'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Saturday, July 2, 2011

Camino Fotos deel 11- Palas de Rei na Melide se Pulpo!

Die einde is in sig. Sug...  Binnekort is al my stories op, en dan is ek weer vervelig...

Gister se fotos van 'n slegte dag het toe baie lekker gesprek ontlok, en een van die mins geëerde fotos in my oë het skielik baie dieper betekenis gekry. Dis die lekker van ander mense in ons lewe- daardie goed wat hulle raaksien wat vir ons self verborge is. Dankie vriende, dat julle wat ek nog nooit vir 'n koffie kon vat nie, al so baie in my lewe beteken!

Fotos van Palas del Rei na Melide toe.

Nog in Palas del Rei- wat sou hierdie monumentjie tog beteken? Gee 'n beskrywing soos jy dit verstaan?


Bustoer stappers voor my, sommige dorpe was net lekkerder as ander om agter te laat. Dis seker hoekom die koning (Rei) nie meer in hierdie Paleis wil bly nie...


Net buite die dorp raak dit weer bosserige paadjies, die tipe stap wat ek baie geniet. Bome om jou wat fluister, sagte kompos onder die voete, koel briesie, voëltjies wat sing, veral kanaries!



In Spanje is daar redelik baie eiendomme beskikbaar teen vermoedelik goeie pryse.  Hierdie een kort so klein bietjie "tender loving care..."


Nog bospaadjies- askies as hulle jou verveel, dis regtig vir my baie lekker in bosse...



En om een of ander rede doen die murasies dit ook vir my. Waarom sou dit wees? Afbreek van die mensgemaakte, herstel van die natuur?


In Melide in is hierdie pragtige brug- soos groot ou bome is ou brue ook baie fotogenies in my oë, ek kan net nie my kamera van hulle af weghou nie!



Maar nou verander die boom en brug blog vir 'n rukkie in 'n heerlike-kos-wat-jy-nie-moet-mis-in-jou-lewe-nie- blog!
Al die reisgidse praat hieroor in Melide, en as jy ooit naby is, en nie vir Jodium allergies is nie (of is dit net skulpvis?) en nie soos ek op 'n jonger ouderdom sê die beste seekos is die boer se koei wat op die strand loop nie, dan is hierdie een vir jou:



Die plek lyk dalk nie na veel nie. Eenvoudige hout tafeltjies en bankies. Maar magtag, daai kos is lekker!
'n Mens neem nou nie die Plaaslike Bevolking af met "flash" aan nie, dis ongeskik. So verdra maar my klein kameratjie se beperkte lensopeningstye...


Dit wat vir E9 by 'n mens se tafel uitkom, is die volgende:


Daardie seekat word sag gekook. Dan word hy in blokkies opgekap. Ek vermoed hy word dan in olyfolie vir 'n kort rukkie in 'n pan gebraai, en 'n rooi spesery- paprika? word oor dit gegooi. Op 'n houtbord bedien. Dit word Pulpo genoem, en is so sag dit smelt in jou mond. Baie, baie geurig. En die kommetjie wyn daarmee saam is baie lekker. Ek vermoed hier het ek vir 'n hele bottel betaal, maar net die helfte gedrink, soos by enige Pelgrimsmenu.

Hierdie was DIE ete van my tyd in Spanje, eg inheems, baie basies, maar baie lekker! Weet iemand of daar êrens in ons land Pulpo by 'n restourant bedien word- dis soveel lekkerder as ons Kaal Marie?

Ek het net die helfte van 'n John Brierley dag gestap, maar na hierdie ete was 'n mens bietjie lus vir rus!
Die privaat Alburgue was bietjie teleurstellend in Melide, dit was net so "crowded" soos die munisipale een langsaan. Dit was ook E2 duurder as enige ander privaat Alburgue tot dusver. Maar darem ook drie rekenaars aan die internet gekoppel om die druk te verlig.


