'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Tuesday, August 30, 2011

Anderkant jou en my, lê daar 'n Berg... *


"Ek het 'n vriendin, ver by die blou see... Teen die hange van Tafelberg, as die son sak.." Koos Kombuis- Lisa se Klavier

Ek weet nie wat is vandag in my lewe aan die gang nie. Ek het hierdie ongelooflike hunkering om in die Kaap te wees vanaand. Om die sonsonder oor Robbeneiland te sit en aanskou, met verskuldigde eerbied, van die Blue Peter se stoep af. Ek het die behoefte om saam met goeie vriende daar 'n Pizza te eet, en 'n tweede en 'n derde bottel rooiwyn saam leeg te maak.

Ek verlang na die Kaapse paaie met my motorfiets. Ek verlang na daardie uitjaag verby Atlantic Beach se hobbelpad, verby Derdesteen, waar die Suid-Ooster my altyd verby my topspoed druk in die rigting van Melkbosstrand. Ek verlang na die draaie daar verby Rooi-Els, die Franschhoekpas, Helshoogte. Ek verlang na die reuk van Kalkbaai, selfs die pong daar voor Simonstad is reg met my vanaand. Ek verlang na die uitsig van Millers Point en Slangkop en Chapmans Peak.

Ek verlang na die Afrikaans van die blommeverkopers in die middestad, ek verlang na Ferryman's se Bosun's Bitter bier. Ek verlang na Exclusive Books in CAnal Walk, en die boekwinkel agter die Windpomp by West Coast Village.

Ek verlang na my vriend die dominee en sy kids, ek verlang na die roomysman, ek verlang na die singende dominee, ek verlang na die kerkgebou van Bloubergstrand. Ek verlang na Ons Huisie restaurant, en sushi by Eastern Fusion op Melkbosstrand.  Ek verlang selfs na die wegspring met die fiets onder die Burgersentrum- "everybody says Whoopah!" Ek verlang na Mariner's Wharf se snoek, en die skoenlapperplek van Stellenbosch.

Ek verlang selfs na nuwe vriende wat ek nog nooit persoonlik ontmoet het nie- die dromer oor volgende jaar se Camino, die ene met die oranje huisie by die see, die vriendin met die hartseer oor 'n pragtige wit Run-X.  Die een met die helder flitsie by Swellendam, en die suster in die hospitaal.

Ek verlang na die reuk van mos na die oes, calamari langs die strand.  Ek verlang na die draairoomys met die sugercone, die stap daar by Dolphin Beach. Ek verlang na die ou wrak wat ek so van News Café kan sit en bekyk oor omelet en toast.

Vanaand wou ek graag DAAR wees, en nie HIER nie...
Wat gaan met my aan?


* Titel met apologie aan Dozi

Sunday, August 28, 2011

"Life is hard and full of disappointment..." Stephan

Onse jongste is die enigste van ons kinders wat van kleins af  belang stel in die teenoorgestelde geslag, in 'n jong, onskuldige weergawe van vaste verhoudings. Hy trek nou by sy tweede meisie. Die eerste een het hom afgesê vroeër vanjaar, en toe ontmoet hy die volgende meisie in sy klas...

Maar in Graad 4 is die verhoudings maar baie turbulent... Ons lei oor middagete af dat hy die "Dear Johnny" briefie onlangs ontvang het.  Hy lê sommer daar langs die swembad op sy rug, en speel sy kitaartjie, terwyl hy die "thousand yard stare" van die Vietnam oorlog volmaak naboots...  Hy wil nie met sy pa praat nie, en ongelukkig ken hy nog nie die woorde van "No-one knows the trouble I have seen" nie.

Terwyl ek my middagslapie so op die heilige Sondag geneem het, het hy een van die tente opgeslaan in die agterplaas. Hy wil net bietjie uit die huis uit kom... Dinge druk hom...

