'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Sunday, March 6, 2011

Pick 'n Pay/Cape Argus nommer 17 op 13 Maart 2011

Ek moet dit vanaand bely- die Argus is in my bloed, ek is totaal verslaaf, en kan niks daaraan doen nie. 110 km op 'n fiets om Tafelberg- vir die 17e jaar agtereenvolgend.

Daardie begin- om vroegoggend op te staan, die motor by die parkeerterrein by die Waterfront in Kaapstad in te boek. Laaste keer by die toilet by die Caltex garage in te hol, en dan jou weg te vind na die wegspringblok toe. Met angstige oë na Tafelberg te kyk vir daardie dekselse duiwel wat so rook daar bo, en verklap dat die Suid-Ooster al weer ons lewe hel gaan maak tot by die halfpadmerk daar bo op Smitswinkelbaai.
Vind die blok, gee jou wegspringkaartjie in. Die wenners het so pas klaargemaak! Die vlae wapper (en in 2009 rol die tydelike toilette gat oor kop in die straat af!) Elke paar minute skuif jy bietjie nader aan die wegspring, tot dit jou beurt in die drukgang is. Piet Koekemoer verjaar vandag in blok FF, hy is 69 jaar oud, en dis sy 19e Argus. Kyk ook uit vir FF 12345, hy ry met 'n blou nommer, 21 Argii voltooi. Een of ander ANC minister is in die blok, seker weer rang getrek om vroeg weg te spring. En drie Stormers is ook daar na gister se pak slae op Nuweland- oorweeg 'n nuwe loopbaan in fietsry...  Dan speel die musiek: Three two one- everybody says WHOOPAH!  En dan sing die speke, die cleats click in, jy vermy rakelings die ou voor jou, en ry onderdeur die Burgersentrum van Kaapstad. Normaalweg effe gevaarlik, die adrenalien skop in. En in 2009 waai die wind die fiets net daar reg onder my uit! Eerste en enigste val sover in die Argus...

Jy tref daardie brug wat uitlei na die N2 toe, verby die Spur advertensie op linkerkant. Daar het 'n groot dooie rietrot in die Argus van 1997 daar gelê... Onderdeur die brug langs die Holiday in, as die wind nie te erg is nie, is Hospitaalheuwel ook nie te erg nie. Vinnige afdraende verby Grootte Schuur Hospitaal, en hier val 'n paar ouens al klaar jaarliks hulself in die kraamsaal in... Die bondels kom van agter af, iemand skree histeries: "Keep left..." Af af af, dan weer op op op, verby die windmeul. Universiteit van Kaapstad regs, baie lui studente drink en braai (eintlik wyse mense- is dit nie die beste manier om aan die Argus deel te neem nie?)  Dan skielik daardie 2 km van Edinburgh drive... Loutere hel as jy dik en onfiks is... Die Kleurlingman wat in 2008 skree: Push- push- push en as jy verby kom: It will come out soon...  helse stryd om net bo- op Edinburgh Drive uit te kom. Dan die lekker van die Blou roete af- as die Suid-Oos nie waai nie. Lekker snelweg, goeie bondels, mooi meisies langs die pad. Draai af vir Wynberg, Tokai of wat ook al. EN die laaste paar jaar- die ekstra pyn van Boyles Drive- nog twee erge bulte by terwyl die DA sukkel om die paaie deur Kalkbaai reg te maak doer onder. 'n helse gevaarlike afdraende wat jou remme tot die uiterste toe beproef. Terug na seevlak toe- lekker tot in Simonstad, as die Suidoos nie waai nie...
By Simonstad die groot waterpunt, waar ek in 1996 langs Just Nuisanse se standbeeld gesit en huis toe verlang het na die Suid-Oos my beetgehad het, en nog steeds met bo-menslike inspanning, twee Bar-Ones en twee liter Energade nog verder gegaan het om uiteidelik klaar te maak.
Deur Simonstad na Millers Point toe, waar al die bome teen 45 grade groei- glo ook iets met die Suid-Oos te doen. As dit 'n stil dag is- heerlik verby die gholfbaan, en lekker deur Smitswinkelbaai se effense opdraendes (as die Suid-Oos nie waai nie).
Smitswinkelbaai het 'n pragtige see-uitsig. Jy hou aan trap tot bo verby die halfpadmerk. Daar is 'n lekker lang, effense afdraende verby die Kaappunt Natuurreservaat. Dit hou vir sewe kilometer aan, en die wind is 99.9 persent van die tyd van agter- heerlik! Draai af vir Scarborough, waar die kameel se rots is wat ek nog nooit gesien het nie- dalk moet ek volgende jaar stop en kyk. Pragtige dog windverwaaide dorpie, lyk na weird mense wat daar bly- die sout van die aarde. Een van die wonderlikste ervarings op die Argus- as jy vroeg nog in die berg se skaduwee langs Misty Cliffs kan verby ry. Net- net bo seevlak, lekker koel, geen wind nie, dan voel die lewe sommer net reg. Effense moeilike klim en dan 'n vinnige afdraende in Noordhoek in. Skerp links vir Chapmans Peak, reguit aan vir daardie 4 dekselse jare wat ons oor die gehate Detour gery het.