Die vroeë stop het darem ook kans gegee om lekker rustig en stil te wees, en by die kerk 'n draai te gaan maak. So dikwels sit daar bedelaars by die deure- hierdie tannietjie het my kopersente in die beursie gekry, die goed maak die beursie net swaar.

Simeon het vir Maria gesê in Lukas 2 dat 'n swaard deur haar siel sal gaan. Hier is nogal 'n mooi uitbeelding daarvan.


Na 'n paar lang dae het 'n mens amper gevoel of ek lyf wegsteek deur net 15 km te loop vir die dag. Soos een van die vriendinne hier gesê het- ek ly soos sy aan 'n ooraktiewe gewete. Dit was goed vir my reis om nie vandag, soos John Brierley aanbeveel het, deur te druk Arzua toe nie. Maar dit het weer ander probleme meegebring, wat ons in die volgende episode oor kan gesels. Na die vorige slegte dag was hierdie een baie lekker! Viva Pulpo!

Friday, July 1, 2011

Camino Fotos deel 10- Portomarin na Palas del Rei (dag 14)

Dag 14
Na twee wonderlike dae moes daar nou waaragtag so een soos dié ook wees. Hierdie dag het ek nie geniet nie. Dit het mooi begin, maar verby plekke met name soos Toxico gegaan, waar industriële goeters was.  Maar selfs in die lelike dae was daar tog baie mooi oomblikke gewees- nog 'n belangrike lessie in die lewe.  Hou jou oë elke dag oop vir iets om voor dankbaar te wees, jy sal dit vind... Het ek ooit gesê dat dit hierdie dag gereën het, en dat ek 'n poncho haat met 'n passie? Ek kan nogal baie vinnig verstrik voel, en daai ding wurg my die hele tyd!

Uit Portomarin uit stap mens oor 'n baie hoë ysterbruggie, wat vreeslik onder mens se voete rumoer- vroegoggend foto.




Vir 'n paar kilometer opdraande al langs die teerpad, langs die fabrieke verby- hierdie foto is vir 'n slag terugwaarts geneem, iets wat ek nie dikwels doen nie...



Daar was wel mooi stukke: sulke kuierplekkies langs die pad help nogal as jy 'n brood en kaas in jou rugsak het, en ietsie wil maak vir die pad.  Of net die rugsak vir 'n rukkie afhaal en asem haal.



Op hierdie reënerige dag was dit dalk beter om soos 'n hond behandel te word...


Dis interessant hoe Spaanse honde 'n mens uitlos langs die pad. Maar dan het hulle ook nie Maltese poedels of ander lelike genetiese ongelukke soos mini dobermans nie!

Daar was ook mooi stukke om op te maak vir die lelike stukke:



Met mooi ou bome vir al julle treehuggers!


Daar was weer verdwaalde dorpies en plaasopstalle- hier loop 'n mens sommer gereeld tussen 'n boer se huis en sy skuur deur.


Ons, wat ons rugsakke self gedra het vir verder as die minimum, het soms gebrom oor die luukse toeriste, wat wel die roete stap, maar met 'n luukse bus wat hulle bagasie dra, en dan bly hulle net in luukse hotelle,  luuks in hierdie konteks betekenende in sy eie kamer met sy eie badkamer. Was dit jaloesie? Nee, ek sou nie hierdie reis so wou aanpak nie. Die swaarkry vorm en brei 'n mens. John Brierley waarsku in sy gids dat 'n mens nooit 'n ander pelgrim moet veroordeel nie, elkeen het sy eie omstandighede en sy eie behoeftes. Ek respekteer dit. Maar as 'n mens in die reën verby so 'n bus stap, is dit darem baie lekker om hier in jou baard te loop en brom...


Daardie aand, na so 'n lang dag se ontberinge, het 'n mens baie om te gaan bely in die plaaslike kerk. Ek het toe nooit 'n koninklike paleis gesien in Palas del Rei nie?