Ek dink ek moet maar vanaand 'n vuurtjie daar langs sy tent gaan maak, en saam met hom 'n worsie braai en rooikoeldrank drink, dat ons maar soos manne gesels oor ons probleme met die estrogeenfabrieke. Want hy ontdek dit gou- die dames dink en werk so anders as ons. Hy gaan nog baie keer wens vir 'n tent, later 'n motorfiets, om bietjie weg te kom van die moeilikheid van verhoudings.

Miskien is dit 'n goeie ding om vroeg in jou lewe 'n paar liefdesteleurstellings te hê. Dit leer 'n mens dalkies net om die regte een soveel meer te waardeer wanneer sy die dag opdaag. En dalk berei dit jou voor dat die regte een ook nooit die volmaakte een gaan wees nie. Selfs in 'n gelukkige verhouding gaan daar maar soms moeilikheid wees, en af tye, waar 'n mens mekaar goed die duiwel in gaan maak...


My jongste het so die vermoë om sy hele hart in 'n verhouding in te sit. Ek hoop nie seerkry breek dit ooit in hom nie.

Oom Mike Smuts Snr het altyd gesê 'n mens moet bly wees vir elke liefdesverhouding wat nog nie uitwerk nie- dit beteken die Here het iemand in gedagte wat nog beter by jou pas...

Sunday, August 21, 2011

The Legend of Sparky...!

Ek stap verby my naamgenoot se kamer, en sien hierdie teen sy muur...

Hoekom Sparky? Van baie kleins af het sy ogies so mooi geblink, daar was nog altyd so onnutsige kyk in sy oë, en so ondeunde glimlaggie. Van BAIE kleins af. Soos op hierdie foto.

Hy het nog altyd 'n wonderlike sin vir humor gehad, en is baie lief vir lag. Hy het 'n ongelooflike fyn waarnemingsvermoë, en kan mense baie fyn namaak.

Maar asseblief, julle mag hom nie Sparky noem nie! Hy hou niks daarvan as enige iemand anders as ek vir hom dit sê nie. 




My legendariese seun het so klein dopamientekort in sy brein. Dit maak dat hy soms sukkel om te fokus.  En daarom het hy nie altyd die beste akademiese punt nie. Hy kan ook op die sportveld soms aandag verloor.

 Hierdie goetertjies in sy lewe kry aandag op die oomblik. En eendag gaan hy agterkom dat daar niks verkeerd met sy brein is nie, dat daar eintlik 'n ongelooflike kreatiewe instrument daar binne skuil. Eendag gaan sy fokus mooi reg kom, en dan gaan hy sy droom waar maak, en  'n krieketbal oor die grens slaan dat mense vir weke lank gaan soek vir die daardie bal.

Eendag gaan hy sy kop optel, en in homself begin glo. En daardie dag gaan niemand hom weer stop in die lewe nie.  En ek beplan om elke tree van die pad saam met hom te wees, om hom aan te moedig...

Tuesday, August 16, 2011

'n Hartseer bladsy uit my fotoalbum... Ilse Schmidt 16 Augustus 1970- 10 Desember 1985


Toe ek in Standerd nege was, en verjaar het, het my jongste sussie hierdie verjaarsdagkaartjie vir my gemaak.  Sy was deeglik bewus van my liefde vir motorfietse en karre...  Dit is een van my gunsteling besittings, en ek kan dit nie waag om dit uit die album te haal nie, uit vrees dat dit sal disintergreer.
Net na my 18e verjaardag is sy met kanker gediagnoseer. Sy het dapper daarteen baklei, maar die stryd uiteindelik verloor op 10 Desember 1985. Sy was vyftien jaar oud. (standerd 7).

So dikwels dink ek aan wat alles moontlik kon wees. Sy wat volwasse kon word, kon studeer, kon liefhê en trou en kinders hê.

