'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Sunday, June 26, 2011

Camino Fotos deel 5- dag 7 en 8, Molenaseca na Villafranca del Bierzo


Dag 7- Molinaseca na Ponferada. Ek is op pad na 'n stad toe, en net 8.5 km daarvandaan.  En dit reën, so 'n mens sou nie kon verwag dat dit 'n interessante dag gaan wees nie.

Wag, is dit 'n plakkershut daar voor in die pad? As dit is, is dit die eerste een wat ek in Spanje sien. Selfs met al hulle onwettige immigrante, swemkampioene van Marokko af, sien 'n mens nooit plakkershutte nie!



Nee, dis toe net 'n boer wat sy winter vuurmaakhoutjies wil droog hou met die baie reën van hierdie gebied.

Redelik vorder die pad na Ponferada toe. Dis maar deur maplottergebiede, heen en weer deur straatjies met huisies, ligte industrie, radarbeheerde karretjies en vliegtuigie speelplekke.
Dan kom 'n mens in ou Ponferada in. Die een groot "claim to faim" is die baie goed behoue kasteel van die Tempel Ridders- Knights Templar, uit die 13e eeu. Hierdie ouens het nie nonsens gevat nie, was gewoonlik beide monnike en ridders, en het nooit oorgegee of omgedraai nie. Hulle het internasionale bankwese begin, hulle het die Kruisvaarders op die kruistogte na Jerusalem toe beskerm, asook uit hierdie kasteel uit die pelgrims na Santiago toe. Ja, dis hoe oud die Camino is- eerste tekens daarvan is reeds in 1088 in dokumentasie gevind.



Ek sou so graag binne wou gaan kyk. Maar dit was Maandag, en byna alles is toe in Spanje op Maandag, soos op Sondag, Saterdag, Siestatyd... Noudat ek daaraan dink, wanneer werk die Spanjaarde?

Soos julle kan sien, ou Ponferada is beide vervalle, en steeds baie mooi.

Ponferada beteken "Ysterbrug", en hier was al in Romeinse tye 'n ysterbrug oor die rivier.  Dit is intussen vervang met groter brue, en later nog meer moderne brue.



Net duskant die rivier, met die Ridderkasteel in die agtergrond, is die standbeeld van die koplose engel. Dit word opgedra aan almal wat hulle lewens in onverdraagsaamheid verloor het. Onverdraagsame mense, van watter ras ook al, is 'n vervloeking op die aarde. Né Julius?



Die stadsvaders van Ponferada het 'n wonderlike idee, wat ek nie in Suid-Afrika voorsien dat dit sal werk nie. Op 'n hele paar strategiese plekke in die stad is 'n fietsrak, met hierdie geel fietse. Neem een, ry jou ry waar jy wil gaan, en sit hom weer terug in enige van die ander fietsrakke in die stad.



In Ponferada het ek my enigste besoek in Spanje aan 'n groot Mall gebring. Nou nie Menlyn of Canal Walk nie, heelwat kleiner, maar by die ingang op die foto is 'n groot sportwinkel, soos Sportman's Warehouse, waar jy jou kampgereedskap ook kan aanvul, soos nuwe kouse en waterbottels vir dié wat jy uit frustrasie langs die pad weggegooi het.





Dag 8- Ponferada na Villafranca del Bierzo.

Van Ponferada na Villafranca kon 'n mens in die Boland gewees het- wingerde en vrugteboorde, op en af. Villafranca is ook een van die baie mooi dorpe langs die pad. En as 'n mens die fotos van die plek sien, dan weet jy die volgende groot klim van die Camino is baie vinnig besig om nader te storm...


Villafranca del Bierzo se brug.



Om een of ander rede wil almal hierdie Camino aanduiders steel. Hulle is nogal regtig baie mooi, maar ek dink nie hy kan heel uitgehaal word nie. Waarom nie net fotos neem en die goed daar los nie? Die mensdom is 'n virus, het Agent Smith in die Matrix gesê. Soms is hy reg!

Die kersies van Spanje, oral langs die roete, is baie, baie lekker. Soms staan daar 'n boom langs die pad waar jy jouself kan help. Ander kere verkoop boere dit in die dorpe. Hierdie is so 1 Euro s'n, nadat ek al so vier geëet het.


Soms was daar tyd om te rus,



en bestek op te neem van die koste...


En  ook weer tyd om batterye te herlaai...



In die tydskrif van die Camino-gasvryheidsbedryf het ek net gesien hoe hulle daarvan bewus is dat almal in die heelal graag die Camino wil stap, en aanmeld met hulle Pelgrims paspoorte om gestempel te word dat hulle ook daar deur is...