Langs die pad het die eienaar van Albergue Meson de Benito by my gestop, en 'n pamfletjie van sy akkommodasie in my hand gestop. Ek het daar gaan bly, en dit was heel lekker.  Lang, nat 25 km dag.  Ook suksesvol voltooi- die moeilike dae gaan ook tree vir tree verby.

Thursday, June 30, 2011

Camino fotos deel 9- Sarria na Portomarin Dag 13

Van Sarria af raak die Camino skielik baie, baie besiger. Dit is omdat verskriklik baie mense net die minimum wil/ kan doen om 'n Campostela te verdien. Hier is my verhaal, waar die  laaste 110 km van die CAmino begin.

Vroegoggend bo in Sarria, op pad uit die stad uit:


Daar is weer ou, ou bruggies, waaroor baie geslagte se mense al loop. Ook baie miljoene pelgrims se voete is oor hierdie bruggie, insluitende myne...


Daar is weer pragtige ou bome, wat geslagte lank al kyk wie kom almal verby...


Daar is wonderlike gedeeltes deur ou ou bosse...



en soms moet jy ook op teerpaaie loop deur hierdie gebiede heen, met altyd 'n stapper of 'n fietsryer in sig...



Hierdie is om een of ander rede een van my gunstelinge:



Ek het in die blog geskryf oor my fantastiese ervaring van hierdie plek, waar die pad en die rivier mekaar se paaie gekruis het, en ek het dit " waters waar daar vrede is" genoem. Dit lyk dalk nie na veel op die foto nie, die atmosfeer op daardie plekkie was ongelooflik spesiaal, en hier het ek een van die hoogtepunt ervarings van my lewe ervaar.





Fotos vertel nie die verhaal van hierdie oomblik nie, jy sal jou eie reis moet onderneem om sulke oomblikke te kry, hulle kom nie voor die televisie of agter die rekenaar nie!

Daar was paaie deur gebiede wat muurtjies het soos die Engelse Lake District of Ierland...



'n Groot hoogtepunt vir my persoonlik was om by die 1oo km na Santiago bordjie langs die pad uit te kom:

"Die grafstene van kilometers suksesvol agter gelê"- Bileam se Donkie! (En my arme hoed!)

Ek het die Camino gestap juis om landskappe soos hierdie te kan geniet, mooi bosse, die sang van wilde kanaries en koekoeke...

Regtig mooi wêreld, hierdie Galicia provinsie van Spanje.

Net so 3 km buite Portomarin kry 'n mens 'n Suid- Afrikaner, Gordon se droom- die Suid Afrikaanse Alburgue wat besig is om te verrys. Nog nie oop nie, maar heerlik gekuier saam met hom, sy seuns en die Suid Afrikaanse groep dames wat daar voor my aangekom het. Die eerste ding wat waarsku, is geel letters in die pad wat sê "Stadig." En dan "net hier voor..." en om 'n draai-

Portomarin stap 'n mens binne oor 'n baie, baie hoë brug. (kyk hoe klein is die motor daar links op die brug. Dis BAIE hoog!) Dit is omdat daar glo 'n baie, baie groot dam hier êrens naby is, ek het dit nooit self gesien nie.


Op met die trappe reg voor jou, sal jy by die twee belangrikste Albergues uitkom(albei op die volgende foto, links die Mirador en regs is die Ferramenteiro). Ek het hulle aanvanklik gemis, omdat ek saam met die Suid Afrikaanse dames gestap het tot by hulle hotel, en toe aan die anderkant van die dorp reggekom het. Maar ons het aandete in die Mirador geëet, ek verstaan hulle is ook 'n baie lekker Albergue.

Wednesday, June 29, 2011

Camino fotos deel 8- Dag 12 Triacastellia na Sarria


Sommige dae in 'n mens se lewe loop so verkeerd, ander loop so ongelooflik reg. Soos my twaalfde dag van stap op die Camino. Skielik het die blase onder die tone sommer eelte geword, en nie meer gepla nie. Skielik was my bene nie meer so seer nie. En fotografies gesproke was dit een van my lekkerste dae ooit- ek moet myself keer om jou nie dood te verveel met 'n helse hoop fotos nie. Hierdie dag s'n was vir my mooi, weet nie wat Toast Coetzer van hulle sal maak nie...

