ook al is!

Friday, June 10, 2011

Dag 11- Deel 2- Triacastela

Sedert ek vroeër vandag met julle gesels het, het daar al weer baie water in die see gevloei. EK moes nog 7 km loop tot in Triacastela. Dit was ´n baie lang loop, want die gids wat ek het, is nie lekker op hierdie gedeelte nie. Hy het net gesê van pumt X tot by Triacastela is 12 km. Daar was vier dorpies tussenin. En ´n mens het net nie ´n idee gehad hoe ver nog nie. Die afdraande maak ook baie seer op die voete en enkels. So vandag was 22 km waarvan ten minste 19 woes afdraande was, en so 3 baie uitpittende klimme.

Maar dit is verskriklik mooi omgewing, wens ek kon fotos oplaai.
Die roete is besig om baie vol te raak. Ek was ook bang vir weer so ´n ervaring. DIe Confraternity se gids sê Albergue Oribio in Triacastella is baie lekker, en langs ´n vriendelike supermark. Ek is baie stadig, en daar is verskriklik baie veral Duitse toergroepe, wat hulle mense se rugsakke aanry vir hulle. So wat is die kans.

Triacastela is ook nie te groot plek nie. En as jy inkom van die berg af, is die eerste een wat jy sien, DAAI munisipale Refugio. Ek stap verby, met voete wat voel of ek op kole loop. Ek volg ´n Japanese pa en seun, tot by die Albergue. Die ouma wat daar by die deur staan, hou dadelik van my mooi oop gesiggie. Haar dogter agter die toonbank sien seker ek lyk soos die Kinderbybelduiwel. ´n Woeste argument ontstaan tussen hulle- is daar nou plek of is daar nou nie. Ouma wen. Haar dogter laat Kinderbybelduiwel toe.

Die kamers is pragtig, gemeet teen gisteraand se oorvol standaarde. Ek deel alweer die kamer met ´n klom`p jong Duitse dames, en die Japanese pa en seun. Niemand verstaan my alweer vanaand nie.
Maar die supermark is toe vriendelik! Onthou ALLES in Spanje maak tussen 2 en 5 toe, dis die tyd wat gerus word en klein Spanjaardjies gemaak word, daar word nie gewerk nie! Maar die dame in die Supermark sien my daar rondtrippel, en maak vir my oop. EN dit is die wonder van grootmaat koop. ´n Blikkie Coke, waarna ek al vir ure smag, kos amper € 1.  2 Liter Coke kos €1.40. En ´n groot pak Lays kos E1.  Raai wie hou nou ´n partytjie op sy eie- wens my kiddies kon daarin deel!

EK het nog nie vir julel gesê nie, eergisteraand het ek toe ook die slagoffer van die berugte Camino Bedbugs geword. Ek skat daar is oor 100 byte op my hele lyf, daarom het ek ook so gejeuk gisteraand dat ek nie kon aan die slaap raak nie.

Ek is so dankbaar vir ´n ordentlike bed vanaand. EK sal seker vanaand weer inloer. Mooi bly, tyd vir stort, ek vrot! Daarna Siesta, terwyl ek nou nie klein Spanjaardjies mag help maak nie...

Dag 11? O Cebreiro na Triacastella

Dit raak nou ´n gewoonte om nie waar ek slaap, internet te hê nie, en dit dan langs die pad raak te loop. Dit maak my sessies so bietjie meer gejaagd...
Toe ek gister geblog het, was ek byna dood van die moegheid. Daardie O Cebreiro bult is regtig kwaai!  Daarna het ´n mens nog 3 km geklim, gelukkig nie heeltemal meer so steil soos die vorige deel van die dag nie. Maar dit is baie hoog, 1350 m bo seespieë. En die wind waai. En dis baie koud. Nou kyk, behalwe vir blase op my voete is daar ´n ander ding wat stap altyd vir my baie moeilik maak. Ek sweet soos ´n os. Altyd, as ek oefen. Ek het gister met my sweater die eerste deel geklim, want dit was baie koud. Maar hy was later deurnat, en daarna het ek maar uitgetrek en net met ´n t-hemp geklim. Die laaste ent het mooi gevorder. Uiteindelik het ek bo by O Cebreiro uitgekom. En dit is nou behoorlik op toeriste gemik. Ek het besluit om daar oor te bly. Dit was my eerste ervaring van die staatsrefugio´s langs die pad. En dit was nogal traumaties!  Die gebou self is baie netjies en modern. Maar daar is 40 bunkbeddens, twee twee teen mekaar, in ´n enkele kleinerige slaapvertrekkie. Ons het buite gesit en wag tot 1 uur, tot die refugio oopgemaak het. In die tou al het ek gesien daar is so luidrugtige Spanjaard, wat op sy vriende skree wat langs hom sit. In hierdie refugio, soos jy inboek, kry jy ´n kaartjie met ´n bednommer op. En daar sal jy slaap. Raai langs wie land ek? Dis reg, langs Senor Grootbek, met twee bunkbeddens langs mekaar lê hy nader aan my as my vrou in ons queen size bed!  Tweede surprise, toe ek gaan stort- die storte is redelik modern. Maar daar is ses hokkies, sonder enige deur of gordyn. Soos julle agterkom, as ´n mens "privacy- issues" het, gaan jy redelik swaarkry op die Camino in die refugios!

Ek het vinnig gestort, en daarna was daar nog ´n baie lang dag oor. Ek het eers in die kerk gaan sit. Baie mooi gerestoureer, en daar het Taize musiek gespeel. Ek het die stilte baie waardeer. Toe eers weer gaan koffie drink by een van die drie restourante daar. En baie lank gesit en my gids gelees.  En toe maar deur die dorpie rondgestap.  Die hele middag het so aangehou, elke drie ure as ek op my horlosie kyk, is dit vyf minute later. Ek kry behoorlik tyd vir stil word! Ek het later weer in die kerk gaan sit, vir ´n baie lang tyd, en vir elkeen wat ek ken, op die naam gebid.
So teen half sewe het ek gaan aandete eet. Dit was die een lekker deel van gister. Dit was in so ´n intieme restourantjie van klipmure, en dik houtbalke vir ´n dak. Dit behoort aan ´n jong egpaar met drie klein kindertjies, en daar is een van die oumas ook daar- dit lyk nie of ´n mens met haar moet sukkel nie!  Dit was, soos ek gesê het, baie koud. Maar daar was ´n kaggel met ´n vuurtjie. Hulle Macaroni eerste gereg het actual stukkies vleis in gehad, en die hoofgereg wat ek gekies het, was minute steak en tjips. Hulle sal nooit vleis braai soos ons nie, maar steak was baie welkom, al was dit baie klein! Nagereg was ´n Flamby, en die 1/2 bottel rooiwyn saam met die ete was uitstekend. Ek het so lank as moontlik daar tyd verwyl, en toe maar teruggeggaan refugio toe.

Om aan die slaap te raak, was nie maklik nie. Dit het later twee slaappille gekos (Sorry Mich- noodgeval!) Want Senor Grootbek en sy trawante het die interessantse ensamble van snork wat jy in jou lewe gehoor het. Veral hier teen ´n mens se oor was dit nogal erg!

Vanoggend het ek so half sewe begin stap. Ek wil druk vuir Triacastella, so 22 km se stap vir die dag. Die eerste 15 het baie mooi verloop. Dis meestal afdraande, maar daar was een of twee opdraandes wat ´n mens goed besig gehou het. My linkertoontjie is nog steeds nie afgesit nie, maar hy tender. Ek dink dit is die eerste keer in my lewe wat daar drie lae blase op een slag op een plek is.  Ek sak nou 700 m in 6 km se tyd, so my enkels is ook besig om ´n helse knock te vat, my knieë hou verbasend genoeg nog. 
Hierdie omgewing van Galacia lyk baie soos Ierland, ´n mens kan sien dit reën baie. En ´n mens stap die hele tyd deur beesmis van die baie melkerye.

