'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Sunday, July 3, 2011

Camino Fotos deel 12- Melide na Arca de Pinho Dag 16 en 17

Soms is tydsberekening krities belangrik. Ek het gesien ek het nie meer tyd oor om Finisterre toe te stap nie. Op die Camino roete self is dit redelik goedkoop, 'n mens kan 'n dag oorleef op R150, ingesluit bed en as jy jou eie kos koop en maak in die kombuis.  Maar van die roete af, in die hotelle en hostals raak dit heelwat duurder, maklik nader aan R500 per aand. Die ander probleem, as 'n mens in hierdie laaste 40 km van die Camino kom, is daaglikse afstande. Skielik is die dorpe en herberge net so gespasiëer dat 'n mens of 'n kort dag, of 'n baie, baie lang dag moet stap om sinvolle akkommodasie te vind. Daarom het ek gekies vir nog 'n korter dag- net 13 km om weer op John Brierley se skedule te kom.

Dag 16
Vroegoggend uit Melide uit het ook weer gesorg vir pragtige tonele, en my eerste verdwaal op die Camino. Hoekom verdwaal? Ek was voor sonop op die roete, en net buite Melide beweeg 'n mens deur 'n bos. En een of ander aasvoël het ook geel pyle in die bos gebruik om die roete aan te wys na sy garage langs die snelweg, waar 'n mens 24 uur per dag kan stort... Ek moes al my kaartwerkvermoëns en 'n gevaarlike 2 km op die snelweg loop om weer terug op koers te kom, by die ware geel pyle...


In Spanje se kleiner dorpies sien 'n mens gereeld hierdie gesig: die gemeenskaplike Speed Queen. Hier kom die dames bymekaar om klere te was. Maar ek het dit nie baie gesien gebeur nie- dalk hou hulle meer van Whirlpool tuis? Kan nie sê die manne gee nie om vir hulle nie, kyk, daar is nog 'n dak om die gereelde Galicia reën van hulle af weg te hou...




'n Ander gereelde gesig langs die Camino is die gasvryheid en vertroue van die plaaslike mense in die Pelgrims. 'n Mens het gereeld stalletjies gesien, met vrugte, water, selfs kookwater en koffie en tee, met net 'n donasieboks, en geen mens in sig om dit op te pas nie.



Soos wat 'n mens nader aan Santiago begin kom, begin die gebied al hoe digter bevolk raak. Al hoe meer dele van die roete loop tussen mense se huise deur. Hier is dit ook al hoe meer groen heuwels, nes Ierland, waarmee hierdie gebied dikwels vergelyk word.



Maar gelukkig is dit steeds mooi landelike gebied.



John Brierley se dag eindig by Rivadiso, en dis 'n baie mooi plek, met 'n munisipale refugio wat oor die rivier uitkyk. Arzua is nog so drie kilometer opdraande verder aan.


'n Mens sou nie kon sê jy was in GAlicia sonder om een van hierdie buitegeboutjies af te neem nie. Dis by elke plaashuis, by die meeste groter dorpshuise, en selfs voor enkele hotelle. Jy kry in toeristewinkels modelletjies daarvan te koop. Wat is dit presies? Pruimtwak moet maar help- ek het iets gehoor van dat die mense hulle graan daarin gebêre het, ek het selfs gewonder of dit nie 'n tipe yskasfunksie gehad het nie.



As jy hierdie lees om 'n roete te beplan, dan is hierdie Albergue in Arzua regtig 'n lekker blyplek vir 10 Euro per nag. Hy is in die hoofstraat, reg langs die roete.



Dag 17 Arzua na Arca de Pinho

Hierdie dag lewer ook weer 'n heerlike stap deur 'n verskeidenheid van landskappe op.


Met nog heerlike woude om te verken...



Die kilometers is besig om uit te hardloop, die eindstreep is besig om nader te kom.


So nou en dan is daar pragtige landerye om deur te stap-

En mense wat mooi tuine aanlê langs die roete...


Gevolg deur heerlike sagte bospaadjies...

'n Mens maak vriende langs die pad- hierdie is Marie- Lyne van Ottawa in Kanada, saam met wie ek soms stukke van die pad gestap het. Sy is 'n maatskaplike werker, en ons kon een aand lekker gesels oor die sosiale omstandighede in ons twee lande- ek vermoed Kanada is so bietjie (98%?) minder gewelddadig as by ons?


As 'n mens op die Camino sou sterf, is daar 'n goeie kans dat mense jou gaan onthou. Hierdie is Guillermo Watt se gedenkplaat, wat oorlede is 'n dagreis weg van die eindpunt af. Hy was darem 69 jaar oud toe hy saggies deur die Jordaan is...

En so stroom die kilometers onder 'n mens se voete verby...


Deur die bosse...

En na 'n lang dag se stap kan jy uiteindelik die bootse uittrek en in die rak by die Albergue se deur wegsit...

Na 'n warm stort kan 'n mens lekker kos gaan soek...


Hierdie aand het ek baie lekker oorgebly in hierdie Albergue in die hoofstraat:


Volgende keer: die heel laaste dag se stap...

1 comment:

  1. Ensalada mixta...I want some...'cept now I have to make it!!

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?