Chapmans Peak is fantasties- dis die rede hoekom ons Argus ry. Die beste uitsig in die ganse wêreld. Jy bars- eers klein Chappies, dan weer afdraende, dan groot Chappies. Daardie ry om die hoek, en dan lê die slangroete op- met fietsryers doer ver daar bo- waar jy met baie sweet en trane oor 5 km gaan uitkom. Maar die uitsig- onverbeterlik!  Daardie lekker verby die ou kliptolhuisie, die bo uitkom, en dan daardie heerlike gejaag teen die afdraende aan die anderkant af tot in Houtbaai. Hier kramp my bene al te gesellig. Daardie draai na regs, en dan... Suikerbossie. Eers een kilometer op. Die hele Houtbaai sit en braai langs die pad. En drink bier- wyse mense... Weer af. En dan twee kilometer kwaai opdraende. Daar sit duisende mense. Sommiges langs die pad spuit jou met hulle tuinslange nat as jy wil. Die vier bane word later net een, so baie mense drom daar saam langs die pad. Trots hou jou op die fiets- jy kan nie voor daardie mooi meisie afklim en stoot nie. Jou longe brand en jou bene kramp. Op, op, op. Halfpad kry jy die padteken met die koffiekoppie en die 1 km teken op. Die lyding is nou eers halfpad, elke 10 km het jy nog 100 meter gevorder, so voel dit. Maar daardie immensely trots gevoel as jy uiteindelik bo- oor Suikerbossie gaan- ek het hom weer 'n keer oorwin! Die vinnige af voor Llundudno verby, nie tyd om te loer of daar iets by Sandy Bay aangaan nie. En die briek daar onder deur die wind as die Suid-ooster in daardie een vallei afkom, en jou van 60 km/u na 10km/u in 20 meter toe vat. As die weer mooi is my vriend, is dit 'n fees om van bo van Suikerbossie af terug te ry. Daar onder die wakende oë van die 12 Apostels gaan dit baie goed met jou, as die wind nie van voor af kom nie- die Suid-wester! Af, Af,Af, verby die 12 Apostelshotel, tot in Kampsbaai. Daar verby al die rykgatte met die Harleys en Porsches, wat saam met hulle supermodel meisies in die Coffieshops sit en bly is dit is nie hulle alies op daardie fietse nie...
Daardie lawwe bult aan die einde van Kampsbaai, waar die Argus se eindpunt nog tot 1996 was. As jy daar kon stop- die uitsig op Clifton se 4e strand is om meer as een rede wêreldklas! En die Suid-Ooster pla nooit vir Clifton nie. Maar jy is op jou fiets, daar bo verby. Deur Clifton en Bantry Bay, waar 'n enkelmotorhuis 'n dominee se salaris vir 'n leeftyd kos... Draai links, in Seepunt in, al langs die see af, Groenpunt stadion toe. Jou bene brand, jou alie is morsdood, maar die einde is in sig. Joune en die wedren s'n. Hou net uit. Baie toeskouers wat sit en wag vir geliefdes, baie wat voor jou klaargemaak het, sit daar met 'n bier in die hand.

Hou net uit. Tot by die tydmeters se matte onder die brug. Briek hard. Klim af. Voel of jou kuite nog daar is. Trek die fietsrybroek se shammy uit jou *** uit. Stap met bewende bene tot waar die vriendelike Rotary tannie jou medalje, jou Coke en Energade voucher vir jou gee. Gooi die Energade voucher dadelik weg- jy is alreeds deur vyf liter van die goed, en is nou gatvol daarvoor. Kry 'n yskoue Coke. Dan sak die besef in- ek is klaar. Ek het dit gemaak! Ek het nog 'n jaar oorleef! Bel vir Mamma tuis, en sê sy kan maar weer die testament terugsit in die kluis. Die Argus is nou verby, maar nog nie heeltemal nie.

Klim terug op die fiets. Jou *** is die hel in vir jou, en jou bene ook. Maar ry tot by die Waterfront. Stop daar by Ferrymans, die ou kliphuisie. Bestel vir jou 'n Mitchell's Bosun's Bitter Draft- dit gaan jou kos. Drink hom vinnig. Gaan badkamer toe. Die urine gaan seermaak, en bloed bevat- dit is normaal vir 'n onfikse vettie soos jy! Gaan terug, kry 'n tweede Bosun's Bitter. Nou begin dit lyk of jy dalk gaan oorleef.  Ry daarna Spur toe, kry vir jou daardie reuse T-Been Steak, jy verdien hom. Terug by jou kar op die waterfront- haak jou fiets aan die fietshaak. Trek jou helmet en jou handskoene uit, trek die fietsryskoene uit en jou ou Crocs aan. Gaan sak agter jou stuurwiel in. Sê vir jouself dit was nou die laaste keer ooit. En as jy by die Waterfront uitry, en op die N1 noord klim, dan is jou Argus uiteindelik verby.

Tot 1 September. Wanneer die inskrywings weer oopmaak. En jy na die fiets onder die dik laag stof kyk, en dink aan Misty Cliffs. En daardie meisie met die volstruisvere voor Chappies in 2007... En jy maar weer...

1 comment:

  1. klaargemaak in 5h31minute, met baie genade van Bo en die wind van agter...

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?