As daar later weer internet is, sal ek weer gesels. Ek het uitgefigure hoekom ´n mens so baie blase kry hierdie kant van die wêreld. Dit werk so- in Suid Afrika is ons onder die ewenaar. Dit beteken ons hang eintlik onderstebo aan ons voete. ´n Mens is dus baie ligter in Suid Afrika. Hierdie kant van die ewenaar staan jy met jou volle gewig bo-op jou voete.  En ´n Suid Afrikaner se voete is nie gewoond daaraan nie. Maak dit sin? +
Baai, laat ek weer probeer waggel...

Thursday, June 9, 2011

Dag 9 en deel dag 10- Ruitelan tot O´ Cebrero

Gister het verder baie mooi verloop. Ek het baie lekker gestap, 20 km opdraande in die vallei van die rivier af. Daar was later amper elke 2 km ´n dorpie. Maar die dame by Albergue San Miguel in Astorga het gesê die lekkerse Alburgue vir haar (en sy het verskillende dele van die Camino al oor die 20 keer gestap) was Ruitelan s´n.

Toe ek gister in Trobadello blog, sien die meisie wat daar werk dat ek die foto van haar omgewing op my blog sit. Sy was so beïndruk dat sy vir my ´n blok sjokelade present gegee het, met baie Spaanse woorde by. Ek dink nie dit het beteken dat sy my sexy vind en ´n afspraak met my soek nie- maar ´n mens weet nooit met die Spanjaarde nie!

Van Trobadella was dit nog 3.5 km na La Portella, dan nog 1.5 km na Ambemestas, en nog 2.5 km na Vega de Valcarce. En dit was baie, baie koud die hele dag! MAar dit is baie mooi in hierdie vallei op. In Vega de Valcarce is my geloof deeglik beproef. Want daar loop ´n mens verby die Alburgue Brazil, en dit lyk na ´n lekker partytjie daar by die Brasiliane. Maar ek is nie hier vir ´n partytjie nie, ek hou aan. Die gids sê dis net nog 1.7 km tot by Ruitelan. Maar dit voel soos 4! Dalk omdat ´n mens al moeg was van die hele dag se opdraande.

Toe ek in Ruitelan aankom, wou ek amper omdraai. Die Alburgue lyk glad nie so hot nie. En dan is daar ´n netjiese bar oorkant die pad, waar ´n tannie met min tanne bier bedien. Daar is nog so drie huise en twee hoenders, en dis die hele dorpie. Maar ek boek toe tog maar in.

Die eerste indrukke is vreemd. Die Spaanse man daar is obviously ´n Boeddis. Die reëls klink vreemd. En daar is niks om verder te doen in die dorpie nie. MAar ek druk deur. Ons bly in ´n dakkamer. En daar is min mense in die Alburgue. Ek was weer klere. Soos elke dag. En ek vang weer´n slapie. Gaan drink nog ´n biertjie oorkant die pad. En sit. En wag. Want aandete is eers om 19h30.  Ek page ´n Engelse boek deur waarvan die eerste 30 bladsye uitgeskeur is. Spoedlees deur die res van die 547 bladsye voor ete.

Aandete was uitstekend! Dit het begin met ´n groentesop met baie ham by. Die gebruiklike wyn en brood op die tafel. Daarna was daar ´n slaai op die tafel, met tuna, en fetakaas, en slaaiblare, en pitmielies, en daardie reuse rooi soetrissies. Die hoofgereg was Spagetti met ham.  En poeding was ´n Mariebiskuitjie met vla.  En genoeg rooiwyn! Ek het in die middel van ´n lang tafel gesit, en oorkant my was ´n Amerikaner van Ohio wat al 10 jaar in Japan woon en met ´n Japanese meisie getroud is. Confusing, né? Links van my was ´n groep Franse dames, op die punt ´n Italiaanse egpaartjie wat eergister in Ponferada begin het. En regs was die gebruiklike groepie Duitsers.  Na ´n paar wyne het die gesprek ontdooi, en het ons heerlik internasionaal gekuier. In Vino est Veritas...

Vroeg in die bed geklim. Daar was duidelike opdrag dat ons nie mag opstaan voor die musiek nie vanoggend 06h00 speel nie. Ek was al 05h00 wakker, en het gelê en wag tot die musiek begin speel het- Ave Maria!

Liewe vriende en familie, vandag was sover hel! Van Ruitelan het ek nou al 7 km geklim. Dit is opdraande al die pad. Dit voel of ´n mens ´n nimmereindigende stel trappe klim!
In La FAba, na 5 km, het ek eers gestop vir ´n GROOT koppie koffie. Daarna was dit 2.7 km van hel op ´n nimmereindigende grondpad, tot hier waar ek nou sit in Laguna de Castella se Alburgue kroeg.  Hierdie breuk het ek nodig, want nou lê daar nog 3 km se hel voor tot by O Cebrero, ´n baie bekende berg op die Camino. Daar is ook ´n webcam bo-op O Cebreiro, so as julle dit kan opspoor, ek sal seker so oor ´n uur of 90 minute daar wees. Ek hou, maar ek bars! Vandag sweet ek my dood.  Ek sal by O Cebrero besluit of ek enigsens verder wil stap vandag. 9.5 km se kwaai opdraande is dalk erg genoeg!

So geliefdes, mooi dag daar vir julle elkeen!

Wednesday, June 8, 2011

Dag 8- Ponferada na Villafranca del Bierzo en ´n stukkie dag 9...

Die 22 km na Villafranca het vanoggend soos ´n droom onder my verby gerol...
Die eerste 10 km is deur Ponferada se buitewyke, met winkels en woonbuurte die hele pad lank. Maar dan beweeg ´n mens uiteindelik uit hierdie industriële deel na die volgende dorp toe, Cacabelos. En hierdie omgewing is werklik mooi! Dit herinner ´n mens aan die Franschhoekvallei. Die Bierzo gebied is ook bekend vir sy druiwe, wyne en vrugte. Die hele stuk na Villafranca toe is deur sulke wingerde en boorde. Redelike opdraendes al klaar, maar dit verwag ´n mens soos die groot berge weer nader kom.

Villafranca is werklik ´n pragtige dorp! Hier is die ou Santiago kerk, met die poort van Vergifnis, as jy in die middeleeue die pelgrimstog tot hier kon maak, maar te siek was om verder te gaan, dan het dit glo dieselfde getel as om by die katedraal in Santiago self uit te kom.

Ek het in ´n baie mooi private Albergue gebly, maar al wat regtig op my senuwees begin werk, is dat die hele plek alweer vol Duitsers was, wat nie ´n woord Engels praat nie.
Ek het gisteraand seker die slegste bord kos ooit in my lewe gemaak, en dit terwyl ek gedog het ek gaan dit so goed regkry. In die klein winkeltjie oorkant die pad loop ek twee blikkies kos raak. Nou die spaans is mos nie so lekker nie, ek kan nie onderskei of dit kat of seekat was nie! Die blikkie sê iets soos seekat in ´n amerikaanse styl salsa sous. Ek het dit saam met pasta gaargemaak. Maar die pan met kat/seekat wil net nie lekker proe nie. EK gooi van iemand se rooiwyn by. Dit help niks. Ek gooi bier by. Dit help niks. Uiteindelik het ek ´n bord daarvan geëet, en die res weggegooi. Gelukkig was daar 2 sjokelade mousse om my deur te help! (´n Mens koop hulle nie een een nie, twee of vier!)

Vanoggend so ver was baie spesiaal. Toe ek uit die Albergue uitstap om 7 uur, was dit snerpend koud, daar waai ´n ysige wind van die berge af. Maar die eerste 11 km sover was so lekker! Die pad kronkel langs ´n rivier, met bosse, en koekoekvoëltjies wat roep. My voete is steeds seer, ek gaan my linker kleintoontjie binne die volgende drie ure amputeer met my Swiss Army Knife, en die wond toebrand met ´n sigaar. Maar dit was lekker koel tot hier in Trabadelo, waar ek die rekenaar in die koffieshop ontdek het. Ek beplan, as alles reg loop, (dis seker nou ek!) om te vorder tot in Ruitelan, nog so ses of sewe km vir die dag, maar dit gaan redelik vris opdraende wees.