So dikwels dink ek aan hoe ek as matriekseun glad nie geweet het hoe om haar siekte te hanteer nie.  Hoe ek dit maar probeer ignoreer het in die hoop dat dit net sal weggaan.  Hoe ek nie geweet het hoe om te sê dat ek eintlik hel baie omgee, en nie geweet het hoe om dit te wys nie. Dat daar 'n helse stuk seer in my hart was, wat net op my motorfiets soms uitgeklim het as ek roekeloos deur die draaie van die dorp gejaag het, en soms afgebliksem het in die proses.  Hoe ek nie geweet het hoe om na haar te luister nie, dat ek te bang was om te vra omdat ek nie die antwoorde geken het nie... (nog steeds nie...) 

 Ek het al baie gewonder hoe het ons, as gesin wat lief is vir fotos neem, niks beter fotos van haar het as hierdie een in die Newcastle Advertiser se berig nie. 

Haar dood het in my eie lewe 'n geweldige leemte gelos.  Dit het vir my nog altyd daardie vrees gegee om iemand lief te hê- kyk hoe seer is dit as so iemand weggevat word.  Dit het vir my van al my onskuld beroof- skielik gebeur slegte dinge nie net met IEMAND ANDERS nie.  Die spook van kanker in ons familie maak my steeds bang... 

In ons gesin van oorsprong het dit elkeen van ons nog meer in ons eie hoekies toegeverf.   Na Ilse se dood was niks meer dieselfde nie. 

En enkele weke later moes ek die ouerhuis verlaat, en my pad gaan oopveg in die universiteit. Skielik moes ek die grootmenslewe hanteer, die ontgroening in die koshuis, om skielik 'n kamermaat te hê, om Grieks en Hebreeus te probeer deurkom. Ek het net nooit die tyd gevat om behoorlik oor Ilse te rou nie...  En daardie seer kom nog steeds elke nou en dan uit. Verlede jaar sou sy 40 gewees het, dit het my baie hard geslaan.  Elke jaar op 16 Augustus onthou ek... 

Ek wens ek was 'n beter ouboet. Ek wens ek het meer gehad om te gee. Ek is jammer. Jy was baie spesiaal! En ek was te fucked up om jou so te behandel.  Ons ander sussie kry swaar op die oomblik. En weer weet ek nie hoe om te wys ek gee om nie, en weer weet ek nie hoe om te help nie...


Monday, August 15, 2011

Ma, luister tog as die kinders praat...

 Dis interessant as 'n moeder 'n bemoedigende boodskap vir die gesin wil skryf, en dit so lelik op haar kan backfire... Dit lyk my die Vrug van die Gees van Vriendelikheid is so bietjie in Short Supply in die pastorie op die oomblik...

Saturday, August 13, 2011

Plattelandse basaar, en hoogmoed kom weer tot 'n val!

Vandag was weer NG Gemeente Springbokvlakte se jaarlikse basaar. En al is dit 'n entjie van ons huis af, is dit een van die hoogtepunte in die Schmidt familie (of dan twee derdes van ons) se jaar.

Die Ma van ons huis staan vyf dae 'n week baie vroeg op om almal gereed te kry vir skool. So behalwe vir nasionale rampe en uiters groot prettige geleenthede, staan sy nie vroeg op 'n Saterdag op nie. En nommer 3, my naamgenoot, is ook van nature baie lui en lief vir sy bed. Hierdie tweetjies wou nou nie saam vanoggend uitry Tuinplaas toe (waar Springbokvlakte gemeente is nie...)

Ons moes sewe uur daar wees, want die gemeente het 'n baie lekker fietswedren. 'n 48 km bergfietsren deur 'n paar plase vir die baie fikses, en 'n kort 10 km om die een oom se mielieland vir ons kinders en onfikses soos ek.  My jongste wou al baie lankal weet wanneer is hierdie fietswedren, want sien, hy het verlede jaar 'n R3300 bergfiets gewen in die "lucky draw" by daardie gemeentebasaar. 'n Mens sou kon sê hy beskou hulle nou as sy familie!  En Pa moet hierdie jaar saamry. Want verlede jaar was Pa saam. Maar ek het dieselfde sinusdrip gehad as hierdie jaar. Verlede jaar het ek agter in die bakkie gelê terwyl die seuns fietsry. Hierdie jaar het ek besluit om 'n beter pa te wees as dit. En tog maar op my ou geel bergfiets ook saam gery.
Ousus was ook saam, haar een hokkievriendin met dieselfde van as ons het by die biltongstalletjie gewerk. En Ouboet wou ook vreeslik graag saamgaan, hoekom het ons nie verstaan voor die tyd nie.  Dit blyk nou dat daar 'n blonde klasmaat is, 'n baie mooi meisie, saam met wie hy heerlik die hele oggend gekuier het. Vriendskap is darem 'n kosbare ding!

