'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Tuesday, July 5, 2011

Camino Fotos deel 14- Finisterre- die einde van die aarde

s jy ooit die CAmino gaan stap in Spanje, beplan vir jou vier ekstra dae se stap.  En dan stap jy van Santiago af tot by Finisterre.  Hierdie voel vir my so die meer logiese plek om die Camino af te sluit- om te stap tot daar waar die pad ophou. Waar die Romeinse keiser gesê het- hier eindig die aarde- hier is niks verder om te verower nie!  Behalwe as jy nou 'n swemkampioen is en gou die Atlantiese oseaan wil oorsteek, en verder in Amerika die Appalachian Trail wil gaan doen. Maar ek beveel dan eerder 'n vliegtuig van Madrid af soontoe aan!

Soos baie ander gewaarsku het, het ek ook so half teleurgesteld gevoel in die bereiking van die katedraal. Die Heilige Jakobus se beendere in die silwer kissie onder die altaar het nou regtig niks vir my gedoen nie, al het ander mense voor daardie kissie gaan kniel en bid.  (Ek het in elk geval eers die kissie later gesien, toe ek van Finisterre af teruggekom het, en moes wag vir my trein terug Madrid toe. Toe was die katedraal nie so vol mense nie, en kon ek rustig daar deurstap).

As jy in Santiago is, kry vir jou 'n kaart van die stad en kyk waar die Autobus Estacion is. Daar is daagliks busse wat na Finisterre toe vertrek. Maar nie te baie nie- ek dink twee in die oggend, en hulle ry heen en weer- so twee busse in die middag terug. Die bus self is baie mooi luuks, so groot dubbeldekker. Ek het nou nie uit die bus vreeslik baie fotos probeer neem van die reis nie, maar dis baie mooi, redelik vinnig is 'n mens by die see, en dan loop die pad deur baie kusdorpies, 'n mens kry amper daardie gevoel van die Argus- daar van Kalkbaai af langs Simonstad, Miller's Point verby- baie soortgelyk.


Die luukse bus by sy eindpunt in Fisterra, die vissersdorpie by Finisterre, die einde van die aarde.

'n Baie lekker plek om te bly is die Hotel Finisterre- ek het 25 Euro betaal vir die nag. Daar is ook twee albergues waar jy heelwat goedkoper kan bly, maar wil jy regtig op hierdie stadium van jou reis nog styf langs of onder 'n vreemdeling lê?

Ek het gewonder hoe op aarde gaan ek die Hotel in 'n vreemde plek kry, en toe is hy reg oorkant die bushalte. Ek het ingeboek, en toe gesien my kamer het 'n balkonnetjie, wat in die gebou oorkant vaskyk. Maar as jy nou regs draai, dan sien jy hierdie toneel:
Daar het die bus omgedraai, vir sy 11h45 vertrek terug Santiago toe.  En die vissershawe net daar onder. Maar nou wil 'n mens eers gaan kyk hoe lyk die einde van die aarde. En dit is 'n twee kilometer klim. Maar jy doen dit sonder rugsak, en jy het nou fiks geword, die kilometers vlieg onder jou fikse voete verby...
Dieselfde standbeeld as net anderkant O Cebreiro wys vir jou die pad aan na die Vuurtoring aan die einde van die aarde.(Effens sigbaar daar op die horison.)


Die mees logiese plek volgens my om jou Camino te eindig, is by km 0 daar by die vuurtoring.


Dan kan jy, hoewel dit onwettig is, oorweeg om 'n kous/ ander ou kledingstuk van jou reis te verbrand-

Voor jy stil op 'n klip gaan sit, en jou hele reis tot hier bietjie sit en bedink, terwyl jy kyk na die magtige Atlantiese oseaan hier voor jou. Moenie hier kaalbas probeer swem nie, die vorige ou wat dit probeer het, het weke later in Ierland uitgespoel.  Nie eers 'n Ierse pub kon hom weer red van sy dors nie...

