'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Monday, January 31, 2011

Oor die dood van Skoonpa

John Donald Graham Fourie was my skoonpa. Ek was baie lief vir hom.

Hy was so stil soos 'n landmyn. Hy het daarvan gehou om eenkant te wees, weg van die rumoer. Hy was meer geheimsinnig as James Bond- op sy troosdiens het ons vir die eerste keer gehoor van die man in wie se kombi almal graag na die krieket en rugby wedstryde wou ry. Ons het vir die eerste keer gehoor dat hy op sy dag 'n Transvaal speler kortgevat het op die rugbyveld, omdat die skeidsregter te geintimideerd was om sy werk te doen.  Hy het 'n merkwaardige loopbaan gehad, veral by Vaal Reefs No 4 skag as ondergrondse bestuurder. In sy dae het hy 'n baie slegte mynramp baie netjies bestuur.

Op sy troosdiens het 'n mens 'n glimps gekry van die mens wat hy werklik was. Daar diep binne moes soveel stories gewees het wat die moeite werd was om te hoor. Maar al het ons probeer terwyl hy geleef het, het hy nooit daardie boek van sy lewenservaring oopgemaak en met sy gesin gedeel nie.

Was dit die mynramp wat hom so stil gemaak het, lank voordat ek hom ontmoet het? Was dit iets in sy kinderdae wat te seer was om oor te praat? Waai die woestynwind maar net so oor die veldblomme?

Ek weet net dat die stilte met hom was van voordat ek hom ontmoet het. En tog kon ek soms saam met hom sit en stil wees. Kon ek saam met hom sy rugby en krieket op televisie geniet. Kon ek soms gefrustreerd daar sit as hy in die middel van iets opwindends skielik kanaal op die skottel verander.  Ek kon my tong soms vasbyt as hy ongeduldig raak met my kinders wat in sy groot agterplaas speel en raas.  Maar ek kon hom ook vertel van my motorfietsrit deur sy geliefde Calitzdorp op die R62- hy het dit geniet, al was hy so  lank laas self daar gewees.

Ek weet nie altyd wat in sy hart aangegaan het nie. Maar ek weet dit- toe ek die dag vra om met sy dogter te trou, het hy my dadelik in sy familie verwelkom. Hy het my aanvaar soos wat ek is. Ek was altyd welkom by hom. Hy het my nooit *** gegee nie.

Dit was vir my een van die moeilikste dinge in my lewe om die dominee te wees wat sy troosdiens moes lei. Ek wou dit graag vir die familie doen, dit sou so sleg gewees het as 'n onbekende kollega daar voor staan en sy beste canfruit uithaal vir iemand wat hy nooit geken het nie. Maar dit was regtig moeilik, al het dit dalk nie so gelyk nie.

Pa Donald- ek hoop daar waar jy nou is, is die sport mooi, en dat jy dit weer kan sien en geniet!

2 comments:

  1. Dis so mooi om te hoor hoe goeie verhouding jy met jou skoonpa gehad het. Jou herinneringe is soooo diep en vol gevoel. Daar is mense wat wens om sulke dinge te kan sê van skoonouers. my skoonouers het my altyd gehaat en hulle was sulke groot kerkmense. Ongelooflik!!

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?