Ek en Kleinboet het in die koue maar onse sweetpakke afgestroop. Die ou vlakte is vandag baie, baie koud! Daar is nie baie wat deelneem aan die fietswedren nie, skaars so vyftien. Ek en jongste is heel agter van die begin af, hoofsaaklik vanweë ekke...  Ons draai van die teerpad af in, langs die oom se huis verby. Dis 'n groot boerdery, met die mooiste trekkers onder die afdak. Die eerste drie kilometer is 'n droom. Dis turfgrond hier, en die paadjie is lekker hard, met sulke fyn krakies in. Ek voel sommer goed en baie fiks. So ek het nie so baie verloor van die Argus af nie!  Een van die boere ry voor in sy Landcruiser bakkie. En toe draai hy verkeerd af. Hy wou ons seker help op 'n kortpaadjie. Die oorspronklike plan was dat ons om die buiterand van die landerye sou ry, in die harde paadjie. Die nuwe kortpad is hier tussen die lande deur, en die pad word skielik geploegde grond. En nou: my bande op my fiets is Continental Town & Country.  Hulle is gemaak om op teerpad te ry (75%) en as jy op harde grondpad sou ry, sak hy so bietjie in, en gee dan vir jou lekker traksie. Sand? Moeilikheid met 'n M!  Amper sê ek met 'n K!

Ons ry so entjie. Skielik duik daar  'n kontoerwal op. Jongste het geen probleem nie, sy fiets het die regte bande op, en hy is so lig soos 'n veertjie. Hy sweef oor die sand.  En sy pa? My voorwiel begin gly. Ek kry nie my voet uit die pedaal uitgeklik nie. Ek koop 'n plaas. Die eerste een. Daar is so bietjie velle af op my linkerbeen. Dit gebeur maar in die beste families, dis seker tyd vir my jaarlikse val.  Nog tweehonderd meter, nog 'n kontoerwalletjie, nog dik sand. Voorwiel gly, kry nie my voet uit nie, plaas nommer 2. En na nog 100 meter - digte los turfgrond. Voorwiel gly, voet sit vas, plaas nommer 3. Gelukkig is ons teen hierdie tyd ver agter almal. Want ek het die behoefte om lank en aanhoudend lelik te praat...

Ek laat jongste aanry, terwyl hy so goed doen. Daar is nog 6 km oor. As ek teen 3 valle per km gaan aanhou, gaan ek êrens seerkry, twee valle was weer op my linkerarm wat verlede jaar in die bakkierol seergekry het. Ek besluit om maar die km terug te stap na die harde pad toe, en dan terug te ry. Jongste ry aan. Gelukkig kom daar 'n back-up bakkie op daardie stadium aan, en laai my op. Daar is alreeds twee ander ook agterop. Gelukkig het ek niks om vandag te probeer bewys nie.  Ek klim met 'n lied in my hart op die bakkie.  Intussen het Jongste gas gegee, hy het sommer die bondel ingejaag sonder my wat hom terughou. Hy het sy wedren verskriklik baie geniet, en sommer 'n medalje ook gekry. 

Die Plattelandse basaar was verderaan baie lekker. Ek het so 'n ontbyt van lewer en pap en suursous gekoop. Met 'n ordentlike sosatie om dit mooi af te rond.   Daar is ook pannekoek geëet, en die heerlikste Peppermint Crisp tert vir R5.00. Verskeie koeldranke is gedrink. Die kinders het lekker gekuier met al die vriende. Ons het gebly vir die Lucky Draw, maar die keer het ons nie weer 'n fiets gewen nie...