Hier kry jy die gevoel- nou is my reis behoorlik voltooi. Verder as hier kan ek nie.  Ek het alles bereik wat ek so graag wou bereik. En dis dalk een van die min kere in jou lewe wat jy daardie gevoel gaan hê: Taak suksesvol afgehandel! (dalk nie in jou werk nie, in myne is dit baie skaars om iets te kan klaarmaak!)

Dan verander jy van 'n Pelgrim in 'n toeris. Fisterra is 'n pragtige hawedorpie, om lekker te kan gaan verken. Baie fotogenies, dink ek altyd van vissershawens.



Daar, aan die einde van die kaai, kan jy die ander Caminotradisie gaan waarmaak...


Jy kan lekker gaan eet by een van verskeie seekosrestaurante wat uitkyk oor die hawe.


En dan vir 'n slag soos 'n koning gaan slaap in jou eie hotelkamer, met jou eie bad.
Om more weer die lang, lang pad terug huis toe aan te pak, via die 3 1/2 ure busrit Santiago toe, die aandtrein terug Madrid toe, die moltrein terug Barajas Internasionale lughawe toe, en die vliegtuig terug na jou land toe.

Die reis gaan jou kos. Jy gaan baie dinge agterlaat. Jy gaan soos Rod Steward sing in All for love ervaar: "through the wind and the rain, the hurt and the pain... "
Daardie linker kleintoontjie wat ek later wou amputeer met die Swiss Army knife- hier is hy nadat hy al 'n week gesond geword het: (op Santiago se treinstasie- daardie 5 ure wag vir die trein...)

Maar weet jy wat het dit alles die moeite werd gemaak? Om die eindpunt van die reis te bereik. Om vrede te ervaar. Om te weet: ek het dit reggekry!



Mag jy ook eendag hier staan, aan die einde van jou reis!

Buen Camino!

Monday, July 4, 2011

Camino Fotos deel 13- Die laaste dag na Santiago toe

Die groot verveling kom vinnig nader- fluit fluit, my storie is amper uit...

Die laaste dag van die Camino vra 'n ekstra vroeg wegspring as jy enigsens beplan om die Pelgrimsmis om 12h00  in die katedraal van Santiago te maak. Onthou mos nou, die oorspronklike eindpunt van die Camino is daardie silwer kissie onder die altaar van die katedraal, waar Jakobus se beendere na baie, baie optimistiese legende lê. John Brierley sê hierdie dag is 20.1 km. Kan ek jou verseker- dit gaan verder as 25 km voel. En die 500 meter ver sementblokke raak skielik weg by die Santiago lughawe. Dalk het 'n BEE firma die kontrak destyds gewen, en die afstand so effens misjudge?

Een van my gunsteling fotos van die Camino- die voor sonop wegspring uit Arca de Pinho uit.



Pas uit die dorp uit, die donker bos lê voor, en die straatligte raak weg.



Dit lyk dalk al so lig, maar hier is hoe die bos gelyk het. Gelukkig het 'n mens nooit daardie gevoel van 'n misdadiger met 'n mes of gesteelde pistool wat agter die boom gaan uitspring en jou gaan doodmaak vir 'n gaar ou Nokia foon nie...


Op hierdie laaste dag is daar baie, baie pelgrims met dieselfde idee in die kop- om die katedraal betyds te haal. Almal stap vinnig en vasberade, daarom is daar ook nie so baie fotos van hierdie dag se stap nie.

Net na sonop- die eerste koffiestop onder die brug by die snelweg. Ja, dit is die plek waar my geliefde hoed seker vandag nog aan die een stoel hang. Ek het in my blog geskrywe oor die meisie met die baie, baie swaar rugsak, met die haardroër en elke dag amper ander klere. Dit is sy in die blou. Sy het die Camino klaargemaak met DAARDIE rugsak, en ek het haar nooit sien kerm en kla nie. Baie respek!  Die vrou is seker maar die sterker geslag?  Hierdie een is 'n dame en 'n yster!

