Vanoggend omstreeks 03h30 skrik ek skielik wakker. Ek besef skielik weer dat my droom om die Camino de Santiago te gaan stap, nou so naby as volgende maand is. En daar is nog so baie om te doen voor ek op Lufthansa vlug LH573 via Frankfurt na Madrid toe kan klim op 27 Mei 2011 om 18h55.
Reeds gedoen:
Koop 'n vliegkaartjie Spanje toe- reeds op 1 Augustus 2010 gedoen, en baie goeie prys self op die Internet by Lufthansa gekry- Flight Centre wou my op EGYPT AIR!!! vir meer as R2000 meer geplaas het. Dis darem net baie lekkerder Frankfurt oor met 'n vliegtuig met movies en bier, as weer op Egypt Air sonder movies en bier, en met 'n F veiligheidsgradering, en 'n oorstaan op Kaïro en 'n helse lang tweede vlug Madrid toe.
Toerusting aangeskaf:
- Stapstewels wat goed ingestap moet wees, na deeglike opleeswerk besluit dat Wolverine Fortis die ding behoort te doen. Hulle is darem alreeds ingeloop- hulle gee my nie meer so baie blase nie!
- 'n Baie kleiner rugsak as my 85 l Backpacker Boulder was nodig (anders gaan ek hom volpak!) . Ek het op 'n baie spesiale aanbod by Cape Union Mart 'n KWAY Alpine 55 rugsak gekoop.
- 'n Baie goeie reënbaadjie van KWAY, met 'n reënbroek, want "the rain in Spain falls mainly on the plain..." daardie stukkie Spanje wat ek mos nou in die lente, in die reënseisoen gaan stap!
- Vyf pare goeie stapkouse by daardie wonderlike Cape Union Mart se Factory Outlet in Attenbury Value Mart- teen R20 'n paar, waar dit gewoonlik oor die R70 is vir Timberlands...
- First Ascent langboek en hemp, weeg 415 en 215 gram en word baie baie vinnig droog, om in katedrale mee in te stap. First Ascent kortbroek, en drie Drisport hemde van Mr Price Sport.
- En die wonderlike dames van my Bybelstudiegroep het my einde laas jaar bederf met 'n kontantgeldjie, wat genoeg was om 'n First Ascent Travelite slaapsak (5 Grade, weeg net 750g!) te koop.
Om nog te doen: sal dalk nog 'n stapbroek van First Ascent moet koop. Finale besluit moet geneem word oor watter, indien enige bordegoed saamgeneem word, dalk net 'n Spork en 'n plastiese bord en beker.
Wat my vanoggend wakker gemaak het, was die bekommernis oor die
reisversekering. Die Spaanse Ambassade wil hê 'n mens moet ten minste R300 000 se mediese versekering hê, met duidelike "assistance", nie "refund" nie as jy wel in die moeilikheid kom. Toe ek destyds by Flight Centre navraag gedoen het, wou hulle aan my 'n polis van R1300 verkoop. Ek het vanoggend om 03h40 op die internet uitgevind ek het voldoende dekking op my Nedbank goue kaart, en het so bietjie ekstra (R5 miljoen vir 'n mediese noodgeval) gekry vir net oor die R413.00. Reisversekering is nou uitgesorteer.
Nou kort ek nog net Maart se amptelike bankstaat, want die Spanjaarde wil 3 maande s'n sien om te kyk of ek ook 'n "illegal alien" gaan wees uit Afrika. Hulle wil graag adresse hê waar ek gaan oorbly, en ek hoop my Pilgrim's Passport, wat 'n mens by die Confraternity of Saint James of South Africa in Kaapstad bestel, gaan die ding doen. Ek weet nog nie eers hoe ver kan my liggaam in 'n dag stap nie!
Ek sal my twee visavorms moet invul, kleurfotos kry, en dit persoonlik by die Spaanse Ambassade gaan inhandig. Dit lyk of die Visa nogal ook ietsie gaan kos!
Die ander ding wat ek nog glad nie uitgesorteer het nie, is sakgeld. Dié wat dit al gedoen het, sê 'n mens het so ongeveer R250- R300 per dag nodig om in die pelgrimshostels te slaap, en 'n Pilgrim's Menu by 'n plaaslike restaurant te eet. Gerugte wil dit hê dat 'n mens vir 10 Euro 'n driegang maaltyd met 'n bottel wyn kan kry as jy 'n pelgrim is. Ek moet eers 'n Visum hê, voordat ek kan geld wissel. Geld het ek ook nog nie. Sal dalk uit die huislening so effentjies moet leen.
En dan, die laaste ding wat ek nou aan kan dink, is om te begin stap. Ek het nouwel die Argus vanjaar oorleef, maar die stappery is totaal 'n ander "ballgame"! Ek sal binnekort moet vroeg begin opstaan, en dan so 8km vroegoggend gaan stap. My voete moet nou finaal gewoond raak aan die stappery, die ou magie moet begin krimp, en die spiere moet klaar rek- want ek beplan om tot 26 km per dag te stap.
Die heel heel laaste ding wat ek aan kan dink, is om nou my Spaanse taalles CD te begin luister. Daar waar 'n mens op die Camino Frances wil loop, klink dit nogal erg plattelands. Dié ouens het glo nog nooit rede gesien om Engels te leer praat nie. En 'n mens wil darem weet waar jy vanaand kan slaap, waar jy kos kan kry, waar die naaste toilet is, en wat die goeters kos.