Skoonma word vandag 80- lekker verjaar daar by my huis!
Liefde vir julle almal!

Waar ek nou so pas geloop het by Trabadelo

Tuesday, June 7, 2011

Dag 7- Molinaseca na Ponteferada

Hallo julle almal,
soos julle uit my vorige "rambling"afgelei het, was daar wel al so ´n moeilike daggie of twee ook op hierdie reis. ´n Mens gaan nie vir ´n Bucket List Item en dink dit gaan net maklik wees nie.
Gisteroggend het ek die lang pad van Molinaseca toe na Ponferada aangepàk, ´n hele 8.5 km. Dit bring my totaal vir sewe dae se stap by ongeveer 105 km!
´n Mens kan Ponferada al van Molinaseca sien, eintlik al waar ´n mens oor die berg by die Ysterkruis kom. Dis ´n stad, en die eerste ding wat ´n mens sien is swaar industrie. Ek was nie baie lus vir Ponferada nie, op grond van eerste indrukke van ver af. Ons maak dikwels so met mense ook! En ´n mens kan so verkeerd wees!

Soos julle dalk op die weer gesien het, dit reën in Spanje. Bietjie verder suid van hier is daar groot oorstromings op die oomblik. So vertrek ek gisteroggend in die reën uit die pragtige Molinaseca. Met my poncho aan. Ek haat ´n poncho! Die goed wurg ´n mens altyd! In elk geval, dit was nog steeds die meeste van die tyd afdraende, wat nie goed was vir die blase op my voete nie. Maar die newe-effekte van die dag sonder water lyk darem nou verby, dit lyk of my kans op oorlewing so effens gestyg het, dalk sien ek julle weer!

Na so drie ure het ek in Ponferada ingekom. En toe bars daar ´n wolkbreuk los. Ek het dadelik in ´n koffieshop ingehardloop, en vir my ´n groot koffie bestel (café con leche) Die interessante hier in Spanje is dat koffie dikwels in glase bedien word. Myne kom toe in ´n melkskommelglas aan- dit was ´n eerste!
Reg oorkant die Godivah koffieshop is ´n reuse ou kasteel, wat nog aan die Tempelridders (Knights Templar)  behoort het, julle weet, daai wat die legende sê ´n aandeel gehad het in die Vrymesselaars se ontstaan. Ek kon nie ingaan nie, alles is toe op ´n Maandag! Maar hierdie ou deel van Ponferada is regtig baie mooi. Ek het ´n slim ding gedoen vir een maal in my lewe. Omdat ek so suffer, het ek gaan sit en voorraad opneem. Ek het besluit wat is regtig noodsaaklik om te kan klaarmaak. Die res het ek in ´n Stuffbag gegooi, en by die Poskantoor gaan pos Santiago toe- my rugsak is nou 2.5 kg ligter!  Ek het ook  vir ´n aand by ´n Hostal ingeboek (hotelkamer vir €25) om een nag weg te kom van snorkende Duitsers. En weer alles netjies te kan inpak.

Ek het in Ponferada begin soek na dunner kouse, want my kleintoontjies veral is besig om ´n lelike knock te vat. Ek het by ´n mall uitgekom, nie heeltemal so groot soos ons s´n in Pretoria nie. Daar het ek ´n winkel soos Sportsman´s Warehouse raakgeloop, en vir my twee ordentlike pare dunner kouse gekoop. Ek het toe alweer nog niks vir die dag geëet nie, so ek het vir my by Burger King ´n Whopper met tjips en Coke gekoop. Kos ´n hele €6.95, maar maak voller as die gemiddelde Pilgrim´s menu. Ek het daarna teruggewaggel, en gaan slaap. Laatmiddag weer deur die ou deel van die stad gestap, omdat dit so vrek mooi is, julle sal die fotos eendag sien.
Ek het by ´n Supermark vir my 4 jogurts en ´n liter appelsap gekoop om my maag weer te probeer reg kry. Lank gelê en Spaanse televisie kyk, daar was ´n Suid-Afrikaanse program oor buffels teel op, wat my baie huis toe laat verlang het.

Gister was ´n goeie rusdag, wat ek baie nodig gehad het om te hergroepeer en te herbeplan. Vandag sal ek dv vorder tot by Villafranca de Bierzo, so ongeveer 21 km. Ek het  gister baie ver gestap op soek na ´n Internetkafee, of ´n werkende wifi zone, en dit in ´n stad nie gevind nie! Nou, op pad verby die Busstasie, het ek hierdie masjien raakgeloop, en wou net my sewe getroue lesers laat weet ek is ok, en gaan nog aan...
Lekker dag daar vir julle!

Sunday, June 5, 2011

Dag 5- Rabanal na El Acebo

Liewe familie en vriende, as ek gesê het eergister was erg, gister was sewe keer erger. Ek dink dit was fisies die moeilikste dag in my hele lewe. Kon nie gister by internet uitkom om julle te vertel nie.

Toe ek gisteroggend opstaan, was ek nogal naar, dalk van die forel die vorige aand. Ek besluit toe om eers in die volgende dorp ietsie te koop om te eet. Ek het ook net 500 ml water saamgeneem, want die dorpe is mos naby aan mekaar. So begin die dag se stap toe met ´n stewige klim, tot by Foncebadon. Daar is nog geen winkels oop nie. En ek het nog 500 ml water, alles is reg. Toe is dit ´n reuse klim na die Ysterkruis, bo op die berg toe. (Cruz de Ferro) Daar aangekom, het ek die klippie en my seun se soldaatjie op die hoop geplaas, en vir my geliefdes gebid. En toe soek ek water. En daar is nie. Daar is ´n bordjie vir water, maar geen water nie. Ek stap toe nog 2 km na Manjarin toe- ´n baie eksotiese plekkie. Daar is so ´n kluisenaar wat in die dorpie woon, saam met ´n vrou- syne? Daar is sewentig katte in sig, en alles ruik na kat. Hy het wel water op donasiebasis, en ek sluk vinnig twee glasies weg, en los vir hom ´n Euro. Hy het ook so ´n tuisgemaakte heuningbrood, maar dit was glad nie lekker nie. En dit was al wat ek gister tot op daardie stadium geëet het. Ek sien toe nie kans om hier oor te slaap nie, daar is nie eers storte nie.  Ek sien in die gids dis net 7 km na die volgende plek toe- El Acebo. Wat ek nie geweet het nie, is dat dit minder as dit van Everest se basecamp boontoe is- km kan misleidend wees! En daar is nêrens water langs die pad nie. Die pad herinner daar waar ´n mens oor die Outeniquapas gaan George toe van Oudsthoorn af. En dis warm, en ek het nie water nie!
Niemand wou my oplaai langs die pad nie. Ek het later regtig begin dink ek gaan dood. My niere het baie seer begin word.Al wat ek kon doen, was om aan te hou stap.

Ek het so half vier eers in El Acebo ingestap. Ek het by die dorpsfontein neergeval en so 2 1/2 liter water gedrink. Toe was ek so geseënd om die laaste bed in die Alburgue te kry. Ek sou nie nog 4 sulke km oorleef het nie! Ek het dadelik gaan stort, want ek het myself uitgevrot. Daarna het ek ´n Boccadillo geëet, so ´n olierige tuna en kaas broodjie. Dit het my verskriklik naar gemaak. Later die aand het ek eers kans gesien om ´n ongegeurde jogurt te probeer. Dit was al wat ek vir gister geëet het.

Ek het lekker geslaap, maar gisteraand sou selfs ´n spykerbed gewerk het. Om op te maak, was daar 5 Franse meisies, so ongeveer 20 jaar oud, wat met fietse ry. En hulle was pragtig!
Gister het my droom nogal erg geskud. Ek kan swaarkry vat, maar nie sonder water nie. Dit maak my baie bang vir die volgende bergreeks wat so oor twee dae my gaan tref. Ek weet nie op die oomblik hoe om te dink oor die dinge nie. BAie deurmekaar. Die enigste les wat ek gister maar weer geleer het, is om aan te hou, want daar is nie altyd iemand anders wat jou gaan help nie.