Camino de Santiago- Fotos deel 4- Dag 6 na Molinaseca

Dag 6 het ek vroeg begin by El Acebo, met die gedagte om dit net 'n rusdag te maak tot by Molinaseca. Ek was morsdood na die vorige dag, en dit was Sondag. Die hartseer is dat nie almal die Camino oorleef nie. Net buite El Acebo is 'n Duitse fietsryer deur 'n kar doodgery, en sy vriende het vir hom 'n standbeeld opgerig...



Ek het die afdraande aangepak, na Riego de Ambros toe, en by 'n bruggie uitgekom waar iemand blykbaar baie haastiger as ek was...




By hierdie brug was dit eers tyd vir 'n breuk...



Toe moes ek die volgende stuk na Molinaseca toe aandurf. Dis afdraande, maar baie mooi gebied wat 'n mens deurgaan. Ek het seker gemaak dehidrasie pak my nie weer nie, daarom het ek iets vir die niere saamgebring. Maar dit was swaar, en ek kry nie bier so vroeg in die oggend in my lyf in nie, toe los ek hom daar in 'n boomstomp vir die dors ou wat vanmiddag daar verby gaan kom.


Daar is my beroemde hoed, toe dit nog myne was... Hy is nog steeds besig met die Camino, daar êrens onder Santiago lughawe se aanloopbaan.  Ek kon dit nie glo nie, dat die John Briersley dag 24 van Rabanal tot Molenaseca gaan, 26.5 baie harde kilometers. Ek het dit in twee dae gedoen, en is nie skaam daaroor nie.

Molinaseca is 'n baie mooi dorpie...







Die stadsvaders het selfs in die rivier 'n heerlike swemplek gemaak vir die dorpsinwoners. Maar hierdie dag was net te koud om self gebruik te maak daarvan.




Net 'n vinnige daggie se fotos, ek moet amper gaan aansit by my eerste gesinsmaaltyd in vyf weke waar al my gunsteling mense saam is! Onthou, vandag is Vadersdag vir my...

Saturday, June 25, 2011

Camino de Santiago- Fotos deel 3- Dag 4 en 5 Astorga na El Acebo

Uit Astorga uit op Dag 4 het die roete nogal baie verskillende tipes landskappe gekruis.


Vroegoggend net buite Astorga.

Party dorpe maak regtig moeite met die Camino wat daar deurgaan, soos Murias de Rechivaldo.



Soms is die Camino goed onderhoude grondpad, soos net buite Murias de Rechivaldo op die pad na Santa Catalina de Somoza toe...




Een van die hoogtepunte langs die pad is waar 'n mens soms kan aftrek vir 'n koppie koffie. Leer om te sê : "Café Con Leche Grandé, por favor."  Een groot koppie koffie met melk, asseblief. En moenie verbaas wees as dit in 'n drinkglas aankom nie!



In die klein dorpies probeer almal ook maar 'n bestaan maak, deur verkope van Camino goeters soos stapstokke en die "Scallop Shells" wat die CAmino se simbool is- alle paaie lei na Santiago toe. Dit klink vaagweg bekend, want die ander pelgrimstog ken dit ook: alle paaie lei na Rome toe- Petrus se graf...




Soms is koffie nie genoeg vir harde paaie loop nie, en dan word jy verras met heerlike kuierplekke soos die Cowboy bar in El Ganzo, waar 'n lang bier 'n mens soms moed gee om net nog sewe kilometer te oorweeg na die volgende blyplek toe in Rabanal de Camino...




Die gasvryheid van mense langs die roete is soms oorweldigend. Net buite Rabanal was ek lekker moeg en dors na 'n lang dag se loop. EN in die middel van die veld het iemand 'n tafeltjie opgeslaan, met bottels water, en vrugte, met 'n rugsak daar om te wys die eienaar gee om vir die pelgrim, hy was seker self een. Die eienaar is nie naby nie, en daar is net 'n bordjie by- "Donativo"- jy kan vat wat jy wil, en 'n donasie los as jy lus het.  Ek sou dit nie in Suid Afrika waag nie...



Na 'n lang dag soek 'n mens blyplek, en die privaat alburgue langs die pad gee baie dikwels baie goeie diens teen 'n billike prys, 'n bed en 'n warm stort, en plek om jou klere te was en uit te spoel soos hierdie heerlike plek: Albergue el Pilar in Rabanal de Camino.