Selfs die laaste dag het sy mooi dele.

Daardie was omtrent die enigste pothool wat ek in Spanje gesien het.

Hierdie is omtrent die laaste kilometermerker wat jy gaan kry. En sommige ouens se stewels het ook net tot hier gehou!


Ek het nie al daardie monstrositeite by San Marco/ Monte Gozo afgeneem nie. Teen hierdie tyd het dit lekker gereën, en ek was redelik seervoet en effens gatvol (toe ek agterkom my hoed is 4 km terug en tyd loop uit), die pad van die Lavacolla Internasionale lughawe van Santiago af  tot by die buitewyke van die stad is ook maar nie baie lekker nie. Monte Gozo het mos 'n reuse moderne monument vir die pelgrimstog, skreeulelik. En daar is 'n Munisipale Refugio wat 500 beddens het. CAmino Disneyworld...

Net verby dit sien 'n mens eintlik Santiago die eerste keer. En dan besef ek vir die eerste keer dat dit nie 'n groot dorp is nie, dis 'n stad seker so groot soos Bloemfontein.


Santiago is soos daardie Janusbeeld- hy het twee gesigte. Aan die een kant (ongelukkig aan die anderkant van die stad!) is die ou gedeelte, waar die katedraal lê. Dit vat baie lank selfs in die stad, voordat jy die katedraal gaan sien.
Maar waar jy inkom, is die stad hipermodern. Dit is ook 'n universiteitstad, met baie moderne geboue. Selfs die besigheidsgedeelte waar jy die stad binnegaan, is baie baie modern.

Die stad sal egter nooit sy karakter verloor as die eindpunt van die Camino nie, soos hierdie standbeeld van die Pelgrimstog vir 'n mens wil vertel soos 'n mens die stad binnekom.

Die ou gedeelte van Santiago is vir my baie mooier as die moderne geboue- is daar fout met my of is dit normaal?


Die katedraal ('n paar dae later afgeneem toe dit nie gereën het nie).

die hoofdeure maak hulle seker net vir die pous oop, en nie die pous van die Bosveld nie!

Die binnekant van die katedraal is in baie goeie toestand, met oor die 14 bieghokkies langs die kante. Die altaargedeelte is baie indrukwekkend. Daar is sitplek vir 1000 mense. Ek was half twaalf daar, maar toe sit die katedraal al vol mense (baie gewone toeriste, nie pelgrims nie!) Dit laat 'n mens brom- ek moes met my seer bene op die yskoue klipvloer gaan sit.

Ek kon nie meer staan op my voete nie, hulle het soos vuur gebrand. En die klipvloer was hard.
So tien minute voor die tyd het 'n lelike non, met die stem van 'n engel, die skare eers 'n lied of twee geleer wat in die diens gesing gaan word. Op die minuut het 'n prosessie van priesters, in wit rokke met rooi borslappies (sien, ek verstaan ook nie die klere se name nie!) baie indrukwekkend in 'n prosessie ingestap. Erens in hierdie tyd begin een van hulle dan in 'n baie somber stem in Latyn (of Spaans) iets vertel van die pelgrims wat die vorige dag klaargemaak het- hoeveel van hulle, waar hulle vandaan is. Ek dink bietjie later in die diens lees hulle ook die name van die suksesvolle pelgrims uit.
Ek was so rondom twaalf minute in die diens. Toe ek my oë ophef, sien ek honderde pelgrims met rugsakke by die diens. En die sondige gedagte tref my- dan gaan die Pelgrimskantoor seker nie nou so besig wees nie.
Ek het saggies myself verskoon, en twee blokke wes na die Pelgrimskantoor toe gegaan. Wat toe redelik stil was, soos ek gehoop het. Onthou 800 mense maak op die oomblik daagliks klaar, en elkeen soek sy Campostela by hierdie kantoor, dit kan soms baie besig word. Gaan na toonbank 5 toe, sê die bordjie.