Dag 6- El Acebo na Molinaseca

VAnoggend so bietjie later ingelê, gelukkig was daar baie ander wat ook so gevoel het na gister se wrede dag. Ons het eers so half agt in die pad geval. Dié keer was daar 1 1/2 liter water aan boord, en ´n kitkat, en so gebakte jemtertjie.
VAndag was net afdraende, wat nogal baie erg is as ´n mens swaar is, en swaar gepak is. Maar dit was pragtig vanoggend, die natuur is verskriklik mooi hier in die berge. Die eerste 4 km na Riego de Ambros het baie vinnig gegaan. Ek het nie ´n kafee oopgekry nie, en sommer op die brug in die dorpie my Kitkat en Jemtertjie geniet.

Daarna sê die gids dis nog net 4.5 km na Molinaseca toe, maar dit voel baie verder. Hier gaan ´n mens van die pad af, deur die veld, sterk afdraende. Dis verskriklik mooi, maar die grondpad steil afdraende is nie so maklik nie. Ek het so half elf in Molinaseca aangekom. Ek het besluit om na gister se nagmerrie ´n baie kort dag vandag te hê, om te probeer rus. Molinaseca is ´n pragtige dorpie, met die mooiste strate en rivier en brug. Ek het nou vanmiddag al my Pilgrim´s Menu gaan soek, want ek is so 30 etes agter op die oomblik! Ek het vir voorgereg ´n Groenteslaai gekies ! (ek het nou alle hulp nodig wat ek kan kry!) Hoofgereg het ek met my baie mooi Spaanse aksent vir Steak gevra, en vis gekry, met chips. Nagereg was ´n heerlike roomys, met die gebruiklike halfbottel wyn en brood saam met die ete. Terwyl ek die Moto 2 motorfietswedren van Spanje aandagtig volg.

Ek kon nou eers 1 uur inboek in die Albergue Santa Marina. Dit lyk weer na ´n lekker plek, gelukkig met Internet. Terwyl my pensie dikgevreet is, gaan ek nou siesta. Dan klere was. En daarna moet ek ernstig myself moed inpraat, want my voete is flenters na die baie afdraande. Ek sal dalk more weer net 8 loop tot in Foncebadon, en kyk of ek dunner kouse kan koop. 

Hierdie is regtig ´n beproewing- hoe ver kan ek myself verby my limits druk? Wanneer is dit wyser om op ´n bus te klim en ´n dag te rus? Ek het so baie onsekerhede op die oomblik, en wens van julle was makliker bereikbaar om my raad te gee.

Ek verlang my ook dood huis toe, selfs na al die geraas en baklei en skop en skree en slaan van die normale elke dag se lewe!

Friday, June 3, 2011

Camino dag 4- Astorga na Rabanal de Camino

Liewe familie en vriende,
Die woord wat my op die oomblik die beste beskryf, is daai woord wat my ma my mond nog steeds met seep oor wil uitspoel. Ek is f.....up! Dit, moedertjie van my, is Spaans vir baie, baie moeg.
 Hierdie was ´n baie lang dag op die voete. Ek het weer sewe-uur weggekom, ´n mens kan nie later as 6 uur aan die slaap bly soos wat almal inpak nie. Die eerste twee kilometer was gelyk. Daarna het dit stelselmatig begin klim, maar die roete is nou regtig mooi. Ons is op pad berge toe, en die sneeu lê nog steeds bo-op die berg, soos ook die Alpe en die Perineë toe ek hiernatoe gevlieg het.
Die eerste dorpie vandag was Murias de Rechivaldo, baie mooi dorpie. Daarna het dit regtig begin klim, die res van die dag. Volgende dorpie was Santa Catalina de Somosa, net so mooi omgewing. Maar wat regtig opvallend is, is hoe stil die dorpies is, lyk my almal het stad toe getrek. Daar is ook baie bouvalle, party te koop. Ek kan al die advertensie sien: "Restoureerder se droom- benodig effens aandag!"
Ek het aanvanklik beplan om net tot by El GAnso te stap, siende dat dit so opdraende is. Maar El Ganso is piepklein, en ek was al 11 uur daar.  Ek sou heeltemal mal geraak het om die res van die dag daar deur te bring. Toe die moeilike keuse- Rabanal del CAmino is nog ´n hele 7 km verder, steil opdraende. MAar dit was vroeg, en ek is mos jonk en fiks, so het ek gedink. Ek het toe maar in die Cowboy bar in El GAnzo eers ´n lekker Draught gedrink vir ekstra moed, en toe die bult in een sitting geklim tot in Rabanal. Hoekom het ek nie gerus nie? Want my voete is gaar- albei het nou lekker kwaai blase, en dit voel of ´n mens op glas loop. Ek was regtig doodmoeg toe ek hier inkom. Gelukkig weer ´n fantastiese privaat Alburgue raakgeloop vir €5! Albergue Senora Pilar. Ek wou eers vir haar vra...  maar toe het ek nie.
In elk geval, dié Spaanse tannie dring daarop aan om ´n mens se rugsak vir jou in te dra. En sy praat net Spaans. Maar ek is baie seker, toe sy my rugsak optel, het sy ¨"Liewe Bliksem!" gesê. Ja, Senora Pilar, ek het dit ook ´n paar keer vandag gesê. Nou weer deur die normale ritueel van die dag gegaan- stort, klere was. Dan gou blog, dan siesta. Ek het alweer die winkels toe gevang, maar dis hierdie lang dag se skuld.

Ek is nou net 5.7 km van die bopunt af, daar waar die Ysterkruis is waar jy die klip van jou land kan los, en vir jou mense bid. En my seun se soldaatjie se nuwe basis! As ´n mens eers bo-oor gaan more, by Foncebadon, kom die grootste nagmerri- ´n mens daal baie vinnig 600 meter. Op ´n fiets sou dit pret wees, met die rugsak is dit GROOT moeilikheid, en ekstra blase.

Vandag se lessie vir my was dat ´n mens altyd ´n bietjie verder kan kom as wat jy dink jy kan. Vandag was baie pynlik, en tog voel ek al klaar baie beter na die stort en nadat ek met julle gepraat het. Dalk was daai ou gister reg! Anything is possible! Siestatyd, baai!

Thursday, June 2, 2011

Dag 3- Hospital de Orbigo na Astorga

So klim ons toe mos almal gisteraand saam 9 uur in die bed. Die son skyn nog redelik hoog, maar as daai Duitsers wil stap, wil hulle stap. So staan ons toe ook in die donker op, nog voor die hoenderhaan kon kraai.  Ek het nie brekvis bespreek nie, want dis €3 vir koffie en buns... 

Vanoggend, reg by die buitewyke van Hospital de Orbigo, het ´n mens toe weer twee keuses gehad. Dis altyd lekker as jy kan kies hoe jy jou alie gaan sien, linksom of regsom. Regs is korter, net 15 km vir die skof, maar dit loop langs die snelweg. Gewoonlik kies ouens met seer voete hierdie opsie, maar nie ek nie. "There I was, two roads diverged in the road, and I took the one less travelled by, and it has made all the difference..." met effense apologie aan Robert Frost.  Die langer pad loop deur ´n baie mooier gebied. Eers volg twee dorpies kort op mekaar, Villares de Orbigo en 2.7 km verder Santibanes de Valdegleisa. Die pad loop deur ´n ou se melkplaas, dan oor ´n koppie, deur ´n woud, en dis prentjiemooi. Na Santibanes is dit´n lang 9 km na San Justo de Vega toe. En op hierdie stukkie pad wens ek ek kon fotos oplaai. Langs die teerpad wat ´n mens kruis, langs ´n vervalle ou plaasskuur, staan ´n jongman met lang hare, hy lyk soos ´n hippie van ouds. Hy het ´n vuil oranje sweater aan, die broek se naaste beskrywing sou ou SA Weermag browns wees. Kaalvoet en poniestert. Maar hy het daar ´n stalletjie, met omtrent dertig verskillende soorte vrugtesap op. Daar is ook ´n wye reeks van tee. Hy het ´n ou vuil seil opgeslaan, en as jy nader kom, sê hy: Welcome in Paradise, nothing is impossible. ´n Mens kan kies wat jy wil drink, en as jy so sou voel, kan jy vir hom ´n donasie gee. Dit was nou baie nice! Ek het dit op foto, sal eendag by die huis dit hier bysit.

