'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Tuesday, June 22, 2010

2005- Buell bekendstelling- die vonk vat weer flam!

Op 'n goeie dag in 2005 kom my goeie vriend Sam Hoffmann met hierdie blink voorstel: Buell gaan hulle 2006 reeks motorfietse op Gerotek bekend stel, en hy het kaartjies. Sou ek dalk belang stel? SOU EK BELANG STEL!!!?  Op hierdie stadium was ek nou al jare lank sonder 'n werkende motorfiets, en die uitnodiging was dieselfde as om vir 'n alkoholis te vra of hy dalk 'n dop wil hê! 

Natuurlik het ek belang gestel, en so is ek, en Sam, en sy seun Wouter (Aprilia tegnikus van formaat!) met onse motorfiets kleertjies na Gerotek toe.

Eers gou 'n ou vrywaringsvormpie geteken wat sê as ek my vrek val, ek nie 'n hofsaak teen Harley Davidson sal maak nie. Dapper teken ek. 

Ons begin die dag met die Ulysses. Buell se destydse poging om die BMW 1200 GS aan te vat. Tot my skaamte moet ek erken: ek is te kort vir hierdie fiets! As ek op hom sit, raak my tone net-net grond. Die fiets het heel skaflik op daardie kronkelpad teen die berg uitgery. Maar toe die moeilikheid, hulle neem ons na 'n steil helling, met 'n klipperige grondpad. En een na die ander sit die manne die fietse neer. Maar ons Nylstromers was geseënd- nie een van ons het omgeval nie. Genade, nie vernuf nie! Die fiets was net te hoog om grond raak te trap as ek gly. 

Tweede sessie was met die Lightnings om die baan. En hier was ek maar bietjie "nervous in the service..." DIt was die eerste keer in jare wat ek regtig op 'n motorfiets gery het. En die selfvertroue was maar min met die "cornering" op die baan. Van die skoolseun wat met genot sy MB se "footrests" in die draaie skuur, was daar niks te sien nie. Maar dit het stadig al beter begin gaan. Die vrees het verdwyn, die glimlag het verskyn, ek was weer in die hemel...! 

DIe derde sessie was genoemd "Battletrack"- 'n sport wat in Amerika op die Malls se parkeerterreine ontstaan het. Jy vleg tussen kegels deur teen die stophorlosie, die doel van die oefening is om jou bestuursvernuf te toets. EN ek moet sê: hierdie Buells het deksels lekker hanteer! Hulle is baie korter as 'n gewone motorfiets tussen sy aste, en die swaartepunt is ook lekker laag. Ek dink hierdie moet omtrent die ideale fiets wees om deur die verkeer te vleg op die Ben Schoeman snelweg. Hierdie sessie was regtig lekker- die ou "skills" het stadig weer begin terugkeer. 

Na ons drie sessies het ons lekker geëet  op Harley se rekening. En toe is ons terug baan toe, waar Craig Jones (internasionaal bekende waagkunstenaar) vir ons gewys het wat kan 'n mens alles met 'n Buell doen. Wheelies, fronties, donuts spin... al die dinge op meesterlike gebied. Waar ek regtig respek vir hom gekry het, was toe hy 'n Harley V-Rod gewheelie het. Dan was daar ook so klein Thai mannetjie wat met custom handvatsels op die voorwiel van 'n Buell sit. Craig doen 'n frontie, en dan druk daardie mannetjie sy helmet teen die grond dat die vonke spat! Gelukkig het hy nie volunteers gevra nie, ek sou myself bevuil het! 

Dit was 'n wonderlike dag in my lewe. Die probleem is dat die ou, sluimerende monster diep in my weer wakker gemaak is. Ek het toe geweet ek moet weer 'n motorfiets in my lewe kry. DIe lewe is net te kort om nie een te hê nie! En dit is wonderlik hoe vriende soos Sam jou weer op die regte pad kan help in die lewe! 


Foto
Craig Jones en die Thai mannetjie in aksie. Hy draai om, en dan raak sy kop die teer. Foto bietjie klein, geneem met klein digitale kameratjie!

No comments:

Post a Comment

En jy daar, wat sê jy?