Sê my eerlik, vertel hierdie huis nie ook vir jou 'n storie nie? Hy lyk op die rand van bouvallig, maar iemand het pienk malvas in die vensterbank geplant... Wat sou die storie van hierdie woning wees?


Hierdie volgende een is ook vroegoggend geneem- weer die ou fokusprobleempie waarmee my Powershot D 10 in vroegoggend lig mee sukkel. Toast sal baie kan fout vind, en ek sien dit raak. Maar hierdie is nou nie 'n foto blog nie, ek vertel 'n reisverhaal, dat julle ook die prentjie kan sien. Nie ver uit Triacastellia uit op die korter roete (in teenstelling met die Samos kloosterroete)  is hierdie plek. Dit is 'n gebedshuis. En dit was beman deur 'n paar Skotte, wat graag vir pelgrims bedien het met gebed soos jy verby kom. Die binnekant van die huis is mooi, warm gemeubileerd, baie gasvrye atmosfeer. Ek hou baie van Christene wat ander mense dien, sonder om die hele tyd rede te soek om hulle te veroordeel of hel toe te stuur. Soos hierdie mense- geen bybedoelings nie, net 'n opregte stuk omgee vir elkeen wat die Pad kruis...



Die volgende een kan julle maar vir Toast wys- ek is regtig nie skaam vir hom nie! Lyk dit nie lekker om daar te bly, op hierdie ou se plaashuis nie? Onthou- die sentrale tema is Die Pad.


Daar is 'n Camino poel op die roete, wat in elke gids verskyn, hier is my weergawe daarvan:



Daar is weer ervarings van op die bergpieke van die lewe loop, met die mis wat ver onder in die valleie lê.



Hier is die enkele rede hoekom jy moet vergeet van gister se bunkbed foto, en die blikkieskos foto, en begin spaar vir jou vliegkaartjie- kan jy jou hele lewe lank aangaan sonder om hierdie pad self te gaan stap?


(Lufthansa kaartjie R6200 retoer Madrid toe, 8 maande voor die tyd bespreek, R200 per dag op die roete- maak 'n plan!)

Vier vliegtuie op pad Amerika toe- hoe weet ek dit? Want ons is hier naby die Westekant van Europa- dan die Atlantiese oseaan, dan Amerika.  Hierdie omgewing is asemrowend mooi!


Ken jy daardie gevoel, soos Louie Giglio dit so mooi kan sê: Wow oh wow oh wow!




As 'n mens bereid is meer as die minimum te doen, dan kry jy hierdie dag, net voor jy by Sarria uitkom. Van Sarria af is die kortste Camino wat jy kan loop, en nog steeds 'n Campostela (sertifikaat dat jy dit gedoen het) kan kry. As jy die minimum doen, mis jy hierdie fantastiese dag in jou lewe, en dit kan mos nie!



Na 'n heerlike dag sien jy Sarria nader kom:



In Sarria moet jy nog 'n groot stel trappe klim om by die lekker Albergue's uit te kom, soos die Internacional. As jy hierdie trappe kry, kyk dadelik regs. Daar is 'n kampeerwinkel, wat goed soos John Brierley se gids in Engels verkoop! Luister nou na my, moenie soos ek dit eers hier koop nie, stap die hele ding met John se gids- dis die beste een! Stapskoene, kouse, rugsakke, alles wat jy nodig het, is in die winkel regs aan die onderkant van hierdie trappe.



En dan die baie goeie nuus- daar is 'n winkel in Spanje wat vir jou jou eie, persoonlike Malema kan verkoop! Kyk net daar, derde artikel:



Ten slotte- het jy al ooit voorheen 'n wonderlike preek op 'n enkele padteken gesien? Volg hierdie raad-