Dan stap ´n mens oor die teerpad deur nog ´n pas geplante plantasie. En voor mens by die hoofpad na Astorga toe kom, sit daar ´n Engelse omie in ´n Campervan. Hy het koffie daar, en ´n hele stalletjie wat pelgrims se seer voete versorg. Maar daar was baie mense, so ek het aangestap. ´n Mens kan van ver af, (6km) Astorga sien, maar dit voel ´n ewigheid om daar uit te kom. Ek het dadelik weer plek gekry in nog ´n fantastiese Albergue- San Javier dié keer. Die opsigter is ´n Skot, en sy vrou is Duits. Antieke ou plek naby die katedraal, ons slaap ongeveer 80 in een vertrek vanaand. EK herken ´n hele paar gesigte van gister af. Hulle sê die pelgrimsmenu by die een restaurant is €12.  Basta, besluit ek na gisteraand se ervaring. Ek stap na die naaste supermark toe (vandag is ek betyds! ´n Mens leer dalk stadig, maar ek leer tog uiteindelik!)  Ek koop die volgende vir € 7.50- ´n pak spaggeti, ´n pak salami, ´n bottel pesto sous, ´n pak kaas, ´n groot sjokelademousse ter ere van my vrou! 1.5 l water, 1 l bier, ´n groot brood en ´n bottel salmpatee.En ´n blikkie Suurlemoen Fanta- baie lekker!

Ek het nou vir my die pasta gemaak met die pesto en salami, met so bietjie van die Albergue se olyfolie en balsamiese asyn. Ek het twee MOERSE borde pasta geëet (vanoggend 17 km gestap op een milka tjoklit, onthou?) Ek het nog ´n bord oor vir vanaand, en eintlik was aandete die brood en die salmpatee. Ek eet vandag vir drie dae se honger, en dit kos nog steeds 3/4 van die pelgrimsete vanaand. Daardie vriendin wat so bekommerd was oor ek die gemeente se geld so steel met hierdie reis, vandag se verblyf en kos kos my minder as R160. Ek kan nie eers ´n dag in Pretoria rondloop vir minder as dit nie.

Ek het vandag baie lekker gesels met ´n Spaanse meisie wat saam met haar pa loop. Ek het met ´n Hongaarse jongman gesels. My lyf? Nee, sy los my uit, ek is ´n getroude man. O, die bene bokant die enkels is baie beter, dankie! My rug is ook beter vandag. Maar my voete met die blase maak my dood! Ek hoop regtig die blasefase wil nou verbygaan, want dit raak regtig seer om daarop te loop.

More is korter in km as vandag- maar dit gaan 14 km se klimmery wees. Ek sal ook moet sien waar ek blyplek gaan kry. So, liewe vriende, more bars ek! En ek slaap dalk in die veld. Maar dis alles deel van die reis.
Wat het ek vandag geleer? Pyn is tydelik, "humiliation lasts a lifetime..." ´n Mens kyk met begerige oë na die treinstasie en busse hier in Astorga. Wie gaan weet as ek die kortpad vat, en op die bus klim en die volgende 50 km se klim en seerkry mis? Wie gaan regtig omgee as ek dit doen, dit gaan niemand seermaak nie. Maar ek gaan weet. En ek gaan oneerlik teenoor myself, en my droom wees.  Ek glo dat as ek in hierdie situasie op ´n hopie gaan sit en huil, gaan niks verander nie. Of ek kan tree vir tree, ten spyte van voete wat vir my vloek, aanhou tot bo by die Ysterkruis, waar ek my klippie vir my vriend wil sit, en my seun se plastiese soldaatjie. O, julle weet nog nie van daai een nie. Op die lughawe het ek een van sy plastiese soldaatjies gevat.  Ek het gesê ek dra hom saam, en los hom by die Ysterkruis, sodat hy hom eendag self daar kan gaan haal. Toe gee hy my nog een saam, wat moet terugkom SA toe, dan kan hy vir sy pelle sê die soldaatjie was in Spanje.  Ek kyk elke dag in my liewe dogter se ontwerp van van die Camino embleem op my klere, en sien op facebook sy verlang. Ek het netnou my wonderlike vrou se stem vir die eerste keer van Vrydag af gehoor. En ek verlang na die ander twee manne daar by my huis ook, ek kyk elke aand na julle fotos op die kamera, wat ek daar op die lughawe geneem het!

Hierdie reis is rof, maar dit doen my baie, baie goed. Ek kry baie tyd vir dink, vir stil word, vir bid.  En ek besef hoe wonderlik geseënd is my lewe eintlik, met so baie mense wat vir my lief is.  Ek vergeet dit partykeer in die Ratrace! Ek kan so maklik vaskyk in die negatiewe. Ek is jammer daaroor. Hierdie reis gaan oor losmaak van alles wat negatief is, alles wat te swaar in my lewe is om self te dra, alles wat so onnodig is.  En dit gaan oor nuwe waardering vir dit wat die lewensreis die moeite werd maak.  Dankie vir elkeen wat my familie en vriende is, julle is in my hart elke tree op die Camino de Santiago! Maar veral vir JOU! Jou liefde dra my baie meer as wat enige iemand besef!

Wednesday, June 1, 2011

Camino Stap dag 2 Hospital de Orbigo

Gisteraand het ek baie pret gehad hier binne in my sondige gemoed. Na die wonderlike ete, die eerste warm ete sedert laas Donderdag se pizza tuis, dink ek die wyn het n invloed gehad. Hulle gee ook n mampoer saam heel aan die einde. So raak ek en die Duitser in die kamer aan die gesels. Hy begin die gesprek deur te sê hy verstaan nie Engels nie. En ek haal my Standerd 7 Duits uit, en begin met hom in vlot Duits gesels. Dis nou in my ore vlot. Hierdie keybord maak my mal, niks werk nie uitroepteken.  So verskoon al die snaakse verskynsels. Ek vind toe uit hy is Herr Schmidt, en hy is verbaas om te hoor ek is ook Herr Schmidt... En so chat ons in Duits te lekker tot die slaap ons inhaal. .

Vanoggend, toe ek opstaan, was my bene verskriklik styf. Die klomp stappers is met so çn rumoer uit die herberg uit dat ek ook maar 7 uur in die pad geval het. Die eerste skof was 9.5 km gewees na die volgende dorp toe. Reguit pad, mooi teerpad, met landerye van koring en boontjies weerskante. Daar was selfs, liewe boerevriende, çn plaas wat omhein is met stainless steel paleª Ingeplant in sement. Later gesien dis çn regeringsnavorsingsplaas. Hoe lank sou daai pale bly staan het in Suid Afrika vraagteken.

Die blase onder my voete is nie lekker nie, stuur sulke steekpyne deur my lyf met elke tree. Na die eerste dorp is dit nog so 5 km na Hospital de Orbigo toe. Hier het die ridder Don Suero de Quenonnes, in die jaar 1434 of so iets çn toernooi van jousting gehou. Hy het oor çn tydperk van ñ maand 300 opponente op die brug uitgestof om so sy liefde aan sy meisie te bewys. Dit moes deksels seer gewees het om van jou perd af te val op daardie brug|

Ek het vandag net so 14 km gestap, met seer bene. Elke keer as ek stop, dan voel dit of my bene vasvries. Elke keer as ek weer aan die gang kom, lyk ek soos ñ ou oom in die Ouetehuis op pad na die krip toeª  Ek het weer by ñ lekker privaat Auberge uitgekom, en vir € 7 plek gekry. Vir die eerste keer in een slaapsaal met geslagte gemeng, so 24 beddens waar ons slaap.