In die Pelgrimskantoor kry jy jou Campostela, AS jou papierwerk in jou Pelgrimspaspoort reg is, en jy onthou het om die laaste 100 km elke dag twee stempels langs die pad te kry. Jou naam is in Latyn...

'n Lekker en goedkoop plek om in Santiago te bly, is die reuse ou Seminario Belvis. Jy kan op die Internet bespreek daarvoor so twee dae uit, en ek beveel aan dat jy die gids se raad volg, en eers gaan inboek en jou rugsak daar los, voor jy katedraal toe gaan. Anders gaan jy die hele tyd met jou rugsak opgeskeep sit, en weer terugdra deur die vallei na die Seminario toe. Daar is ten minste drie geel tekens langs die Camino wat die Seminario aanwys.


Die akkommodasie is luuks! (nie bunkbeddens nie) met 'n toesluitkas by elke bed. As ek reg onthou (vergeet begin al klaar intree!) het ek 12 euro betaal om hier te bly.  Jou rugsak pas baie gemaklik in. Dan voel jy baie ligter, en kan jy die katedraal aanpak. Daar is 'n kombuis in die "basement" met basiese geriewe, en drie rekenaars aan die internet gekoppel. Hulle bied ook dagtoere Finisterre toe aan vir 25 Euro, maar dié toer bly net 2 ure oor in Finisterre. Doen dit eerder op jou eie- ek sal more ietsie daaroor sê.

Hoekom beveel ek die Seminario so sterk aan, en dat jy inboek voor jy katedraal toe gaan? Kyk bietjie hier: dit is die uitsig van die Seminario af. Die katedraal steek daar heel agter uit. Tussen hier en daar is 'n vallei. Wil jy regtig onnodig jou rugsak soontoe, en al die pad weer terug dra?


Dis nou te sê as jy nie bietjie spaar voor die tyd en in een van die hotelle daar woon nie, soos die Vyfster Hostal de los Reyes Catolico net oorkant die katedraal nie? (Die gids sê net 60+ euro, dit gaan heelwat meer wees!) Die eerste 10 pelgrims elke dag wat vir hulle vra, kan saam met hulle staf in die parkeerterrein gratis eet- deel van hulle ou wortels as oorspronklik 'n Pelgrimshospitaal.

In elk geval, ek het dit gemaak tot by my gestelde eindpunt! 317 km van Leon af in 18 dae. Ander het dit baie vinniger gestap, ander het baie verder gestap, en ek respekteer hulle daarvoor. Vir my was hierdie 'n baie groot uitdaging in my eie lewe, en 'n hele paar gemaksones wat ek moes uitbreek. Ek sal nog ietsie daaroor skryf voor ons hierdie onderwerp heeltemal afsluit. Maar hier is ek voor die katedraal- kyk net die hemelse glans op my gesig!
 





Sunday, July 3, 2011

Camino Fotos deel 12- Melide na Arca de Pinho Dag 16 en 17

Soms is tydsberekening krities belangrik. Ek het gesien ek het nie meer tyd oor om Finisterre toe te stap nie. Op die Camino roete self is dit redelik goedkoop, 'n mens kan 'n dag oorleef op R150, ingesluit bed en as jy jou eie kos koop en maak in die kombuis.  Maar van die roete af, in die hotelle en hostals raak dit heelwat duurder, maklik nader aan R500 per aand. Die ander probleem, as 'n mens in hierdie laaste 40 km van die Camino kom, is daaglikse afstande. Skielik is die dorpe en herberge net so gespasiëer dat 'n mens of 'n kort dag, of 'n baie, baie lang dag moet stap om sinvolle akkommodasie te vind. Daarom het ek gekies vir nog 'n korter dag- net 13 km om weer op John Brierley se skedule te kom.