Die seuns het die Waterballe baie geniet.

Hierdie is 'n klein gemeentetjie, wat swaar geraak word deur die ontvolking van die Platteland.  Hulle het die probleem dat kleiner boere dit nie meer maak ekonomiesgewys nie, en verkoop aan groter boere.  En tog het die groepie wat agtergebly het, besluit dat hulle gemeente sal voortbestaan, hulle gaan hul bes daarvoor probeer.  Daar was nie so baie mense by hierdie basaar vandag nie. En tog was die atmosfeer baie, baie lekker gewees. Ons sal maar volgende jaar weer so maak!

Sunday, August 7, 2011

Saterdagoggend, tussen Villiers en Frankfort

So is ons mos toe die naweek na Bethlehem toe om vir ons goeie vriende, die Staatse, op Bethlehem te gaan kuier. Ons beplan om koud te kry, die warm vriendskap te geniet, sneeu te sien en voor die kaggel te sit met sherry in die hand.

Op Pad na Bethlehem toe is ons deur sewe padverleggings. En hier volg die grusame, dog ware verhaal van een so 'n stop.
'n Dark and stormy day- tussen Villiers en Frankfort in die Vrystaat
Ons kom vir die sewende keer op ons reis tot stilstand by 'n Padverlegging. Ons ry in Maya die By, my pragtige geel gerolde Mazda Drifter, met die sleepwaentjie aan.
In die bakkie bulder die musiek kliphard- 80's Rock wat ek by die Grové's se sentrumpie in Pretoria gekoop het.

1. Die Ma van die Huis:


Die moeder- on the edge...

Lyk baie vriendelik en opgewek. Sy sien baie uit na die vriendin by wie ons gaan kuier, hulle twee verstaan mekaar se harte mooi. Maar  die foto is effens misleidend, want eintlik is sy effens gatvol vir die ousus langs haar, en vir die bestuurder se donker Afrikaanse woorde met die aankoms by nog 'n padverlegging.

Ousus, geïrriteerd, twee apies- giggelend...
Op die agterste sitplek sit sussie, matriek. Sy hou nie baie van die res van ons nie. Sy word baie karsiek,  en is gewoonlik ook in 'n redelike bedonnerde bui as ons langpad ry, haar broers irriteer haar. Sy gaan my vir altyd haat vir hierdie foto, en my in 'n aaklige ouetehuis sit oor ek dit waag publiseer het. Oudste en jongste seuns is die twee apies wat agter die Canopy uitloer. Dié twee kom nogal oor die weg met mekaar, en kan daar agter sit en giggel oor die res van ons.



Middelboet- hoekom is sy bynaam Sparky?! Hy steek die vuur aan...

Middelseun sit voor langs my. Hy kan baie snaaks wees, en mense baie goed na-aap. Maar hy kan ook die res van die kinders redelik in die rooi rev. Daarom sit hy nou voor op hierdie stadium- hy sê ook hy word karsiek wanneer dit hom pas.

 En die bestuurder?

Pa: Derek...
Ook loshande die lelikste foto van my, en ek sal dringend moet begin Weighless na die feesseisoen. Self geneemde foto. Die bestuurder praat donker Afrikaans as daar NOG 'n padverlegging is,  terselfdertyd sing ek hartlik saam met Pat Benatar, en irriteer my tieners, wat vir my sê nie al die musiek uit die tagtigs was mooi nie. Ek hou van die langpad, want ek is verskriklik lief vir reis.  (Maggies, ek lyk deur die bruin goed hier...!)

Ek het vir my dogter belowe ek sal 'n mooi foto opsit van haar- ek het niks gesê van die ou een afhaal nie...
Ousus: op pad vir aandjie uit...