Dadelik weer klere gewas, en mis regtig die Whirlpool by die huisª  Ek het vanoggend langs die pad çn stukkie brood geëeet, met ñ blikkie sardientjies saam. Ek is nou weer honger, en sal vanaand seker weer êrens graag çn pilgrims menu wil bykom.

More se dag bring weer twee keuses, 15 km langs die snelweg na Astorga toe, of 17 km scenic route. Sal seker maar weer die laaste een kies, maar ek dink ek lyk heel komies, ek waggel op die oomblik soos ñ pregnant duck waar ek gaan. More is nog plat, oormore begin die berge, çn mens klim vir die volgende 50 km, met ñ 700 m styging in die laaste 5 km na die Ysterkruis toe waar ek Marthinus se klip kan gooi.

So ja, ek bars, ek moan, ek vloek so bietjie. Maar dis deel van die reis.
Lesse vandag geleer: Jy kan self kies wat jy wil saamdra in die lewe, maar wat jy kies, moet jy draª
So pak lig, moenie onnodige bagasie in die lewe saamsleep nie. Is dit nie wat ek nodig gehad het om te hoor nie vraagteken.  Kan ek nou maar huis toe gaan vraagteken.  Vandag was moeilik, maar dis deel van die reis, alles is nie net maanskyn en rose nie, soms moet ñ mens gekonfronteer word met die uitdagings van die lewe. Gaan ek dit maak vraagteken. Gaan ek nie op die bus klim na Sarria toe, en net die laaste 100 doen en dan oorvlieg Ierland toe en by my skoonsussie hulle kuier nie vraagteken. As ek dit doen gaan my vrou my vermoor. So ek vat die pyn en leer die les.

Nou gaan ek kos soek, ek is besig om weg te kwynª.

ª is ñ uitroepteken.

Tuesday, May 31, 2011

Camino de Santiago- Dag 1 se Stap

Vandag is waaroor die Camino droom nou eintlik gegaan het. Ek het gister op die trein al baie opgewonde geraak toe ek so 20 minute uit Leon uit ´n voetpaadjie met die Camino teken opgesien het. Die Camino het regtig ´n roepstem wat ´n mens kan hoor!  Ek het gisteraand baie lekker gebly in die Hostal Don Suero, en die Camino stap by sy voordeur verby.
Gisteraand nadat ek ingeboek het, het ek na die katedraal toe gehaas, om hom hoop te kry. Ek kon my eerste Camino sello (stempel) in my Pelgrimspaspoort kry, en daarmee het my Camino begin. Ek het ´n hele ruk in die katedraal gesit, daar het die mooiste chant musiek gespeel, en die loodglasvensters is toe so mooi soos wat hulle sê. Ek het daarna na die Kapel van San Isidoro toe gestap, wat glo ´n verpligte stop op die antieke Camino was.  Heel heilig, al werk hulle met jackhammers buite en bid binne!

VAnoggend so half agt in die pad geval- ek was nie lus om nog ´n dag in Leon te verwyl nie. Het heel vinnig gevorder tot by Virgin del Camino, wat ´n stuk semi-industrieële gebied deurgegaan het.
Daarvandaan is daar ´n keuse- 24 km na Hospital de Orbigo toe langs die snelweg, of 26.5 km deur die veld. Wat kies ek toe? Die laaste een. Baie verder tussen plekke! Maar beter as om langs ´n besige pad te stap? Eers stap ñ mens 3.5 km tot by Oncina, baie klein dorpe waar almal reeds weggeraap is op 21 Mei!  Dan ´n lang 5.5 grondpad na Chozas de Abajo toe, waar drie persone die wegraping oorleef het!
Nog 4 km en ´n mens is by Villar de Mazarife. Van baie ver af adverteer Tio Pepe sy Auberge, en dit is ´n baie lekker een vir net 7 Euro per nag.  Ek is in ´n kamer met 2 bunkbeddens, en ´n Duitser wat lyk of hy gaan snork, is langs my. Ek gaan vanaand tog maar vir die eerste keer uiteet, pelgrims menu is 9 Euro en ek is nou moeg vir brood en salami, en hier is nie ´n supermark nie!

Ek het vandag net 20 km gestap, maar ek is baie styf en seer. Die rugsak voel vrek swaar, ek dink nat wasgoed het iets daarmee uit te waai. Regtervoet het 4 blase. EK het nou klaar gestort, en toe my klere gewas.  Vroeë dag, ek weet, maar die volgende dorp is 9 km weg- vandag sou dit te ver gewees het!
Alles hier is net in Spaans, ek gaan niks kan lees in die biblioteek nie! Sal moet werk aan my sondige siel, dis waarvoor ek tog hier is.

Die vraag vandag is: hoekom is ek hier?  En vandag se gebedspersoon langs die pad is Annelie.

Monday, May 30, 2011

Camino de Santiago- Madrid na Leon

Ek sit nou op Chamartin stasie aan die buitewyke van Madrid. Ek het ´n kaartjie gekoop op die Renfe trein na Leon toe, wat so teen 16h00 behoort te arriveer. Kaartjie kos 33 euro. Vanoggend sover ´n koppie koffie en ´n croissant geëet. Ek het gister geskiedenis in my lewe gemaak, die eerste dag wat ek kan onthou wat ek geen koffie gedrink het nie. Die goed is net so deksels duur in die hoofstad. Maar by El Corte Englis, ´n supermarkreeks, kos ´n blikkie Coke so R5.30. En water is darem goedkoop in die supermarkte. So ek is op ´n uitgebreide dieet!

Ek het netnou nog ´n reuse oorwinning oor die self behaal. Op die stasie is ´n winkel wat my swaer Verwey sou gaande hê. Hulle verkoop sommer pistole en jaggewere oor die toonbank! En messe en sulke goed wat ´n man oor droom. En hulle het ´n reuse groot Casio G Shock horlosie op uitverkoping teen net R850, en ek het weggestap sonder om dit te koop. Ek gaan op die trein sit en huil daaroor!

EK begin nou baie lus raak vir die stap self, en begin oorweeg om more dalk al so 7 tot 12 km te stap, om aan die gang te begin kom. Al wat ek regtig in Leon wil sien, is die katedraal se loodglasvensters.

Lesse sover geleer op die EKspedisie:
  1. Ek mis al klaar my vrou baie! Veral as die bure so baklei 3 m van my af aan die oorkant van die woonstel!  Ek sou graag hierdie ervaring met JOU wou deel!
  2. Dinge kom altyd êrens reg, al sien jy nie dadelik die uitkoms nie. Ek het toe heel lekker in die ander akkomodasie gebly, baie nader aan alles.  Plan B, onvoorsiend, was toe baie beter as my plan A!
  3. Ek mis goeie koffie, wat bekostigbaar is! Ek het geen fasiliteite om dit self te maak nie, en om te koop is baie duur!
  4. ´n Mens pak altyd te veel in! Die rugsak was op die lughawe net 10.2 kg! Maar nou is daar water en seeppoeier by, en nat klere ook erens in, dit voel nogal swaar.
  5. Ek mis iemand om mee te gesels, niemand verstaan Engels nie, so ek praat Afrikaans met almal. Dis lekker om te voel ´n mens behoort erens, hier in Spanje kry ek daardie gevoel van ver van my mense en my huis af.
  6.  Ek mis my Internet, hierdie sessie van 45 minute kos my R22.50
Maar die lewe bly ñ reis!
Laat ek gaan kyk waar is my perron, voor die trein vir my wegry. Mooi bly!

Sunday, May 29, 2011

Verdwaald in Madrid, maar dis lekker!


Gister was nogal n baie rowwe dag. Die Luftwaffe vlug het 1 3/4 uur laat opgestyg omdat die crew se bussie gebreek het. Dit het gemaak dat ons n uur laat geland het. Die vlug Madrid toe was anderkant die paspoortbeheer, en ek moes agter n lang tou mense inval om my paspoort na te gaan. Toe het die vriendelike Duitse offisier in beheer baie behae daarin gevind om eers my terugkeerkaartjie te vra, en baie geduldig my paspoort deur te blaai. Wat gemaak het dat ek die aansluitingsvlug gemis het met vyf minute. Toe moes ek eers weer met die lugredery gaan baklei om my op die volgende vlug te sit Madrid toe. Ek het om twaalfuur in Madrid aangekom in plaas van sewe uur.  Ek het n lekker Metro kaartjie vir drie dae vir 13 euro gekoop.