Dag 16
Vroegoggend uit Melide uit het ook weer gesorg vir pragtige tonele, en my eerste verdwaal op die Camino. Hoekom verdwaal? Ek was voor sonop op die roete, en net buite Melide beweeg 'n mens deur 'n bos. En een of ander aasvoël het ook geel pyle in die bos gebruik om die roete aan te wys na sy garage langs die snelweg, waar 'n mens 24 uur per dag kan stort... Ek moes al my kaartwerkvermoëns en 'n gevaarlike 2 km op die snelweg loop om weer terug op koers te kom, by die ware geel pyle...


In Spanje se kleiner dorpies sien 'n mens gereeld hierdie gesig: die gemeenskaplike Speed Queen. Hier kom die dames bymekaar om klere te was. Maar ek het dit nie baie gesien gebeur nie- dalk hou hulle meer van Whirlpool tuis? Kan nie sê die manne gee nie om vir hulle nie, kyk, daar is nog 'n dak om die gereelde Galicia reën van hulle af weg te hou...




'n Ander gereelde gesig langs die Camino is die gasvryheid en vertroue van die plaaslike mense in die Pelgrims. 'n Mens het gereeld stalletjies gesien, met vrugte, water, selfs kookwater en koffie en tee, met net 'n donasieboks, en geen mens in sig om dit op te pas nie.



Soos wat 'n mens nader aan Santiago begin kom, begin die gebied al hoe digter bevolk raak. Al hoe meer dele van die roete loop tussen mense se huise deur. Hier is dit ook al hoe meer groen heuwels, nes Ierland, waarmee hierdie gebied dikwels vergelyk word.



Maar gelukkig is dit steeds mooi landelike gebied.



John Brierley se dag eindig by Rivadiso, en dis 'n baie mooi plek, met 'n munisipale refugio wat oor die rivier uitkyk. Arzua is nog so drie kilometer opdraande verder aan.


'n Mens sou nie kon sê jy was in GAlicia sonder om een van hierdie buitegeboutjies af te neem nie. Dis by elke plaashuis, by die meeste groter dorpshuise, en selfs voor enkele hotelle. Jy kry in toeristewinkels modelletjies daarvan te koop. Wat is dit presies? Pruimtwak moet maar help- ek het iets gehoor van dat die mense hulle graan daarin gebêre het, ek het selfs gewonder of dit nie 'n tipe yskasfunksie gehad het nie.



As jy hierdie lees om 'n roete te beplan, dan is hierdie Albergue in Arzua regtig 'n lekker blyplek vir 10 Euro per nag. Hy is in die hoofstraat, reg langs die roete.



Dag 17 Arzua na Arca de Pinho

Hierdie dag lewer ook weer 'n heerlike stap deur 'n verskeidenheid van landskappe op.


Met nog heerlike woude om te verken...



Die kilometers is besig om uit te hardloop, die eindstreep is besig om nader te kom.


So nou en dan is daar pragtige landerye om deur te stap-

En mense wat mooi tuine aanlê langs die roete...


Gevolg deur heerlike sagte bospaadjies...

'n Mens maak vriende langs die pad- hierdie is Marie- Lyne van Ottawa in Kanada, saam met wie ek soms stukke van die pad gestap het. Sy is 'n maatskaplike werker, en ons kon een aand lekker gesels oor die sosiale omstandighede in ons twee lande- ek vermoed Kanada is so bietjie (98%?) minder gewelddadig as by ons?


As 'n mens op die Camino sou sterf, is daar 'n goeie kans dat mense jou gaan onthou. Hierdie is Guillermo Watt se gedenkplaat, wat oorlede is 'n dagreis weg van die eindpunt af. Hy was darem 69 jaar oud toe hy saggies deur die Jordaan is...

En so stroom die kilometers onder 'n mens se voete verby...


Deur die bosse...

En na 'n lang dag se stap kan jy uiteindelik die bootse uittrek en in die rak by die Albergue se deur wegsit...

Na 'n warm stort kan 'n mens lekker kos gaan soek...


Hierdie aand het ek baie lekker oorgebly in hierdie Albergue in die hoofstraat:


Volgende keer: die heel laaste dag se stap...