Na Rabanal de Camino raak die lewe baie interessant, 'n dag van klim na die Cruz de Ferro (Ysterkruis toe.) Die dag begin met 'n klim na Foncebadon, wat maar meestal ruïnes is soos hier onder gesien. Let op die gradiënt deur die dorpie...
Hierdie dag is beskryf in Dag 5.



Net na  Foncebaddon, as jy water kry, maak vol! Dit kan die laaste water vir 'n moeilike dag wees!



Jy gaan begin klim, verby ou ruïnes in boere se landerye. Die wêreld hier is mooi, die uitsig is ongelooflik. Die Camino is daardie streep wat skuins op beweeg daar agter die ou muurr.



Tot jy uiteindelik bo uitkom by die Cruz de Ferro uitkom. Die tradisie is dat jy 'n klippie (of rots vir party ouens wat 'n groot gewetenswroeging saamgebring het Camino toe) daar op die klipstapel gaan los.


Ek het op Melkbosstrand 'n klippie opgetel, wat ek saamgedra het vir 'n baie goeie vriend en sy gesin, wat die ma van hulle huis in 'n motorongeluk verloor het. En ek het op die lughawe een van my jongste se soldaatjies gevat, as simbool van my eie gesin. Veral vir die twee gesinne het ek baie gebid op die Camino.  Ek het vir ons hierdie twee simbole daar gelos, eers mooi op 'n groter klip vir die foto gesit, en toe in 'n skeur tussen die klippe ingegooi dat niemand Stephan se soldaatjie sal steel nie. Ek hoop eendag kan ek en hy saam daar staan op sy Camino. In die vlees, of in die gees...



Anderkant is dit steil afdraande, sonder water. 'n Mens kom vinnig by die baie eksentrieke Roger se Refugio in die dorpie Manjarin, waar net hy en sy vrou, en 'n helse spul katte saam woon. Jy kan hier water en heuningbrood teen donasiebasis kry, jy kan oorbly. Dit voel net baie weird daar...



Hiervandaan klim 'n mens eers op tot by 'n lugmaginstallasie bo op die berg, en dan sak jy baie vinnig deur die veld na El Acebo toe. Onder in die vallei lê die industriële stad Ponferada, met 'n groot kragstasie wat dadelik die aandag trek. (Foto onder, vaagweg sigbaar in regter bo hoek). Toemaar, die Camino stap aan die anderkant verby, deur die mooi deel. Maar dit lê nog in die toekoms.So 'n afdraande soos hierdie in die dorpie in is glad nie pret met 'n rugsak op nie!




El Acebo is egter nog 'n baie klein dorpie, met pragtige huisies tussen ander murasies.


En dit was dag 4 en 5 vir my gewees, baie op en baie af. Maar aan die einde van elke dag is daar 'n stort, kos en 'n bed gewees, al was die dag hoe moeilik, soos dag 5, wat een van die heel moeilikste dae in my hele lewe was. Dankie dat jy saam kyk en beleef!

Friday, June 24, 2011

Camino de Santiago- Fotos deel 2

Omdat Palomino gevra het, en ek vandag af het... Ek belowe ek gaan nie al 992 fotos plaas nie!


Vir Palomino, wat gevra het hoe lyk die hele kerkie. Jakobus staan daar links bo die deur.

'n Katedraal, meanwhile... baie, baie groter, soos hierdie fotos van Leon se katedraal: Verskoon fokus en foutjies, ek het nie my groot kamera en driepoot hier gehad om dit reg te doen nie! Geen kameraflits toegelaat in die katedraal nie...




 Is dit nou Doriese, Ioniese of Gotiese kolomme? Ek kan nie onthou nie. Maar die argitektuur van die Middeleeue is fassinerend- dit is wonderlik hoe hierdie kolomme daardie dak bo hou deur die eeue heen! Die akkoestiek is manjefiek, ek wens my gemeente se kerkgebou het sulke akkoestiek gehad! Hulle speel Taize tipe meditatiewe musiek in die katedraal, en dit voel baie heilig daar binne! Amper so heilig soos in 'n wonderlike natuurtoneel! :-)



Partykeer was dit selfs onder snelweë baie mooi! Die Spanjaarde is nie bang om 'n snelweg doer bo te bou nie! Hierdie een is nog laag, wag tot ons by Ruitelan kom!



