Elke silwer randjie het ook 'n donker wolk. Nee, ek wil nie negatief klink nie, maar daar is so 'n effense donker wolkie op die horison, alweer uit Ysland uit. Die skuldige is dié keer die Grimsvotn vulkaan, wat honderde kubieke meter se as op hierdie oomblik in die lug inblaas, en die winde waai dit oor Europa. In Engeland is daar alreeds weer 100e vlugte op die grond gehou, en Parys se Charles de Gualle lughawe is toe tot Vrydag 14h00. Ek sit nou maar in spanning en hou Grimsvotn se partytjie dop, en hoop dinge bedaar teen Vrydagaand, anders gaan my reëlings lelik deurmekaar begin loop!
Maar hopelik gaan dinge mooi uitwerk, die engeleleër gaan hulle vlerke klap en die vulkaniese as gaan noordwaards begin waai.
Vanoggend was vir my 'n baie spesiale ervaring. Die dames van die Bybelstudiegroep wou graag meer hoor van die CAmino, en my beplanning daarvan. Hulle het vir my gebid, en vir my die Here se seën toegesing. Hierdie groepie mense is werklik baie spesiaal in my lewe, en ek het dit nou weer so waardeer vanoggend. Hulle het ook weer 'n pragtige kaartjie gemaak wat elkeen 'n boodskappie geskryf het. Daardie kaartjie gaan verseker saam! Julle elkeen ook, in my hart.
So kort voor die reis is ek baie diep dankbaar vir wat reeds gebeur het.
Ek is regtig dankbaar teenoor die Here, wat alreeds soveel deure oopgemaak het om die reis moontlik te maak. Die "bargains" wat na my kant toe gekom het met vliegkaartjie, toerusting, en die onverwagse ondersteuning van mense het my absoluut oorweldig! Ek sien uit na die tyd van stilte saam met die Here, in daardie mooi land!
Ek is so dankbaar teenoor Annelie en die kinders, wat my met soveel liefde hierdie droom gun, en bereid is om sonder my aan te gaan vir so lank. Ek is so dankbaar vir so 'n wonderlike eggenote, en vir my kinders, elkeen met hulle eie besondere stukkie menswees. Ek is baie meer geseënd as wat ek soms raaksien!
Ek is so dankbaar teenoor kollega Danie, wat ook vir my hierdie ervaring gun, en wat 'n swaarder vrag gaan dra omdat ek nie tuis is nie. Vir die liefde en ondersteuning van ons kerkraad en gemeentelede, nie een was nog ooit negatief oor my droom nie, ek ervaar groot ondersteuning, en daarvoor is ek baie dankbaar. Ek is so dankbaar vir Anja se embleem, en Ronel wat dit vir my met haar masjiene uitwerk, en Neeltje wat dit op die rugsak en hoed en moonbag vaswerk.
Die mense van ons omgeegroep is fantasties- hulle het gisteraand spesiaal 'n afskeidsbraai vir my so op 'n weeksaand gereël. Hulle sal mooi help kyk na my gesin, en dit waardeer ek baie!
Hierdie jaar sover was 'n baie moeilike jaar in ons familie. Maar in hierdie jaar se storms het ek ook weer agtergekom watter groot seëninge daar in ons lewens is, en hoe bevoorreg ons is met die kaliber vriende wat ons het. Julle is baie kosbaar vir ons!
Ek het maar 'n klein rugsakkie, en min geld, maar elkeen van julle sou 'n reuse geskenk uit Spanje gekry het as dit moontlik was- julle verdien dit!
Heel laaste: my goeie vriend Marthinus Britz, wat my van die Camino vertel het, en my saamgevat het na 'n bekendstelling. Ek het al soveel wonderlike goed in die lewe by hom gehoor en geleer, hy is vir my die broer wat ek nooit gehad het nie. Marthinus, toe ek en jy laas saam op Melkbosstrand rondgeloop het, het ek 'n klip op die strand opgetel. Op die Camino, bo-op 'n berg, is daar 'n ysterkruis, waar pelgrims elkeen 'n klippie van hulle land neersit. Daardie Melkbos klippie dra ek saam vir jou, jou kinders en vir die altyd onthou van Elna. Ek weet dit is net 'n klein stukkie tradisie, maar agter dit lê die gebed dat die Here julle sal dra en heel maak! Ek hoop jy gaan volgende jaar tyd kry om daardie klippie by die ysterkruis te besoek. Moet ek hom neongeel verf dat jy hom maklik sal sien? Nah! Ek weet, en jy weet, en dis genoeg- hy sal daar wees.
Dankie, baie, baie dankie vir elkeen van julle, uit my hart uit!
No comments:
Post a Comment
En jy daar, wat sê jy?