Soos julle op die Blog se buitekant kan sien- die klok is besig om te tik- die tyd loop uit. Ek begin al meer bang raak, en versigtig uitsien na hierdie ervaring. Gaan ek dit kan maak? Gaan ek die stilte kan hanteer? Gaan ek die lang tyd van die huis af kan hanteer? Gaan my kinders vir my "oom" sê as ek terugkom?
Ek moes kies tussen die ses verskillende roetes na Santiago toe. Ek het maar besluit op die oudste een, die roete vanuit Frankryk uit. Dit lyk of die infrastruktuur daar die beste is, en die dorpies is naby aan mekaar. Maar die Portugese roete- van Porto af teen die Atlantiese kus op tot by Finistere en dan na Santiago toe, het ook goed gelyk. Die roete van Madrid af boontoe is die nuutste, maar dorpe is ver uit mekaar uit. Die Engelse roete is weer te kort, net net oor die minimum 100 km wat 'n mens nodig het om jou sertifikaat te verdien.
Hoekom hierdie tyd van die jaar? Ek het baie op die Internet gelees, en baie boeke tweedehands op Betterworld gekoop oor die Camino. Op 24 Junie begin die Europese lang skoolvakansie. Dan raak baie restaurante baie duurder, en die hostels raak skielik vol toergroepe vol skoolkinders. En hulle gaan die beddens beset, en die stilte verbreek. Daarom het ek gekies om die 22e Junie terug te kom, en van daar af drie weke teruggewerk. Dit is in die Europese lente net voor hoogsomer. April is 'n baie besige tyd in die kerk, ek kon dit nie aan my kollega doen om dan langverlof te neem nie. Maart kan nog baie koud wees in die berge. Julie en Augustus is duur, en baie, baie warm. En so bietjie later kan dit weer baie baie koud in die berge raak.
Ek sou so graag die hele Camino Frances, van St Jean Pied de Port af wou stap. Maar dit is 800 km, oor drie bergreekse soos die Perineë. Al waarvoor ek nou kans gaan hê, is 300 km van Léon af. (Ek sou so graag Pamplona wou sien, 200 km verder, waar die mense saam met die bulle hardloop- nee, nie Bakkies en Victor nie, daai met die twee skerp horings voor). Ek kan my vrou nie saamvat nie- die skoolvakansieprobleem! Maar eendag- eendag sal ons dalk saam die hele Camino Frances kan stap.
Hoekom doen ek dit? Ek is dan nie Rooms Katoliek nie, en glo nie eers die legende dat Jakobus, die broer van Johannes, daar begrawe kan lê nie. Ek het nie 'n saak met ikone en heilige beendere nie.
Wel, hierdie is 'n baie belangrike oorgangsjaar in my eie lewe. Ek is 44 jaar oud, en gemeet teen my pa en my oupa se lewensduur, is ek lankal verby halfpad. My oudste kind maak klaar met skool vanjaar. Ek is soms lekker deurmekaar oor wie ek is, en hoe ek oor die toekoms moet dink. En stap was nog altyd vir my moeilik- ek het 'n groot uitdaging nodig om uit my gemaksone te kom.
Die Camino gaan deur een van die mooi dele van Europa- dit is veilig om daar te stap, en die plaaslike bevolking is pelgrims baie goedgesind. Die infrastruktuur op die Camino kom al van die 12 eeu af, en die dorpies is naby mekaar. Elkeen het êrens goedkoop verblyf vir die pelgrim. Ek hoef nie kos saam te neem nie, 'n mens eet baie basies uit die winkels waar die plattelanders hulle kos koop.
En dan bly een van my hoofredes vir hierdie reis daardie aantrekkingskrag om af te skaal. Om vir drie 1/2 weke met net 3 stelle klere reg te kom. Om minder as 10 kg te pak, ek kry dit nie eers reg vir 'n naweek in Pretoria nie! Om af te skaal van die gerief van my bakkie,af te skaal van my sekerheid oor waar ek vanaand gaan slaap, wat ek vandag gaan eet. Waar ek wil wees, sal ek moet loop. Ek wil die horlosie afhaal, en net wees. Ek gaan my dood verlang na my vrou en kinders. En as ek daar terugkom, gaan ek sommer weer 'n nuwe waardering vir elkeen van hulle hê.
Die reis is simbolies van my lewensreis, en ek wil graag baie meer tyd in stilte saam met die Here spandeer. Dit gaan vir my 'n gebedsreis wees. Soms gaan ek bid om net lewendig vanaand by die volgende dorp uit te kom, so moeg gaan ek wees. Ander kere gaan ek op 'n bergtop staan en uitroep: "Hoe groot is U!" Ek wil die mooi van Spanje op so 'n primitiewe manier gaan geniet.
Met hierdie reis wil ek die Here baie mooi vra om my geestelike batterye vol te laai, sodat ek gereed is vir die volgende fase van my lewe, wat my baie, baie vinnig bestorm. In al die bronne wat ek gelees het, het niemand onveranderd teruggekom van die Pelgrimsreis nie. Ek wil ook nie dieselfde terugkom nie...