Die volgende skok, die hostal waar ek ingeboek het in September, weet niks van my bespreking nie, al het hulle euro 7.50 geneem vir n deposito. Die plek is vol, en sy vat my toe na n vriendin toe, wat toe vir een  aand wil he wat ek vir twee aande sou betaal op die oorspronlike bespreking. Skelm blerrie Spanjaarde, ek wens Obelix het hulle harder gemoer!

Ek het rondgeloop met die rugsak, en eers teen 5 uur plek gekry in n Hostal.  Redelik sentraal, redelik skoon, bure skree en slaan op mekaar.  Maar dit is alles OK!. More ry ek per trein/bus Leon toe, en sal Dinsdag met die Camino begin. Hier is verskriklik baie dronk mense en bedelaars op straat, nie gewoond daaraan in Europese stede nie.

Gister die volgende vir R85 gekoop om te eet: drie blikkies Coke, 1.5 l water, Franse brood, een groot pak salami, een pak met ongeveer 15 snye kaas in, 6 Flambys en 1 l wyn_ glad nie sleg nie!

Gelukkig is Julius nie hier op die nuus nie!

Mooi bly!

Ewald

Friday, May 27, 2011

Camino de Santiago- D- Dag Zero, H- Hour 11 ure presies!

Die aftellingshorlosie op my blog, wat ek 74 dae terug opgesit het, het nou afgetel na ZERO dae toe. Vandag is die dag! Volgens die horlosie styg ek, hopelik met 'n Lufthansa vliegtuig onder my alie, om 18h45 op.
 More-oggend net na vyf besoek ek Frankfurt in Duitsland, maar net vir twee ure. Toevallig, toe ek die eerste keer as skoolseun op 'n koortoer in Europa was, het ons van Frankfurt af teruggevlieg. Daar was nog sulke ou vliegtuie in die dak opgehang. Maar ek sal nie tyd kry om eers te gaan loer daarna nie, net hardloop, en die Spanair vliegtuig gaan soek. Sewe-uur vlieg ons Madrid toe. Ek het gisteraand weer mooi gekyk hoe Madrid se Metro werk, om by my hotel uit te kom.

Ek sien baie uit na Sondag- daar is 'n baie interessante mark aan die gang by die La Latina seksie van Madrid (El Rastro). En op Sondae, sê die reisgids, is die Prado museum gratis oop vir die publiek. En dit is nog nie hoogseisoen nie, dalk kan ek ongestoord kyk na Velzques, en Dega, en Goya, en El Greco, sowel as 'n paar Italiaanse en Flaamse en Duitse en Hollandse Meesterstukke.  Daar is ook die Museo Thyssen- Bornemisza,  en die Centro de Arte Reina Sofia om te besoek, maar die tyd gaan te min wees. Saterdag of Sondag sal daar 'n draai gemaak moet word in die Parque del Retiro, 'n pragtige park, wat ook spog met 'n standbeeld van die duiwel (El Anglo Caido- the Fallen Angel). So baie om te sien, maar so min tyd. Want Maandag moet ek of per bus of per trein na Leon vertrek. Ek is mos maar 'n sissie, ek het gisteraand alweer 'n hotelkamer teen Euro 24 op die internet bespreek, net om nie te sukkel nie. Dinsdag gaan ek eers die katedraal van Leon se loodglasvensters bewonder, glo van die heel mooiste in Europa. Dis 'n antieke stad, baie om te sien. Daardie aand gaan ek die eerste Camino Auberge opsoek, en vir 3-8 Euro oorslaap tussen 100 mense in een groot saal. Ek het slaappille en oorpluisies.  Woensdagoggend begin ek werk aan die blase op my voete.

Van Woensdag af is die tyd absoluut vloeibaar, ek dink ek moet selfs die horlosie afhaal, en net in die ritme van die Camino begin inval. Alles is dan oop, tot die aand van die 20e, wanneer ek weer 'n hotelkamer in Madrid het, en die 21e vlieg ek terug Suid-Afrika toe.

Ek sal so nou en dan probeer by 'n internet kafee uitkom, en my 9 getroue lesers opdateer waar ek is, en wat ek doen.  Ek weet nie hoe maklik dit gaan wees om ook 'n fototjie of twee op te sit nie.
Ek weet dis my eie skuld dat ek so lank van die huis af gaan wegwees. Maar dink asseblief aan my, ek is eintlik baie meer huisvas as wat julle dink. Dis die nadeel van 'n baie gelukkige huwelik! Ek wens so Annelie kon nou al hierdie ervaring meemaak. Dit was nie nou moontlik nie. En ek gaan verskriklik baie verlang as ek mooi dinge sien, en nie met haar dit kan deel nie.  Na 'n dag of twee verlang ek my ook dood na my kiddies, na Anja wat die deur so kan toedonder, en dan 'n rukkie later bel om te sê ons moet asseblief veilig ry. Na Bernard se humorsin, na Ewald se verstrooidheid en opregtheid, en na Stephan, wat soveel insig kan hê, en wonderlike vrae kan vra.  Twee dae nadat 'n mens tuis gekom het, is dit gewoonlik alweer bloed en bottelstukke wat waai. Maar dis my mense, en hulle maak my lewe!

Ek gaan in die groot oomblikke ook my vriende mis. Daar is soveel van julle wat deur julle vriendskap regtig my lewe baie lekker maak, en volgende keer kom julle saam, dat ons saam kan suffer en blase probeer fix, saam kan moan en groan, en saam feesvier in die aande om 'n botteltjie Spaanse rooi!

Familie en vriende, ek gaan julle baie mis! Julle is vir my kosbaar, en soos vier dae terug sê ek vir elkeen van julle: Baie, baie dankie vir wat julle in my lewe beteken. 'n Mens is mens deur mense, sê die Sotho's. Julle menswees maak my lewe die moeite werd.  Seën en liefde vir julle elkeen!


Mag daar 'n pad wees... (Yol Bolsun- Turks)
Ewald die Geseënde

Wednesday, May 25, 2011

Camino de Santiago- D- Dag minus 2 dae 10 ure- steeds vulkane

Die afgelope paar ure het ek met belangstelling my oë op Ysland gerig, waar ene Grimsvötn probeer om my vlug Spanje toe te steel. Die nuus op die oomblik lyk darem meer gerusstellend- die vulkaniese as word oor die noordelike deel van Skotland en boontoe gevoer deur die lugstrome.


Gisteraand se skets op CNN se website is ook baie meer gerusstellend, die wind sal darem woes suidwaarts moet draai om Spanje te beïnvloed.  Intussen tik die horlosie stadig maar seker af- vandag ek bespreek het en dit nog 200 dae was, het dit afgekom na "oormore" toe.

Ek het gisteraand my rugsak, polar fleece en moonbag teruggekry met die embleem van hierdie ekspedisie opgewerk, dit lyk pragtig, dankie Anja, Ronel en Neeltje- ek gaan dit met trots dra! Dié wat nie onthou nie, so lyk Anja se ontwerp:

Vandag gaan baie besig wees. Ek sou die Interkerklike biduur sewe-uur gelei het, maar niemand het opgedaag nie- iemand se dagboek êrens was deurmekaar. Toe kry ek kans om gou-gou hierdie neer te pen.  Ek moet nog heelwat mense sien voor my verlof more begin.  Mooi dag daar by jou!

Tuesday, May 24, 2011

Camino de Santiago- D- Dag minus 3 dae 07 ure- vulkane en dankies...