Na 'n ewigheid het die robot groen geword, en kon ons verder gaan op ons heerlike reis na die koue van Bethlehem, en die warmte van ons goeie vriende se harte en huis toe...

Thursday, August 4, 2011

Die vreugde van 'n Bosberaad...

So nou en dan moet 'n mens se werk ook die baie lekker oomblikke hê! Ons gemeente is geaffilieër by die Suid Afrikaanse Vennootskap van Gestuurde Gemeentes. En so nooi Hannes Peens van Marken gemeente ons leraars om saam met Frederick Marais van Stellenbosch 'n aand om 'n kampvuur in die bos te gaan sit.

Uiteindelik kon net vier van ons dit bywoon, Frederick Marais, Hannes Peens, Tokkie Scheepers van Ellisras- Wes gemeente, en ek.
En wat 'n heerlike aand was dit nie gewees nie!

Tokkie Scheepers, Frederick Marais en Hannes Peens


Ons het gisteraand, so in die winter, in tente geslaap. Ek dink as 'n mens nou in die winter moet in tente slaap, is Marken seker een van die beter plekke om dit te doen.

Die twee tente is baie netjies opgeslaan onder 'n reuse ou Maroelaboom. In hierdie boom is die mooiste hamerkopnes!
  
'n Hamerkop- nes

Nadat ons ingetrek het, het ons die vuur aangesteek.  Daar is baie lekker gesels rondom die vuur! En ja, daar was toe rooiwyn ook gewees om die gesels aan te help. Frederick het vir ons 'n botteltjie Durbanville Hills Cabernet gebring (dit kom na die tyd uit dat dit op Marken se drankwinkel gekoop is, een van die vier geboue in Marken!)  Daar is so 'n heerlike boma, waar ons kon gesels oor baie diep dinge. Hoe dit met ons en ander kollegas na aan ons harte gaan. Ons kon gesels oor die kerk in hierdie tye. Diep dinge, seer dinge, lekker dinge is gesels tot na elf.
'n Bosveld kuierplek- daar is seker nie beter in die hele wye wêreld nie, as rondom 'n hardekool vuurtjie!

Vanoggend het die manne weer vroeg begin beweeg. Ons het 'n heerlike koffietjie gedrink om die vuur- 'n Franse koffie gemaak in 'n aliminium plunger van Checkers, baie lekker manier om die dag te gaan begin. Daarna het ons gaan stap in die veld. En ek het my kamera in die tent vergeet! Ons het by 'n dooie hardekoolboom gaan staan. En eendag sal ek hom moet gaan afneem. Hannes sê as hierdie bome besluit om te vrek, dan vat hulle 400 jaar om dit te doen. En wat 'n pragtige stomp! Daar is die mooiste patrone deur die wind en weer, en jare se veldbrande op dit uitgekerf.
Ons het tussen kierieklappers en groot aalwyne, Bruidjie van die Bosvelds en papierbasse, knoppiesdorings en groot, lewendige hardekoolbome deurgestap. Ons het in verwondering wind-af van 'n jongerige rooibokram gestaan en kyk, hoe hy heerlik wei, later van ons teenwoordigheid bewus raak en seker vir twee minute stip na ons gestaan en gluur het op so veertig meter afstand. En toe 'n neushoringvoël bler, toe spring hy weg. Ons het koedoespore en blouwildebees gesien, daar was die spore van 'n groot luiperd, en die mis van 'n bruin hyiena. Ons het op 'n koppie met die mooiste rotsformasies geklim, en dit net geniet om mens te wees, met soveel skoonheid in die natuur om te bewonder.

Heelwat later het ons gaan brunch maak. Van gisteraand se pap en sous warm gemaak, en die twee varktjops wat oorwas in repies gesny en daar in gegooi. Daar was 'n heerlike boerewors, en oorskiet slaai van gisteraand. So oor die ete het ons gesels oor ons roeping as Gestuurde gemeentes. Ons het saam gedroom oor die pad vorentoe. En besluit dat volgende jaar daar 'n tweedag oorslaap moet wees, om dit met meer verskuldigde eerbied af te handel!
Dit was ver om te ry, maar dit was lekker. Dit is wonderlik om te hoor hoe dink ander kollegas wat al lankal dink oor die roeping van die kerk.  Dit was so spesiaal om mekaar oor die boeretroos en hardekoolvuur beter te leer ken. 