Ek het die een dag geskryf oor David, van Barcelona, wat drie jaar gelede besluit het om weg te breek uit die ratrace, en net die pelgrims te dien wat hier verby loop.  Dis beskryf op dag 3, die skof tussen Hospital de Orbigo en Astorga, en hy is net voordat jy by San Justo de Vega kom. "Nothing is impossible..." Hy het verskillende tees en vrugtesappe, en water, en jy kan vat wat jy wil hê, en kies of jy 'n donasie wil los of nie. Ek hoor by Astorga se Albergue  dat hy somer en winter hier is, dis maar sy lewe...



Hierdie is Gaudi se weergawe van 'n katedraal uit die 1800's, bekende argitek van Spanje, en dit is glo Neo-Goties. Nie almal hou daarvan wat argitektuur ken nie, dit was vir my baie mooi. Dit is deesdae 'n Pelgrimsmuseum, reg langs die klassieke katedraal van Astorga.


'n Syaansig van die klassieke katedraal van Astorga. Jammer, met 'n kompakte kamera kry 'n mens net nie alles altyd in nie!


'n Stukkie van die Camino net buite Astorga, en hierdie tel as 'n slegte teerpad in Spanje...

Enkele Spaanse Fotos vir dié wat gevra het... Deel 1.

Caminofotos vir die wat die reeks gevolg het oor my Camino. Dié wat nie daarvan hou nie, beweeg net aan na die volgende ou se blog toe.



Airbus se nuwe A 380 en die koets na my droom toe. Baie groot, baie luuks, baie lekker vliegtuig.


Die Prado Museum in Madrid, waar pragtige kunswerke bly.


Spanish Train, die een gaan Leon toe.


Die katedraal in Leon, waar my reis begin het- BAIE nat dag!




'n Deur in Leon- ek wonder altyd wat gaan agter deure aan?


Een van honderde Pelgrimstandbeelde langs die pad.


Net buite Leon kry 'n mens hierdie Tellytubbie tipe huisies. Dit is tradisioneel, weet nie of iemand nog so bly nie. Dit behoort egter nogal 'n verskil te maak in die winter met sy sneeu. Ek dink die somer kan baie ongemaklik wees, en die uitsig is glo ook nie so lekker nie...


By La Virgen del Camino wys 'n moderne Jakobus (staan tussen die ander apostels buite op die kerk) die Pad aan met sy hand- sien ook die "Scallop Shell" op sy hand- die embleem van die Camino.


As 'n mens in St Jean begin stap het, het jy by Leon al 500 km geloop. Genoeg om lekker gatvol vir jou stapskoene te wees! Hierdie gesig, van heel skoene langs die pad, sou nog dikwels plaasvind, en my eie duur stewels kan hulleself gelukkig ag dat hulle nie nou in die Atlantiese oseaan swem nie.


'n Tipiese Pelgrimsete- eerste gereg- groentesop met 'n baie klein verdwaalde stukkie vark êrens, vind hom en wen 'n Datsun! So twee glase rooiwyn en 'n bietjie Spaanse brood is ook deel van die pakket. (Dit kos gewoonlik so 9 Euro)


Die hoofgereg- huil in jou hande, Australian Masterchef! Dit sal nie in enige goeie restaurant deurgegaan het as goed voorberei nie. Gaar, maar smaakloos. En daai tjippies- misdadig. Maar dit is goedkoper as om normaalweg te gaan uiteet, en 'n mens het elke kilojoule nodig wat jy kan kry. Dis nog dieselfde brood en wyn.  En Poeding- dink maar aan 'n Flamby in 'n bordjie- dis gewoonlik een van die keuses, hulle noem dit Flan.


Ontbyt on the go- brood en blikkie sardientjies, goed vir 'n lekker sooibrand. Waar is die Eno's as jy dit nodig het?


Prediker 3 sê daar is 'n tyd om bymekaar te maak, en 'n tyd om te laat gaan. Die bekertjie is by 'n China shop gekoop. Maar hy het so gekeklankeklank buite my rugsak, dat hy my woes geirriteer het. Die sjokelade was toe al die tyd baksjokelade, en vreksleg vir gewone eet. Albei is daar op die muurtjie agter gelos vir die volgende persoon wat verby kom en dit nodig het. Ek hoop die tannies van die plaas kon lekker koek bak vir hulle kiddies met hierdie sjokelade!



Op hierdie brug by Hospital de Orbigo het een van die vreemdste liefdesverklarings ooit plaasgevind. Don Suero de Quinones het in 1434 'n "Jousting" toernooi gereël vir die ridders van sy tyd, op hierdie brug. Hyself het belowe om 300 lanse te breek vir die liefde van sy lewe. Ek sou nie graag in 'n blik-suit van 'n perd af wou val op hierdie brug nie! En om oor te val- verseker verdrinking!