Elke silwer randjie het ook 'n donker wolk. Nee, ek wil nie negatief klink nie, maar daar is so 'n effense donker wolkie op die horison, alweer uit Ysland uit.  Die skuldige is dié keer die  Grimsvotn vulkaan, wat honderde kubieke meter se as op hierdie oomblik in die lug inblaas, en die winde waai dit oor Europa.  In Engeland is daar alreeds weer 100e vlugte op die grond gehou, en Parys se Charles de Gualle lughawe is toe tot Vrydag 14h00.  Ek sit nou maar in spanning en hou Grimsvotn se partytjie dop, en hoop dinge bedaar teen Vrydagaand, anders gaan my reëlings lelik deurmekaar begin loop!

Maar hopelik gaan dinge mooi uitwerk, die engeleleër gaan hulle vlerke klap en die vulkaniese as gaan noordwaards begin waai.

Vanoggend was vir my 'n baie spesiale ervaring. Die dames van die Bybelstudiegroep wou graag meer hoor van die CAmino, en my beplanning daarvan. Hulle het vir my gebid, en vir my die Here se seën toegesing. Hierdie groepie mense is werklik baie spesiaal in my lewe, en ek het dit nou weer so waardeer vanoggend. Hulle het ook weer 'n pragtige kaartjie gemaak wat elkeen 'n boodskappie geskryf het. Daardie kaartjie gaan verseker saam! Julle elkeen ook, in my hart.

So kort voor die reis is ek baie diep dankbaar vir wat reeds gebeur het.

Ek is regtig dankbaar teenoor die Here, wat alreeds soveel deure oopgemaak het om die reis moontlik te maak. Die "bargains" wat na my kant toe gekom het met vliegkaartjie, toerusting, en die onverwagse ondersteuning van mense het my absoluut oorweldig!  Ek sien uit na die tyd van stilte saam met die Here, in daardie mooi land!

Ek is so dankbaar teenoor Annelie en die kinders, wat my met soveel liefde hierdie droom gun, en bereid is om sonder my aan te gaan vir so lank.  Ek is so dankbaar vir so 'n wonderlike eggenote, en vir my kinders, elkeen met hulle eie besondere stukkie menswees. Ek is baie meer geseënd as wat ek soms raaksien!

Ek is so dankbaar teenoor kollega Danie, wat ook vir my hierdie ervaring gun, en wat 'n swaarder vrag gaan dra omdat ek nie tuis is nie. Vir die liefde en ondersteuning van ons kerkraad en gemeentelede, nie een was nog ooit negatief oor my droom nie, ek ervaar groot ondersteuning, en daarvoor is ek baie dankbaar. Ek is so dankbaar vir Anja se embleem, en Ronel wat dit vir my met haar masjiene uitwerk, en Neeltje wat dit op die rugsak en hoed en moonbag vaswerk.

Die mense van ons omgeegroep is fantasties- hulle het gisteraand spesiaal 'n afskeidsbraai vir my so op 'n weeksaand gereël. Hulle sal mooi help kyk na my gesin, en dit waardeer ek baie!

Hierdie jaar sover was 'n baie moeilike jaar in ons familie. Maar in hierdie jaar se storms het ek ook weer agtergekom watter groot seëninge daar in ons lewens is, en hoe bevoorreg ons is met die kaliber vriende wat ons het. Julle is baie kosbaar vir ons!

Ek het maar 'n klein rugsakkie, en min geld, maar elkeen van julle sou 'n reuse geskenk uit Spanje gekry het as dit moontlik was- julle verdien dit!

Heel laaste: my goeie vriend Marthinus Britz, wat my van die Camino vertel het, en my saamgevat het na 'n bekendstelling.  Ek het al soveel wonderlike goed in die lewe by hom gehoor en geleer, hy is vir my die broer wat ek nooit gehad het nie.  Marthinus, toe ek en jy laas saam op Melkbosstrand rondgeloop het, het ek 'n klip op die strand opgetel. Op die Camino, bo-op 'n berg,  is daar 'n ysterkruis, waar pelgrims elkeen 'n klippie van hulle land neersit.  Daardie Melkbos klippie dra ek saam vir jou, jou kinders en vir die altyd onthou van Elna.  Ek weet dit is net 'n klein stukkie tradisie, maar agter dit lê die gebed dat die Here julle sal dra en heel maak! Ek hoop jy gaan volgende jaar tyd kry om daardie klippie by die ysterkruis te besoek. Moet ek hom neongeel verf dat jy hom maklik sal sien? Nah! Ek weet, en jy weet, en dis genoeg- hy sal daar wees.

Dankie, baie, baie dankie vir elkeen van julle, uit my hart uit!

Monday, May 23, 2011

Camino de Santiago- D-Dag minus 4 dae en 06 ure!

Nou is die reis besig om ernstig 'n realiteit te word. Ek is besig om alles bymekaar uit te pak en alles te heroorweeg. Die rugsak, moonbag, fleecetop en die hemde kry Anja se Camino Embleem op op die oomblik.

  • Paspoort en visum is gereed.  Pelgrimspaspoort met Credential is reg.
  •  Toerusting is gereed: rugsak (K-Way Alpine 55) , slaapsak (First Ascent Travelite en opblaaskussing, en 'n paslaken) , stapskoene (Wolverine Fortis) en reënklere (K-Way reënbaadjie en broek, en kamaste) is uitgesorteer. Een paar fake Crocs. Een lekker boshoed.
  • Klere is reg- maar ek dink ek vat te veel saam: Een aanzip reis-langbroek met reishemp, van First Accent. Twee First Ascent Aqua stapbroeke, en een gewone FA stapbroek. Drie Dri-sport hemde van Mr Price Sport. Een K-Way Fleece top. Een liggewig sweetpakbroek. Vier pare Timberland stapkouse. Een "large" moonbag vir die reisgidsie en beursie.
  • Medisyne is gereed: anti-naar, anti- diaree, anti-biotika, merchurochrome en watte, pleisters by dosyne, anti- histamiene.Sonbrandolie en voetpoeier.
  •  Was by die tandarts, en die dokter, om seker te maak alles loop reg. Gaan netnou haarkapper toe vir 'n nommer 2 sny, ek wil nie sukkel met hare nie!
  • Buitelandse valuta is nog 'n probleem, daar is nog geen! Ek wou Vrydag 'n paar Euros koop, met my paspoort en visum in die hand. Nee, hulle soek die vliegkaartjie ook, en 'n bewys waar ek bly. Nou sal ek maar in die laaste minute op Jan Tambo vlughawe moet ruil.
  • Moet nog tou en wasgoedpennetjies inpak- sal seker daai kant eers seep koop. 
  • Moet nog badkamersakkie inpak, en klein botteltjies kry vir die shampoo. Klein buisie tandepaste koop. Tandeborsel se handvatsel afsaag... nee wag, dalk nie. First Ascent sport handdoekie.
  • Bord en Swiss Army Knife (onthou- rugsak, nie handbagasie nie!) en 'n SPORK. 
  • Petzl koplampie. Notaboekie en pen. 
  • Stapstok- my getroue Bushbaby wat ek 4 jaar gelede by Shoprite gekoop het vir R99, werk baie lekker. Waterbottel- 2 l. 
Ek dink dit is dit. Nou besig om verwoed in die gemeente rond te hardloop om 'n klompie siekes te besoek, en seker te maak my projekte gaan loop. Twee weke na my terugkeer vat ek ons belydenisklas weer vir vyf dae Drakensberge toe. Dié jaar behoort ek fiks te wees!

Ek lees verwoed blogs en websites oor die Camino, maar ek dink dit is nou tyd om te begin ontspan, en te vat soos dit kom. Deel van die oefening is tog juis om nie altyd in beheer te wil wees wat in my lewe gaan gebeur nie, sodat ek verras kan wees met die uitkoms.  Ek het wel die eerste twee aande in Madrid, en ook die laaste aand voor ek terugvlieg, goedkoop dog (hopelik!) netjiese hotelle bespreek. 25 en 30 Euro per nag is seker nie te sleg nie, en veral as ek terugkom van die Camino se auberges af gaan die enkelkamer met 'n stort, tv en warm water soos 'n paleis voel.

Die horlosie tik genadeloos vinnig af...