'n Geleentheid soos hierdie gebeur nou nie so dikwels in my werk nie. Maar dit is lekker as 'n mens so bietjie uit die gemeentegrense met die groter kerk se dinge besig kan wees. Ek het dit nou regtig geniet!

Monday, August 1, 2011

Ses leraars oor vyftig jaar in Nylstroom-Oos

Gister was vir my aangrypend mooi in ons oggenddiens.
Ons het op 28 Julie 2011 ons gemeente se 50e verjaarsdag gevier. En ek en Danie het besluit om al ons oud-leraars te nooi, vir 'n Dankdiens op Sondag 31 Julie 2011.
Ons is so geseënd dat al ses die leraars wat in die gemeente bevestig is as leraars, nog lewe, en almal gesond genoeg was om hier by die erediens van Nylstroom-Oos  te kon teenwoordig wees. Na die diens het ons hierdie foto geneem:


Die eerste leraar van die gemeente was Ds Piet Smit; 1961-1969 (voor regs). Dan na hom Ds Wiets Botes; 1970-1975 (voor middel) Ds Japie van Deventer 1975-1996 (voor links) ekke was vierde  van 1995 af tot tans (agter regs) In 1996-2007 het Ds Lukas Coetzer gedien (middel agter) en laaste het Ds Danie Ueckermann bygekom van 2008 tot tans.

Die erediens het begin met al ses leraars wat ietsie gedeel het oor hulle bedieningstyd in die gemeente, en ons was so dankbaar om veral die voorste drie manne se verhaal te hoor, manne wat almal reeds afgetree het.  Stories van baie lank gelede is gehoor, onder andere van die eerste vyftien jaar wat die gemeente in Laerskool Eenheid se saal op Sondae bymekaar gekom het (en die Staatspresident se foto verwyder is om nie aanstoot vir iemand te gee nie!) Stories oor gemeentemense van destyds se lief en leed. En so het die erediens begin met die onthou van 'n mooi verlede. Ds Lukas Coetzer het op sy aangrypende mooi manier die Woord verkondig, met ons Roeping as tema. Ek het die onbeskryflike voorreg gehad om twee kindertjies te doop, Skyelar Ruthven en Stefan Bosman. Daarmee het die kerk van die toekoms die diens vir ons afgesluit.

Na die historiese lang diens (ons het nog nie in my 16 jaar voorheen by twee ure kerkhou uitgekom nie!) het ons saam gaan tee drink. Deirdré Stoffberg het vir ons 'n leraarsdinee gereël, en haar man Hannes het net so hard agter die skerms gehelp reël en bedien aan hierdie heerlike ete. Tydens die ete het daar nog baie staaltjies gedeel geraak. Vyf van ons (net Danie nie) het in die pastorie op die hoek van Magazijn en Leydstraat gewoon. Ons kon uitvind wie het die dekselse seringbome geplant (oom Japie) en wie het hulle laat uitkap (Ewald) Wie het die suurlemoenbome geplant (Tannie Rita Smit) en wie het hulle uitgekap (Gerda Coetzer) Oor die geslagte heen het die Pastorie net groter en groter geword, met aanbouings deur die eiendomskommissie. Maar ewe koud gebly!

Met hierdie ete kon ons as leraars beleef dat daar dankbaarheid was vir ons rol in die gemeente se geskiedenis, en ons elkeen is regtig uit ons harte uit dankbaar vir hierdie baie mooi gebaar! Dit was 'n historiese dag, wat seker nie weer sal kan plaasvind soos die leraars ouer en swakker word nie.  Dit het vir ons ses baie beteken!